ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste, wat uit die dood opgestaan het en die Heerser oor die konings van die aarde.
Lof aan God: Ps.147:1,2
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sing: Skb.12-3:1,2
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Deuteronomium 5
Sing: Ps.25:3,5
Gebed
VERKONDIGING
Sing: Ps.94:1,12
Lees: Psalm 15
Kernvers: Ps.15:1
Tema: Here, mag ek erediens, mag ek nagmaal toe kom?
Sang: Ps.147:1,2; Skb.12-3:1,2; Ps.25:3,5; Ps.94:1,12; Ps.99:1,2,5; Ps.119:62,63
Inleiding:
In die Ou Testament kry ons die Here se gebod om op die rusdag voor Hom saam te kom in ‘n erediens (Eks.20:8; Jes.56:2). Ons kry dieselfde in die Nuwe Testament in Hebr.10:25 waar gelowiges vermaan word om nie die onderlinge byeenkomste van die gemeente na te laat nie.
Maar…ons hoor ook die volgende woorde van die Here, die Heilige van Israel: “As julle kom om voor My te verskyn, wie het julle gevra om my voorhowe te kom vertrap?” en “As julle julle hande in gebed uitstrek, sal Ek my oë vir julle toemaak. Selfs al bid julle hoe baie, sal Ek nie luister nie, want julle hande is met bloed bevlek” (Jes.1:12 en 15).
Die Here wil ‘n erediens hê, ja! Die Here Jesus wil dat ons nagmaal vier terwyl ons aan Hom dink. Maar…niemand mag sommer net kom soos ek wil nie.
Die Here help ons in Psalm 15 om hierdie beter te verstaan.
Tema: Here, mag ek erediens, mag ek nagmaal toe kom?
1. Die Here, sy erediens, sy nagmaal is heilig.
Dawid het hierdie Psalm geskryf. Hy was ‘n gelowige wat die Here geken het. In Ps.23:1 het Dawid geskryf: “Die Here is my herder…”. Die Here het ‘n man na sy hart gesoek om koning van Israel te wees (1 Sam.13:14). Dawid was daardie man.
Dawid het hierdie psalm geskryf om die verbondsvolk te onderrig oor hulle lewe as gelowiges wanneer hulle die tempel van die Here besoek. Die psalm gaan oor die verbondsvolk se gesindheid wanneer hulle die tempel van die Here besoek het. God se Woord is ewig. Sy verbondsvolk van die Ou Testament is steeds sy verbondsvolk van die Nuwe Testament. In die Nuwe Testament ken ons die verbondsvolk as die kerk van Jesus Christus, sy gelowiges. Die psalm is daarom bedoelom ook ons te onderrig.
Die psalm begin met die vrae: “Wie het reg om in u woonplek te kom, Here? Wie mag op u heilige berg vertoef?” (Ps.15:1).
“Tent” en “heilige berg” wys na die tempel van die Here. Die tempel het uit drie dele bestaan: Die voorhof, die heilige en die allerheiligste. In die allerheiligste het die Here soms in die vorm van ‘n wolk neergedaal. In die wolk het Hy vir die verbondsvolk gewys dat Hy by hulle is. Die tempell en die berg word dikwels heilig genoem, want die heilige God is daar op ‘n spesiale manier teenwoordig.
Net die hoëpriester kon net eenkeer per jaar in die allerheiligste deel ingaan. Hy moes hom vooraf reinig voor hy kon ingaan om aan die Here te offer en vir Israel te bid. Die rede die reiniging was dat die hoëpriester en die verbondsvolk sondig was, terwyl God heilig is.
Hier is die rede waarom die Heilige Gees Dawid gelei het om die verbondsvolk, Christus se kerk te onderrig oor hulle gesindheid wanneer hulle na die tempel van die Here toe gegaan het. God is heilig. Israel was onheilig, sondig. Hulle kon nie bloot net gaan nie.
Die onderrig is vir elkeen van ons ook. God is heilig. Hy is die Allerheiligste. Hy verdra sonde nie. Hy laat sonde nie naby Hom toe nie. Hy veroordeel en straf sonde op die strengste en ergste manier, die ewige dood. In elke erediens is ons in die teenwoordigheid van die heilige God. Met elke nagmaal is ons in die teenwoordigheid van die heilige God.
Omdat God so heilig is, behoort die vraag in elke gelowige se hart te wees: “Wie het reg om in u woonplek te kom, Here? Wie mag op u heilige berg vertoef?”
Vanoggend se erediens is ‘n voorbereidingsdiens met die oog op volgende Sondag se nagmaal, die heilige nagmaal, as die Here wil. Die vraag in elkeen van ons se harte behoort te wees: Here, mag ek na u erediens toe kom? Mag ek na u nagmaal toe kom?
2. Alle mense is sondig.
Hierdie vrae en die antwoorde is baie belangrik, selfs lewensbelangrik. Aäron se twee seuns was priesters en het in die allerheiligste ingegaan om te offer. Hulle het gesterf (Lev.16:1). Hulle kon nie in hulle onreinheid net gaan offer sonder om hulle eers voor die Here te reinig nie. So heilig is God en so sondig was daardie twee mense, die twee priesters, dat hulle gesterf het.
Alle mense is sondig voor die heilige God. Sonde is nie bloot ‘n algemene vae begrip nie. Sonde is werklike dinge wat ‘n mens doen wat God nie verdra nie, maar streng veroordeel. Die gelowiges in die verbondsvolk het destyds gesondig. Die dinge wat Dawid in die psalm noem, was sonde wat destyds in Israel voorgekom het, aan die eenkant. Aan die anderkant het Dawid geskryf oor die lewe wat die Here van Israel verwag het.
Vs 2 – onberispelik wandel, doen wat reg is, wat met sy hele hart die waarheid praat.
Vs 3 – Die Hebreeus is so geskryf dat die woorde op ‘n sondige manier van lewe gewys het – nie kwaad praat nie, nie ‘n medemens kwaad aandoen, dit is deur valse dinge te sê nie, niemand beledig nie.
Vs 4 – aanvaar nie die ongelowiges wat God verwerp het, respekteer gelowige kinders van die Here, hou sy woord en praat nie nou sus en dan so nie.
Vs 5 – leen nie geld op rente uit nie. Die Here het rente onder die verbondsvolk verbied om misbruik en onreg te voorkom. Vandag beteken dit om nie myself te verryk ten koste van ‘n ander nie. Verder – nie omkoopgeskenke aanneem nie.
Al hierdie was sonde wat Israel destyds moes vermy en nie mag gedoen het nie.
Alle mense het sonde. Elkeen het erfsonde, ons is sondig in ons gedagtes, ons woorde, wat ons doen, ook in wat ons nalaat, terwyl God dit van ons vra en ons het sonde waarvan ons nie eers bewus is nie. In die nagmaalformulier word baie duidelike sondes genoem, ook in soveel dele van die Bybel, Eks.20 en Mt.5-7. Al hierdie maak elkeen van ons onwaardig om voor die heilige God te verskyn.
Ek kan nie met my sonde na die erediens of die nagmaal kom en voor die heilige God verskyn, asof my sonde nie so erg is nie. Ek kan nie met nagmaal die kruis van Jesus Christus voorhou, terwyl ek steeds met sonde waarvan ek my nie bekeer het nie, en nie wil bekeer nie, leef. Die Here sien die onbekeerdheid in my. Wanneer ek wel so nagmaal toe kom, eet en drink ek die Here se verskriklike oordeel oor my.
Die vrae: Here, mag ek na u erediens kom? Mag ek na u nagmaal toe kom? Is vrae wat my baie diep oor myself moet laat dink. Ek is met voorbereiding besig om myself te ondersoek voor die heilige God wat alles sien en weet.
3. Ek mag net met Christus voor die Here kom.
Die psalm eindig met die woorde: “Wie hom hieraan hou, sal nie wankel nie” (vs 5). Wie by God se Woord bly en die lewe leef wat die heilige God in sy Heilige Skrif vra, sal nie wankel nie. Dit beteken: Sal nie deur sonde meegesleur en verlei word om weg van God af te leef nie.
Ons kan sê: Die mens wat aan God en sy Woord vas is, die mens wat volgens die Bybel naby God leef, is dan die mens wat na die erediens van die Here mag kom, wat na nagmaal toe mag kom.
Die probleem wat elkeen van ons het, is dat sonde my juis van God en sy Woord wegneem, want sonde is ongehoorsaamheid aan God en gehoorsaamheid aan Satan, God se grootste vyand. Daarom: Op my eie, net soos ek is, mag ek nie voor die Here in sy erediens kom nie, mag ek nie nagmaal toe kom nie. Net soos ek is, verdien ek om te sterf soos Aäron se twee seuns.
Hoe sal ek dit regkry om die opdrag om erediens en nagmaal toe te kom, te gehoorsaam en nie geoordeel word oor my sondigheid waarmee ek voor God verskyn nie?
Die antwoord op hierdie vraag is: Jesus Christus!
Christus, die seun van God het mens geword vir my. Hy het my sonde op Hom geneem. Hy het met my sonde op Hom in my plek die straf en oordeel wat oor my moes kom, gedra. Hy het vir my aan die kruis gesterf. Deur vir my te sterf, het Hy my van al my sonde verlos en al my sonde voor God weggeneem. Hy het vir my op die derde dag uit die dood opgestaan. Deur sy opstanding het Hy aan my die nuwe lewe, die ewige lewe gegee.
Ek is deur Christus ‘n verloste nuwe mens. Ek het die Heilige Gees in my. Die Heilige Gees maak my deur geloof een met Christus. Ek is so een met Christus dat ek in Hom is en Hy in my. Wanneer ek so een met Christus is, maak sy dood aan die kruis my sonde toe voor God. Met Christus in my, kan ek dan as verloste nuwe mens voor die Heilige God kom in die erediens en met nagmaal.
Mag ek erediens toe kom? Mag ek nagmaal toe kom?
Ja, ek mag, maar net met Christus in my!
Dit maak van voorbereiding die tyd om myself diep en eerlik te ondersoek oor my verhouding met Christus.
ANTWOORD
Sing: Ps.99:1,2,5
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: Ps.119:62,63
Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee
Amen