ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die werk van die Heilige Gees.
Lof aan God: Ps.98:1,2
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sing: Ps.30:1
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Antwoord op die Wet: Skb.9-1:10,11
Gebed
VERKONDIGING
Sing: Skb.1-1:1,2
Lees: Romeine 9:14-18
Kernvers: Rom.9:18
Tema: God kies wie Hy Hom oor ontferm en wie Hy verhard
Sang: Ps.98:1,2; Ps.30:1; Skb.9-1:10,11; Skb.1-1:1,2; Ps.89:1,2; Skb.1-1:3,6
Inleiding:
Dit is net genade dat God ‘n mens kies om deur geloof vrygespreek te word. Hierdie waarheid geld vir Israel. Hierdie waarheid geld vir elke volk, elke mens op aarde.
Tema: God kies wie Hy Hom oor ontferm en wie Hy verhard
Die tweede deel van die regsaak tussen God en die mensdom is sy uitspraak. Ons kry hierdie uitspraak in Rom.3:21-4:25. In hierdie deel maak die Here hierdie groot waarheid bekend: ‘n Mens word vrygespreek deur geloof in Jesus Christus. Die begin van
Rom.3:21-26 – Maar nou het die vryspraak deur God waarvan die wet en die profete getuig, in werking getree. Dit is die vryspraak wat nie verkry word deur die wet te onderhou nie, maar deur in Jesus Christus te glo. God gee dit sonder onderskeid aan almal wat glo. Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie, maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus. Hom het God gegee as offer wat deur sy bloed versoening bewerk het vir dié wat glo. Hierdeur het God getoon wat sy vryspraak behels: Hy het die sondes wat Hy voorheen in sy verdraagsaamheid tydelik ongestraf laat bly het, vergewe. Maar Hy het ook getoon wat sy vryspraak in die teenswoordige tyd behels: Hy oordeel regverdig deurdat Hy elkeen vryspreek wat in Jesus glo.”
Die wet en die profete getuig van uitspraak net deur geloof. Hierdie is ‘n uitdrukking vir die hele Ou Testament.
Gen.15:6 – Abraham het in God geglo en God het Hom dit tot geregtigheid (vryspraak) gereken.
Hab.2:4 – Die regverdige (die een wat voor God regverdig is), deur sy geloof sal hy lewe.
Die geregtigheid, die regverdigheid of vryspraak, is iets wat God doen. Ons kan hierdie waarheid op verskillende maniere sê:
God is die Enigste wat ‘n mens geregtigheid kan toereken of dan ‘n mens kan vryspreek. Hy spreek ‘n mens wat sondig is en tot die dood toe skuldig voor Hom is, net op een manier vry:
DEUR GELOOF IN JESUS CHRISTUS!
Die baie ernstige probleem is dat Israel nie in Jesus Christus geglo het nie.
Johannes het hieroor so geskryf: “Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie” (Joh.1:11).
Na die wonder van die vyf brode en twee visse Jesus die Jode geleer het dat hulle net in Hom as Verlosser sal kan glo, behalwe as God die Vader hulle die geloof gee. Hieroor het baie van sy dissipels omgedraai en nie meer saam met Hom gegaan nie (Joh.6:66).
Die Fariseërs het ‘n klag teen Jesus gesoek. Hulle het op die sabbat gevra of mens iemand gesond mag maak. Jesus het die man met ‘n gebreklike hand gesond gemaak. Daarna het die Fariseërs planne beraam om Jesus om die lewe te bring (Matt.12:14).
Jesus het self in die laaste week voor sy kruisiging die volgende ernstige woorde oor die Fariseërs gesê: “Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Julle is soos witgeverfde grafte, wat van buite mooi lyk maar daarbinne vol doodsbene en allerhande onsuiwerheid is” (Matt.23:27).
Toe Pontius Pilatus die Jode voor die keuse gestel het wie om op paasfees vir hulle los te laat, het die Jode Jesus verwerp en die rower Barabbas gekies om losgelaat te word (Joh.18:40).
Israel, die meeste in Israel het Jesus nie aanvaar nie, nie in Hom as Verlosser geglo nie. Israel wat nie in Jesus geglo het nie, is nie vrygespreek nie. Tog was daar Israeliete wat in Jesus geglo het.
Ons kry dus in Israel twee groepe. Die Israeliete wat in Jesus geglo het, is Israel met geloof. Die Israeliete wat nie in Jesus geglo het nie, is die Israeliete net met natuurlike geboorte (Joh.1:12,13). Hulle het gedink dat omdat hulle volgens natuurlike geboorte van Abraham afgestam het, hulle nie verlossing en vryspraak nodig gehad het nie (Joh.8:31-33).
Omdat die Israeliete nie in Jesus geglo het nie, is hulle nie vrygespreek van straf en oordeel nie. Die aanklag van God teen hulle het steeds gegeld.
Israel het steeds onder die klag voor God gestaan. Hierdie toedrag van sake het ernstige vrae veroorsaak.
Die ernstige vrae oor God se verbond is:
Het God se belofte aan Israel verander? Hoe kan dit, want Hy is die onveranderlike God.
Het sy belofte verval? Hoe kan dit, want Hy is ewig getrou?
Het God se belofte aan Israel sy krag verloor? Hoe kan dit, want Hy is die almagtige God?
Die ernstige vraag oor Israel is vandag steeds of Israel nog God se verbondsvolk is? Dit is die historiese Israel. Is die mense van die land Israel met die Middellandse see en Egipte aan die weste en suide, Lebanon en Sirië in die noorde, Jordanië in die ooste en die suide vandag steeds God se verbondsvolk?
Daar is baie mense wat so dink. Die media oor die radio, koerante en televisie praat die heeltyd net van Israel. In God se Woord in Rom.9-11 kry ons dieper vrae en beter antwoorde oor Israel as verbondsvolk van God.
Die probleem wat hierdie vrae oor God se verbondsbeloftes aan Israel laat ontstaan is: God het met Abraham en sy nageslag die ewige verbond gesluit. Isak was die nageslag van die verbond en Jakob na hom. Met die sluit van die verbond het God ook ‘n land aan Abraham en sy nageslag beloof. Ons weet dat Israel eeue na hierdie beofte van ‘n land wel die beloofde land bereik het en ingeneem het.
Jesus is in die beloofde land gebore. Israeliete wat in die beloofde land van die verbond gebore is en gebly het, het nie in Jesus geglo nie en is daarom nie vrygespreek van straf en oordeel oor hulle sonde nie.
Paulus het hierdie vraag reeds oor God se verbond met Israel in Rom.9:6 beantwoord met sy bekende woorde: “Immers, nie almal wat van Israel afstam is werklik Israel nie.”
Die verdere antwoord op die vraag, is dat om vrygespreek te word, nie afhang van wat ‘n mens doen nie. Om opgeneem te word in die genadeverbond en om verlos te word van sonde en vrygespreek te word van straf en oordeel, hang nie daarvan af wat mense doen nie. Lewe in die genadeverbond, lewe as verloste en vrygespreekte hang af van God wat kies.
Isak en Jakob is die twee mense wat Paulus as voorbeeld gebruik het, dat God se verbondsbeloftes nie bedoel is vir Israeliete volgens natuurlike geboorte nie. Dat die Israeliete van natuurlike geboorte, maar sonde geloof, nie vrygespreek is nie, beteken nie dat God se verbondsbeloftes aan Abraham verval het nie.
Hier staan lidmate van elke gemeente voor ‘n belangrike waarheid. Nie die uiterlike dinge – ons afkoms uit ‘n Christelike familie, ons lidmaatskap van ‘n Christelike kerk, of ons gedoop is belydenis afgelê het en of ons nagmaal gebruik, maak dat ons verlos is van sonde of vrygespreek is van oordeel nie. Ook nie die uiterlike dinge of ons werknemers is wat hard werk en eerlik is en of ons hulpvaardig is waar ons kan of watter uiterlike goeie dinge ons dink ons doen, sal maak dat ons vrygespreek word nie. Hierdie is ‘n waarheid wat tot ons binneste moet deurdring.
Om deur geloof in Christus vrygespreek te word, hang af van God wat ons kies en na Hom toe roep.
Hierdie waarheid bring Paulus by die volgende vraag: “Wat moet ons hieruit aflei? Dat God onregverdig is?” Deur die Heilige Gees het Paulus hierdie vraag sos geantwoord: “Beslis nie!” (Rom.9:14).
Om te kan glo en deur geloof vrygespreek te word, hang af van die genade van God wat ‘n mens uitverkies. Hy kies wie aan Hom behoort, volgens sy wil. Baie lank gelede het God vir Moses gesê: “…Ek sal barmhartig wees oor wie Ek barmhartig wil wees en Ek sal My ontferm My oor wie Ek My wil ontferm” (Rom.9:15).
Moses was in die genadeverbond, want God was Moses barmhartig en Hy het Hom oor Moses ontferm. Daarteenoor was die Farao in Egipte toe Israel daar slawe was, nie in die genadeverbond nie, want God het die Farao verhard.
God is die ewige, almagtige, alwetende God. Hy is bo alles en almal. Hy besluit in ewigheid wie Hy kies om aan Hom te behoort, wie Hy verlos en aan wie Hy geloof gee om vrygespreek te word. Hy, die Allerhoogste is aan niemand ‘n verduideliking verskuldig nie.
Die ware Israel, die ware verbondsvolk is nie bloot almal wat in Israel gebore is nie. Die ware Israel, die verbondsvolk is dié in Israel wat God gekies het, deur die Evangelie na Hom geroep het, hulle wat in Jesus Christus geglo het en deur sy sterwe en opstanding vrygespreek is.
Dit is met almal van ons dieselfde. Ons is vrygespreek alleen op grond daarvan dat God ons gekies het om aan Hom te behoort, aan ons geloof in Jesus Christus gegee het. Deur ons geloof is ons verlos en vrygespreek van alle straf en oordeel.
Die media vertel in kleur en geur net van die Israel volgens natuurlike geboorte. Daar is ‘n belangriker, ‘n ernstiger en baie beter boodskap oor Israel. Dié in Israel wat deur God gekies is, en deur geloof in Jesus Christus vrygespreek is, sal lewe. Dié wat nie in Christus glo nie, staan nog aangekla en sondig voor die heilige God.
Hoe belangrik al die ander boodskappe en berigte oor Israel ook mag wees, hierdie een is die heel belangrikste.
Hierdie boodskap is ook vir ons almal die heel belangrikste. Wie deur God uitverkies is, sal deur geloof in Christus vrygespreek word en lewe. Daarom: Wie in Jesus Christus glo, is vrygespreek. Dit het gebeur, omdat God Hom oor ons ontferm het. Die Heilige Gees gee ons hierdie sekerheid.
Ons dankbaarheid vir God se genade wys daarin dat ons gereeld na sy Woord luister, waardeur Hy ons na Hom toe roep. Ons dankbaarheid wys verder daarin dat ons antwoord wanneer God roep deur met ‘n gelowige hart vir Christus leef met alles wat ons het.
Ons verlange na God se Woord, ons geloof in Christus en ons antwoord op God wat roep, is die geestelike vrugte in ons lewe wat wys dat God ons uit genade gekies het om van oordeel vrygespreek in sy ewige genadeverbond te wees.
ANTWOORD
Sing: Ps.89:1,2
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: Skb.1-1:3,6
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, die liefde van God ons Vader en die gemeenskap van die Heilige Gees sal met julle almal wees
Amen