Home Preke Die volk van God God spreek sondaars vry deur Christus alleen

God spreek sondaars vry deur Christus alleen

Datum: 2025-11-23
|
Reeks: Die volk van God
|
Kernverse: Rom.10:1-4

ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade en vrede vir julle van hom wat is en wat was en wat kom; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood opgestaan het, en die Heerser oor die konings van die aarde
Lof aan God: Ps.145:1,2
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sing: Skb.12-3:1,2

VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Antwoord op die Wet: Ps.59:1,5,10
Gebed

VERKONDIGING
Sing: Ps.71:12,14
Lees: Romeine 10:1-4; Johannes 6:28-42
Kernvers: Rom.10:1-4
Tema: God spreek sondaars vry deur Christus alleen

Sang: Ps.145:1,2; Skb.12-3:1,2; Ps.59:1,5,10; Ps.71:12,14; LB 348 Stille nag:1,2,3; Skb.1-3:1,2,3

Inleiding:

Christus alleen en geloof alleen…twee baie belangrike geestelike kernwaarhede in die Bybel. Paulus het baie hieroor geskryf, ook in sy brief aan die Romeine.

Tema: God spreek sondaars vry deur Christus alleen

  1. Gebed vir redding

In Paulus se brief aan die Romeine het hy oor God se regsaak teen die mensdom geskryf. God het ‘n geestelike regsaak teen die mensdom met ‘n klag, ‘n uitspraak en ‘n vonnis. Elke mens staan tot die dood toe skuldig voor die Heilige God.

Israel het ook tot die dood toe skuldig voor God gestaan. Hulle het dit nie geglo nie en gedink om deur die wette in die Ou Testament na te kom, is hulle vrygespreek van straf en oordeel. Die Fariseërs, die skrifgeleerdes en die meeste Jode het so geglo en geleef. Daar is vandag steeds kerke wat glo dat ‘n mens die Tien Gebooie moet onderhou om gered te word.

Ons het nodig om self ook hieroor hand in eie boesem te steek. Is daar nie by ons dalk ook die idee en selfs die geloof dat ons ook iets moet doen om gered te word of iets moet doen om seker te maak ons word gered nie? Dit is een ding om te sê dat ons alleen deur geloof in Christus gered word, maar dit is iets heeltemal anders om vas en seker te glo dat ons niks kan doen om gered te word nie, dat Christus, en Hy alleen ons enigste Verlosser is.

Hierdie manier van Israel om vryspraak deur die wet te wou kry, was een rede waarom hulle geen plek vir Jesus in hulle lewe gehad het nie. Hulle het die Verlosser, sy eie Seun wat God gegee het, verwerp. Hulle het gedink dat hulle die Here Jesus nie nodig gehad het nie.

Paulus was ook ‘n Israeliet. Hy was ‘n Hebreër, wat beteken het albei sy ouers was Israeliete. Paulus se moedertaal was Hebreeus. Sy ouers het die voorskrifte van die verbond nagekom.

Israel was sy mense, sy volk. Paulus was lief vir Israel. Sy hartewens en sy gebed was dat Israel gered word. Paulus is in sy hart geraak, omdat Israel nie in Christus geglo het nie en daarom nie van straf en oordeel vrygespreek is nie.

Hy is self deur Jode aangeval en op ‘n keer ernstig beseer, maar hy was steeds diep geraak deur Israel se verwerping van Jesus Christus om vrygespreek te word.

Ten spyte van wat Israel gedoen het, het Paulus het ook vir hulle gebid. Hy het gedurig vir Israel gebid, dit is vir Israel se redding gebid.

Dit bring ons by die tyd waarin ons leef. Israel is gedurig in die nuusmedia se hoofberigte. Die nuusberigte gaan oor allesbehalwe Israel se redding om nie te praat van gebed vir hulle redding nie.

Ons wat die nuus  lees en hoor, wat leef in ons harte? Waarvoor bid ons? Christengelowiges bid gereeld en bid baie. Die vraag is of ons vir Israel en ander ongelowiges se redding bid. Besef ons hoe verskriklik dit is wanneer God ‘n mens nie vrygespreek het in sy regsaak nie, sodat so iemand steeds onder sy streng oordeel van die ewige dood in die hel leef?

Israel het in 2025 ongeveer 10 miljoen mense. Tans is net minder as 200 000 van die 10 miljoen Christene en ongeveer 30 000 Jode is Messiaanse Jode. Ver meer as 9 miljoen in Israel is tans nie gered nie en bestem vir die ewige dood onder God se verskriklike  oordeel.

Hierdie werklikheid laat die nuusberigte oor Israel in werklikheid baie vaal en niksseggend klink.

Paulus ‘n gelowige apostel van die Here Jesus Christus wat deur die Heilige Gees geleef het, se besorgdheid en sy gebede was dat Israel gered sal word. Waar lê ons besorgdheid oor Israel? Waar lê ons besorgdheid oor baie in ons eie land wat elke dag met hul lewe wys, dat hulle in sonde volhard en nie soos vrygespreekte nuwe mense leef nie?

Die gebede wat ons baie meer en baie ernstiger moet bid, is gebede dat sondaars gered sal word.

2. Sonder geloof en bekering is almal verlore

Die geestelike leiers in Israel was tevrede met hulle geestelike lewe. Hulle was baie godsdienstig. Paulus skryf dat hulle in hul godsdiens vol ywer vir God was.

Ons kan maar net luister na Paulus oor sy geestelike lewe toe hy nog ‘n Fariseër was. Hy het oor sy eie godsdienstige lewe so in sy  brief aan die Filippense geskryf: “…ek is op die agste dag besny, van geboorte ‘n Israeliet, uit die stam Benjamin, ‘n egte Hebreër, in wetsopvatting was ek ‘n Fariseër, in my ywer ‘n vervolger van die kerk, in onderhouding van die wet van Moses om vryspraak te kry, onberispelik” (Fil.3:5,6).

Israel het hulle so ingeleef in hulle eie manier van godsdiens, verlossing en vryspraak deur die Wet, dat hulle vas geglo het, hulle doen reg voor die Here. Luister net hoe oortuig Paulus van homself as godsdienstige Israeliet was.

Israel was vas oortuig dat hulle reg geleef het, maar hulle het in werklikheid hul eie manier van vryspraak probeer kry. Hulle het hulle nie gesteur op die manier waarop God mense vryspreek nie en wou niks weet van God se manier van vryspraak weet nie (vs.3).

Ons sien hierdie gesindheid juis in Jesus se gesprek met die Jode na die wonderteken met die vyf brode en twee visse. Jesus, God se Seun het hulle vertel en geleer oor God se manier waarop Hy mense vryspreek, maar die Jode wou niks weet nie. Hulle het op hulleself staat gemaak.

Die groot probleem was dat Israel se godsdiens wat so goed en reg van buite gelyk het, nutteloos en vergeefs was. Paulus het reeds vroeër in sy brief daaroor geskryf: “Dit weet ons: alles wat Moses se wet sê, sê hy vir dié wat die wet het. Niemand sal hom dus kan verweer nie, en die hele wêreld is strafwaardig voor God. Daarom sal geen mens op grond van wetsonderhouding deur God vrygespreek word nie; inteendeel, deur die wet leer ‘n mens wat sonde is” (Rom.3:19,20).

Hierdie woorde van Paulus is die Evangelie van verlossing, maar terselfdertyd ‘n ernstige waarskuwing: Geen mens sal op grond van wetsonderhouding vrygespreek word nie. Met ‘n gesindheid van wetsonderhouding is daar nie plek vir geloof nie en ook nie plek vir bekering om werklik naby God en vir Hom te leef soos Hy wil nie. Sonder geloof en bekering is elke mens verlore. Israel was verlore en so elke ander mens en elke ander volk op aarde.

3. Net dié wat in Christus glo, word vrygespreek

In hierdie vers wys Paulus deur die Heilige Gees op die vergeefsheid om vrygespreek te wil word deur die wet te onderhou. Die vergeefsheid lê daarin dat Christus die einde van die wet is.

Wat bedoel Paulus met die woorde dat Christus die einde van die wet is? Hy bedoel dat Christus die einddoel van die wet is. Die wet leer ons wat sonde is  en hoe erg ons sonde is. Die wet leer ons verder hoe onmagtig ons is om self ons vryspraak te verdien. Die wet leer ons en wys ons hoe nodig ons verlossing het. Uiteindelik wys die wet ons dat ons die volmaakte Verlosser nodig het. Die volmaakte Verlosser is God se Seun, Jesus Christus wat ware regverdige mens sonder enige sonde en tegelyk ware almagtige en ewige God is.

So bring die wet, die Tien Gebooie en al die ander bepalings en seremonies in die Ou Testament ons uiteindelik by Christus.

Al die wette en seremonies en feeste in die Ou Testament het nooit op hulle eie gestaan, om onderhou te word, soos Israel gedink het nie. Inteendeel! Die wette en seremonies en feeste was net die belofte, die teken of dan die skaduwee soos Paulus in Kolossense 2:17 geskryf het. Die werklikheid is Christus. Die einde van die wet, ons kan sê die vervulling van die wet, die diepste betekenis van die wet is Christus.

Christus het mens geword vir Israel en vir ons. Hy het ons sonde op Hom geneem. Met ons sonde op Hom het Hy die ergste lyding verduur en die wreedste dood aan die kruis gesterf. Aan die kruis het Christus kort voor Hy gesterf  het, gesê: “Dit is volbring” (Joh.19:30). Daardie woorde beteken dat Hy alles gedoen het wat Hy moes om ons van al ons sonde te verlos. Daardie woorde het verder beteken dat die wette en seremonies en feeste van die Ou Testament in Hom daar aan die kruis tot ‘n einde gekom het. Christus het op die derde dag uit die dood opgestaan, sodat ons die nuwe lewe, die ewige lewe kan hê.

Die Here Jesus Christus is daarom die Een deur wie God ons vryspreek. Hier kom ons by ‘n baie belangrike waarheid: Elkeen wat in Christus wat gesterf en opgestaan het, glo, word vrygespreek. Ons is hier weer by belangrike waarhede van die Hervorming: Geloof alleen en Christus alleen.

Die waarheid dat ‘n mens net deur geloof in Christus vrygespreek word van straf en oordeel, vra van ons dat ons sal bid.

Bid dat Israel in Christus sal glo, sodat hulle gered kan word.
Bid vir ander wat so ver van God af leef. Bid vir geloof in Christus en bekering, sodat hulle gered en vrygespreek kan word.
Bid vir almal in die gemeente dat ons nie op wetsonderhouding sal staatmaak nie, maar deur die Gees in Christus alleen sal glo.
Ons moet ook vir onsself bid dat daar nie in ons die geringste gedagte van vryspraak deur die wet sal kom nie. Ons moet vir onsself bid dat ons geloof in Christus sal groei om dieper en sterker te word vir die tyd wat vir sy kerk voorlê. Ons moet ook met die Heilige Gees in ons vir God elke dag uit ons hart dankie sê vir geloof in Christus en dat ons deur sy kruisiging en opstanding ewig vrygespreek is.

ANTWOORD
Sing: LB 348 Stille Nag:1,2,3
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: Skb.1-3:1,2,3
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, die liefde van God ons Vader en die gemeenskap van die Heilige Gees sal met julle almal wees.
Amen

Klankbaan

Luister na die preek.

Ander preke in "Die volk van God"