ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die werk van die Heilige Gees.
Lof aan God: Ps.33:1,6
Geloofsbelydenis: Nicea
Sing: Ps.33:2
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Antwoord op die Wet: Ps.25:2,3
Gebed
VERKONDIGING
Sing: Ps.20:1,4,5
Lees: 1 Korintiërs 2:en Sondag 22 (V&A 58)
Kernvers: 1 Kor.2:9
Tema: Ons glo deur die Heilige Gees aan die ewige lewe deur Jesus Christus.
Sang: Ps.33:1,6; Ps.33:2; Ps.25:2,3; Ps.20:1,4,5; Skb.15-1:1,2,3,4; Skb.18-6:1,2,4,5.
Inleiding:
Die boodskap van lewe is ‘n baie belangrike boodskap in die Bybel. Die Bybel begin met God wat lewe geskep het. Die Bybel eindig met die nuwe Jerusalem waarin net die mense wie se name in die boek van die Lam geskrywe staan, sal gaan. In die tweede laaste vers in die Bybel kry ons die gelowiges wat bid dat die Here Jesus gou sal kom, sodat die nuwe Jerusalem ‘n werklikheid kan word.
Die lewe waaroor die Here in sy Woord met ons praat, is hoofsaaklk en veral die ewige lewe. Die ewige lewe is ‘n baie belangrike waarheid in die Bybel, so belangrik dat een van die twaalf artikels, ons geloofsbelydenis oor die ewige lewe gaan.
Ons is vanoggend by die laaste artikel, die artikel wat so klink: “Ons glo aan die ewige lewe”.
Tema: Ons glo deur die Heilige Gees aan die ewige lewe deur Jesus Christus.
Van die begin af, het die lewe wat God gegee het, oor die ewige lewe gegaan. God het Adam uit die stof van die aarde geskep. Daarma het Hy die asem van die lewe in Adam se neus geblaas, sodat hy ‘n lewende wese geword het. God het Adam as sy beeld geskep. Hy het Eva saam met Adam as sy beeld geskep.
Dat die eerste twee mense as God se beeld geskep is, het onder andere beteken dat hulle ewig saam met Hom en vir Hom sou leef. Lewe wat God gee, was van die begin af bedoel om ewige lewe te wees. Die Here God het die lewe wat Hy vir die eerste twee mense gegee het, nie bedoel om net vir ‘n tyd hier op aarde te wees nie.
Die eerste twee mense se sonde en ongehoorsaamheid het alles verander. Hulle verhouding met God het verander. Hulle lewe het verander. Hulle het die ewige lewe verloor. In die plek van die ewige lewe het die ewige dood in die mag van sonde onder God se ewige oordeel gekom. Hulle sonde het hulle verlore onder God se verskriklike ewige oordeel gelaat.
Die verskriklike is dat Adam en Eva die ganse mensdom in hierdie ellende gelaat het. Elke enkele mens was verlore onder God se verskriklike ewige oordeel. Hierdie lewe sou uitloop in ‘n veroordeelde lewe in die ewige verdoemenis, die poel van vuur, die tweede dood, die hel.
Ons lees hiervan in die Bybel. Die boodskap van God se oordeel moet ernstig opgeneem word.
Maar…daar is ‘n ANDER BOODSKAP…‘n GROTER BOODSKAP…‘n BELANGRIKER BOODSKAP!
In Paulus se woorde aan die gemeente in Korinte, ‘n stad in Griekeland, kry ons hierdie belangriker boodskap: Die boodskap van EWIGE HEERLIKHEID.
Reeds in die ewigheid het God uit liefde en genade besluit om die mensdom net so in hulle verlorenheid te los nie. Hy het op ‘n wonderlike verlossingsplan besluit. Wat God in die ewigheid besluit het, het Hy op die tyd wat Hy bepaal het, uitgevoer. Hy het sy Seun mens laat word. God se Seun, Jesus, die Christus was sy plan.
Jesus het op ‘n almagtige manier mens geword. Hy het al ons sonde op Hom geneem. Met ons sonde op Hom, het Jesus Christus aan die kruis onder sy Vader, die heilige God se oordeel gesterf. Deur sy dood het Hy ons van sondeskuld en die straf op sonde, die ewige dood verlos. Die Here Jesus het ook vir ons uit die dood opgestaan. Deur sy opstanding uit die dood het Hy die dood oorwin en aan ons die nuwe lewe, die ewige lewe met God gegee.
Die lewe wat Jesus Christus deur sy dood en opstanding gee, is die boodskap van lewe in die Bybel. Die ewige lewe deur Christus, sy Seun, is die lewe waarvan God in sy Woord praat. Paulus het die lewe waarvan God in sy Woord praat geken. Trouens, hy het self die ewige lewe gehad, want hy het in Jesus wat gekruisig is en opgestaan het, geglo.
Met hierdie boodskap het Paulus na die Korintiërs toe gekom. So het Paulus oor sy koms na Korinte geskryf: “Ek het my voorgeneem om met julle oor niks anders te praat nie as oor Jesus die Christus, en wel oor Hom as die gekruisigde” (1 Kor.2:2).
Hier is die boodskap, die geheim wat God bekendgemaak het deur soveel skrywers van sy Heilige Skrif, die Bybel: Almal wat in Jesus Christus glo, HET DIE EWIGE LEWE…NOU REEDS!
2. Die Heilige Gees oortuig ons van die volkome saligheid wat wag.
Die Grieke het hulle destyds ook besig gehou om oor lewe te dink en te praat. Hulle het allerhande argumente en hoë woorde gebruik om oor lewe te praat. Hulle het gedink deur hoë woorde en ingewikkelde argumente te gebruik, hulle die wysheid gehad het om oor die lewe te dink en te praat. Al waarby die Grieke gekom het, was om te spekuleer oor die lewe.
Paulus het met ‘n heel ander gesindheid met die Korintiërs oor die lewe, die ewige lewe gepraat. Die ewige lewe is so ‘n groot boodskap, so ‘n belangrike boodskap en Paulus was ‘n nietige mens, ‘n erdekruik wat maklik breek, het hy in die tweede brief aan die Korintiërs geskryf. Hy was bewus van sy swakheid toe hy na die Korintiërs gekom het. Hy het daarom nie met geleerdheid, met argumente en hoë woorde gekom nie.
Die boodskap van die ewige lewe is nie ingewikkeld nie en bevat nie hoë en geleerde woorde en ingewikkelde argumente nie. Die boodskap is eenvoudig en maklik om oor te praat en te verstaan:
GLO MET JOU HELE HART
IN JESUS WAT GEKRUISIG IS EN OPGESTAAN HET
EN JY HET DIE EWIGE LEWE!
Hierdie is die boodskap, die hart van die Evangelie! Hier is nie hoë en geleerde woorde nie. Hier is nie ingewikkelde argumente nie. In hierdie woorde is net die eenvoudige boodskap wat God wil hê mense moet hoor. Hy wil hê mense moet hoor, sodat almal wat glo, gered kan word en nie meer verlore gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.
Die Grieke het nie die boodskap van ewige lewe deur die gekruisigde Jesus wat opgestaan het, geglo nie. Vir hulle was die boodskap dwase woorde. Dit is vandag steeds so dat baie nie die boodskap van die ewige lewe deur Jesus Christus wat gekruisig en opgestaan het, glo nie.
Hoe gebeur dit dan dat ‘n mens hierdie boodskap glo?
Hoe het dit gebeur dat óns die boodskap van die ewige lewe deur Jesus Christus geglo het?
Die Heilige Gees help hiermee. Hy is die almagtige God. Hy kom met die Evangelie van die gekruisigde Jesus wat ook uit die dood opgestaan het in ons verstand en ons hart. Die Heilige Gees oortuig ons van die ewige lewe. Hy oortuig ons dat ons nou reeds die begin van die ewige lewe het. Die Heilige Gees oortuig ons ook dat ons na hierdie lewe volkome saligheid sal besit.
Hoe hierdie saligheid sal wees, weet ons nie. Ons kan wel drie baie belangrike dinge oor die volmaakte saligheid na hierdie lewe sê.
Ons glo so vas en seker aan hierdie volmaakte ewige saligheid dat ons dit in ons geloofsbelydenis, die Twaalf Artikels opgeneem het, as een van die belangrikste waarhede in God se Woord.
3. Ons leef met geloof, dankbaarheid en afwagting.
Die boodskap van die ewige lewe is ‘n wonderlike boodskap. Die waarheid van die ewige lewe is ‘n wonderlike waarheid wat ons lewe verander. Dat God die boodskap van die ewige lewe aan ons bekend maak, getuig van soveel liefde en soveel genade wat Hy vir ons het.
Daarom weet ons nie net van iets soos die ewige lewe nie. Allesbehalwe! Ons leef die ewige lewe!
Hoe doen ons dit?
Die waarheid van die ewige lewe is ‘n baie belangrike waarheid in God se Woord, daarom moet dit vir ons almal so ‘n belangrike waarheid te wees, dat ons ons geloof aan die ewige lewe elke Sondag met ‘n opregte hart bely en gedurende die week met ‘n opregte hart leef..
ANTWOORD
Sing: Skb.15-1:1,2,3,4
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: Skb.18-6:1,2,4,5
Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm, die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee.
Amen