Home Preke Die volk van God God se toorn en sy ontferming

God se toorn en sy ontferming

Datum: 2025-10-05
|
Reeks: Die volk van God
|
Kernverse: Rom.9:21

ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade en vrede vir julle vann Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat opgestaan het uit die dood en die Heerser oor die konings van die aarde
Lof aan God: Ps.33:1,6
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sing: Ps.71:9

VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Antwoord op die Wet: Ps.38:1,3,17
Gebed

VERKONDIGING
Sing: Ps.99:1,7
Lees: Romeine 9:19-29
Kernverse: Rom.9:21
Tema: God se toorn en sy ontferming
Sang: Ps.33:1,2,6; Ps.71:9; Ps.38:1,3,17; Ps.99:1,3; Ps.97:1;7; Ps.130:2,3,4

Inleiding:

Ons is besig met die reeks uit Romeine 9 – 11 oor die volk van God. Vanoggend is ons by die ewige besluit oor sy toorn en sy ontferming en hoe dit Israel en elke ander volk op aarde raak.

Tema: God se toorn en sy ontferming

  1. God is die Maker, die Pottebakker

Ons weet dat Paulus die brief aan die Romeine in die vorm van ‘n regsaak geskryf het. Ons het in Romeine die aanklag, die uitspraak en die vonnis. In Rom.9 – 11 is ons besig met die deel oor die uitspraak wat die Here gee. Die uitspraak is: Die sondaar wat in Christus glo, word vrygespreek.

Hierdie belangrike waarheid bring vrae oor Israel, want Israel die verbondsvolk van God het nie in Christus geglo nie en is nie vrygespreek nie. Paulus het die volgende vrae en antwoorde in sy brief uitgelig:

Geld die woord van God dat Hy Israel se God sal wees dan nie meer nie?
Die antwoord hierop is: Nie Israel volgens natuurlike geboorte is God se verbondsvolk nie. Wie God uitverkies, is sy verbondsvolk.

Die volgende vraag is: Is God nie onregverdig nie, want ‘n mens kan niks doen om uitverkies te word nie?
Die antwoord is: God is beslis nie onregverdig nie. Hy het bekend gemaak dat Hy Hom ontferm oor wie Hy wil en dat Hy verhard wie Hy wil. Hy is die allerhoogste God van hemel en aarde. Hy doen alles volgens sy ewige raadsbesluit. Hy is aan niemand ‘n verduideliking verskuldig nie.

Die verdere vraag waarby ons vanoggend is: Waarom verwyt God ons? Wie kan teen sy wil ingaan?
Die antwoord op hierdie vraag het Paulus deur die Heilige Gees in Rom.9:20,21 geskryf. Die antwoord bestaan uit drie vrae. Die vrae is so geskryf dat elke vraag elke keer net een antwoord het.

Die eerste vraag: “Mens, wie is jy per slot van rekening dat jy met God wil redeneer?” Die vraag het net een antwoord: Ons is elkeen ‘n nietige en sondige mens wat nie met God kan redeneer nie.

Die volgende verse in Job gee hierdie antwoord: “Ek moes uister terwyl U praat, U het gevra, nou moet ek U antwoord: Tot nou toe het ek net gehoor wat mense van U sê, maar nou het ek U self gesien, en nou verag ek myself, nou sit ek vol berou, in sak en as” (Job 42:4-6).

Die tweede vraag: “Hoe kan ‘n maaksel vir sy maker sê: Waarom het u my so gemaak?” Die enigste antwoord is: ‘n Maaksel kan nie vir sy maker vra hoekom sy maker hom so gemaak het nie. Die betekenis is: God is ons Maker, ons Skepper. Ons kan nie van Hom ‘n verduideliking oor die uitverkiesing, oor sy ontferming van sommige en sy verharding van ander vra nie. Hierdie waarheid kry ons ook reeds in die Ou Testament: “My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede is nie soos Myne nie, sê die  Here; soos die hemel hoër is as die aarde, so is my optrede verhewe bo julle optrede en my gedagtes bo julle gedagtes” (Jes.55:8,9).

Die derde vraag: Het die pottebakker nie die  reg om uit dieselfde klomp klei iets besonders én iets alledaags te maak nie? Die een antwoord op hierdie vraag is: Ja, die pottebakker het die reg om met die klei te maak soos hy goed dink. Hierdie woorde oor die pottebakker kry ons in Jer.18:1-12. Die Here is die Maker, die Pottebakker. Hy is God wat in sy raadsbesluit wat vir ons verborge is, die besluit voor die skepping geneem het, wie Hy uitverkies en Hom oor ontferm om te glo en vrygespreek te word en wie Hy verhard om nie te glo en nie vrygespreek te word nie.

By hierdie waarheid is daar vir ons in werklikheid nie vrae te vra nie. Vrae bring ons nêrens. Die Heilige Gees leer ons  in Ef.1:3-14 om God eerder te prys vir die wonderlike genade dat Hy Hom oor ons ontferm het en ons gekies het om te glo en vrygespreek te word!

2. Hy openbaar sy toorn

God het soos ‘n pottebakker opgetree. Hy het in die ewigheid besluit dat daar “voorwerpe van sy toorn” sal wees (Rom.9:20).

God is heilig. Hy verdra sonde nie. Hy wou sy toorn oor die sondige mensdom laat sien. Hy wou sy mag om met toorn op te tree, bekend maak.

God het sy toorn laat sien en sy mag bekend gemaak in die lewe van die Farao in Egipte. Hy het die Farao verhard. Hy het op ‘n almagtige manier die plae oor Egipte gebring. Uiteindelik het Hy die Farao en sy leërmag in die Rooisee verdrink. In hierdie alles het Hy eers aan Israel sy toorn en mag bekend gemaak. Wat gebeur het, het Hy in sy Woord laat neerskryf, sodat ons vandag die Heilige God se toorn en mag kan ken.

Maar…die Farao en die Egiptenaars was nie die enigste voorwerpe van God se toorn nie. Daar was ander voorwerpe van toorn as die Egiptenaars. Hulle was die Israeliete wat nie geglo het nie en op natuurlike geboorte staat gemaak het om in die verbond te wees en vrygespreek te word. Dan was daar die heidene wat nie geglo het nie en ver van God geleef het. Ook die heidene was voorwerpe van God se toorn.

God het én Israel wat nie geglo het nie én die heidene wat nie geglo het nie, met geduld verdra tot met Christus se koms na die aarde. In Jesus Christus wat gekruisig is en opgestaan het, het God gewys dat elkeen wat nie in Hom as enigste Verlosser glo nie, steeds sondig en skuldig tot die dood voor Hom staan. Vir Jood en heiden wat nie in Christus glo nie, is daar geen vryspraak nie.

Dit is vandag steeds so. Almal in Israel wat nie in Christus glo nie, staan vandag in 2025 steeds sondig en skuldig tot die dood voor die Heilige God. Vir hulle is daar geen vryspraak nie, net God se ewige oordeel in die hel. Dit geld ook vir almal in Suid-Afrika wat nie in Christus glo nie en ook almal oor die hele aarde.

Die volle openbaring van God se toorn en sy  mag, sal aanbreek wanneer Jesus Christus weer op die wolke kom om die lewendes en die dooies te oordeel.

3. Hy maak sy ontferming bekend

Teenoor die “voorwerpe van sy toorn” (Rom.9:22) is daar die “voorwerpe van sy ontferming” (Rom.9:23).

Oor die voorwerpe van God se ontferming is “die mense wat Hy vantevore vir die heerlikheid voorberei het” (Rom.9:23).

Ons lees reeds in Rom.8:29,30 hiervan: “Dié wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê van wie Hy die Eerste is. Dié wat Hy daartoe bestem het, het Hy ook geroep. En dié wat Hy geroep het, het Hy ook vrygespreek. En dié wat Hy vrygespreek het, het Hy ook verheerlik.”

Die mense wat God vir die heerlikheid voorberei het, is die mense wat Hy lank tevore gekies het om in Christus te glo en deur geloof in Hom vrygespreek te word.

Ons kry die betekenis van lank tevore in Ef.1:4 – “So het Hy, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees.”

Die voorwerpe van God se ontferming oor wie Hy die rykdom van sy heerlikheid bekend gemaak het, is die mense wat God voor die skepping van die wêreld gekies het om in Christus te glo en vrygespreek te word.

Presies wie is hierdie mense?

Uit Rom.9:25,26 weet ons dat die voorwerpe van God se ontferming almal uit die heidendom is wat die Evangelie van die gekruisigde Christus gehoor en in Hom geglo het.

Hierdie verse kom uit Hosea. Soos God vir die onbekeerde Israel gesê het, dat hulle nie meer sy volk is nie, maar Hy hulle uit genade weer geroep het om sy geliefde volk te wees, het dit ook met die heidene gebeur.

Niemand uit die heidendom op aarde was aanvanklik deel van die volk van God nie. Niemand van ons in Suid-Afrika ook nie. Met Paulus se opdrag van Christus om die Evangelie aan die heidene te verkondig, het die uitbreiding van die verbondsvolk, die volk van God duidelik geword. Almal uit die heidendom wat die Evangelie gehoor het en in Christus geglo het, is vrygespreek en het deel van die volk van God geword.

Hier is ons by ‘n belangrike waarheid: Elke mens uit elke volk op aarde wat in Christus wat gekruisig is en opgestaan het, glo, word vrygespreek van straf en oordeel en is deel van die volk van God, die verbondsvolk.

Dit is met ons dieselfde. Toe Paulus in Filippi die Evangelie van Jesus Christus verkondig het, en die Evangelie na die weste versprei het, het God ons  eerste voorouers in Europa geroep om sy volk te wees.

Uit Rom.9:27,28 weet ons dat die voorwerpe van God se ontferming in Israel die klompie is wat God laat oorbly het. Die grootste deel van Israel het nie in Jesus Christus geglo nie. Hulle het Israeliete van natuurlike geboorte gebly en nie Israeliete met geloof in Christus geword nie. Israel net volgens  natuurlike geboorte, is nie die volk van God nie. Die klein klompie waarvan Jesaja reeds geprofeteer het, is hulle wat die Evangelie van die gekruisigde Christus gehoor het en in Hom geglo het. Hulle is die ware Israel, die ware volk van God.

Die werklike band tussen Israel en God is Christus. ‘n Klein klompie in Israel, het in Christus geglo en het hierdie band met God. Vandag steeds is Christus alleen die band tussen Israel en God.

Christus is ook die band tussen ons as Afrikaners en God en ook tussen elke ander volk en God.  Ons geloof wat ons van die Heilige Gees kry, bind ons aan Christus en deur Hom aan God. Die voorwerpe van God se ontferming is daarom elkeen wat in Christus glo, uit elke volk op aarde.

4. Die genade om God se volk te wees

Met al die nuusberigte oor wat in die Midde-ooste gebeur, het die vraag oor Israel as die uitverkore volk van God, sy verbondsvolk weer na vore gekom. Al berig die media net oor dinge wat vir lewe op aarde belangrik is, het ons as Christengelowiges nodig om dieper te kyk en dieper te praat.

Dit is reg en nodig dat die oorlog en lewensverlies ons pla. Maar…daar is ‘n ERGER OORLOG en GROTER LEWENSVERLIES. Die oorlog tussen Israel en Satan is baie erger. Die ewige lewensverlies in die hel vir elkeen in Israel wat nie in Christus glo nie, is baie groter.

Dieselfde geestelike oorlog teen Satan vind ook in ons lewens plaas. Elkeen van ons is in hierdie oorlog. Die lewensverlies vir wie in Suid-Afrika nie in die gekruisigde Jesus Christus glo nie, is eweneens baie groter.

Wat vir ons as Christengelowiges altyd die belangrikste moet wees, is Christus wat gekruisig is en opgestaan het en ons geloof in Hom. Deur hierdie geloof is ons die “voorwerp van God se ontferming” in Israel en in Suid-Afrika en oral op aarde. Deur hierdie geloof is ons vrygespreek van straf en oordeel en het ons die ewige lewe.

Geloof in Jesus Christus is ‘n genadegawe van die Heilige Gees.
Om deur geloof in Christus vrygespreek en deel van die volk van God te wees, is net genade.
Oor hierdie genade behoort ons harte warm van dankbaarheid te wees.
Vir hierdie genade in die lewe van hulle wat nog nie in Christus glo nie, behoort ons baie ernstig te bid.

ANTWOORD
Sing: Ps.97:1,7
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: Ps.130:2,3,4
Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee
Amen

Klankbaan

Luister na die preek.