Home Preke Kategismus Met my gehoorsaamheid aan die Wet, dank ek die Here vir sy genade.

Met my gehoorsaamheid aan die Wet, dank ek die Here vir sy genade.

Datum: 2023-01-15
|
Reeks: Kategismus
|
Kernverse: Eks.20:1,2

ONTMOETING

Votum: Ps.121:1,2

Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die werk van die Heilige Gees

Lof aan God: Ps.30:1,2

Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels

Sang: Ps.9:1,7,10

VEROOTMOEDIGING

Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34

Antwoord op die Wet: Ps.119:6,7

Gebed

VERKONDIGING

Sang:Sb.9-1:1,10,11

Lees: Eksodus 3:1-10, Eksodus 20:1,2 en Sondag 1

Kernvers: Eks.20:1,2

Tema: Met my gehoorsaamheid aan sy Wet dank ek die Here vir sy genade

Sang: Ps.30:1,2; Ps.9:1,7,10; Ps.119:6,7; Sb.9-1:1,10,11; Ps.18:14; Ps.116:4,5,7

Inleiding:

Ons gaan, as die Here wil, verder met die die reeks preke aan die hand van die Heidelbergse Kategismus. Hierdie reeks preke sluit aan by die tweede vraag en antwoord van Sondag 1. Die vraag en antwoord gana hieroor: Ek het drie dinge nodig om te weet, as ek regtig met Jesus Christus as my Enigste Troos wil leef:

  • Ek moet weet hoe nodig ek Jesus het.
  • Ek moet ook weet hoe Jesus my gehelp het en my van al my sonde verlos het.
  • Verder moet ek weet hoe om vir Jesus Christus dankie te sê vir sy liefde en sy genade.

Die reeks preke gaan oor hoe om vir Jesus dankie te sê. Om vir Jesus dankie te sê, is baie belangrik vir elke Christengelowige. Of ek dankie sê of nie en hoe ek dankie sê, wys of ek besef hoe nodig ek Jesus het en of ek weet hoe Hy my gehelp het teen my sonde. Hierdie reeks preke is daarom baie belangrik om na te luister en dan te doen wat God vir elkeen van ons sê.

Daar is veral twee maniere om vir Jesus dankie te sê: Die Here se Wet en gebed. Ons gaan daarom kyk na die Tien Gebooie en die Onse Vader. Vanoggend begin ons by die Wet, die Tien Gebooie.

Tema: Met my gehoorsaamheid aan sy Wet, dank ek die Here vir sy genade

  1. God het my aan Hom gebind

Hoe sal jy antwoord as iemand jou vra: Hoe begin die Here se Wet? As jy sou antwoord: Dit is maklik. Ek ken die tien gebooie. Die eerste gebod is: Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie, dan moet jy weer mooi na die Tien Gebooie gaan kyk. Die gebooie kry mens in Eks.20:1-17.

Wanneer jy die hoogstuk van die begin af lees, kom ‘n mens op hierdie woorde af: “Ek is die Here jou God…” (Eks.20:2).

Met hierdie woorde sê die Here dat Hy die Verbondsgod is wat Hom aan sy verbondskinders en -erfgename gebind het. Wanneer ek hierdie woorde lees, moet ek in werklikheid teruggaan na die dag toe God die verbond met Abraham gesluit het. Luister na die Here se Woorde daardie dag: “Ek bring ‘n verbond tot stand tussen My en jou en jou nageslag en al hulle geslagte. Dit is ‘n ewige verbond: Ek sal jou God wees en ook die God van jou nageslag” (Gen.17:7).

Die woorde waarmee die Here sy Wet begin en die woorde by die sluit van die verbond, is dieselfde –

Ek sal jou God wees (Gen.17:7).

Ek is die Here jou God (Eks.20:2).

Die woorde aan die begin van die Wet beteken dat die Here Hom aan my gebind het!

Uit die res van die Bybel en Sondag 1 van die Heidelbergse Kategismus weet ons dat God Hom aan my gebind het deur Jesus Christus, sy Seun. Jesus het my syne gemaak. Hy het vir my aan die kruis gesterf en my losgekoop van die mag wat die duiwel en sonde en die ewige dood oor my gehad het. Jesus het vir my op die derde dag uit die dood opgestaan. Deur sy opstanding het Hy aan my die nuwe lewe gegee. Deur sy dood en opstanding het Jesus my ewig syne gemaak. Omdat ek syne is, is ek ‘n kind en erfgenaam van God (Gal.3:29). Ek is in die genadeverbond. Ek is aan God gebind, vir ewig.

Die Wet was nooit en is steeds nie net tien bevele of opdragte wat God gegee het nie. Hy het my in die genadeverbond aan Hom gebind. Hy het sy Wet vir Israel en vir my gegee sodat ek in die verbond naby Hom en vir Hom kan leef met my hart vol dankbaarheid vir sy genade en sy liefde in my lewe.

Die Wet begin daarom nie by die woorde van die eerste gebod nie. Die Wet begin by die baie kosbare en belangrike woorde: “Ek is die Here jou God”!

2. Ek is verlos, omdat God my genadig was

Elke enkele mens behoort of aan God of aan Satan. Ek is of aan God gebind of ek is aan die duiwel gebind. Daar is nie iemand anders nie. Dit is net God of die Satan.

Om hierdie rede is die woorde: “Ek is die Here jou God” so belangrik. Elke Sondag wanneer ek hierdie woorde hoor, behoort ek elke keer diep in my hart geraak te word. Ek hoor tydens die erediens dat ek nie aan Satan nie, maar aan God behoort! Ek behoort elke week daarna te verlang en daarna uit te sien om hierdie woorde van God self te hoor.

Dan is dit ook so dat nie elke mens aan God behoort nie. Nie elke mens is aan God gebind nie. Nie elke mens is verlos nie. God verlos enige mens net uit genade. Daar is baie voorbeelde hiervan in die Bybel.

Dit bring ons by die volgende woorde aan die begin van die Tien Gebooie: “…wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny bevry het” (Eks.20:2).

In Eks.3 kry ons Israel in Egipte. Dit gaan baie swaar met hulle. Die Farao wat destyds regeer het, het Israel wat al meer geword het, as ‘n bedreiging gesien. Sy eerste plan was om hulle met onmenslike dwangarbeid te onderdruk. Israel het slawe geword met die Egiptenaars die slawedrywers. Die plan het nie gewerk nie. Die volgende plan was onmenslik wreed. Die plan was om al die seuntjies wat in Israel gebore word, dood te maak.

Hierdie bitter omstandighede het Israel laat kerm, staan daar in Eks.2:24. Hulle het na God geroep om hulp. God het gehoor. Hy het hulle nood gesien. Hy het aan sy genadeverbond gedink. Hy het Moses geroep om Israel uit Egipte te lei. God het Moses gebruik om Israel uit Egipte, uit die plek van slawerny te verlos.

Israel was sondig. Hulle het die verlossing nie verdien nie. God het hulle uit genade verlos.

Ek was nie in Egipte ‘n slaaf nie. My slawedrywer was nie die Farao nie. My slawedrywer was die duiwel. Elke enkele mens, ek ook, was in die verlede magteloos in die bose hande van Satan. Maar….hierdie verskriklike omstandighede het nie so gebly nie.

God het sy Seun gestuur. Jesus het mens geword. Hy het deur sy kruisiging en opstanding my volmaak uit die mag van Satan verlos. Ek het nie vir hierdie verlossing gevra nie. Niemand het gevra nie. God het sy Seun na die aarde toe gestuur, omdat Hy ons liefgehad het. Jesus het vir ons sondes gesterf, omdat Hy ons met sy lewe liefgehad het. Op grond van Jesus se kruisiging en opstanding, het God my al my sondes vergewe. Hy het my vrygespreek van alle straf en oordeel.

Ek is nou ‘n verloste nuwe mens…NET UIT GENADE!

3. Met die Wet sê ek: Dankie Here!

Na God se woorde aan die begin van sy Wet dat Hy my aan Hom gebind het en dat Hy my verlos het, begin sy gebooie, tien van hulle. Die gebooie, die Wet, is nie bloot opdragte en bevele wat ek nie mag nie en wat ek moet.

Die Fariseërs en skrifgeleerdes het toe Jesus op aarde was, die Wet so gesien. Vir hulle was die gebooie bloot bevele wat gehoorsaam moes word om gered te word. Om aan God gebind te wees, was nie belangrik nie. Al wat vir hulle belangrik was, was die opdragte in die Wet. Jesus het hulle hieroor huigelaars, slange en wit gepleisterde grafte genoem (Mt.23:13-28).

Een van die redes waarom die Here sy Wet gegee het, is dat ek sal weet hoe om vir Jesus Christus dankie te sê dat Hy sy lewe gegee het om my te verlos en dat ek sal weet hoe om vir God dankie te sê dat Hy sy Seun vir my gegee het.

Wanneer ek in die Heidelbergse Kategismus na die Wet soek, kry ek die Wet in die deel wat oor dankbaarheid gaan. Dit is die plek wat die Here se Wet in my lewe behoort te hê – my manier om vir die Here dankie te sê.

Daar is ‘n geestelike ketting om dit so te noem. Om regtig met Jesus as my Enigste Troos te lewe, moet ek drie geestelike dinge weet.

Daar is drie, nie een of twee nie, maar drie!

Die een is so belangrik soos die ander!

Die eerste: Ek moet weet hoe groot my sonde is en hoe nodig ek Jesus Christus het.

Die tweede: Ek moet weet hoe Jesus my teen die duiwel en sonde gehelp het en my verlos het.

Die derde: Ek moet weet hoe om vir Hom dankie te sê.

Indien ek nie deur my gehoorsaamheid aan die Wet vir die Here dankie sê nie, is daar fout met my geloof. Te min dankie beteken ek weet nie hoe nodig ek Jesus het nie en ek weet en besef nie hoe Hy my gehelp en verlos het nie. Nou is dit juis by hierdie dankie sê, waar dit met ons gemeente en met die Gereformeerde kerke in Suid-Afrika waarvan ons gelowige lidmate is, nie goed gaan nie. Hier het ons gemeente ‘n baie ernstige probleem. Ons dankbaarheid skiet ver tekort.

As daar een baie belangrike geestelike ding is wat elkeen van ons in 2023 behoort te doen, is dit om in die krag van die Heilige Gees ons te bekeer, sodat elkeen van ons se dankbaarheid baie beter, baie meer en baie dieper word.

Benut dan die eerste deel van die jaar deur met God se Wet besig te wees. Leer die Wet van die Here beter ken. Leer veral die Here van die Wet groei baie beter ken en groei geestelik in die manier hoe jy vir Hom dankie sê.

ANTWOORD

Sang: Ps.18:14

Gebed

Liefdegawe vir barmhartigheid

Antwoord op die Woord: Ps.116:4,5,7

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, die liefde van God ons Vader en die gemeenskap van die Heilige Gees sal met julle almal wees

Amen