ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood opgestaan het, en die Heerser oor die konings van die aarde.
Lof aan God: Skb.1-2:1,2,3
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sing: Ps.71:9
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Antwoord op die Wet: Ps.103:2
Gebed
VERKONDIGING
Sing: Skb.5-4:1,2,5,6
Lees: Handelinge 7:51-60, 1 Korintiërs 15:50-58 en Sondag 22 (V&A 57)
Kernverse: Hand.7:59, 1 Kor.15:53,57
Tema: Die heerlikheid van die opstanding van ons liggaam.
Sang: Skb.1-2:1,2,3; Ps.71:9; Ps.103:2; Skb.5-4:1,2,5,6; Skb.12-2:1,4,5; Skb.18-1:4,5
Inleiding:
Die Twaalf Artikels is ons geloofsbelydenis oor die Drie-enige God. Elkeen van die twaalf artikels is baie belangrik, want dit bevat ‘n baie belangrike waarheid in God se Woord. Vanoggend is ons by die elfde artikel. Die waarheid in hierdie artikel raak ons almal se lewe – “Ek glo aan die opstanding van die liggaam”.
Met vanoggend se preek kyk ons in Hand.7, 1 Kor.15 en Sondag 22 na vyf belangrike dinge oor die opstanding van die liggaam.
Tema: Die heerlikheid van die opstanding van die liggaam
1. Ons liggaam en siel skei met ons dood.
Nadat die Here die eerste mens se liggaam uit die stof van die aarde gemaak het, het Hy lewensasem in die mens se neus geblaas. Die eerste mens het toe ‘n lewende wese geword. Van die begin af het ‘n merns uit die stof van die aarde en die lewensasem bestaan. Dit was so met Adam. Dit is so met elke mens. Ons almal is liggaam en gees. Ons kan ook sê liggaam en siel.
Ons hele lewe op aarde is ons almal liggaam en siel. Liggaam en siel vorm ‘n innige eenheid in een mens; sodat ‘n mens kan lewe. Maar…hierdie lewe van liggaam en siel in een mens kom een of ander tyd op aarde tot ‘n einde.
Alle Christengelowiges, elkeen van ons moet regtig weet en besef en glo dat ons liggaam en siel nie so ‘n eenheid gaan bly hier op aarde, sodat ons hier sal bly leef nie. Ons sal dit moet weet. Meer nog, ons sal dit moet besef. Die heel belangrikste – Ons saL dit MOET GLO!
Die Prediker wat alles ondersoek het en wat hy gesien het, deur die Heilige Gees neergeskryf het, het so geskryf: Die stof keer na die aarde toe terug soos dit was en die gees keer na God toe terug wat dit gegee het (Pred.12:7).
Lukas, wat alles deeglik ondersoek het, het in sy evangelie van Jesus Christus geskryf: “Jesus het hard uitgeroep: ‘Vader, in u hande gee Ek my gees oor.’ Na hierdie woorde het Hy die laaste asem uitgeblaas” (Luk.23:46).
Daar kom ‘n dag en ‘n oomblik dat ons almal wat op aarde is, sterf, indien Jesus Christus nie weer voor dit gebeur kom nie. Ons liggaam en siel skei met ons dood. Die asem van die lewe gaan uit ons liggaam uit en ons liggaam word weer stof.
Ons sterf op aarde, omdat vlees en bloed nie aan die koninkryk van God deel kan kry in die ewigheid nie. Die Heilige Gees het Paulus hierdie woorde in 1 Kor.15:50 laat skryf om aan ons te verduidelik en ons te leer waarom ons moet sterf.
2. Christus neem elke gelowige se siel dadelik by Hom.
Wat gebeur wanneer ons sterf? Stefanus, een van die eerste diakens in die eerste gemeente, maak vir ons duidelik wat gebeur. Terwyl die Jode Stefanus gestenig het en hy op die punt was om te sterf, het hy uitgeroep: “Here Jesus ontvang my gees” (Hand.7:59).
Die Prediker het so ook in sy boek in die Ou Testament geskryf (Pred.12:7).
Op grond van die Bybel, die Ou Testament en die Nuwe Testament, bely ons in die Heidelbergse Kategismus ons geloof dat ons siel na hierdie lewe dadelik tot Christus, ons Hoof opgeneem word.
Wanneer ons sterf, is ons lewe op aarde verby. Ons liggaam wat nie aan die ewige koninkryk van die hemel deel kan kry soos ons liggaam nou is nie, bly agter. Met die asem van die lewe uit ons liggaam, leef ons liggaam na ons gesterf het, nie meer nie.
Ons siel is dadelik by Christus. Jesus Christus, ons Here neem ons siel, ons kan ook sê ontvang ons siel dadelik by Hom.
Daar was in die verlede ‘n tv-program waar iemand kontak gemaak het met mense wat gesterf het en nog iewers rond gesweef het, omdat hulle bekommerd was oor hulle geliefdes wat agter gebly het. Die persoon het kastig kontak gemaak en ‘n boodskap van die persoon wat dood was, gekry om die mens wat agter gebly het gerus te stel. Daar bestaan nie so iets dat ‘n mens se siel na ons dood nog iewers onrustig rondsweef nie.
Ons geloofsbelydenis uit God se Woord is duidelik en waar: Ons siel is na hierdie lewe dadelik by Christus. Dit kan gebeur, want Jesus Christus het ons innerlike mens, ons siel van die duiwel en die sonde verlos. Christengelowiges se siel sterf nie meer nie. Hierdie belangrike waarheid is die wonderlike genade in elkeen wat in Christus glo, se lewe.
Ons kry ons geloof by die Heilige Gees. Die Heilige Gees maak ons deur ons geloof een met Christus. Ons is deur ons geloof so een met Hom, dat ons saam met Hom gesterf het, toe Hy vir ons aan die kruis gesterf het. Ons kry hierdie belangrike geestelike waarheid in Rom.6:6 dat Christengelowiges saam met Christus gekruisig is en ons sondige bestaan beëindig is. Die dood wat die straf op sonde is, gebeur nie met die siel van ‘n gelowige nie.
Christus Jesus, ons Verlosser en Here neem ons siel na ons dood dadelik by Hom om ewig by Hom te wees.
3. Hy wek ons liggaam weer op met sy wederkoms.
Ons liggaam bly agter en word weer stof. Hierdie waarheid kry ons duidelik in die Bybel. God het self vir Adam na sy en Eva se sondeval so gesê (Gen.3:19). Ons liggaam is vlees en bloed. Ons liggaam is na die sondeval verganklik en sterflik in die woorde van 1 Kor.15:53.
Ons verganklike en sterflike liggaam bly agter hier op aarde en word weer stof. Vir hoe lank weet niemand. Wat ons weet en glo is dat dit nie so gaan bly dat ons siel by Jesus Christus in die hemel is en ons liggaam hier op aarde nie.
Op ‘n dag wat net God die Vader weet, kom die Here Jesus weer. Hierdie keer is Hy nie ‘n nederige kind in doeke toegedraai in ‘n krip nie. Hy kom op die wolke as die Hemelregter om almal te oordeel.
Met Jesus se wederkoms wek hy ons liggaam uit die dood op. Mense vra hoe dit kan gebeur indien iemand byvoorbeeld in ‘n motorongeluk heeltemal verbrand het en daar van ‘n liggaam nie veel oor is nie. Die almagtige God het in die begin ‘n mens uit die stof van die aarde gemaak. Jesus is die seun van God en self almagtige God. Hy het die almag en die krag. Hy kan ‘n liggaam wat heeltemal vergaan het en stof geword het, uit die dood opwek.
Luister mooi na ons belydenis in die Kategismus: Christus wek hierdie selfde liggaam uit die dood op. In 1 Kor.15 skryf Paulus deur die Heilige Gees dat hierdie verganklike liggaam wat ons nou het met die onverganklike beklee word en hierdie sterflike liggaam met die onsterflike liggaam (1Kor.15:54).
In sy krag wek Christus ons liggaam op, sodat ons liggaam nie meer dood is nie. Hoe presies dit alles gebeur, weet ons nie.
Maar…
ONS GLO…MET ONS HELE HART…AAN DIE OPSTANDING VAN DIE LIGGAAM!
4. In sy almag herenig Christus liggaam en siel.
Die dag van Jesus Christus se wederfkoms is ‘n dag van almagtige gebeure; gebeur wat ons kwalik in woorde kan sê:
Wanneer Jesus Christus ons liggaam en siel weer met mekaar verenig, is ons almal weer ‘n hele mens na liggaam en siel. Maar…daar het ‘n groot verandering gekom. Ons liggaam is dan ook onverganklik en onsterflik saam met ons siel.
Die aardse lewe van stryd teen die bose en sonde en die dood is vir ewig verby. Sonde en al die gevolge daarvan soos pyn en hartseer en teleurstelling en siekte en swakheid en dood bestaan nie meer vir ons nie. Christus het alles verander. Hy het alles nuut gemaak. Ons wat in Hom glo, is dan volmaakte nuwe mense na liggaam en na siel.
5. Ons is dan in heerlikheid ewig by Christus.
Christus het na sy opstanding as almagtige Oorwinnaar na die hemel opgevaar. Hy het aan sy Vader se regterhand gaan sit. Hy het die hoogste posisie van mag en heerlikheid van sy Vader ontvang. Jesus Christus is nou die Hoof van die heelal en die Hoof van sy kerk. Hy leef en regeer in ewige hemelse heerlikheid.
Voor sy kruisiging het Jesus gebid dat Hy almal wat aan Hom behoort, graag by Hom wil hê om sy heerlikheid te kan sien (Joh.17:24). Wanneer Hy weer kom, ons liggaam uit die dood opwek, weer met ons siel verenig en ons by Hom neem, is ons in volmaakte ewige hemelse heerlikheid by Hom. Dan sien ons die Here Jesus se heerlikheid wat sy Vader Hom gegee het. Ons wat aan Hom behoort, deel ook in sy ewige hemelse heerlikheid. Ons leef volmaak en ewig by Hom en deel saam met Hom in die ewige oorwinning oor die bose.
Hierdie ewige heerlikheid kom ons by uit volgende Sondag, as die Here wil met ons belydenis oor die ewige lewe.
‘n Slotwoord: Die dood is so ‘n groot werklikheid in ons lewe. Die dood hier op aarde het ‘n manier om ons geskok, in smart en in angs en terneergedruk te laat vir baie lank, soms vir die res van sommige mense se lewe.
Maar…Daar is ‘N ANDER WERKLIKHEID!
Hierdie ander werklikheid is DIE OPSTANDING VAN DIE LIGGAAM!
Die werklikheid van die opstanding van ons liggaam is groter en meer as die dood van ons liggaam. Ons liggaam bly vir ‘n tyd dood. Christus kom om dit te verander. Hy wek ons liggaam op uit die dood. Die opstanding van die liggaam is ewig. Dit verander nooit. Die heerlikheid wat ons sal besit en beleef na ons liggaam uit die dood opgestaan het, is ‘n ewige hemelse heerlikheid wat woorde hier op aarde nie kan beskryf nie.
Ja, die dood bring baie swaar mee. Met die werklikheid van die opstanding van ons liggaam wat in elkeen van ons wat in Jesus Christus glo, se lewe gaan gebeur, troos die Heilige Gees ons. Sy troos maak ons sterk. Sy troos help ons.
ANTWOORD
Sing: Skb.12-2:,4,5
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: Skb.18-1:4,5
Seën: God wat alle genade gee en wat julle geroep het om in Christus Jesus deel te hê aan sy ewige heerlikheid, sal julle, nadat julle ‘n kort tydjie gely het, self weer oprig en julle moedig, sterk en standvastig maak.
Amen