Home Preke Voorbereiding Nagmaal - die maaltyd vir Christus se kerk

Nagmaal - die maaltyd vir Christus se kerk

Datum: 2024-08-18
|
Reeks: Voorbereiding
|
Kernverse: 1 Pet.1:3,4

ONTMOETING
Votum: Ps.124:8
Seën: Genade, barmhartigheid en vrede van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die werk van die Heilige Gees.
Lof aan God: Ps.118:1,12
Geloofsbelydenis: Nicea
Sing: Skb.12-3:1,2

VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Levitikus 19:1-18
Sing: Ps.32:3
Gebed

VERKONDIGING
Sang: Skr.5-4:1,2
Lees: 1 Petrus 1:1-9 en Sondag 17
Kernvers: 1 Pet.1:3,4
Tema: Nagmaal – maaltyd vir Christus se kerk.

Inleiding:

Die kerk, die gelowiges, ons het nagmaal by Jesus Christus gekry. Christus het alles vir sy kerk uit liefde gedoen. Ons kan ons vir nagmaal voorberei, omdat Jesus Christus, God se Seun, ons liefgehad het en steeds liefhet. Hierdie tyd van voorbereiding behoort ‘n tyd van liefde vir Christus en dankbaarheid oor teenoor Hom te wees.

Tema: Nagmaal – Die maaltyd vir Christus se kerk.

  1. Oorwinningsmaaltyd

Die getuienis van die leë graf
Daardie Sondagoggend nadat Jesus die Vrydag gekruisig is, is die vroue baie vroeg na die graf toe. By die graf aangekom, het hulle die klip weggerol en die graf leeg gekry. Die vroue is ooggetuies van die leë graf. Die engel van die Here het ook met die vroue gepraat en Jesus se opstanding verkondig. Die dissipels het na hulle die nuus van die vroue gehoor het, self graf toe gegaan en ook gesien dat die graf leeg was. Die heidense Romeinse soldate het ook teenoor die priesterhoofde getuig dat Jesus opgestaan het. Die opgerolde kopdoek is die verdere getuie dat Jesus nie inderhaas weggedra is, soos die Fariseërs beweer het nie, maar dat Hy wel opgestaan het.

Die getuies wat ons het oor Jesus se opstanding is ooggetuies. Die getuienis, die boodskap is vas en seker. Die Here vertel  ons van Jesus Christus se opstanding in sy Woord. Die Heilige Gees oortuig ons om wat ons oor Jesus wat opgestaan het, in die Bybel lees, te glo.

Die oorwinning oor die dood
Dat Jesus Christus uit die dood opgestaan het, is ‘n almagtige wonder van die almagtige God. Die dood was die duidelike bewys van die verwydering tussen  God en mens. Dood was ‘n ingrype in die mens se lewe. Dood het oor die mens se lewe geheers. Deur sy opstanding het Jesus die dood oorwin. Hy het die verwydering tussen ons en God weggeneem Hy het die dood se mag oor ons lewe beëindig. Die dood, een van ons drie grootste en magtigste vyande se mag is gebreek.

Nagmaal is ‘n oorwinningsmaaltyd
Wanneer gelowiges Nagmaal vier, dink ons aan Jesus Christus. Ons dink daaraan dat Hy sy liggaam en bloed gegee het aan die kruis. Nou weet ons mos dat Jesus nie meer aan die kruis is nie. Hy het opgestaan en Hy is nou by sy Vader. Wanneer ons Nagmaal vier, dink ons dus ook aan Jesus wat sy lewe gegee het, maar sy lewe weer opgeneem het toe Hy uit die dood opgestaan het. Ons dink dus aan Jesus Christus die Oorwinnaar oor die sonde en die dood. Nagmaal is daarom ‘n oorwinningsmaaltyd. Ons kan ons gereedmaak vir ‘n oorwinningsmaaltyd volgende Sondag, as die Here wil. Ons behoort ons so voor te berei.

  1. Versterkingsmaaltyd

Jesus Christus het opgestaan om nuwe lewe te gee
Jesus Christus, die Seun van die lewende God, het nie vir Homself uit die dood opgestaan nie. Hy het vir mense vasgevang in die mag van sonde en die dood opgestaan. Hy het opgestaan om die dood as straf op sonde te beëindig. Hy het opgestaan om die dood te oorwin en nuwe lewe aan sondige mense te gee.

Jesus Christus se graf was daardie Sondag leeg vir jou. Hy het opgestaan om aan jou nuwe lewe te gee. Nuwe lewe is ‘n werklikheid in elke gelowige se lewe. Die Heilige Gees begin die nuwe lewe deur wedergeboorte en Hy sorg dat jy nuut bly deur geloof aan jou te gee. Deur geloof maak Hy jou een met Christus. Hierdie lewe met Christus is die nuwe lewe wat jy het.

Die krag van nuwe lewe (Ef.1:20)
Nuwe lewe met Christus is ‘n lewe met baie krag. Elke gelowige het dieselfde krag in jou wat God uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek het en Hom na die hemel laat opvaar het. God oefen hierdie krag in jou uit. Jy het dus onbeskryflike geloofskrag in jou.

  • Jy kan aanhou glo in God, met hierdie geestelike krag in jou. Jy kan bly glo, al lyk dit vir jou geloof help niks nie. Jy kan bly glo al voel dit vir jou asof alles in jou lewe verkeerd loop – in jou huis, by jou werk, by die skool. Jy kan bly glo, al is jy terminaal siek en jou einde op aarde naby.
  • Jy kan met sonde breek in jou. Al is jy op die punt om weer toe te gee aan sonde waarmee jy al vir jare besig is, kan jy daarmee breek. Al het eerste emosie van die woede in jou begin, kan jy in die krag van die Gees daar ophou. Al het jy reeds die eerste woord gesê van ‘n storie oor iemand anders, wat daardie persoon te na gaan kom, kan jy met die geloofskrag in jou daardie eerste verkeerde woord die laaste een maak.
  • Jy kan vir Christus leef met volle oorgawe. Omdat jy een is met Christus, kan jy met volle oorgawe vir Hom lewe deur oor Hom te praat, jouself tot sy beskikking te stel. Jy kan alles wat tussen jou en Christus wil kom, beveg met alles wat jy het.

Nagmaal is ‘n versterkingsmaaltyd
Wanneer ons Nagmaal vier, vier ons dit ook om daaraan te dink dat Christus deur sy lewe te gegee het, aan ons die nuwe lewe gegee het. Die Heilige Gees verseker ons van ons eenwording met Christus deur geloof met Nagmaal. Die Gees versterk die eenheid tussen Christus en ons wanneer ons die brood en wyn tydens Nagmaal gebruik. Hy versterk ons met die sekerheid van die nuwe lewe wat ons het deur Christus se opstanding uit die dood. Nagmaal is daarom ‘n versterkingsmaaltyd.

  1. Toekomsgerigte maaltyd

Die nuwe lewe begin nou
Die Here leer ons in hierdie eerste hoofstuk van die eerste brief van Petrus dat ons die nuwe lewe reeds het. Hierdie lewe is nie iets vir die verre toekoms nie. Die nuwe lewe begin nou reeds. Glo jy in Christus? Is jou antwoord “ja”, dan het jy die nuwe lewe! Elkeen wat in Christus glo, het ‘n nuwe mens geword (Kol.3:9,10).

Hierdie lewe loop uit op ‘n erfenis in die hemel
Die nuwe lewe is reeds vir nou. Maar, die nuwe lewe is nie bedoel net vir hierdie aardse lewe nie. Nuwe lewe op aarde is die begin. Hierdie lewe loop uit op ‘n onverganklike (vir altyd), onbesmette (heeltemal sondeloos en hemels rein) en onverwelklike (volmaakte) erfenis uit. God ons Vader bewaar hierdie erfenis vir ons, solank sy Seun vir ons die plek berei (Joh.14:1-3).

God bewaar ook elkeen wat aan Hom behoort, sodat jy wel jou erfenis sal ontvang. Hiervan kan jy seker wees.

Elkeen wat in Christus glo, het sekerheid
God gee vir elkeen wat in Christus glo, die sekerheid van die ewige hemelse erfenis wat op ons wag. Die Heilige Gees gee hierdie sekerheid deur God se Woord. Hy sê in sy Woord dat jy een met Christus is (Rom.6:11) en dat jy jou erfenis sal ontvang        (1 Pet.1:5). Hy versterk hierdie sekerheid van jou ewige toekoms by Hom deur Nagmaal.

Nagmaal is ‘n toekomsgerigte maaltyd
Wanneer ons Nagmaal vier, dink ons ook aan Christus waar Hy by God aan sy regterhand in die hemel is. Omdat ons een met Christus hier op aarde is, sal ons Hom volg na die hemel om daar een met Hom te wees in hemelse heerlikheid. Nagmaal is daarom ‘n maaltyd waartydens ons aan ons toekoms by Christus dink.

Oorwinningsmaaltyd, versterkingsmaaltyd, toekomsgerigte maaltyd en dit kan ons vier, as die Here wil, omdat Jesus Christus gesterf het en ook opgestaan het vir ons! Met Nagmaal sal die Heilige Gees ons elkeen se geloof versterk om op te staan en as nuwe mens met geloof, met liefde, met dankbaarheid verder te leef.

ANTWOORD
Sing: Ps. 20:2,4,5,7
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: Skr.18-7:1,3,10
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, die liefde van God ons Vader en die gemeenskap van die Heilige Gees sal met julle almal wees.
Amen