ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood opgestaan het en die Heerser oor die konings van die aarde.
Lof aan God: Ps.34:1,4
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sing: Skb.12-3:1,2
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Sing: Ps.38:2,3
Gebed
VERKONDIGING
Sing: Ps.33:6,11
Lees: Romeine 3:9-31 en Sondag 23 (V&A 60)
Kernverse: Rom.3:19-24
Tema: Ons is volmaak regverdig voor God slegs deur ware geloof in Jesus Christus.
Sang: Ps. 34:1,2; Skb.12-3:1,2; Ps.38:2,3; Ps.33:6,11; Ps.71:1,12,14; Ps.84:3,6;
Inleiding:
In die reeks preke oor die geloof waardeur ons gered word, is ons nou in die Heidelbergse Kategismus by die vrae oor wat ons geloof in Jesus Christus vir ons beteken. Die vraag was: wat help dit om te glo? Die antwoord: Ons geloof help ons om voor God regverdig en ‘n erfgenaam van die ewige lewe te wees.
Vanoggend se vraag is: Hoe is jy regverdig voor God? Ons kan die vraag ook so vra: Wat beteken dit om voor God regverdig te wees?
Hierdie antwoord is seker een van die mooiste antwoorde op ‘n vraag in die Kategismus.
Tema: Ons is volmaak regverdig voor God slegs deur ware geloof in Jesus Christus
Die antwoord in die Kategismus begin met hierdie woorde: “Slegs deur ‘n ware geloof in Jesus Christus; só dat al kla my gewete my aan dat ek teen al die gebooie van God swaar gesondig het en nie een daarvan gehou het nie en dat ek nog gedurigdeur tot alle kwaad geneig is…”
Kom ons breek hierdie lang sin op in korter dele, dan word die woorde duideliker en verstaan ons beter, sodat ons hierdie woorde van ons geloofsbelydenis opreg kan glo en met ‘n opregte hart kan bely.
Al kla my gewete my aan – My gewete.
Wat is my gewete? Die woord wat ons in die Nuwe Testament kry vir gewete beteken: Saam weet. Ons kan ook sê saam verstaan en saam besef. In ‘n Christengelowige se lewe beteken gewete dat ek en die Heilige Gees saam weet volgens God se Woord die Bybel. Ek en die Heilige Gees weet saam volgens die Bybel wat reg en wat verkeerd is.
Ek is bewus daarvan dat dit wyd voorkom dat mense praat van die stemmetjie hier binne wat met ons praat. Ons as Christene kan baie beter doen as om net van “die stemmetjie hier binne” te praat.
Ons het God die Heilige Gees in ons. Hy praat met ons oor reg en verkeerd. Hy gee ons die kennis en begrip en besef wanneer iets verkeerd is. Die stem van my gewete is veel eerder die Heilige Gees wat my gewete in my laat werk.
In ‘n sondige mens soos elkeen van ons se binnekant, waarsku die Heilige Gees ons teen ons sonde. In die Katergismus se woorde: My gewete kla my aan. Ek en die Heilige Gees weet saam hoe sondig ek voor die heilige God is.
Wat is die aanklag van my gewete?
“Dat ek teen al die gebooie van God swaar gesondig het en nie een daarvan gehou het nie en dat ek nog gedurigdeur tot alle kwaad geneig is” (Sondag 23, V&A 60). Dit is ‘n ernstige klag.
Ons belydenis kom uit God se Woord. Daaarom is die belangrike vraag: Waar kry ons so ‘n ernstige aanklag in die Bybel? Paulus het deur die Heilige Gees oor hierdie aanklag so in sy brief aan die gemeente in Rome geskryf: “Almal het afgedwaal, almal het ontaard. Daar is nie een wat goed doen nie, selfs nie een nie” (Rom.3:12).
Ons kan Rom.3:9-20 as die aanklag teen die mensdom sien. Die aanklag saamgevat, klink so: ”…die hele wêreld is strafwaardig voor God” (Rom.3:19). Dit is die Here se aanklag teen alle mense. Met die Heilige Gees in ons, behoort elkeen se gewete ons ook so aan te kla voor God.
2. God se genadeskenk aan ons.
In die tweede helfte van Rom.3 kom ons by die wonder van God se genade. Die heilige God het ‘n baie ernstige klag teen alle mense. Die slotsom van die klag is: Die hele wêreld, dit is almal, verdien om gestraf te word. Die straf op sonde is die ewige dood.
Die vraag is: Watter uitspraak gee God oor die skuldige mensdom? Wat doen die heilige God met die mensdom wat tot die dood toe skuldig voor Hom is?
Die verstommende antwoord op die vraag kry ons in Rom.3:23,24 – God spreek sondaars wat tot die dood toe skuldig is, vry!
Die Heilige God gee die volgende uitspraak oor die sondige mensdom: “Almal het gesondig en is ver van God af, maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien op grond van sy genade vrygespreek van weë die verlossing deur Jesus Christus”.
Hier is ons by die kern, die hart van die Evangelie: God spreek sondaars wat skuldig is, HEELTEMAL VRY!
SKULDIG EN TOG VRYGESPREEK!
Hierdie wonderlike waarheid bely ons met die volgende woorde in die Heidelbergse Kategismus:
SONDER ENIGE VERDIENSTE van my kant, UIT LOUTER GENADE
skenk God aan my die
VOLKOME GENOEGDOENING, GEREGTIGHEID en HEILIGHEID van CHRISTUS!
Christus se genoegdoening beteken – Hy het sy Vader in alles volmaak gehoorsaam.
Sy geregtigheid of dan sy regverdigheid is die volgende – Hy het deur sy dood en opstanding al ons sondeskuld weggeneem en aan ons die nuwe lewe met God gegee. Sy heiligheid beteken dat Hy ons met sy liggaam en bloed aan die kruis skoongemaak het van sonde.
Op grond van wat Christus vir ons gedoen het kyk God nou na ons in die woorde van die Kategismus: …asof ons nooit sonde gehad of gedoen het nie, asof ons self nog altyd volmaak gehoorsaam aan God was en in die toekoms volmaak gehoorsaam aan Hom sal wees. Dit is wonderlike genade!
Ons kan sê dat ons deur Jesus Christus volmaakte vergifnis en verlossing en vryspraak van alle straf en oordeel gekry het. Ons het dit alles by God uit genade gekry.
Hierdie wonderlike vryspraak is God se GENADEGESKENK aan ons!
3. Ware geloof in ons hart.
Wie is hierdie ons? Dit is ‘n baie belangrike vraag.
In die Heidelbergse Kategismus bely ons wie die ons is wat al hierdie genade by God gekry het in die volgende woorde: “ Aan hierdie weldaad het ek deel vir sover ek dit met ‘n gelowige hart aanneem’.
In sy brief aan die gemeente in Rome het Paulus so hieroor geskryf oor wie die ons is wat hierdie genadegeskenk van volkome vryspraak by God gekry het: “God gee dit sonder onderskeid aan almal wat glo” (Rom.3:22).
ALMAL wat in Jesus Christus GLO, word volmaak vrygespreek, is volmaak regverdig voor God.
Ware geloof in Jesus Christus kry ons by die Heilige Gees. Hy, self die almagtige God gee geloof in ons hart deur die Evangelie van Jesus Christus. Met die Heilige Gees in ons kan ons die Evangelie van Jesus Christus lees. Ons kan lees dat Hy vir ons aan die kruis gesterf het en vir ons uit die dood opgestaan het. Met die Gees in ons kan ons vas en seker in Jesus Christus glo.
ALMAL WAT GLO…is REGVERDIG VOOR GOD en vrygspreek van alle straf en oordeel. As ‘n gelowige wat geregverdig voor God is, kan ek met sekerheid leef: Ek gaan nie meer verlore nie, ek is deur my geloof in Jesus Christus regverdig voor God.
Die vraag aan die begin van Sondag 23 van die Kategismus was: Wat help my geloof my? Die antwoord is:
Deur my geloof is ek regverdig voor God.
Ek is verlos en vergewe en vrygespreek.
Ek gaan nie meer verlore nie.
Daar wag op my nie meer enige gestraf en oordeel nie.
Terwyl ek nog hier op aarde is, kan ek regtig lewe!
Na my lewe op aarde wag daar vir my die volmaakte ewige lewe in die hemel by Christus.
Die Heilige Gees lei my en help my om met hierdie sekerheid te leef.
Ek leef hier op aarde met ‘n hart wat warm klop van dankbaarheid teenoor God en liefde vir Hom, omdat ek deur die Heilige Gees in Jesus Christus glo.
ANTWOORD
Sing: Ps.71:1,12,14
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: Ps.84:3,6
Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee.
Amen