Home Preke Voorbereiding Beproewing op aarde is ons voorbereiding vir Christus se wederkoms

Beproewing op aarde is ons voorbereiding vir Christus se wederkoms

Datum: 2025-11-09
|
Reeks: Voorbereiding
|
Kernverse: 1 Pet.1:6,7

Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die werk van die Heilige Gees
Lof aan God: Skb.18-6:1,2,4,5
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sing: Ps.9:1,7

VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Antwoord op  die Wet: Ps.38:1,17
Gebed

VERKONDIGING
Sing: Ps.138:1,4
Lees: 1 Petrus1(2020 vertaling)
Kernverse: 1 Pet.1:6,7
Tema: Beproewing op aarde is ons voorbereiding vir Christus se wederkoms
Sang: Skb.18-6:1,2,4,5;Ps.9:1,7; Ps.38:1,17; Ps.138:1,4; Ps.126:1,2; Skb.18-7:3,11,12

Inleiding: Beproewing op aarde is ons voorbereiding vir Christus se wederkoms

Tema:

Teen die einde van die jaar kyk mens gewoonlik terug na die jaar wat verby is en alles wat gebeur het. Ons as gelowiges behoort vir ons voorbereiding vir nagmaal terug te kyk en vanuit 1 Petrus oor twee dinge hand in eie boesem te steek.

Die eerste – hoe het ons swaarkry en beproewing die afgelope jaar hanteer? Het ons  gekla en moedeloos en opstandig geword, of het ons die moeilike omstandighede gesien as dat God ons voorberei vir Jesus Christus se wederkoms?
Die tweede – het ons, terwyl ons op Christus gewag het om weer te kom, die afgelope jaar heilig geleef soos die Here van ons verwag?

  1. Nuut gemaak deur Jesus Christus

Die Heilige Gees leer ons baie oor die gelowige lesers van elke brief in die brief se begin. Ons leer baie oor die eerste gelowige lesers, maar ook oor alle Christengelowiges, omdat die briewe vir alle Christene van alle tye bedoel is.

In die begin van Petrus se eerste brief lees ons dat gelowiges deur God uitverkies is om deur heiligmaking van die Gees aan God gehoorsaam te wees en om met die bloed van Jesus Christus besprinkel te word.

Christengelowiges leef deur die Heilige Gees ‘n lewe van heiligmaking. Dit is ‘n lewe deur die Gees vir God, met liefde vir Hom en gehoorsaamheid aan Hom.

Christengelowiges is deur die bloed van Jesus Christus besprinkel. Dit beteken Jesus Christus het Christene deur sy bloed, dit is deur sy dood aan die kruis van sonde skoongemaak.

In die derde vers van die hoofstuk sien ons dat Christengelowiges nuut gemaak is deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood.

Ons kan uit die eerste drie verse van hierdie brief sê dat Christengelowiges nuut gemaak is deur Jesus Christus.

Hierdie is ‘n geweldige waarheid. Dit vertel en leer van God se ewige uitverkiesing, van sy liefde dat Hy sy Seun gestuur het, van Jesus Christus se liefde vir ons dat Hy vir ons aan die kruis gesterf en opgestaan het en ons van al ons sonde verlos het en van die Heilige Gees wat in ons leef en ons elke dag nuut maak om saam met al die uitverkore gelowiges  in die hemel voor God se troon te kan wees.

Hierdie wonderlike waarheid dat ons nuut gemaak is deur Jesus Christus behoort in ons harte en ons gedagtes te leef.
Maar…hoeveel keer is dit nie asof die terugslae en moeilike omstandighede in hierdie gebroke lewe vir ons meer is as dat ons nuwe mense deur Christus is nie?  Die Here praat met ons juis hieroor.

2. Vreugde in beproewing

Luister weer na 1 Pet.1:6 – “Jubel hieroor, al moes julle onlangs ‘n kort tydjie deur allerhande beproewings beproef word”.

Die wonderlike genade dat ons nuut gemaak is deur Jesus Christus behoort ons met blydskap te laat leef. Ons behoort in ons harte en ons gedagtes waar ons ook al gaan te jubel selfs te midde van moeilike omstandighede.

Hier is nie die enigste plek in die Bybel waar die Here met ons oor harte wat jubel praat terwyl ons moeilike omstandighede beleef nie. Die volgende is ook verse in die Bybel hieroor –
Hab.3:17,18 – “Al sou vyebome nie bot nie, daar geen opbrengs aan die wingerdstokke wees nie, die drag van die olyfbome teleurstel, die landerye niks te ete lewer nie, kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle oor wees nie; nogtans sal ek jubel in die Here, sal ek juig in die God wat my verlos.”
Jak.1:2 – “Beskou dit as ‘n groot vreugde, my broers, wanneer allerhande versoekings julle oorval…”

Die Here is baie duidelik in wat Hy vir ons wat deur sy Seun nuut gemaak is wil hê. Hy wil dat ons die vreugde om ‘n nuwe gelowige deur Christus te wees, nie so dikwels en soms so gou vergeet wanneer moeilike omstandighede op ons lewenspad kom nie. Die Here wil dat ons juis in tye wanneer ons swaar kry, bly sal wees.

Ons is nuwe mense deur Jesus Christus wat vir ons gesterf en opgestaan het. Ons is ewig nuut gemaak. Hierdie werklikheid in elke Christengelowige se lewe is sterker as enige beproewing wat ons laat swaar kry. Dit is die een rede waarom die Here wil dat ons bly mense sal wees wat met vreugde leef.

Die Here wil nie bekommerde en moedelose en angstige gelowige kinders hê nie. Hy wil kinders wat ongeag omstandighede, met gelowige harte vol blydskap leef hê.

Dit bring ons by die tweede rede vir blydskap al word ons beproef.

3. Die ewige doel van beproewing

Die Here ons God het ‘n ewige geestelike doel met beproewing. Sy doel is  “sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word” (vs 7a).

Ons het vanoggend ons erediens om vir nagmaal volgende Sondag, as die Here wil, voor te berei.

Een van die dieper betekenisse van nagmaal, is dat elke nagmaal ons laat uitsien na die bruilofsfees van die gekruisigde Jesus saam met almal wat Hy verlos het. Een van die dieper betekenisse van beproewing is dat die Here ons vir Jesus Christus se wederkoms voorberei. Ons het nodig om ons vir nagmaal voor te berei. Ons het veral nodig om ons vir die hemelse feesmaaltyd voor te berei.

Die Here vra hier in 1 Pet.1 van ons almal om heeltemal anders na beproewing en moeilike omstandighede te kyk. Hy vra van ons om heeltemal anders na hierdie moeilike jaar te kyk. Hierdie baie moeilike jaar het die Here ons voorberei vir Christus se wederkoms.

Christus, die Seun van die lewende God sal met sy wederkoms na ons elkeen se geloof kyk. Met sy wederkoms sal Christus elkeen van ons se  geloof beoordeel of ons geloof lof, heerlikheid en eer waardig is.

Ons geloof sal lof waardig wees indien ons geloof waar, suiwer en eg was en ons lewe het dit gewys het.Dink aan die gelykenis van die talente toe die eienaar by sy terugkeer sy een slaaf beoordeel het “Mooi so! Jy is ‘n goeie en getroue slaaf…” (Mt.25:21).

Ons geloof sal vir die hemelse heerlikheid waardig wees indien ons tydens al die aardse beproewing gelowig volhard het en ons geloof verdiep het en tot volwassenheid gegroei het om aan die einde die ewige heerlikheid van die koninkryk van die hemel te ontvang.

Christus wil ook dat ons geloof eer waardig sal wees met sy wederkoms. Dit beteken dat Christus wil ons geloof hoog ag wanneer Hy weer kom.

Hier is die rede waarom God jou beproef in hierdie lewe. God berei ons voor dat ons geloof by Christus se wederkoms lof, heerlikheid en eer waardig sal wees.

Almal van ons het hierdie voorbereiding van ons geloof nodig, want Christus gaan met sy wederkoms die mensdom in twee verdeel. Een groep sal aan sy linkerkant en die ander groep aan sy regterkant staan. Die groep aan Christus se linkerkant sal Hy van Hom wegstuur en ewig veroordeel. Die mense aan sy regterkant sal die volgende woorde by Christus hoor: “Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af” (Mt.25:34).

Ons swaarkry, ons beproewing hier op aarde is God se voorbereiding dat ons met ware geloof aan Christus se regterkant sal staan wanneer Hy weer kom.

Ons almal het daarom nodig om heeltemal anders na moeilike omstandighede te kyk. Ons sal dit nie self kan regkry nie. Ons het die Heilige Gees in ons om ons te lei en te help om ons moeilike omstandighede met gelowige harte te aanvaar as dat God ons voorberei vir Christus se wederkoms.

4. Aansporing om heilig te lewe

Daar is ook ‘n sekere manier waarop ons vir Jesus Christus moet wag om weer te kom. Die mensdom verdeel ook hier in twee groepe. Daar is die mense wat Christus se wederkoms ontken of ignoreer. Hulle ken Christus nie, glo nie in Hom nie en leef nie vir Hom nie. Soos in Noag se dae voor die sondvloed sal hierdie mense net vir hierdie aardse lewe leef en elke dag met hulle lewe in ongeloof aangaan. Geloof in Christus het nie plek in hulle lewe nie. Die hier en die nou, liefde vir hulleself en liefde vir genot is wat saak maak.

Hulle het die swaarkry nie gesien as voorbereiding vir Christus se wederkoms nie. Hierdie mense het die swaarkry van hierdie lewe bloot as terugslae gesien en omstandighede om oor te kla en opstandig te word. Wanneer die Here Jesus weer kom, sal dit vir hierdie mense heeltemal onverwags wees. Hierdie is die groep mense wat die Here Jesus aan sy linkerkant sal laat staan om ewig veroordeel te word.

Die ander groep het die Bybel gelees en afgekom op 1 Pet.1:15,16: “Inteendeel, soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle hele lewenswandel heilig wees. Daarom staan daar geskryf: ’Wees heilig, want Ek is heilig.”

Om heilig te  leef, is om afgesonder vir God te leef. ‘n Mens leef afgesonder vir God in hierdie wêreld wanneer jy Hom uit liefde gehoorsaam. Die Here wys ons duidelik in die Bybel hoe om Hom te gehoorsaam. Ons het sy gebooie in Eksodus 20 en Deuteronomium 5. Ons kerke het ook die verklaring van die Tien Gebooie in Sondag 34-44. Daarby het ons dele in die Nuwe Testament soos Matteus 5 – 7 en Jakobus se brief.

Van ‘n heilige lewe is daar in ons land en in die stad waar ons bly weinig te sien vandag. Ons wat deur Christus nuut gemaak is en deur die Heilige Gees op die Here Jesus se wederkoms wag, sal heeltemal anders as die meeste mense in ons land en ons stad moet leef. Die Here verwag van ons ‘n heilige lewe, naby Hom en vir Hom, uit liefde vir Hom gehoorsaam aan Hom.

Hierdie tyd van voorbereiding vir die laaste nagmaal hierdie jaar, is tyd waar ons almal deur die Heilige Gees selfondersoek sal moet doen oor ons heilige lewe voor God hierdie jaar wat byna verby is.

ANTWOORD
Sing: Ps.126:1,2
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: Skb.18-7:3,11,12
Seën: God wat alle genade gee en wat julle geroep het om in Christus Jesus deel te hê aan sy ewige heerlikheid, sal julle, nadat julle ‘n kort tydjie gely het, self weer oprig en julle moedig, sterk en standvastig maak.
Amen

Klankbaan

Luister na die preek.

Ander preke in "Voorbereiding"