Home Preke Die volk van God Hulle is tog Israeliete, die volk van God

Hulle is tog Israeliete, die volk van God

Datum: 2025-09-14
|
Reeks: Die volk van God
|
Kernverse: Rom.9:4,5

ONTMOETING

Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood opgestaan het; en die Heerser oor die konings van die aarde.
Lof aan God: Ps.33:1,6
Geloofsbelydenis: Nicea
Sing: Skb.12-3:1,2

VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Antwoord op die Wet: Ps.86:6
Gebed

VERKONDIGING
Sing: Ps.81:1,4,9
Lees: Romeine 9:1-5
Kernverse: Rom.9:4,5
Tema: Hulle is tog Israeliete, die volk van God
Sang: Ps.33:1,6; Skb.12-3:1,2; Ps.86:6; Ps.81:1,4,9; Ps.81:11,12,15; Ps.119:38,39

Inleiding:

Israel was lanklaas so op die voorgrond ook by gelowiges in gemeentes, soos sedert die oorlog in Gaza tussen Israel en Hamas begin het. Die oorlog en die Suid-Afrikaanse regering se saak teen Israel voor die Internasionale Wêreldhof het Christengelowiges meer geraak en ontstel as baie ander gebeure.

Die rede hiervoor is hoofsaaklik dat Israel gesien word as God se volk. Die oorlog deur Hamas en die hofsaak deur die ANC word gesien as optrede teen God se volk. Die vraag het by gelowiges opgekom: Hoe moet ons oor Israel dink? Is Israel nog die volk van God?

Hierdie vrae is nie die eerste vrae oor Israel as die volk van God nie. In sy brief aan die gemeente van Christus in Rome het reeds in 56-57 n.C. oor Israel as God se volk geskryf en vrae oor Israel in sy  brief beantwoord.

MAAR…daar is nog ‘n vraag. As Israel die volk van God is, WAAR PAS ONS IN, die Afrikaners in hierdie land en elke ander volk? Hierdie is ‘n belangrike vraag, want die ewige onveranderlike God het net een genadeverbond met sy verbondsvolk.

In die tyd waarin ons leef, is Romeine 9 – 11 baie goeie en verhelderende hoofstukke om oor die volk van God te lees en Israel se plek as volk van God in die bedeling waarin ons tans leef en ook ons plek. Die nuwe reeks preke is daarom, as die Here wil, uit Romeine 9 – 11 oor die volk van God.

Tema: Hulle is tog Israeliete, die volk van God

  1. Groot droefheid en voortdurende hartseer oor Israel

Rom.9:1 –

“In my verbondenheid met Christus…” – Paulus was na sy bekering sy hele lewe deur openlik oor sy verhouding met Christus. Hy het elke brief wat  hy geskryf het, begin deur openlik van sy band met Christus getuig – Rom.1:1 – “Van Paulus, ‘n dienaar van Christus Jesus” is maar een voorbeeld.

Paulus se woorde in Gal.2:20: “…en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe” getuig dat hy sy briewe as ‘n gelowige wie se lewe deur Christus bepaal is, geskryf het.

Verder: “…praat ek die waarheid, ek lieg nie…” – Met hierdie woorde beklemtoon hy die waarheid van die woorde oor Israel in sy brief. In sy eenheid met Christus verseker Paulus sy lesers dat hy die waarheid skryf.

Vir ons beteken dit dat ons hierdie woorde sal GLO en daarvolgens sal LEWE!

“…en my gewete, wat deur die Heilige Gees gelei word, getuig saam met my” – Paulus is steeds nie klaar met die bevestiging van die waarheid van hierdie woorde in sy brief nie. Sy gewete het ook saam met hom getuig. Die Heilige Gees, die Gees van waarheid (Joh.16:13) het sy gewete gelei in die skryf van hierdie brief en hierdie hoofstukke.

Aangesien hierdie hoofstukke deur die Heilige Gees gelei, geskryf is, is dit nodig dat ons met die Heilige Gees in ons, sal lees en GLO.

Rom.9:2,3 –

“…dat daar by my groot droefheid en voortdurende hartseer is oor my broers, my eie volksgenote” –Paulus was van geboorte af ‘n ware Israeliet. Albei sy ouers was uit Israel. Die Israeliete, die Jode in sy tyd wat uit die stam Juda was, was sy broers, sy eie volksgenote.

Paulus het met groot droefheid en voortdurende hartseer oor Israel geleef. Waarom? Die Jode het nie in Christus geglo nie. Hy was BELOOFDE VERLOSSER van Gen.3:15, van Jes.7:14, Jes.9:5 en Miga 5:1. Maar…hulle het Hom verwerp. Hulle het Hom doodgemaak deur die wrede dood aan die kruis.

Paulus was voorheen een van die Jode, die verbondsvolk wat geglo het hy kan homself red deur die wet te gehoorsaam. Hy skryf dit self in sy brief aan die Filippense (Fil.3:6). Hy was by toe die Joodse Raad Stefanus oor sy getuienis van Christus gestenig het.

Maar…toe ontmoet die Here Jesus Paulus op pad na Damaskus toe om Christene te gaan vervolg. Paulus het in die Here Jesus geglo en tot bekering gekom. Hy het by Christus, die enigste Redder van sondaars uitgekom.

Sy broers en eie volksgenote het nie by Christus die Redder uitgekom nie. Hulle het op die pad wat doodloop in die ewige verderf, die hel gebly. Die volk uit wie die beloofde Verlosser gebore is, het met harde ongelowige harte verlore gebly.

Hierdie verskriklike waarheid het die “groot droefheid en voortdurende hartseer” in Paulus veroorsaak.

“Ek sou self vervloek wou wees, afgesny van Christus, as dit tot hulle voordeel kon wees” –Natuurlik het Paulus dit nie werklik so bedoel nie. Hy het ‘n beeld gebruik om sy liefde vir Israel en sy droefheid en hartseer oor Israel te beskryf.

Dit bring ons by die twee verskillende groepe mense –

Die een mens, Paulus het met droefheid en hartseer geleef oor Israel wat nie in Christus glo nie en  verlore gaan. Die Heilige Gees het hom met hierdie groot droefheid en voortdurende hartseer laat leef.

Die ander mense soos die ANC in ons land daag Israel voor die wêreldhof. Die manier van dink oor en praat van en doen met Israel verskil heeltemal van die gelowige wat deur die Heilige Gees oor Israel gedink en geskryf het.

Dieselfde Heilige Gees sal nie twee maniere van doen wat so baie van mekaar verskil laat gebeur nie. Een van die maniere sal nie deur die Heilige Gees wees nie, maar deur die wêreldgees, die gees van die sondige natuur wees.

Ons weet uit Rom.9:2,3 dat Paulus deur die Heilige Gees opgetree het. Daar bly dus net een werklikheid oor: Die ANC het daarom teen Israel volgens die wêreldgees, die gees van die sondige natuur opgetree.

In Romeine 9-11 het ons Israel as voorbeeld van die regsaak van die allerhoogste en God teen Israel. Die ANC het Israel ook hof toe gevat. Hulle het ‘n span advokate met die klag teen Israel gehad. Die internasionale wêreldhof het die klag gehoor, uitspraak gelewer, die vonnis gevel.

Maar…almal daar was met daardie hofsaak net nietige sondige mense wat die GROOT REGSAAK van God teen Israel en teen die ganse mensdom waarskynlik nie van geweet het nie, hulle nie aan God se regsaak – sý KLAG, sý UITSPRAAK en sý VONNIS gesteur het nie. Wanneer Christus as HEMELREGTER weer kom, sal Hy die laaste oordeel uitspreek – oor Israel, die wêreldhof, Hamas, die ganse mensdom.

Dat Israel nie in Christus glo nie, moet ons in werklikheid baie meer en dieper raak as die huidige oorlog waarin hulle is. Missiele en bomme kan die liggaam doodmaak, ja, maar God maak die LIGGAAM EN SIEL DOOD van elkeen wat nie in Christus glo nie.

  1. God het Israel as sy verbondskinders aangeneem

Rom 9:4 –

In hierdie vers skryf Paulus oor die rede vir sy droefheid en hartseer –

  • Die Jode is tog Israeliete. Hulle stam van Jakob af vir wie God gesê het: “Jy sal nie meer Jakob genoem word nie, maar Israel, want jy het teen God en teen mense stryd gevoer en jy het dit end-uit volgehou” (Gen.32:28).
  • God het hulle as sy kinders aangeneem. So het die Here oor Israel gepraat: “Dan moet jy vir die Farao sê: ‘So sê die Here: Israel is my oudste seun.” (Eks.4:22).
  • Die Here was in sy heerlikheid by Israel. Eks.40:34 – “’n Wolk het die tent van ontmoeting oordek, en die magtige teenwoordigheid van die Here het die tabernakel gevul.”
  • Die Here het met die Israeliete verbonde gesluit. Die Here het met Abraham die verbond gesluit (Gen.15 en Gen.17). Hy het deur die wet op Sinai te gee, die verbond bevestig (Eks.20). Die Here het die ewige genadeverbond nuut bevestig met Dawid (2 Sam.7). Met al hierdie het die Here gewys watter verhouding Hy met Israel het.
  • Die Here het die wet van Moses aan Israel gegee enIsrael as sy verbondsvolk afgesonder van al die ander volke om uit liefde sy wet te gehoorsaam (Deut.6:4-6).
  • Die Here het aan Israel die tempeldiens en beloftes gegee. Israel was die volk wat die Here in sy tempel aanbid het en offers van versoening met Hom gebring het. In al die offers en feeste en seremonies was daar die beloftes van die Messias, die Verlosser vir Israel.  

Die volgende is baie belangrik. Met wie het God elke keer die verbond gesluit?

Gen.15:5,6 – “Toe het die Here vir Abram buitentoe laat gaan en vir hom gesê: “Kyk op na die hemel en tel die sterre as jy kan.” Verder sê die Here vir hom: “So baie sal jou nageslag wees. Abram het toe in die Here geglo, en die Here het dit goedgevind dat Abram so volgens die wil van die Here gehandel het.”

Gen.15:18 – “Op daardie dag het die Here ‘n verbond met Abram gesluit…”

God het met Abraham wat in Hom GEGLO HET (Gen.15:6) die EWIGE GENADEVERBOND  gesluit. Die verbond was ook met die nageslag van Abraham wat in God glo. Isak is hierdie nageslag. Ismael, ook uit Abraham gebore, is nie deel van sy gelowige nageslag nie en dus nie in die ewige genadeverbond nie.

Ons sien hierdie ook by Isak en Rebekka se twee seuns. God het Jakob, Isak se een seun in die genadeverbond opgeneem, maar Esau nie (Mal.1:2,3).

Dieselfde geld die verbond met Dawid. Die Here het ‘n ewige koningshuis aan Dawid beloof (2 Sam.7:13). Dawid se nageslag moes gelowig aan die Here getrou bly (2 Sam.7:14). Die Here het sy trou aan Saul, koning van Israel, onttrek wat uit ongeloof ongehoorsaam was.

Ons moet Israel as volk van God op grond van al hierdie so verstaan: Die Here het van die begin af NIE VOLGENS NATUURLIKE GEBOORTE gewerk nie. Hy het gekies. Hy het besluit met wie Hy sy verbond sluit. Hy het vir Abraham en Moses en Dawid gekies om aan Hom te behoort. Hy het aan hulle geloof gegee. Hulle is deur geloof in die genadeverbond opgeneem en het met geloof in God in sy genadeverbond geleef as sy verbondsvolk.

Israel het alles van God gekry wat nodig was om in Hom te glo en sy volk in sy ewige verbond van genade te wees…maar hulle wou nie!

  1. Christus is uit Israel gebore

Rom.9:5 –

Dit as of Paulus nie kon ophou skryf nie. Die getuienis in die geskiedenis oor God se verhouding met Israel is so duidelik en so oorweldigend.

  • Hulle stam van die aardsvaders af. Abraham, die vader van die gelowiges met wie God sy ewige genadeverbond gesluit het, is Israel se voorouer en Israel is sy nageslag..
  • Uit Israel is die Christus as mens gebore. Jakob het toe Hy sy seuns geseën het, Juda uitgesonder as die een uit wie die beloofde Verlosser gebore sou word. Die beloofde Christus sou die leeu uit Juda wees. Die profeet Jesaja het die geboorte van die Christus en sy  menswording verkondig: Die maagd sal swanger word en ‘n seun in die wêreld bring (Jes.7:14) en vir Israel wat in die donker geleef het, het ‘n lig geskyn, die lig van ‘n Kind wat  gegee is, ‘n Seun wat gebore is (Jes.9:1,5).

Hierdie almagtige wonder dat sy Seun mens geword het, het die allerhoogste en alwetende en genadige God in Israel laat gebeur. Maria, ‘n jong vrou uit Israel, die verbondsvolk, het deur die krag van die Heilige Gees swanger geword en aan die Seun van God geboorte gegee. Betlehem, ‘n dorp in Israel was die geboortedorp van God se Seun, uit die nageslag van Juda, een van Jakob, Israel se seuns.

Die engel van die Here se woorde in ‘n droom aan Josef, was dat Maria deur die krag van die Heilige Gees swanger geword het en ‘n seun in die wêreld sou bring. Josef moes Hom Jesus noem, “want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos” het die engel gesê (Matt.1:21).

Beide Maria en Josef was gelowiges in die genadeverbond wat in God geglo het en in die verbond gehoorsaam aan Hom geleef het.

Israel het selfs die Verlosser uit hulle gebore en in hulle midde gehad. Tog het hulle nie in Hom geglo nie!

Reeds in hierdie eerste verse van Romeine 9 kom ‘n mens agter dat ons dieper oor Israel in die Bybel moet lees en dieper oor Israel as volk van God moet dink, sodat ons dieper oor onsself as volk van God kan dink.

In die preke uit Romeine 9-11 sal ons sien dat Jesus Christus die SLEUTEL is om te weet wie die volk van God is en om as sy volk te leef.

ANTWOORD
Sing: Ps.81:11,12,15
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: Ps.119:38,39
Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee.
Amen

Klankbaan

Luister na die preek.