Home Preke Voorbereiding Die geskeurde gordyn

Die geskeurde gordyn

Datum: 2025-05-11
|
Reeks: Voorbereiding
|
Kernverse: Eks.30:6; Hebr.9:8; Mark.15:37,38.

ONTMOETING
Votum: Ps.124:8
Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die werk van die Heilige Gees.
Lof aan God: Ps.84:1,2
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sing: Skb.12-3:1,2

VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Levitikus 19
Antwoord op die Wet: Ps.38:1,8
Gebed

VERKONDIGING
Sing: Ps.31:1,5
Lees: Eksodus 30:1-10; Hebreërs 9:1-10; Markus 15:33-39.
Kernverse: Eks.30:6; Hebr.9:8; Mark.15:37,38.
Tema: Die geskeurde gordyn.
Sang: Ps.84:1,2; Skb.12-3:1,2; Ps.38:1,8; Ps.31:1,5; Ps.31:15;17; Ps.105:2,3,4

Inleiding:

Die Vrydagmiddag toe Jesus Christus gesterf het, het die voorhangsel, die tempelgordyn geskeur. Dit het 9 000 km van Pretoria af en omtrent 2000 jaar gelede gebeur. En tog…wat so lank terug en so ver weg gebeur het, raak elkeen van ons se lewe baie diep.

Tema: Die geskeurde gordyn.

  1. Die voorhangsel/gordyn wys op afstand tussen God en mens.

Die Tien gebooie en al die wette in die Ou Testament is baie meer as net wette en verpligtinge wat ons moet nakom en dinge wat ons nie mag doen nie. Trouens, al die wette saam is die Boek van die Verbond (2 Kon.23:2). Dit is ‘n baie gepaste naam, want al die wette is aan Israel, die verbondsvolk gegee, sodat hulle kan weet hoe om in die genadeverbond vir die Verbondsgod te  leef en hulle so te  onderskei van al die ander heidense volke wat nie in die verbond is nie. Daarom behoort elkeen wat die Bybel oopmaak en die Here se wette lees of daaraan dink en daaroor praat besef dat ons oor lewe in die genadeverbond praat.

Deel van die Boek van die Verbond was ook hoe eers die tabernakel en daarna die tempel, en die erediens en lewe in en om die plek van aanbidding ingerig moes word. Die tabernakel in die Ou Testament en later die tempel wat Salomo laat bou het, het uit twee dele bestaan: Die Heilige en die Allerheiligste. Daar was ‘n voorhof ook, maar mense kon daar vrylik beweeg, terwyl die Heilige en Allerheiligste die belangrike dele van die tempel was.

In die Allerheiligste was die Verbondsark met die twee kliptafels met die Here se Tien Gebooie daarbinne. Die Verbondsark het die versoendeksel van suiwer goud op gehad. Twee gérubs, een aan elke kant van die Ark is so gemaak dat hulle ‘n eenheid met die Ark gevorm het. Hulle vlerke was uitgesprei oor die deksel. Hulle gesigte was na mekaar toe en hulle het op die deksel afgekyk.

Die Here sou daar op ‘n spesiale manier teenwoordig wees. Daar was dikwels ‘n wolk in die Allerheiligste as teken van die Here se teenwoordigheid.

Voor die Allerheiligste het ‘n voorhangsel, ‘n gordyn gehang. Die gordyn het die Allerheiligste en die Heilige van mekaar geskei. In die Heilige was die altaar waarop wierook gebrand is gestaan. Die wierookaltaar het voor die voorhangsel gestaan. Daar was ook nog ander tempelvoorwerpe in die Heilige.

Die aanbidding van die Here het in die Ou Testament hoofsaaklik in die tabernakel en later in die tempel plaasgevind. Elke oggend het die hoëpriester Aäron die lampe versorg en met olie volgemaak, sodat die lampe die heeltyd gebrand het. In die tyd moes hy ook geurige wierook op die altaar daarvoor gebrand. Hierdie brand van wierook was in werklikheid ‘n wierookoffer. Die wierook wat brand het ‘n baie aangename geur gehad. Die betekenis met die offer was om die Here te aanbid met die gebed dat Israel vir Hom soos ‘n aangename geur moes wees en dat Hy hulle aanbidding sou aanvaar. Daar is elke dag in die Heilige geoffer en gebid.

In die Allerheilgste was dit anders. Eenkeer in ‘n jaar, op die Groot Versoendag, kon die hoëpriester agter die gordyn ingaan om in die Allerheiligste te offer. Vooraf moes hy deur offers te bring, homself en die volk en die tabernakel of die tempel heilig. Hy moes self ander klere aantrek – Dit alles om openlik te erken en te wys hoe heilig God is en hoe sondig mense, selfs gelowiges in die verbondsvolk, was.

Die voorhangsel of dan die gordyn tussen die Allerheiligste en die Heilige was ‘n baie duidelike en sterk teken en bewys van die groot afstand tussen God en mens. Hy – die volmaak heilige, en Israel en ook ons en alle ander mense – die onvolmaakte sondaars.

En…onvolmaakte sondaars kon nie in die teenwoordigheid van die heilige God kom nie! ‘n Hoëpriester moes elke dag gebede offer en eenkeer per jaar ‘n offer bring, vir versoening. Tenspyte van al daardie offers het die voorhangsel steeds die Allerheiligste en Heilige geskei.  Hierdie skeiding het gewys op die skeiding, die afstand tussen God en mens.

Die heilige God self het hierdie bepalings in die wette in die Boek van die Verbond laat skryf. Die onheil van afstand tussen God en die sondige mensdom en sy ewige oordeel het steeds soos ‘n donker wolk dreigend oor die verbondsvolk gehang, maar nie net oor Israel nie, oor alle ander mense…oor almal van ons ook.

2. Die gekruisigde Jesus laat die voorhangsel skeur.

Dit bring ons by die geweldige dag en geweldige oomblik in die geskiedenis van die mensdom. Ons lees daarvan in Markus 15:37,38.

Die offers elke dag in die Heilige en die offer eenkeer per jaar in die Allerheiligste was in werklikheid tekens of selfs beloftes van die Verlosser wat God self sou stuur. Daardie belofte kry ons die eerste keer in Gen.3:15.

Wat het daardie dag gebeur waarvan Markus geskryf het?

Die belofte van Gen.3:15 en al die ander het werklikheid geword. Jesus, God se Seun, het op ‘n almagtige manier mens geword.  Hy het ons sonde op Hom geneem. Daarvoor het sy Vader Hom gestuur. Met ons sonde op Hom, het Jesus daardie Donderdagnag en die Vrydagoggend die bitterste lyding verduur. Uiteindelik het Pontius Pilatus, die Romeinse goewerneur, nadat Hy drie keer uitspraak gegee het dat Jesus onskuldig was, Hom aan die Jode oorgegee om gekruisig te word.

Die Jode het Hom op Golgota, net buite Jerusalem gekruisig. Jesus het aan die kruis gehang in volmaakte gehoorsaamheid aan sy Vader se wette in die Boek van die Verbond.

Later die Vrydag het daar van twaalf tot drie, duisternis op die aarde toegesak. God het sy toorn, sy woede oor die sonde van die mensdom op sy Seun laat neerkom. Dit het weer lig geword. Kort daarna het Jesus ‘n laaste keer aan die kruis gepraat en sy laaste asem uitgeblaas.

Wat gebeur het, toe Jesus gesterf het, het Markus so oor geskryf: “Die voorhangsel van die tempel het van bo tot onder middeldeur geskeur” (Mark.15:38).

Wat gebeur het, moet ons almal reg verstaan en glo, want dit is so belangrik.

Dit was God wat die voorhangsel in die tempel laat hang het. DIT WAS GOD wat die tempelgordyn van bo tot onder middeldeur geskeur het! Die voorhangsel het geskeur toe Jesus gesterf het. Dit was nie ‘n mens wat die gordyn geskeur het nie.

God die Vader het die voorhangsel eers geskeur nadat sy Seun aan alles voldoen het waarvoor sy Vader Hom gestuur het. Die Here Jesus het die lyding wat oor ons moes kom, volmaak verduur. Hy het die oordeel en straf wat oor ons moes kom volmaak  gedra.

Jesus Christus het deur sy kruisiging ons uit die mag van die duiwel en sonde geruk en ons weer by God ons Vader gebring.

Deur die voorhangsel te skeur, het God self bekend  gemaak dat die afstand tussen Hom en ons, wat ons self deur ons sonde veroorsaak het, nie meer daar is nie. Omdat Jesus vir ons aan die kruis gesterf het, is die pad na God oop, vir ewig oop, heeltemal oop vir enigeen wat met ‘n opregte hart glo in Jesus wat gesterf en opgestaan het.

3. Ons kan nou in God se teenwoordigheid leef.

Die Heilige Gees het die skrywer van die brief aan die Hebreërs oor die betekenis van die geskeurde gordyn laat skryf. Hebreërs is so ‘n belangrike brief en hoofstuk 9 so ‘n belangrik dat ons almal hierdie hoofstuk met ‘n gebed in die hart en deur die Heilige Gees moet lees en daarna moet luister.

Met die woorde van Eks.30:6 het die Heilige Gees self vir ons duidelik gemaak dat die pad na die Allerheiligste nie oop is, solank as die voorste gedeelte van die verbondstent bestaan nie. Dit is: Solank die voorhangsel nog die Heilige van die Allerheiligste skei. Die Here het hierdie voorskrif gegee tot die beter tyd, die nuwe tyd van die nuwe verbond sou aanbreek.

Die nuwe tyd, die nuwe verbond het aangebreek. Met die woorde van Mark.15:37,38 het die Heilige Gees vir ons duidelik gemaak dat die pad na die Allerheiligste oopgegaan het. Die voorhangsel het geskeur. Die skeiding tussen die Heilige en die Allerheiligste was weg. Die daaglikse offer, die aanbidding van God kon nou elke dag gebeur. Ons wat in die Here Jesus Christus glo, kan nou oral en altyd by God in sy  teenwoordigheid leef.

Dit bring ons by 4 Mei 2025. Hierdie is ons voorbereidingserediens met die oog op nagmaal. Die hele tyd wat vir ons voorlê tot die 18e Mei, is ‘n tyd van voorbereiding. Op Sondag 18 Mei, as die Here wil, nader ons tot Hom om genade en liefde en vrede by Hom te kry.

Om nagmaal reg te kan vier, het ons elkeen nodig om met die Heilige Gees in ons  selfondersoek te doen. Ons sal in onsself moet kyk of ons in die taal van Eksodus 30, in die Heilige staan en nog teen die voorhangsel vaskyk en of ons in die taal van Markus 15 en Hebreërs 9 in Allerheiligste staan met die geskeurde gordyn agter ons.

Selfondersoek deur die Heilige Gees lyk so:

  • Elke gelowige wat met die gevoel en gedagte leef dat my sonde nie so erg is nie,en eintlik net menslik is, kyk nog teen die voorhangsel vas.
    Wanneer die geskeurde tempelgordyn agter is, en ons as gelowiges in die Allerheiligste staan, sal elke gelowige besef hoe sondig ons is en hoe klein en nietig ons voor die heilige God is. Dit beteken elkeen van ons moet diep nadink en regtig besef en glo hoe nodig ons die geskeurde gordyn het. Ons elkeen verdien dat die voorhangsel nog  daar moet wees. Daarom moet verootmoediging en belydenis van sonde en berou oor sonde steeds deel van elke opregte gelowige se lewe wees.
  • Elkeen van ons sal verder diep in onsself moet kyk of ons regtig glo dat die voorhangsel wat geskeur het, vir elkeen van ons geskeur het. Ons sal opnuut deur die Gees sekerheid moet kry oor ons verhouding met die Here Jesus Christus. Dit was net die Here Jesus wat die tempelgordyn laat skeur het. Dit het net gebeur omdat Hy so swaar gely het en so ‘n wrede dood gesterf het. Jesus Christus, en Hy alleen het ons en God weer bymekaar gebring in die innigste Vader-kindverhouding.
  • Elkeen van ons moet in die laaste plek diep in ons binneste delf en ‘n eerlike antwoord kry op die vraag of ons regtig naby God en in sy teenwoordigheid wil en gaan leef.

Gelowiges kan nie anders dink en praat en doen wanneer ons alleen is en wanneer ons by ander gelowiges is, of by die kerk of by die ouderling of die dominee nie. Wie so leef asof elkeen nie oral en altyd in die teenwoordigheid van die heilige God is nie, kyk nog teen die voorhangsel vas. Wie deur die Heilige Gees deur die geskeurde gordyn gegaan het en voor die heilige God staan, is dieselfde gelowige wat oral en altyd met dieselfde geloof, dieselfde liefde en dieselfde gehoorsaamheid in gedagtes en woorde en dade in God se teenwoordigheid leef.

Voorbereiding vir nagmaal is ‘n tyd van diep besig wees – deur die Heilige Gees besig wees met die Bybel, met onsself en met die Here.

Baie dinge van hierdie wêreld kan ons keer om onsself reg te ondersoek en om met opregte harte nagmaal te gebruik. In die krag van die Gees kan ons en moet ons alles van hierdie wêreld weerstaan en oorkom, en ons vir nagmaal baie goed voorberei…want Jesus Christus, ons Verlosser het die tempelgordyn vir ons  laat skeur!

ANTWOORD
Sing: Ps.31:15,17
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: Ps.105:2,3,4
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, die liefde van God ons Vader en die gemeenskap van die Heilige Gees sal met julle almal wees.
Amen