ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die werk van die Heilige Gees
Lof aan God: Ps.84:1,2
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sing: Skb.12-3:1,2
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Antwoord op die Wet: Ps.38:1,17
Gebed
VERKONDIGING
Sing: Ps.119:2,7
Lees: Lukas 15:11-32
Kernverse: Luk.15:20-24; 28-32
Tema: Die gelykenis oor God die Vader en sy sondige kinders
Sang: Ps.84:1,2; Skb.12-3:1,2; Ps.38:1,17; Ps.119:2,7; Ps.25:3,4; Ps.119:62,63
Inleiding:
Die preek vir ons voorbereidingsdiens kom uit Lukas 15:11-32, die gelykenis wat Jesus oor die pa en sy twee seuns vertel het. Die dieper betekenis is dat die gelykenis oor God die Vader en sy sondige kinders gaan.
Tema: Die gelykenis oor God die Vader en sy sondige kinders
Daar is ‘n agtergrond en redes waarom die Here Jesus hierdie gelykenis vertel het.
Die eerste rede – Deel van Jesus Christus se werk op aarde was om ons te kom leer wat sy Vader se verlossingsplan was. Met hierdie gelykenis het Jesus presies dit gedoen.
Dit bring ons by die naam van die gelykenis. Ons almal het groot geword met die naam: “Die gelykenis van die verlore seun.” Dit is nie regtig die gelykenis se naam nie. Iemand kan sê: Maar dit staan in die Bybel! In die 53 en 83 vertalings, ja, maar die naam staan nie in die oorspronklike evangelie wat Lukas in Grieks geskryf het nie. Die naam is nie deel van die Bybel nie, want die opskrifte is nie deel van die Bybel nie. Lukas het die evangelie van Jesus Christus tussen 80 en 90 n.C. geskryf. Die opskrifte in die Bybel is eers in 1560 n.C. voltooi.
Die tema van die preek kom vanuit die kernverse vir die preek in Luk.15:11-32 self.
Die tweede rede – Die tollenaars en sondaars, die gewone mense, het dikwels na Jesus kom luister. Hy het hulle van God se verlossingsplan vertel en geleer. Die Fariseërs en skrifgeleerdes het Hom baie kwalik geneem. Hulle standpunt was dat Hy Hom nie met sondaars moes ophou nie. Hy moes eerder by hulle, die goeie wetsgehoorsame mense wees.
Teen hierdie agtergrond het die Here Jesus Christus die gelykenis van die pa en sy twee seuns vertel het. Die gelykenis gaan in werklikheid oor God die Vader en sy sondige kinders.
Ons moet in elke gelykenis die ware betekenis soek, want nie elke fyn besonderheid in ‘n gelykenis ‘n dieper betekenis het nie.. Dit is wat ons vanoggend gaan doen.
Ons begin by die deel oor God die genadige en getroue Vader.
Wat leer Christus ons in die gelykenis van God die Vader?
Ons kan sê dat die Here Jesus Christus ons in hierdie gelykenis vertel en leer dat God ons genadige en getroue Vader is. Hy sorg. Hy gee. Hy vergewe. Hy het lief.
ONS VERDIEN NIKS hiervan nie!
En tog SORG ons Vader, bly Hy GEE, VERGEWE Hy alles en dit met LIEFDE wat ewig bly!
Niemand van ons is die rede waarom God ons genadige en getroue Vader is nie. God se eniggebore Seun Jesus Christus is die REDE!
God het sy Seun uit liefde gegee. Jesus het sy lewe vir ons uit liefde gegee. Hy het baie swaar gely vir ons en ‘n wrede dood gesterf vir ons, omdat Hy ons liefgehad het. Hy het vir ons uit die dood opgestaan, omdat Hy ons liefgehad het.
Christus het deur sy dood en opstanding ons en God weer bymekaar gebring in ‘n innige geestelike verhouding, met Hy ons genadige en getroue Vader en ons sy kinders en erfgename. Hierdie is ‘n ewige verhouding. Ons leef oral en altyd onder die sorg, die beskerming en die liefde van ons genadige en getroue Vader.
2. Die kind van ons Vader weg van Hom en vervreemd van Hom.
Op ‘n dag het die jongste seun die deel van die besittings wat hom volgens die destyds se bepaling volgens Dt.21:17 toegekom het, van sy pa gevra. Dat die jongste seun sy deel gevra het en daarna al sy besittings in geld omgesit het, was nie verkeerd nie.
Die sonde was dat hy nie langer naby sy pa wou wees nie. Weg van sy pa het hy losbandig geleef het en al sy geld verkwis. Dit was nie lank nie, toe is daar niks van wat hy gehad het en waarop hy sy hoop gestel het, oor nie.
Daar het ‘n hongersnood gekom, sodat die jongste seun honger gely het. Hy het werk by een van die inwoners van die land gekry om varke, wat vir hom as Jood onrein was, op te pas. Die seun wat soveel van sy pa gekry het, het so diep weggesink dat hy gewens het hy kon die peule van die varke eet.
In die dieptes, weg van sy pa af, het hy besef dat hy sy lewe moes verander, tot inkeer kom en na sy pa toe teruggaan. Sy innerlike besef het nie net by ‘n gevoel of woorde gebly nie. Hy het opgestaan en na sy pa toe teruggegaan. Hy het erken dat hy teen sy pa en teen God gesondig het en was bereid om soos een van sy pa se huurders te wees.
Wat leer Christus ons van die jongste seun?
3. Die kind van ons Vader by Hom en vervreemd van Hom.
Die oudste seun moes destyds volgens Deut.21:17 twee derdes van sy pa se besittings kry. Hy was verantwoordelik om daarmee sy pa se gesin en huishouding verder te versorg, wanneer sy pa te oud geword het of gesterf het.
Die oudste seun het nie van sy pa af weggegaan en sy lewe verwoes nie. Hy was in sy hart ontevrede met wat sy jongste broer gedoen het. Hy was ook ontevrede met wat sy pa gedoen het. Hy was baie kwaad vir sy jongste broer wat teruggekom het en hy was baie kwaad vir sy pa wat sy jongste broer met liefde terug ontvang het.
Die oudste seun het gedink hy het rede gehad om so ontevrede en ongelukkig te wees, want hy het reg geleef en sy pa het nog nooit iets spesiaal vir hom gedoen nie.
Wat leer Christus ons van die oudste seun?
Vanoggend is Voorbereiding. Die Here het met ons gepraat deur die gelykenis van die pa en sy twee seuns. Ons het twee weke om onsself met die Heilige Gees se hulp, te ondersoek oor ons verhouding met God. Selfondersoek is baie belangrik, sodat ons met opreg gelowige harte Nagmaal kan vier.
ANTWOORD
Sing: Ps.25:3,4
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: Ps.119:62,63
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, die liefde van God ons Vader en die gemeenskap van die Heilige Gees sal met julle almal wees.
Amen