Home Preke Die volk van God Jesus Christus, die Struikelblok

Jesus Christus, die Struikelblok

Datum: 2025-11-02
|
Reeks: Die volk van God
|
Kernverse: Rom.9:30-33

ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die werk van die Heilige Gees.
Lof aan God: Ps.98:1,2
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sing: Ps.71:9

VEROOTMOEDIDGING
Die Wet: Levitikus 19
Antwoord op die Wet: Ps.19:7
Gebed

VERKONDIGING
Sing: Ps.130:1,2
Lees: Romeine 9:19-33
Kernverse: Rom.9:30-33
Tema: Jesus Christus, die Struikelblok
Sang: Ps.98:1,2; Ps.71:9; Ps.19:7; Ps.130:1,2; Skb.1-3:1,2,3; Ps.130:3,4

Inleiding:

Politieke en Militêre vergaderings en besluite het menslik gesproke daartoe gelei dat dit tans beter in die Midde-Ooste en met Israel gaan. Die groot struikleblok vir vrede en veiligheid is vir nou in bedwang en nie meer so ‘n groot en sterk bedreiging nie. Die meeste leiers van lande en grootste deel van die wêreldbevolking het ‘n sug van verligting geslaak.

Die groot vraag wat die wêreld glad nie vra nie, nie vir Israel nie en nie vir enige ander land nie, is: Wat van die grootste struikelblok vir Israel en elke mens in die hele wêreld, Jesus Christus?

Die Here praat meer as een keer in sy Woord oor Christus, die Struikelblok. Paulus het tot die gevolgtrekking gekom dat Here Jesus Christus ‘n Struikelblok vir Israel was. Israel het nie vryspraak by God gekry nie, want hulle het hulle vasgeloop in die Struikelblok wat God gegee het, sy Seun, Jesus Christus.

Tema: Jesus Christus, die Struikelblok

  1. Die genade van vryspraak

Elke mens het vryspraak dringend nodig. Die rede is: Elke mens in die geskiedenis van die mensdom staan skuldig tot die dood voor God. Die allerhoogste en allerheiligste God het ‘n regsaak met die ganse mensdom.
Sy klag is: Sondig!
Sy vonnis: Skuldig tot die dood!
Sy uitspraak: Elkeen wat in Jesus Christus glo, word vrygespreek en sal lewe!

Hierdie regsaak van die Here met hierdie klag en vonnis en uitspraak, is deel van elke mens op aarde se lewe. Baie van ons dink dalk dat ons nog nooit ‘n klag teen ons gehad het nie en om dit nog nooit in ‘n hof was nie. Dit mag waar wees van die gewone lewe op aarde. Maar…Elke enkele mens het die regsaak van God teen hom of haar.

Hierdie regsaak wat God teen die ganse mensdom het, het duidelik geword toe Hy sy Seun na die wêreld gestuur het om sondaars te verlos.

Wat het gebeur?

Paulus het eers oor die heidene gskryf.

Die heidene het nie verlossing en vryspraak gesoek nie. Ons sien dit so duidelik in die Bybel, veral in Handelinge. Ons kyk na ‘n paar voorbeelde van heidene wat glad nie verlossing en vryspraak gesoek het nie. Die mense in Masedonië, veral die tronkbewaarder in Filippi (Hand16) en die Grieke in Atene (Hand.17) was heidene wat met hulle lewe aangegaan het, terwyl hulle verlore onder God se oordeel was.

In hierdie stede en al die ander in Asië en Griekeland het heidene gebly wat nie die vryspraak wat God gee, gesoek het nie, maar tog gekry het. Die tronkbewaarder in Filippi (Hand.16) en Dionisius ’n lid van die Areopagus in Atene en sy  vrou, Damaris het die evangelie gehoor en in Christus geglo. Hulle het deur hulle geloof vryspraak gekry.

Die vryspraak wat God gee is uit genade. Ons sien dit so duidelik in die lewe van hierdie mense in Handelinge wat  heidene was en ook ander mense. Hulle het nie vryspraak deur geloof gesoek nie. Hulle was heidene en het vryspraak nie verdien nie. Tog het hulle vryspraak gekry.

Ons staan op dieselfde manier as die heidene in Handelinge voor God. Die vryspraak wat ons gekry het deur geloof in Christus het ons ook nie voor gesoek nie. Ons het dit ook nie verdien nie. Tog het ons vryspraak gekry. Ons staan nou nie meer onder God se verskriklike ewige oordeel nie. Ons is verlos en vrygespreek deur ons geloof in Christus.

Ons geloof is ook genade. Ons het nie en kon nie vir ons geloof werk nie. Geloof kan mens ook nie erf nie. Ons het ons geloof ook nie verdien nie. Elkeen van ons se geloof in Christus is ‘n genadegawe, ’n geskenk van die Heilige Gees af.

Daarom moet ons geloof in Christus vir ons baie kosbaar wees.
Elkeen van ons sê harte behoort te brand van dankbaarheid en liefde vir God omdat ons geloof uit genade by Hom gekry het!

2. Die doodloopstraat van vryspraak

In die tweede plek het Paulus oor die Jode, Israel die verbondsvolk en vryspraak geskryf. Hulle het wel, anders as die heidene, vryspraak gesoek.

Maar…hulle het nie die vryspraak wat God deur geloof gee gesoek nie. Hulle het vryspraak op hulle eie manier gesoek. Israel het ‘n wet gesoek waardeur hulle by God vryspraak kon kry. Hulle het ook gedink dat hulle vrygespreek is, omdat hulle die wet gekry het en die wet gehoorsaam het. Israel het hulleself gesien as gelowiges wat die wet gehoorsaam en nakom.

Die groot probleem is dat God nie vryspraak deur ‘n wet gee nie.

Die een belangrike rede hiervoor is dat geen mens die wet van God volmaak kan onderhou om vergifnis en vryspraak by God te kry nie. Hy is die Allerheiligste. Hy verdra geen sonde nie. Hy verdra geen onvolmaaktheid nie.

Die Fariseërs en skrifgeleerdes was vas onder die indruk dat hulle onberispelik voor God was, op die manier waarop hulle die wet onderhou het. Paulus is die bekende voorbeeld van ’n Fariseër wat gedink het hy was onberispelik voor God omdat hy die wet so goed onderhou het.

Paulus en al die ander Fariseërs was heeltemal verkeerd. Hulle onderhouding van God se wet was steeds onvolmaak met baie tekortkominge. Hulle almal was sondig en skuldig en steeds verlore. Die Fariseërs en skrifgeleerdes was baie godsdienstig. Hulle was baie nougeset in hulle gehoorsaamheid aan die wet. Hulle het offers en godsdienstige dae en godsdienstige feeste getrou onderhou. Tog was hulle godsdiens om vryspraak te kry deur God se wet te onderhou, nutteloos.

God het totaal anders na die Fariseërs en skrifgeleerdes gekyk as hulleself. Luister  maar na die Here Jesus se woorde aan die Fariseërs en skrifgeleerdes wat gedink het hulle kom die wet van die Here na: “Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Julle is soos witgeverfde grafte, wat van buite mooi lyk maar daarbinne vol doodsbene en allerhande onsuiwerheid is” (Matt.23:27).

Om vryspraak deur die wet te probeer kry, is ’n doodloopstraat. Die Fariseërs en die res van Israel se gehoorsaamheid aan die wet was heeltemal onvolmaak en sondig. Onvolmaakte en sondige mense sonder ware geloof in Christus kry nie by God vryspraak van straf en oordeel nie. Israel wat vryspraak deur die wet gesoek het, het daarom in ’n doodloopstraat beland en daar gebly.

Dit is bekend dat die grootste deel van Israel in ons tyd steeds nie geloof in Christus as Verlosser het nie. Hulle lees gereeld die Ou Testament. Baie in Israel kom die dae en feeste en offers steeds gereeld na. Maar…hulle kry nie daardeur vryspraak nie en is steeds verlore in sonde.

Dit is reg om besorg te wees oor die oorlog tussen Israel en Hamas en die lewensverlies. Maar…moet ons grootste besorgdheid nie wees, dat Israel wat veronderstel is om die verbondsvolk te wees, in ‘n doodloopstraat is in hulle soeke na vryspraak nie?

Dieselfde vraag geld ons ook. Waar soek ons vir vryspraak? Soek ons regtig volmaakte vryspraak by God deur geloof en uit genade? Of…dink ons omdat ons goeie gelowige lidmate probeer wees, ons tog nie verlore sal gaan nie? Wanneer ons dink ons is goeie lidmate voor God, dink ons eintlik maar dat ons vryspraak sal kry deur die wet. Elke mens wat so dink, is in ‘n doodloopstraat en steeds verlore onder God se oordeel, al is so iemand godsdienstig.

3. Jesus Christus is die Een wat vryspraak bepaal

Die groot rede waarom Israel nie vryspraak by God gekry het nie, is dat hulle oor die struikelblok wat God voor hulle neergesit het, gestruikel en geval het en daar bly lê het.

Dit moet ons weet en glo en elke ander mens op aarde moet weet: God sit voor elke mens ‘n struikelblok neer. Net een van twee dinge gebeur wanneer ‘n mens by die struikelblok kom: Of ‘n mens struikel en val of jy bly staan.

Hoe struikel ‘n mens oor die struikelblok?

Israel het gedink en geglo hulle sonde was nie so erg nie. Hulle het verder gedink en geglo dat hulle nie onverskillig geleef het nie en die wet van die Here onderhou het. Hulle het ook gedink en geglo dat hulle Abraham, Isak en Jakob wat in die genadeverbond was en vryspraak gekry het, sê  nageslag was en dat hulle om daardie rede vryspraak by God sal kry.

Die struikelblok wat God voor elkeen neersit, is Jesus Christus wat gekruisig is en uit die dood opgestaan het vir ons sonde. Israel het in die verlede nie heeltemal leeg van hulleself voor Christus gestaan nie. Hulle het nie gehunker na Hom nie. Hulle het Hom nie met geloof omhels as hulle enigste Verlosser nie. Daarom het Israel in ongeloof oor die struikelblok geval. Hulle was godsdienstig, maar Christus was nie die enigste Verlosser in hulle lewe nie. Christus was nie alles vir hulle nie. Daar was te veel van hulleself in hulle.

Almal in Israel wat vandag steeds aan hulle nakom van die wet vashou, het ook oor die struikelblok geval en is steeds sonder vryspraak verlore, al is hulle godsdienstig.

Hoe bly ‘n mens staan voor die struikelblok? Die volgende twee verse gee die antwoord op hierdie vraag:
Ps.51:19 – “Die offer wat U wil hê, o God, is verootmoediging: U sal ‘’n hart vol ootmoed en  berou nie gering ag nie, o God.”
1 Joh.1:8,9 – “As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie. Maar as ons ons sondes bely. Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.”

Wanneer ons stukkend voor God staan, omdat ons besef hoe vuil ons sonde voor Hom is en met harte wat treur oor ons sonde om vergifnis pleit alleen omdat Christus vir ons gesterf en opgestaan het, struikel ons nie oor Christus, die Struikelblok nie. Met ‘n hart vol berou oor sonde en geloof in Christus alleen word die Struikelblok ’n vaste rots waarop ons staan. Met ‘’n besef van sonde en geloof in Christus, kry ons vryspraak by God en bly ons vrygespreek.

Daarom is die deel in die erediens waar ons ons voor God verootmoedig elke keer elke Sondag so belangrik.
Daarom is ons gebede waar ons ons sonde bely en om vergifnis bid so nodig en so belangrik.

Wanneer ons aan Israel dink, dink in die eerste plek aan die Struikelblok wat God voor elkeen van hulle neergesit het. Bid dat God aan hulle geloof sal gee om nie oor die Struikelblok te struikel nie.
Bid ook vir jouself en vir ons gemeente dat ons geloof ware geloof in Christus sal wees en nie net uiterlike godsdiens sodat ons oor die Struikelblok struikel nie.

Die Heilige Gees gee ons die geloof om nie oor Christus, die Struikelblok te val nie, maar regop te bly staan met Hom as die geestelike rots van ons lewe.

ANTWOORD
Sing: Skb.1-3:1,2,3
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: Ps.130:3,4
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, die liefde van God ons Vader en die gemeenskap van die Heilige Gees sal met julle almal wees.
Amen

Klankbaan

Luister na die preek.