ONTMOETING
Votum: P.124:8
Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die werk van die Heilige Gees.
Lof aan God: Ps.146:1,8
Geloofsbelydenis: Nicea
Sing: Skb.12-3:1,2
ONTMOETING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Antwoord op die Wet: Ps.86:6
Gebed
VERKONDIGING
Sing: Ps.105:2,3
Lees: Eksodus 12:1-40
Belydenis van geloof
Doop
Sing: Ps.105:5
Kernvers: Eks.12:14
Tema: Die gedenkdag van die Here.
Sang: Ps.146:1,8; Skb.12-3:1,2; Ps.86:6; Ps.105:2,3; Ps.105:5; Ps.18:13,14; Ps.116:1,4,5,7
Inleiding:
Die doop en die nagmaal is vir elke gelowige ‘n kosbare sekerheid en dankbare herinnering aan God se genade en liefde vir ons. Met die Heilige Gees in ons behoort ons almal ons doop en die nagmaal te herdenk en te vier as ‘n gedenkdag tot eer van die Here.
Tema: Die gedenkdag van die Here.
Jakob het met sewentig mense in Egipte aangekom in die tyd toe dit baie goed in Egipte gegaan het. Die Farao het Josef en Jakob en sy mense baie goed behandel, omdat Josef Egipte gehelp het teen ‘n baie ernstige droogte en hongersnood.
Israel het met die loop van jare baie meer geword in Egipte. ‘n Nuwe Farao het koning van Egipte geword. Hy het nie die geskiedenis geken hoe Josef die land gehelp het en deur die Here se genade die land gered het nie. Die nuwe koning het gesien hoe baie Israel geword het. Hy het Israel as ‘n bedreiging gesien en bose planne begin maak om te keer dat Israel meer word.
Sy planne van onmenslike werksomstandighede het misluk. Sy volgende plan was baie wreed. Hy het die Hebreeuse vroedvroue Sifra en Pua aangesê om die seuntjies by geboorte dood te maak. Die twee vroue was gelowig. Hulle het die Here gedien en nie gedoen wat die koning gevra het nie. Die volgende deel van die koning se wrede plan was dat enigiemand van Egipte ‘n babaseuntjie in Israel in die Nyl moes gooi.
Wat was Israel se omstandighede in Egipte?
Hulle was in ‘n heidenland wat sondig en goddeloos geleef het. Die Here se gelowiges was omring van die sondige heidendom. Die dood was elke dag deel van hulle lewe. Die Egiptenare was daarop uit om al die seuntjies dood te maak. Ons kan sê Israel was vasgevang in sondige land met die bedreiging van die dood elke dag deel van hulle lewe.
Israel het in hulle nood na God geroep om hulp. Vir baie jare het Israel gebid vir uitkoms. In hulle smeekgebede het hulle gekreun, omdat dit so swaar gegaan het. God het hulle nood gesien en hulle swaarkry ter harte geneem.
Die Here het in sy almag en genade Moses geroep om Israel uit Egipte, uit die bedreiging van sonde en die dood te lei. Die Here het verskillende ernstige plae oor Egipte laat kom, maar die Farao se hart het hard gebly. Hy wou Israel nie laat gaan nie.
Die Here het toe ‘n dag beskik waarop Moses Israel uit Egipte sou lei. In werklikheid was dit die Here wat Israel uit Egipte verlos het.
Die verlossing van Israel uit Egipte het ‘n dieper betekenis gehad, vir Israel destyds en vir ons vandag.
Ons leef ook omring van sonde en die dood. Hierdie is ‘n sondige en goddelose land waar soveel mense die ware God nie ken en nie dien nie. Ons self het in ons ook sonde. Ons het sonde van Adam en Eva geërf en ons het sonde wat ons elke dag doen. Dan wil ons groot vyand, die duiwel ons voortdurend van God wegtrek. Ons weet ook dat die onveranderlike God se straf op sonde die dood is, die ewige dood.
Ons het verlossing nodig. Ons wat die Nuwe Testament het, het die wonderlike genade dat ons verlossing gekom het. Ons is verlos van sonde en die dood. God het op ‘n almagtige manier sy Seun mens laat word. Jesus het ons sonde op Hom geneem. Hy het met ons sonde op Hom aan die kruis gesterf, in ons plek vir ons. Deur vir ons te sterf en vir ons op te staan het Jesus Christus ons van al ons sonde verlos.
2. Die teken.
Israel se verlossing uit Eipte het nie net gebeur nie. Die Here het in sy almag en sy genade die dag vasgestel waarop Hy Israel uit Egipte sou verlos. Die Here het dit goed gedink om vir Israel ‘n teken te gee dat Hy hulle sal verlos.
Ons kry in Eks.12 die volgende oor die teken –
Daardie nag het verder so verloop: “Om middernag het die Here elke eersgeborene van Egipte laat sterf, van die kroonprins af, die eersgeborene van die farao, tot by die eersgeborene van die krygsgevangene in die tronk, selfs die eerstelinge van die diere. Toe die farao, al sy amptenare en al die Egiptenaars dié nag wakker word, het hulle almal bitterlik aan die huil gegaan, want daar was nie ‘n enkele Egiptiese huis sonder ‘n sterfgeval nie” (Eks.12:29,30).
In elke huis in Egipte was daar dood. In elke huis van Israel was daar lewe.
Dieselfde nag het Farao Moses en Aäron laat roep en gesê dat Israel uit die land moet trek.
Die bloed van die paaslam het gemaak dat die Here nie die huise van Israel met die dood gestraf het nie. Maar die lam en sy bloed was in werklikheid net die teken van die werklike verlossing van sonde en die dood.
Die werklike verlossing het gebeur deur Jesus Christus se liggaam en bloed aan die kruis. Daar het ook ‘n dag aangebreek dat die werklike Verlosser, God se Seun moes sterf. Dit het gebeur daardie Vrydag aan die kruis op Golgota.
Die Here het dit goed gedink om vir ons ook ‘n teken te gee dat Hy ons verlos het. Jesus Christus, ons Verlosser het met die laaste paasfees voor sy kruisiging vir sy kerk, dit is sy gelowiges, dit is vir ons ook, die nagmaal as teken gegee. Die pasga van die Ou Testament se tyd was verby. Die teken van die werklike Paaslam wat gesterf het in die Nuwe Testament is die nagmaal.
Ons het steeds nodig m ons vir nagmaal gereed te maak. Ons voorbereiding van die gelowiges in die Nuwe Testament vir Nagmaal het dieper geword. Die gereedmaak van die datum, die tafel en die brood en die wyn, is die noodsaaklike uiterlike dinge wat ons vooraf moet gereed maak. Die werklik belangrike en noodsaaklike voorbereiding is in ons harte en ons gedagtes. Ons voorbereiding vir nagmaal het verdiep. Ons voorbereiding is deur die Heilige Gees. Ons moet met die Bybel en gebed besig wees met ons sonde voor God, met ons verlossing deur Jesus Christus en met ons lewe deur die Heilige Gees.
Vanoggend se erediens en hierdie week wat voorlê, is juis ons tyd van voorbereiding.
3. Dankbare herinnering.
Die paasfees moes vir Israel ‘n vaste jaarlikse instelling word. Paasfees moes ‘n gedenkdag wees, ‘n fees tot eer van die Here. Die Israeliete wat destyds uit Egipte verlos is, moes die paasfees aanhou vier.
Hulle moes hulle kinders vertel het wat paasfees beteken: “Dit is ‘n paasoffer aan die Here, omdat Hy in Egipte die Israeliete se huise oorgeslaan het. Terwyl Hy die Egiptenaars getref het, het Hy ons huise gespaar” (Eks.12:27).
Elke nagmaal is steeds ‘n gedenkdag dat Jesus Christus sy liggaam en bloed vir ons gegee het, toe Hy aan die kruis vir ons gesterf het. Met die Heilige Gees in ons kan ons en behoort ons elke nagmaal met dankbare herinnering te vier.
Volgende Sondag vier ons, as die Here wil, nagmaal. Vanoggend het ons die doop gesien en beleef. Die nagmaal is ‘n teken soos ons gehoor het, dat Jesus sy liggaam en bloed vir ons aan die kruis geoffer het.
Die doop is ook ‘n teken. Waarvan is die doop die teken?
Ons kan dit so verstaan. Die mense van Egipte kon nie die paaslam slag en die bloed aan hulle deurkosyne smeer nie. Hulle was nie die nageslag van Abraham nie en daarom buite die genadeverbond van God met Abraham en sy nageslag. Israel kon die paaslam slag en eet en die bloed aan hulle deurkosyne smeer, want hulle was die nageslag van Abraham en in die genadeverbond.
Die doop is die teken in die Nuwe Testament van die genadeverbond. Ons is in die genadeverbond deur Jesus Christus wat vir ons gesterf het. Die doop is die teken dat Jesus Christus deur sy dood al ons sonde afgewas het, dat die Vader ons in sy genadeverbond as sy kinders aangeneem het en dat die Heilige Gees in ons wil woon om ons te lei om gelowig in die genadeverbond te leef.
Nie enigeen kan sommer net in die gemeente kom en nagmaal gebruik nie. Omdat God ons in die genadeverbond opgeneem het, kan ons die dood van Jesus Christus met nagmaal herdenk.
Die doop wat ons vaoggend gesien het, is dan die teken dat God ons Vader ons een keer in die genadeverbond opgeneem het om vir ewig aan Hom te behoort. Die Nagmaal is die teken dat ons as verloste gelowiges in die genadeverbond kan leef.
Om gedoop te word is baie belangrik. Elkeen wat gedoop is moet met die Heilige Gees in ons, die herinnering dat ons in die genadeverbond van God is, oral en altyd met ons saam dra.
Om nagmaal te gebruik is baie belangrik. Elke nagmaal is ‘n dankbare herinnering dat ons deur Jesus Christus van sonde verlos is en as verloste gelowiges in die ewige genadeverbond kan leef.
Maak dan hierdie week genoeg tyd om met opreg voor die Here met voorbereiding besig te wees, sodat ons volgende Sondag as die Here wil, met vrymoedgheid nagmaal kan gebruik.
ANTWOORD
Sing: Ps.18:13,14
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: Ps.116:1,4,5,7
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, die liefde van God ons Vader en die gemeenskap van die Heilige Gees sal met julle almal wees.
Amen