ONTMOETING
Votum: Dié wat op die Here vertrou, is soos Sionsberg wat nie wankel nie en altyd vas bly staan. Soos die berge Jerusalem aan alle kante beskerm, so beskerm die Here sy volk, nou en vir altyd.
Seën: Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood opgestaan het, en die Heerser oor die konings van die aarde.
Lof aan God: Hoe groot is U (L464):1,2,3
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sing: Ps.71:9
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Levitikus 19:1-18
Antwoord op die Wet: Ps.25:3,5
Gebed
VEROOTMOEDIGING
Sing: Ps.86:1,6
Lees: Jesaja 6:1-12 en Sondag 21 (V&A 56)
Kernverse: Jes.6:5-7
Tema: Vergifnis.
Sang: Hoe groot is U (L464):1,2,3; Ps.71:9; Ps.25:3,5; Ps.86:1,6; Skb.5-2:4; Skb.1-3:1,2,3
Inleiding:
Ons almal se lewe hang van hierdie een woord af: Vergifnis. Dit is baie belangrik dat elkeen sal glo dat vergfinis regtig gebeur het. Ons geloof dat vergifnis regtig gebeur het, is belangrik, want dit is ‘n deel van die geloof, die enigste geloof waardeur ons gered word.
Vanoggend is ons by ‘n deel in die Bybel en in die Heidelbergse Kategismus oor die werklikheid dat vergifnis regtig gebeur het.
Tema: Vergifnis.
In Jesaja 6 is ons by ‘n aangrypende gesig wat Jesaja gesien het, wat regtig gebeur het. Ons weet dit het regtig gebeur, want Jesaja het ‘n jaar en ‘n persoon se naam en ‘n gebeurtenis genoem: “In die jaar van koning Ussia se dood het ek die Here gesien” (Jes.6:1).
Wat het Jesaja gesien?
Die Here het op ‘n baie hoë troon gesit.
Die onderpunt van sy kleed het die tempel gevul.
By die Here was daar serafs om Hom te dien.
Die serafs het elkeen ses vlerke gehad: Met twee vlerke het elke seraf sy gesig bedek, met twee het elkeen sy voete bedek en met die ander twee het hulle gevlieg.
Die serafs het mekaar gedurig toegeroep: “Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige! Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid.”
Die harde roep van die serafs het die deure laat rammel en die tempel vol rook laat word. Die rammel het gewys op die almag van God. Die rook het gewys op die brandende, die teken van reiniging van sonde.
Serafs is geestelike wesens. In die gesig wat Jesaja gesien het, het hy gesien en gehoor dat die serafs God verheerlik het. Hulle het erken dat Hy heilig is en dit die heeltyd hard uitgeroep. Drie keer heilig sê dat God volmaak heilig is.
Heilig beteken afgesonder. Die Here is afgesonder van alles en almal. Daar is niemand soos Hy nie. Die Here sonder Hom ook van sonde af. Hy verdra sonde nie. Hy straf sonde met die ewige dood.
Die Here is ewig onveranderlik. Hy is ewig die volmaak heilige Here wat sonde swaar straf en oordeel.
2. Ons is onrein van al ons baie sonde.
Jesaja het voor die Here die Almagtige, wat volmaak heilig is, gestaan. Ons kry dit gereeld in die Ou Testament dat niemand, selfs nie gelowiges, dit maklik het wanneer ‘n mens naby die helige God kom nie.
Toe die Here sy wet vir Israel gegee het, het hulle donderslae en ‘n ramshoring gehoor. Hulle het rook op die berg Sinai gesien. Hulle het van angs gebewe en vir Moses gesê: “Praat jy liewer met ons, en ons sal luister. Moet tog nie dat God met ons praat nie, want dan sal ons sterf” (Eks.20:19). Nadat die Here aan Simson se ouers verskyn het, het Manoag, sy pa gesê: “Ons gaan beslis sterf, want ons het God gesien” (Rigt.13:22).
Daar voor die heilige Here het Jesaja, ‘n sondige mens gestaan. Hy het in angs uitgeroep:
Dit is klaar met my!
Ek is verlore!
Jesaja het die woorde uitgeroep omdat hy besef het dat elke woord oor sy lippe onrein was, dat elke woord van die verbondsvolk onrein is en hy het die Here in sy almag en heiligheid gesien.
Voor die heilige God is elke enkele mens onrein. Sonde maak ons onrein. Sonde maak ons vuil.
Daar is net een ding om te doen, wanneer ons in die Here se teenwoordigheid kom, net een ding: “n Opregte en diep besef dat voor die Heilige God vuil van sonde is. Sondige gedagtes, sondige woorde en sondige dade wat nie volmaak reg voor die Here is nie, maak ons vuil. Sonde is wanneer ons dit wat God van ons vra, nie doen nie. Ook hierdie sonde maak ons vuil voor die Here. Ons het sonde waarvan ons nie weet nie. Ons ken God nie goed genoeg nie en ook nie die Bybel goed genoeg nie, daarom doen ons sonde waarvan ons nie eers weet nie. Ook hierdie sonde maak ons vuil voor die heilige God.
Al hierdie sonde maak ons almal vuil, onrein voor die heilige God!
Ons leef in ‘n tyd waar soveel mense sonde as ‘n outydse woord sien en waar selfs gelowiges dink dat sonde nie so erg is nie. Die mens wat sonde ontken of dink sonde is nie erg en maak mens nie vuil voor die heilige God nie, is op ‘n lewensgevaarlike pad. Hierdie is die pad van die dood wat sal eindig in die ewige dood onder God se verskriklike oordeel in die vuur van die hel.
Besef van sonde en belydenis van sonde is daarom lewensbelangrik. Ons kan ook maar uitroep: Dit is klaar met ons! Ons is verlore!
3. Christus versoen ons met God.
Terwyl Jesaja sondig en onrein voor God gestaan het en gedink het dat hy verlore was, het ‘n aangrypende wonder gebeur.
Een van die serafs het ‘n met ‘n tang ‘n gloeiende kool van die altaar gevat en na Jesaja toe gevlieg. Die seraf het Jesaja se mond met die kool aangeraak. Toe het die seraf die wonderlikste woorde vir Jesaja gesê: “Noudat die gloeiende kool jou lippe aangeraak het, is jou oortredinge vergewe, jou sonde versoen” (Jes.6:7).
Vuur het in die Bybel twee belangrike betekenisse. Vuur wys op die heilige God se oordeel. Die hel word daarom die poel van vuur genoem. Vuur wys ook op reinig, skoonmaak. Die brandende kool waarmee die seraf Jesaja se mond aangeraak het, het beteken dat God self Jesaja skoongemaak het van sy sonde.
Alle mens bly vuil van sonde en onder die heilige God se oordeel, behalwe wanneer God ons skoonmaak. Dit is baie belangrik. Niemand is vanself skoon van sonde nie. Niemand van ons kan onsself skoonmaak nie. God en net Hy, kan ons skoonmaak.
Ons weet uit die Nuwe Testament dat die gloeiende kool van die seraf ‘n simbool was van die werklike skoonmaak van sonde. Sondige mens wat vuil voor die heilige God is, word skoon van sonde deur Jesus Christus. Jesus neem ons sonde op Hom. Hy staan in ons plek voor sy Vader, die heilige God. Hy dra ons straf in ons plek. Jesus Christus, God se Seun, sterf met ons sonde op Hom in ons plek aan die kruis.
Hy staan op die derde dag uit die dood op. Hy oorwin die dood vir ons en gee aan ons die ewige lewe deur uit die dood op te staan.
Jesus Christus is die enigste Een wat ons skoonmaak van sonde. Hy maak ons skoon van sonde op net een manier: Deur vir ons te sterf en op te staan. Deur sy dood aan die kruis en sy opstanding het Jesus al ons sonde weggeneem. Deur Jesus is alles wat tussen God en ons was, weggeneem.
Hy het ons met God versoen. Deur Jesus is almal wat in Hom glo, in ‘n innige Vader-kindverhouding met die heilige God.
4. Deur Christus is ons volmaak vergewe.
Jesus het voor sy dood aan die kruis die volgende woorde gesê: “Dit is volbring” (Joh.19:30). Met daardie woord het Jesus self gesê dat Hy alles gedoen het, wat sy Vader verwag het.
In die Kategismus bely ons daardie woorde van Christus so: Op grond van Christus se voldoening dink God nooit meer aan ons sonde nie. Dit is aangrypende woorde. Die woorde kom van ‘n nog meer aangrypende vers in die Bybel met die woorde van Jesus self: “Dit is volbring”.
Daardie woorde uit Jesus, God se seun, ons Verlosser, se eie mond, gee ons wat in Hom glo, die sekerheid dat God ons volmaak vergewe het.
Die Heilige Gees gee ons geloof in Jesus Christus. Hy gee ons ook geloofsekerheid dat ons regtig volmaak vergewe is.
Vergifnis verander ‘n mens se lewe. Die Jesaja voor hy vergewe is en die Jesaja na hy vergewe is, was nie dieselfde persoon nie. Voor sy vergifnis het Jesaja uitgeroep dat hy verlore is. Na sy vergifnis was hy bereid om God met oorgawe te dien.
Vergifnis is wonderlike genade in ons lewe. Vergifnis verander ook ons almal se lewe.
Dit kan nie anders nie, as dat ons wat seker is van vergifnis, se harte vol dankbaarheid moet wees oor hierdie wondergenade in ons lewe. Dit kan verder nie anders nie, as dat ons harte van liefde sal brand, omdat Jesus ons so liefgehad het dat Hy ons straf gedra het en God ons so liefgehad het dat Hy ons vergewe het.
Ons dankbaarheid en ons liefde, omdat ons vergewe is, het nodig om in ons lewe te wys. Ons kan en ons behoort ons dankbaarheid en ons liefde te wys, deur met oorgawe vir God te lewe. Met die Heilige Gees in ons, kan ons met die gesindheid lewe van: Wat God die Vader wil, dit wil ons ook.
Wanneer ons deur die Heilige Gees, uit liefde en dankbaarheid God se wil doen, leef ons soos gelowiges wat vergewe is. Dit is ‘n lewe van genade.
ANTWOORD
Sing: Skb.5-2:4
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: Skb.1-3:1,2,3
Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee.
Amen