Home Preke Hindernisse Net 'n erediens deur die Heilige Gees volgens God se Woord sal 'n gemeente geestelik laat verdiep

Net 'n erediens deur die Heilige Gees volgens God se Woord sal 'n gemeente geestelik laat verdiep

Datum: 2023-07-02
|
Reeks: Hindernisse
|
Kernverse: Num.6:27; Dt.6:4; Ps.100:4; Ha.5:20; 1 Kor.14:26

ONTMOETING

Votum: Ps.121:1,2

Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die werk van die Heilige Gees

Lof aan God: Ps.150:1,3

Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels

Sang: Skb.12-3:1,2

VEROOTMOEDIGING

Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34

Antwoord op die Wet: Ps.130:1,2

Gebed

VERKONDIGING

Sang: Ps.100:3,4

Lees: Numeri 6:22-27; Deuteronomium 6:4,5; Psalm 100:1-5; Handelinge 5:19-21; 41,42; 1 Korintiërs 11:17; 14:26, 29-33;

Kernverse: Num.6:27; Dt.6:4; Ps.100:4; Ha.5:20; 1 Kor.14:26

Tema: Net ‘n erediens deur die Heilige Gees volgens God se Woord sal ‘n gemeente geestelik laat verdiep

Sang: Ps.150:1,3; Skb.12-3:1,2; Ps.130:1,2; Ps.100:3,4; Ps.84:2,4; Ps.84:5,6

Inleiding:

Hierdie reeks preke gaan oor geestelike verdieping. Vanoggend is ons by die tweede preek oor die hindernisse wat geestelike verdieping kan keer. Die eerste hindernis waarna ons in die gelykenis van die saaier en die saad in Mt.13 gekyk het, is wanneer die Woord van die koninkryk, dit is die Evangelie van Jesus Christus nie in my hart groei en vrug dra nie. Vanoggend is ons by die tweede hindernis vir geestelike verdieping: Wanneer elke gelowige in ‘n gemeente nie deur die Heilige Gees en volgens God se Woord aan ‘n erediens deelneem nie, sal dit geestelike verdieping in die gemeente keer.

Tema: Net ‘n erediens deur die Heilige Gees volgens God se Woord sal ‘n gemeente

           geestelik laat verdiep

  1. ‘n Erediens is diens aan God

Alles wat ‘n gemeente tydens ‘n erediens doen, staan bekend as die liturgie tydens die erediens. Liturgie kom van die Griekse woord “leitoergia” wat doen of diens beteken. Wat ‘n gemeente dus tydens ‘n erediens doen, is diens aan God.

Dit beteken:

Die liturgie in ‘n erediens gebeur nie net nie.

Ek woon ook nie net ‘n geleentheid by nie.

Die predikant hou ook nie die erediens nie.

‘n Erediens is ‘n geloofsaktiwiteit van ‘n gemeente in teenwoordigheid van die lewende God.

Hierdie is baie belangrik om te weet, te besef, te glo en daarvolgens te leef: In die Bybel, die Ou Testament en die Nuwe Testament, maak die Here aan ons bekend dat Hy sy gelowiges oproep, opdrag gee om Hom in ‘n samekoms te dien en te eer. Die Here wil ‘n erediens van sy gemeente hê.

Ons gemeente, saam met Gereformeerde gelowiges oor die hele wêreld, bely in Sondag 38 van die Heidelbergse Kategismus dat God in sy vierde gebod verwag dat elke gelowige op die rusdag met die gemeente sal saamkom. Hierdie samekoms op die dag van die Here, Sondag, noem ons ‘n erediens. Ons gemeente kom saam om sekere dinge te doen waardeur ons God dien en Hom eer.

2. Alles in ‘n erediens moet op die Bybel gegrond wees

‘n Erediens is nie ‘n byeenkoms waar elkeen maak soos elkeen wil nie. ‘n Erediens is ook nie ‘n informele byeenkoms waar elkeen aan gevoelens en gedagtes nie, selfs nie eers geestelike gevoelens en gedagtes uiting kan gee nie.

Alles in ‘n ware en egte erediens, MOET op DIE BYBEL gegrond wees, moet uit die Bybel kom.

Waar kry ons die dinge wat ons in ons eredienste doen? Ons sal dit in die Bybel moet kry, anders mag ons dit nie doen nie.

Luister daarom weer na wat die Here in sy Woord sê:

Num.6:27“So moet die priesters my Naam oor die Israeliete uitroep, en Ek sal hulle seën.” Die priesters was die voorgangers in die tempel wanneer Israel daar saamgekom het. Die voorgangers moes die Here see Naam oor verbondsvolk uitroep. Ons het nie meer priesters nie. Die gawe wat Jesus Christus wat vir ons gekruisig is en opgestaan het aan sy gemeente gee, is ‘n leraar (Ef.4:11). Die leraar is nou die voorganger in ‘n gemeente. Daarom roep die leraar, die predikant die Here se Naam tydens die erediens oor die gemeente uit, waardeur die Here sy gemeente seën.

Dt.6:4“Luister, Israel, die Here is ons God. Hy is die enigste Here.” Die Hebreeus vir “luister” is “shema”. Hierdie woorde in Dt.6:4 het later die naam gekry: Die Shema. Die woorde is waarskynlik die vroegste geloofsbelydenis oor God wat die verbondsvolk in die Ou Testament gehad en gesê het. Saam met wat die Here in die Nuwe Testament vir sy gemeente oor die belydenis van geloof sê, byvoorbeeld Rom.10:9,10, is dit duidelik dat die Here wil dat sy gelowiges hulle geloof in Hom sal bely wanneer hulle in ‘n erediens in sy teenwoordigheid is.

Ps.100:4“Gaan sy poorte binne met dankliedere, sy tempel met lofsange, dank Hom, prys sy Naam…”. Hierdie woorde in die OT saam met ander dele in die Nuwe Testament is ‘n duidelike opdrag om tydens ‘n erediens te sing. Daar is liedere van lof en dank en prys en eer. Daar is ook liedere van berou en skuldbelydenis en selfs meer. Die Here wil ons hoor sing tot sy eer, daarom sing ons tydens ‘n erediens. Elke keer dat ons tydens ‘n erediens sing, het daardie lied ‘n sekere bepaalde betekenis. Ons het daarom elke keer nodig om met ‘n opreg gelowige hart te sing!

Ha.5:20“Gaan staan in die tempel en verkondig aan die volk die volle boodskap van hierdie nuwe lewe.” Die Here wil dat sy Woord, die Evangelie van die gekruisigde Jesus Christus wat uit die dood opgestaan het, gehoor word, tydens ‘n erediens. Daarom moet die Bybel oopgemaak word. Die leraar moet uit die Bybel lees. Daarna moet hy die deel wat gelees is en waarna almal geluister het, verklaar en toepas, sodat die gemeente hoor wat God sê. Die Bybel moet gepreek word. Elke preek moet oor die Drie-enige God gaan met die dieptepunt God se genade in Jesus Christus wat sy lewe vir ons aan die kruis gegee het en vir ons uit die dood opgestaan het.

1 Kor.14:26 – “Hoe moet dit dan wees broers? Elke keer as julle bymekaarkom, het elkeen gewoonlik ‘n bydrae om te lewer: ‘n Psalm, ‘n onderwysing, ‘n openbaring, ‘n ongewone taal of klank, ‘n uitleg daarvan. Sorg dan dat alles tot opbou van die gemeente verloop.” Die eerste deel van die vers gaan oor die dinge wat in die gemeente in Korinte in die begin van die vestiging van die kerk van Jesus Christus in die Nuwe Testament gebeur het. Daardie dinge is nie opdragte wat vandag nog in ‘n gemeente moet gebeur nie. Die opdrag is die laaste deel van die vers: Alles moet tot opbou van die gemeente wees. Daarom maak elkeen tydens ‘n erediens nie soos elkeen wil nie en elke gemeente ook nie soos elke gemeente wil nie. Die Here wil dat alles tydens ‘n erediens tot opbou van sy gemeente sal wees.

Daar is nog baie meer in die Bybel oor wat alles wat die Here wil in die erediens van sy gemeente moet gebeur. Vir vanoggend is hierdie meer as genoeg vir elkeen om te verstaan, te besef en te glo dat alles in ‘n erediens op die Bybel gegrond moet wees.

3. ‘n Gemeente het die Heilige Gees nodig vir ‘n ware erediens

Israel se groot probleem hulle hele lewe deur in die Ou en die Nuwe Testament was hulle

harte. Jesaja het hieroor ernstig met hulle gepraat: “Die Here het gesê:’Hierdie volk is naby My met die mond, hulle eer My met wat hulle sê, maar hulle hart is ver van My af, hulle dien My soos mense wil hê, nie soos Ek wil nie” (Jes.29:13).

Wanneer ‘n gemeente saam in ‘n erediens voor die Here verskyn, moet dit met die hart wees. Elke se hart moet in die erediens wil wees om die Here met elkeen se hele hart te dien. ‘n Erediens is nie ‘n erediens net met die mond nie. Die Here wil ons gemeente se harte in elke erediens hê.

Hy kan in elkeen se hart sien. My binneste lê oop en bloot voor Hom, die alwetende God. Daarom kan ek nie op ‘n Sondag erediens toe kom en ek kom nie met my hele hart nie.

Vanself is ek nie in die erediens met my hele hart nie. Die Heilige Gees kan my help. Hy wat my hart wedergebore laat word het, Hy gee geloof in my hart. Hy lei my en Hy help my om met ‘n opregte hart vol geloof in die erediens te wees. Die Gees lei en help my om alles wat ons gemeente in die erediens doen, met my hele hart te doen.

Ek het daarom nodig om gedurende die week met ‘n gebed in my hart aan Sondag se erediens te dink. My gebed sal ‘n gebed moet wees dat die Heilige Gees my sal help om met my hele hart in die erediens te wees.

4. ‘n Erediens is ‘n belangrike tyd en plek vir geestelike verdieping

‘n Erediens is ‘n byeenkoms van ‘n gemeente van Jesus Christus ons Here en Verlosser. Daar is nie nog so ‘n uitsonderlike byeenkoms soos ‘n erediens nie. Jesus Christus is die REDE vir elke erediens.

Jesus het sy lewe aan die kruis gegee. Daardeur het Hy elkeen wat God vir Hom gegee het, volmaak van sonde verlos. Jesus het ook uit die dood opgestaan. Deur sy opstanding het Hy aan elkeen wat Hy deur te sterf syne gemaak het, die nuwe lewe gegee.

‘n Erediens is ‘n byeenkoms van verloste nuwe mense deur Jesus Christus. Tydens ‘n erediens doen ‘n gemeente van verloste nuwe mense dinge wat God in sy Woord vra. Deur hierdie dinge te doen, kom ‘n gemeente nader en nader aan die Here en groei ‘n gemeente se geloof dieper en vaster. Deur saam met ander gelowiges in God se teenwoordigheid te wees, maak ‘n gemeente sterker om in die komende week naby God en vir Hom te leef en weerstand teen die duiwel en die sondige wêreld te bied.

‘n Erediens is daarom ‘n baie belangrike tyd en plek vir geestelike verdieping, maar dan net ‘n erediens deur die Heilige Gees volgens God se Woord. Ons gemeente sal so ‘n erediens hê, en geestelik verdiep, indien elkeen van ons deur die Heilige Gees volgens God se Woord met ‘n opreg gelowige hart in elke erediens is.

ANTWOORD

Sang: Ps.84:2,4

Gebed

Liefdegawe vir barmhartigheid

Sang: Ps.84:5,6

Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee

Amen

Klankbaan

Luister na die preek.

Ander preke in "Hindernisse"