ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle an God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die werk van die Heilige Gees
Lof aan God: Skb.1-2:1,2,3
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sing: Ps.71:9
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Deuteronomium 5
Antwoord op die Wet: Ps.59:1,5,10
Gebed
VERKONDIGING
Sing: Ps.105:3,4
Lees: Romeine 9:6-13
Kernvers: Rom.9:6
Tema: Nie almal wat van Israel afstam, is Israel nie.
Sang: Skb.1-2:1,2,3; Ps.71:9; Ps.59:1,5,10; Ps.105:3,4; Ps.103:2,9; Ps.146:1,8
Inleiding:
Die Here vertel ons en leer ons in Rom.9-11 wie die ware Israel is. Ons het veral in hierdie tyd nodig, met alles wat oor Israel berig word, om na die Here te luister. Die Here gee ons in sy Woord die regte verstaan en insig van Israel as sy verbondsvolk. Hy gee ook aan ons die regte insig oor die Afrikaners en elke ander volk as sy verbondsvolk en ook oor ons verhouding met Israel.
Tema: Nie almal wat van Israel afstam, is Israel nie.
Die brief aan die Romeine is in die vorm van ‘n hofsaak geskryf.
Rom.1:18-3:20 – Die AANKLAG teen die hele mensdom – Jode en heidene. Almal is sondig voor God en verdien om gestraf te word.
Rom.3:21-4:25 – Die UITSPRAAK – God maak regverdig, dit is spreek vry, deur geloof in Jesus Christus
Rom.5:1-8:39 – Die VONNIS – Wie deur geloof in Jesus Christus geregverdig is, sal ewig lewe.
Die rede vir hierdie regsaak wat God met die mensdom het, is:
Hy het sy ewige genadeverbond met Abraham en sy nageslag, dit is met Israel, gesluit.
God het gehoorsaamheid aan Hom in sy genadeverbond verwag, gehoorsaamheid uit liefde vir Hom (Deut.6:1-9).Niemand het die verbond gehou soos God gevra het nie. Vandaar die regsaak van God teen die ganse mensedom, teen heidene buite die genadeverbond en teen Israel met wie God die verbond gesluit het.
God se AANKLAG is dat almal gesondig het en gestraf moet word.
Sy UITSPRAAK is dat Hy sondaars regverdig maak deur geloof in Christus – Jode en heidene.
Sy VONNIS is dat elkeen wat deur geloof in Christus regverdig gemaak is, sal lewe.
Dit bring Paulus by die vraag: WAT VAN ISRAEL?
Israel, deur God as sy verbondsvolk gekies, het nie in Christus geglo nie…is dus nie regverdig gemaak nie. Dit lyk asof God se verbondsbeloftes nie gewerk het nie. Die volk wat Hy gekies het om sy verbondsvolk te wees, het nie in die Verlosser wat Hy gestuur het geglo nie.
Paulus se antwoord op hierdie probleem in Rom.9:6 bestaan uit twee dele:
Die eerste deel – Hy antwoord baie duidelik en sonder huiwering. Dat Israel nie in Christus geglo het nie, beteken nie God se woord toe Hy die verbond gesluit het, geld nie meer nie, of het misluk nie.
Die tweede deel van sy antwoord gee eintlik die rede waarom God se Woord nie misluk het nie en steeds geld – “Nie almal wat van Israel afstam, is Israel nie.” Hierdie is een van die baie belangrike uitsprake wat Paulus deur die Heilige Gees in hierdie twee hoofstukke gemaak het.
In die moderne tyd is daar verskillende standpunte oor Israel:
Dan kry ons Paulus se woorde oor Israel in Rom.9:6: “Nie almal wat van Israel afstam, is Israel nie”.
Met hierdie woorde in Rom.9:6 leer die Heilige Gees ons deur Paulus dat ons Israel in twee groepe sal moet verdeel. Die een groep stam van Israel af, is uit Israel afkomstig, maar daar eindig dit. Dit is die Israeliete uit natuurlike geboorte, maar nie in die genadeverbond nie.
Die ander groep stam van Israel af, is uit Israel afkomstig. Hierdie groep glo in God en in die Verlosser wat Hy gestuur het. Hierdie groep en is die werklike verbondsvolk, die ware Israel.
Ons sien hierdie twee groepe mense tydens Jesus se lewe op aarde. Hier is een voorbeeld:
Joh.6:67,68 – Jesus het toe sy dissipels gevra of hulle nie ook wil weggaan nie. Petrus het toe geantwoord dat hulle by Jesus wil bly, want Hy het “die woorde wat ewige lewe gee.”
Israel is byna daagliks in die nuus weens die verskriklike oorlog in Gaza teen veral Hamas. Die media het berig na berig oor Israel. Die berigte in die media gaan oor Israel se lewe nou op aarde.
Daar is ook ander nuus oor Israel. Paulus se berig in Rom.9:6 gaan oor Israel se lewe hierna in die hemel of in die hel.
Die media sal seker sê dat om oor Israel se geestelike lewe en verhouding met Christus te berig, is nie hulle werk nie. Wel, tot dusver slaag die media en al die organisasies en lande in die moderne wêreld wat nie oor Christus praat nie, hoegenaamd daarin nie om enige verligting in die midde-ooste te bewerk nie selfs nie na dekades nie.
Die Een wat verandering kan bring, Jesus Christus wat gekruisig is en opgestaan het, word heeltemal geïgnoreer. Kyk maar na die verandering wat die Here Jesus in Paulus se lewe gebring het. Hy was aandadig aan die moord op Stefanus. Hy het daar gestaan en kyk. Stefanus se klere is voor sy voete neergelê. Nadat hy die Here Jesus ontmoet het en tot bekering gekom het, het hy nie meer die Christene vervolg en aangeval nie, maar sy lewe vir Christus gegee en sy evangelie aan ander gebring.
Die belangrikste wat in die midde-ooste nodig is, is die Evangelie van Jesus Christus wat gekruisig is en opgestaan het. Hy versoen sondaars met God. Wie met God versoen is, leef ook in versoening met mekaar.
Die ware Israel is dus nie bloot elke Jood, elke Israeliet nie. Die ware Israel is elkeen dié in Israel wat in Jesus Christus, die Seun van God, ons Verlosser glo.
Hierdie waarheid vra van ons om dieper oor Israel te dink en dieper na Israel te kyk. Hierdie waarheid vra van ons om ook dieper oor onsself te dink en dieper na onsself te kyk.
2. Abraham en sy nageslag
In Rom.9:7-9 skryf Paulus oor Abraham en sy nageslag. Hy verduidelik die waarheid dat nie almal wat van Israel afstam, die ware Israel is nie, aan die hand van Abraham as voorbeeld.
Die eerste wat Paulus geskryf het, is: “…en nie almal wat wat nakomelinge van Abraham is, is werklik kinders van Abraham nie. Inteendeel, die belofte was:’Uit Isak sal daar vir jou ‘n nageslag kom’” (Rom.9:7).
Abraham het gedink dat die Here nie aan hom ‘n nageslag sal gee nie en dat al sy besittings na sy slaaf Eliëser sou gaan. God het ‘n verbondsbelofte gemaak dat een uit Abraham self sy nageslag sal wees (Gen.15).
Abraham en Sara het hierdie belofte nie ernstig genoeg opgeneem nie en ‘n eie plan gemaak. Sara het haar Egiptiese slavin vir Abraham gegee om ‘n kind by te verwek. Dit het gebeur en Hagar, die slavin het ‘n seun, Ismael in die wêreld gebring. Abraham was 86 toe sy en Hagar se seun gebore is, die seun volgens menslike planne.
Op ‘n dag het die drie mans aan Abraham verskyn (Gen.18). Dit was die Here in die gedaante van ‘n mens. Die Here het die belofte oor ‘n nageslag bevestig en gesê dat Sara oor ‘n jaar swanger sal wees. Sara het daaroor gelag, omdat swangerskap en ‘n kind vir haar onmoontlik gelyk het. Sy het toe swanger geword en Isak in die wêreld gebring. Abraham was 100 tot Isak gebore is, die seun volgens God se belofte.
Uit hierdie openbaringsgeskiedenis sien en leer ons baie duidelik dat nie kinders wat in die gewone gang van die lewe gebore word, kinders van God is nie. Geen kind wat gebore is, is vanselfsprekend ‘n kind van God nie. Isak, die seun van God se verbondsbelofte, die kind deur God gekies om kind en erfgenaam in sy genadeverbond te wees, is die werklike nageslag van Abraham.
Daarom is niemand in Israel vandag kind van God bloot omdat hulle uit Israelitiese ouers gebore is nie.
Dit geld ons ook. Niemand van ons is bloot op grond van natuurlike geboorte ‘n kind van God nie. Dit maak die doop van ‘n kind deur ouers wat deur die Heilige Gees opreg in Christus glo, so belangrik. Dit help niks indien ‘n kind uit gewoonte of verpligting gedoop word nie. Die doop van ‘n kind het net betekenis, indien ouers wat ‘n ware geestelike verhouding met Jesus Christus het, hulle kinders doop.
Ouers se belofte by die doop is net so belangrik. Ouers moet hulle kinders in die leer van die Ou en die Nuwe Testament, soos in die Twaalf Artikels saamgevat, self onderig en laat onderrig. Dit is: Ouers moet hulle kinders van die Drie-enige God vertel en hulle van Hom leer – Die Vader ons Skepper, die Seun ons Verlosser, die Heilige Gees ons Trooster en Heiligmaker.
So, wanneer ouers in ‘n geestelike verhouding met Christus, hulle kinders groot maak om ‘n geestelike verhouding met Christus te hê, en die kinders deur die Gees in Christus glo, het ons kinders en erfgename in die genadeverbond.
Dit is met Israel so. Dit is ook met ons in Suid-Afrika so. Oor die verhouding tussen ons wat in Christus glo en Israel kom ons later by in hierdie preekreeks, as die Here wil.
3. Jakob en Esau
Paulus het nog meer oor die ware Israel geskryf. Hy het oor Isak en Rebekka se twee seuns, Jakob en Esau geskryf.
Met Isak en Ismael sal iemand dalk wil sê dit is eintlik duidelik dat Isak ‘n kind in die genadeverbond is, want hy is regtig Abraham en Sara se seun. Ismael is die seun van Abraham en ‘n Egiptiese slavin. Hy is buite die verbond.
Met die volgende voorbeeld leer Paulus ons dat ons baie dieper oor die ware Israel en wie in die genadeverbond is, sal moet dink en glo. In Rom.9:10-13 skryf Paulus oor Jakob en Esau, twee seuns wat uit gelowige ouers in die verbond, Isak en Rebekka gebore is.
Nog voor die geboorte van die twee seuns, het God die kind van die belofte gekies.
Esau was die oudste seun. Volgens natuurlike geboorte was hy as oudste seun, die kind van die belofte. Maar…hy was uiteindelik nie. Waarom nie? God het Jakob, die jongste gekies om die kind van die belofte, die kind in die genadeverbond te wees.
Die werklike Israel sou nie uit Esau gebore word nie, maar uit Jakob. Hier het ons ‘n duidelike voorbeeld van die belangrike waarheid dat nie almal wat van Israel afstam, Israel is nie. God werk nie bloot met natuurlike geboorte nie.
Die grootste deel van die Jode, Israel het hierdie waarheid nie aanvaar nie. Jesus het dikwels geleer deur sy woorde en sy wonders dat geloof in Hom, die Verlosser vir ‘n mens die lewe gee. Die oorgrote meerderheid Jode het vasgesteek by natuurlike afkoms. Hulle het Abraham as voorvader gehad. Hulle het gedink dit was genoeg om van hulle die ware Israel te maak.
Ons mag ook nie vir een oomblik dink ons afkoms of bloot omdat ons aan ‘n sekere kerkverband behoort, ons vanselfsprekend kinders en erfgename in die genadeverbond maak nie.
Daar is net een MANIER om in die genadeverbond te wees: JESUS CHRISTUS!
God kies sy kinders wat Hy in sy genadeverbond opneem.
Hy verlos sy sondige kinders deur sy eie Seun te gee.
Hy gee deur sy Gees geloof in Jesus Christus aan elke kind wat Hy gekies het.
Wie in Jesus Christus glo, is vrygespreek van straf en oordeel en het die ewige lewe.
Almal in Israel met wie hierdie gebeur het, is die ware Israel binne die ewige genadeverbond volgens God se belofte. Die ware Israel is God se verbondsvolk.
Almal in Israel wat nie in Christus glo nie, is steeds onder God se straf en oordeel op sonde en sal verlore gaan. Al is hulle in Israel gebore, is hulle sonder geloof in Christus buite die genadeverbond en nie deel van God se verbondsvolk nie.
Hierdie geweldige waarheid geld vir Israel. Hierdie geweldige waarheid geld vir elke ander volk.
Dit maak geloof in Jesus Christus regtig baie belangrik!
ANTWOORD
Sing: Ps.103:2,9
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: Ps.146:1,8
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, die liefde van God ons Vader en die gemeenskap van die Heilige Gees sal met julle almal wees.
Amen