Home Preke Kategismus My geloof in Christus maak my regverdig en 'n erfgenaam van die ewige lewe

My geloof in Christus maak my regverdig en 'n erfgenaam van die ewige lewe

Datum: 2024-10-27
|
Reeks: Kategismus
|
Kernverse: Rom.1:17

ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die werk van die Heilige Gees.
Lof aan God: Hoe groot is U (L464:1,2,3)
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sing: Ps.9:1,7,10

VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Antwoord op die Wet: Ps.119:6,7
Gebed

VERKONDIGING
Sing: Ps.84:3,6
Lees: Romeine 1 (2020 vert) en Sondag 23
Kernverse: Rom.1:17
Tema: My geloof in Christus maak my regverdig en ‘n erfgenaam van die ewige lewe.
Sang: Hoe groot is U (L464):1,2,3; Ps.9:1,7,10; Ps.119:6,7; Ps.84:3,6; Ps.115:1,7,8; Oorwinningslied:1,2,3

Inleiding:

Vandag is Hervormingsondag. Hervormingsdag is 31 Oktober van elke jaar. Die naaste Sondag aan 31 Oktober herdenk ons elke jaar die Hervorming op Hervormingsondag. Waarom is die Hervorming belangrik en waarom is die herdenking belangrik?

Die belangrikheid van die Hervorming gaan terug na lank voor die 16e eeu toe die Hervorming gebeur het. Toe Jesus op aarde was, het die mense in twee verdeel tussen geloof in Hom, die  Christus, die Verlosser of die wet nakom om gered te word. Die verdeling is dus: Of Jesus Christus red elkeen wat in Hom glo of elkeen moet self deur die wet na te kom, verdien om gered te word. Die kort verdeling is: Geloof of werke.

Deur die loop van die eeue het die kerk baie agteruitgegaan. dit was destyds die Roomse kerk in die weste van Europa. Die ampsdraers van die kerk het geleef het volgens die wet waardeur mens gered word. Die ampsdraers het die lidmate so geleer. Die kerk het so geleef.

God het in sy almag en sy genade gelowiges beskik en gestuur om op te staan en “Nee” te sê vir eie werke wat redding verdien en “JA” te sê vir geloof alleen in Christus alleen.

Om gered te word deur werke, is vals geloof. Almal wat so glo, is steeds verlore onder God se oordeel.

Geloof in Jesus Christus is die enigste ware geloof, die enigste geloof waardeur ‘n mens gered word.

Die Hervorming wat God beskik het, het ons gehelp destyds en help ons vandag steeds dat ons sal weet en besef en glo: Enige mens word net gered deur geloof in Christus.

Daarom is die Hervorming en die herdenking daarvan belangrik. Daarom is vanoggend se preektema die volgende: My geloof in Christus maak my regverdig en ‘n erfgenaam van die ewige lewe.

Tema: My geloof in Christus maak my regverdig en ‘n erfgenaam van die ewige lewe.

  1. Elke ware gelowige is in Christus.

Dat ons as gelowiges in Christus is, is ‘n baie belangrike waarheid wat ons dikwels in die Nuwe Testament kry.

Christus het self hieroor gepraat: “Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie” (Joh.15:5).

Hy het hieroor gebid die aand voor Hy gekruisig is: “Die heerlikheid wat U My gegee het, het Ek ook aan hulle gegee, sodat hulle een kan wees, net soos Ons een is: Ek in hulle en U in My…” (Joh.17:22,23).

Paulus, Jesus Christus se apostel het so hieroor geskryf: “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepping. Die ou dinge het verbygegaan – kyk, hulle het nuut geword” (2 Kor.5:17).

Uit hierdie verse is dit duidelik dat elke ware gelowige in Christus is. Dit is ook duidelik dat om in Christus te wees ‘n baie belangrike waarheid in die Nuwe Testament, in die Bybel is.

Hoe gebeur dit dat elke ware gelowige in Christus is?

Die Heilige Gees doen hierdie wonderlike geestelike werk. Die Gees kom met die Evangelie van Jesus Christus wat gekruisig is en opgestaan het in ‘n mens hart. Hy begin geloof in Christus in ons hart. Die geloof maak ons geestelik een met Christus.

Elkeen wat in Christus as ons enigste Verlosser glo, het ware geloof. Elkeen met ‘n ware geloof het nodig om in God die Vader as ons Skepper, God die Seun, Jesus Christus as ons Verlosser en die Heilige Gees ons Trooster en Heiligmaker te glo.

Ons bely hierdie ware geloof in die Twaalf Artikels

Elke ware gelowige met hierdie geloof in die Drie-enige God, is in Christus.

2. In Christus is ek geregverdig voor God.

Wat gebeur wanneer ons deur ons geloof in Christus is? Dieselfde vraag klink so: Wat beteken ons geloof in die Drie-enige God vir ons?

Die antwoord op die vraag het twee dele. Die eerste: Ons is in Christus voor God geregverdig.

Regverdig of geregverdig is ‘n baie belangrike woord in elke gelowige se lewe. Ons kan geregverdig so verstaan:

  • Die eerste twee mense het deur hulle sonde hulle verhouding met God, hulle plek in die skepping as sy beeld, sy verteenwoordigers en hulle lewe in ewigheid met God verloor. Hulle het vyande van God geword en sondaars wat onder die oordeel van God die ewige dood moes sterf.
  • Die eerste twee mense het al hierdie ellende nie net oor hullself gebring nie, maar oor die hele mensdom. Alle mense het gesondig en alle mense moes ewig sterf (Rom.5:12).
  • God het die mensdom nie in die mag van sonde en onder sy ewige oordeel gelos nie. Hy het uit liefde sy Seun gegee. Jesus Christus, God se Seun het op ‘n almagtige manier aarde toe gekom en mens geword.
  • Christus het al ons sonde op Hom geneem. Hy het die straf en oordeel wat op ons moes kom, in ons plek gedra. Hy het in ons plek vir ons aan die kruis gesterf.
  • Deur sy dood aan die kruis op Golgota het Jesus ons vyandskap met God, die ewige dood as straf op sonde volmaak weggeneem.
  • Elkeen wat in Christus glo, word verlos en vrygespreek en vergewe. Hieroor het Paulus aan die gelowiges in Rome so geskryf: “Daar is dus nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie” (Rom.8:1). Hierdie vers beskryf vir ons wat dit is om voor God geregverdig te wees.

Almal wat in Jesus Christus wat gekruisig is en opgestaan het, glo, is in Hom en is verloste nuwe mense. Verloste nuwe mense is vry van straf en oordeel. Verloste nuwe mense is geregverdig voor God.

Om geregverdig voor God te wees, kom nie deur iets wat ons doen nie. Wie leef met die gerloof dat wat mense doen, dit is mense se werke, hulle voor God regverdig maak, het ‘n totale vals geloof. Met so ‘n geloof leef sulke mense nog onder God se ewige oordeel.

Die boodskap in die Bybel is duidelik. Om voor God regverdig te wees, kom net deur geloof en dan geloof in Christus alleen. Hierdie is die geloof van die Hervorming. Dit is ook ons geloof.

3. In Christus is ek ‘n erfgenaam van die ewige lewe.

Die tweede deel van die antwoord wat ons geloof in die Drie-enige God vir ons beteken, klink so: Ons is in Christus erfgename van die ewige lewe. Hierdie woorde “erfgename van die ewige lewe” bring ons by die genadeverbond.

God se verbond met Abraham en sy nageslag is ‘n ewige verbond. Ons praat van die genadeverbond, want sonder Abraham en sy nageslag gevra het, of iets verdien het, het God Hom ewig aan Abraham en sy nageslag gebind.

Ons lees in Gen.15:6 en Rom.4:3 dat Abraham in God geglo het. God het Abraham deur sy geloof vrygespreek van straf en oordeel. Op grond van sy geloof in God het Abraham die genade ontvang om in die genadeverbond te wees en erfgenaam van die ewige lewe te wees. Op grond van dieselfde geloof in God is Abraham se nageslag erfgename van die ewige lewe. Isak, Abraham se seun het hierdie geloof gehad en hy was in die genadeverbond. Ismael, ook Abraham se seun het nie hierdie geloof gehad nie, daarom was hy nie in die genadeverbond nie.

Die genadeverbond is soos ‘n testament. Die name wat in iemand se testament geskryf is, is die erfgename. God se genadeverbond is nie ‘n geskrewe testament nie, maar ‘n geestelike testament van al sy erfgename.

Dit is baie belangrik om te weet en te besef en te glo dat daar nie ‘n ander verbond, ‘n ander testament is, as God se genadeverbond met Abraham en sy nageslag nie. Net die mense wat deel van Abraham se nageslag is, ie erfgename in die genadeverbond en daarom erfgename van die ewige lewe.

Hierdie belangrike waarheid bring ons by die vraag: Wie is almal die nageslag van Abraham? Ons kan ook vra: Hoe word ons die nageslag van Abraham dat ons ook ‘n erfgename van die ewige lewe kan wees?

Ons bely in Sondag 23 dat ons in Christus erfgename van die ewige lewe is.Ons belydenis kry hierdie waarheid in Ef.1:5,11 en Gal.3:14,29. Deur ons geloof is ons in Christus. Almal wat in Christus is, is die nageslag van Abraham en erfgename van die ewige lewe.

Dit is so belangrik: Niks wat ons doen maak ons regverdig voor God en erfgename van die ewige lewe nie.  Daarom was die Roomse kerk met die nakom van die wet en goeie werke wat redding verdien, destyds in ‘n doodloopstraat, die ewige dood onder God se oordeel.

Geloof in Christus, geloof alleen in Christus alleen, maak ons regverdig voor God en erfgename van die ewige lewe. Hierdie baie belangrike waarheid kry ons in die Bybel. Daarom het die Hervormers dit geglo. Daarom glo ons dit vandag steeds.

ANTWOORD
Sing: Ps.115:1,7,8
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: Oorwinningslied:1,2,3
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, die liefde van God ons Vader en die gemeenskap van die Heilige Gees sal met julle almal wees.
Amen

Klankbaan

Luister na die preek.