Home Preke Voorbereiding Die gelykenis oor God die Vader en sy sondige kinders

Die gelykenis oor God die Vader en sy sondige kinders

Datum: 2025-08-03
|
Reeks: Voorbereiding
|
Kernverse: Luk.15:20-24; 28-32

ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons  Vader en Jesus Christus ons Here deur die werk van die Heilige Gees
Lof aan God: Ps.84:1,2
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sing: Skb.12-3:1,2

VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Antwoord op die Wet: Ps.38:1,17
Gebed

VERKONDIGING
Sing: Ps.119:2,7
Lees: Lukas 15:11-32
Kernverse: Luk.15:20-24; 28-32
Tema: Die gelykenis oor God die Vader en sy sondige kinders
Sang: Ps.84:1,2; Skb.12-3:1,2; Ps.38:1,17; Ps.119:2,7; Ps.25:3,4; Ps.119:62,63

Inleiding:

Die preek vir ons voorbereidingsdiens kom uit Lukas 15:11-32, die gelykenis wat Jesus oor die pa en sy twee seuns vertel het. Die dieper betekenis is dat die gelykenis oor God die Vader en sy sondige kinders gaan.

Tema: Die gelykenis oor God die Vader en sy sondige kinders

  1. God is ons genadige en getroue Vader.

Daar is ‘n agtergrond en redes waarom die Here Jesus hierdie gelykenis vertel het.

Die eerste rede – Deel van Jesus Christus se werk op aarde was om ons te kom leer wat sy Vader se verlossingsplan was. Met hierdie gelykenis het Jesus presies dit gedoen.

Dit bring ons by die naam van die gelykenis. Ons almal het groot geword met die naam: “Die gelykenis van die verlore seun.” Dit is nie regtig die gelykenis se naam nie. Iemand kan sê: Maar dit staan in die Bybel! In die 53 en 83 vertalings, ja, maar die naam staan nie in die oorspronklike evangelie wat Lukas in Grieks geskryf het nie. Die naam is nie deel van die Bybel nie, want die opskrifte is nie deel van die Bybel nie.  Lukas het die evangelie van Jesus Christus tussen 80 en 90 n.C. geskryf. Die opskrifte in die Bybel is eers in 1560 n.C. voltooi.

Die tema van die preek kom vanuit die kernverse vir die preek in Luk.15:11-32 self.

Die tweede rede – Die tollenaars en sondaars, die gewone mense, het dikwels na Jesus kom luister. Hy het hulle van God se verlossingsplan vertel en geleer. Die Fariseërs en skrifgeleerdes het Hom baie kwalik geneem. Hulle standpunt was dat Hy Hom nie met sondaars moes ophou nie. Hy moes eerder by hulle, die goeie wetsgehoorsame mense wees.

Teen hierdie agtergrond het die Here Jesus Christus die gelykenis van die pa en sy twee seuns vertel het. Die gelykenis gaan in werklikheid oor God die Vader en sy sondige kinders.

Ons moet in elke gelykenis die ware betekenis soek, want nie elke fyn besonderheid in ‘n gelykenis ‘n dieper betekenis het nie.. Dit is wat ons vanoggend gaan doen.

Ons begin by die deel oor God die genadige en getroue Vader.

Wat leer Christus ons in die gelykenis van God die Vader?

  • God die Vader sorg. Die pa in die gelykenis het ‘n gesin en hele huishouding versorg. Hy het twee seuns gehad. Hy het werksmense en baie besittings gehad. Hy het soveel vee dat hy ‘n kalf eenkant kon voer het vir ‘n spesiale geleentheid.
  • God die Vader gee. Toe die jongste seun sy besittings wat hom toegekom het, volgens soos destyds volgens Deut.21:17 gedoen is, het sy pa nie teruggehou nie. Hy het vir die jongste seun sy goed gegee. Die pa het vir die oudste seun ook gegee. Alles wat syne was, was ook die oudste seun s’n.
  • God die Vader vergewe. Die pa se huis met al die liefde en sorg was op ‘n tyd nie meer vir jongste seun goed genoeg nie. Hy wou wegkom van sy pa se huis. Hy het ook weggegaan. Nadat hy self sy eie lewe verwoes het, het hy teruggekom na sy pa wat hom met oop arms omhels het. Die jongste seun het dit nie verdien nie, maar sy pa het onmiddelik weer vir hom die beste gegee het, sonder om te verwyt.
    Die oudste seun was kwaad en het sy pa baie kwalik geneem dat hy so goed vir die jongste seun was wat so verkeerd gedoen het. Die pa het uitgegaan en mooi met die oudste seun gepraat, sonder om  te verwyt.
  • God die Vader het lief. Altwee die seuns  se gesindheid teenoor hulle pa was nie reg nie. Hulle het alles by hulle pa gekry, maar hulle het nie reg met hom gemaak nie. Hulle altwee het teen hulle pa gesondig. Uit liefde het die pa plek in sy hart vir altwee sy sondige seuns gehad.

Ons kan sê dat die Here Jesus Christus ons in hierdie gelykenis vertel en leer dat God ons genadige en getroue Vader is. Hy sorg. Hy gee. Hy vergewe. Hy het lief.

ONS VERDIEN NIKS hiervan nie!

En tog SORG ons Vader, bly Hy GEE, VERGEWE Hy alles en dit met LIEFDE wat ewig bly!

Niemand van ons is die rede waarom God ons genadige en getroue Vader is nie. God se eniggebore Seun Jesus Christus is die REDE!

God het sy Seun uit liefde gegee. Jesus het sy lewe vir ons uit liefde gegee. Hy het baie swaar gely vir ons en ‘n wrede dood gesterf vir ons, omdat Hy ons liefgehad het. Hy het vir ons uit die dood opgestaan, omdat Hy ons liefgehad het.

Christus het deur sy dood en opstanding ons en God weer bymekaar gebring in ‘n innige geestelike verhouding, met Hy ons genadige en getroue Vader en ons sy  kinders en erfgename. Hierdie is ‘n ewige verhouding. Ons leef oral en altyd onder die sorg, die beskerming en die liefde van ons genadige en getroue Vader.

2. Die kind van ons Vader weg van Hom en vervreemd van Hom.

Op ‘n dag het die jongste seun die deel van die besittings wat hom volgens die destyds se bepaling volgens Dt.21:17 toegekom het, van sy pa gevra. Dat die jongste  seun sy deel gevra het en daarna al sy besittings in geld omgesit het, was nie verkeerd nie.

Die sonde was dat hy nie langer naby sy pa wou wees nie. Weg van sy pa het hy losbandig geleef het en al sy geld verkwis. Dit was nie lank nie, toe is daar niks van wat hy gehad het en waarop hy sy hoop gestel het, oor nie.

Daar het ‘n hongersnood gekom, sodat die jongste seun honger gely het. Hy het werk by een van die inwoners van die land gekry om varke, wat vir hom as Jood onrein was, op te pas. Die seun wat soveel van sy pa gekry het, het so diep weggesink dat hy gewens het hy kon die peule van die varke eet.

In die dieptes, weg van sy pa af, het hy besef dat hy sy lewe moes verander, tot inkeer kom en na sy pa toe teruggaan. Sy innerlike besef het nie net by ‘n gevoel of woorde gebly nie. Hy het opgestaan en na sy pa toe teruggegaan. Hy het erken dat hy teen sy pa en teen God gesondig het en was bereid om soos een van sy pa se huurders te wees.

Wat leer Christus ons van die jongste seun?

  • God se kinders leef weg van Hom af. God se kinders leef weg van Hom af. Hoe gebeur dit? Daar is soveel voorbeelde. Die erediens is een. Dit is nie verkeerd om vir ‘n naweek of langer vir verlof weg te gaan nie. Dit is ook nie verkeerd wanneer ons wegbreek vir ‘n naweek of ‘n vakansie om by die vakansieplek nie by ‘n erediens uit te kom nie. Daar is dalk nie ‘n kerk naby nie. Maar…wanneer ‘n kind van die Here dan ‘n wel Sondag in Pretoria is en nie in die erediens is nie, is dit sonde en leef so ‘n gelowige weg van God af.
    Tussen weg te wees met vakansie en verskillende dinge wat intussen opgehoop het, moeilike omstandighede, familie en vriende wat kom kuier of ons nooi na hulle toe, kan dit gebeur dat kinders van die Here in twee maande eenkeer of glad nie in die erediens was nie. Dit is weg leef van God af en sonde.
    God se geestelik sorg en liefde en genade in die erediens is nie genoeg nie. Die lewe wat die wêreld bied, is lekkerder en beter, so dink baie. Hierdie is ‘n voorbeeld van die vierde gebod. Daar is nog nege ander gebooie.
  • Weg van God wag baie swaarkry. Sonder om gereeld in die erediens te wees beteken ‘n lewe weg van die Here af. Weg van hom is te min kennis van sy verlossingsplan. Met te min geestelike rus, sal die druk van die wêreld te veel word. ‘n Lewe van spanning en onsekerheid sal volg, want ‘n kind van die Here  sal diep binne weet, hy of sy is nie regtig naby die Here nie. Groei nie na die Here toe sal nie gebeur nie. Gesondheid sal verswak. Verhouding in die gesin en met vriende en familie sal skade ly. Dit alles sal gebeur, wanneer God se kind  weg van Hom af leef.
  • Bekering bring ons weer by God. God wil ons by Hom hê. Dit is waaroor die gelykenis gaan. Ons kom naby God deur  bekering. Bekering begin binne ons. Ons moet anders oor ons lewe dink. Ons moet eerlik met onsself wees waar ons in ons verhouding met die Here is: Hoe lief het ons God? Hoe gehoorsaam is ons aan al tien sy gebooie. Hoe sê ons met ons lewe vir God dankie vir al sy liefde en sy genade? Deur die Heilige Gees sal ons besef dat ons nie naby God of nie naby genoeg aan Hom leef nie.
    Bekering is ook om uiterlik te verander. Nie net gevoelens of woorde nie, maar wat ons doen, sal wys dat ons ons bekeer en na ons Vader terugkom om regtig naby Hom te leef. Deur Jesus Christus is God ons Vader se hart en arms oop om sy gelowige kind wat terugkom, te vergewe.

3. Die kind van ons Vader by Hom en vervreemd van Hom.

Die oudste seun moes destyds volgens Deut.21:17 twee derdes van sy pa se besittings kry. Hy was verantwoordelik om daarmee sy pa se gesin en huishouding verder te versorg, wanneer sy pa te oud geword het of gesterf het.

Die oudste seun het nie van sy pa af weggegaan en sy lewe verwoes nie. Hy was in sy hart ontevrede met wat sy jongste broer gedoen het. Hy was ook ontevrede met wat sy pa gedoen  het. Hy was baie kwaad vir sy jongste broer wat teruggekom het en hy was baie kwaad vir sy pa wat sy jongste broer met liefde terug ontvang het.

Die oudste seun het gedink hy het rede gehad om so ontevrede en ongelukkig te wees, want hy het reg geleef en sy pa het nog nooit iets spesiaal vir hom gedoen nie.

Wat leer Christus ons van die oudste seun?

  • God se kinders lyk of hulle naby Hom leef, terwyl hulle harte ver van Hom af is. Lewe as God se kind, is nie in die eerste plek uiterlik nie. ‘n Verhouding met God begin in ‘n wedergebore hart met opregte geloof, wat brand van liefde vir God. Liefde vir God wys in gehoorsaamheid aan Hom. Ons almal moet in hierdie tyd van voorbereiding diep in ons harte kyk en onsself eerlik oor ons liefde vir God en ons gehoorsaamheid ondersoek.
  • God se kinders kan op hullself staatmaak vir redding. Hier is ‘n groot geestelike gevaar vir kinders van die Here. Kinders van die Here kan dink ons lewe is goed genoeg voor die Here soos ons is. Ons sê ons het sonde, maar ons bedoel dit nie. Hier diep binne dink ons ons leef nie regtig sondig nie, want ons dink ons uiterlike lewe is goed genoeg. So maak ons eintlik op onsself staat om gered te word. Dit is sonde waar bekering nodig is.
  • God se kinders leef liefdeloos teenoor sondaars wat hulle bekeer. God se kinders kan selfsugtige gelowiges wees. Ons is self uit die heidendom gered. Die gelowiges in Christus was in Asië. Paulus was in Troas in Asië. Dit is nie ons voorgeslagte nie. Die Heilige Gees het hom deur ‘n gesig in die nag na Macedonië in Europa gestuur. Vandaar het die evangelie na Europa versprei, sodat ons voorgeslagte tot bekering gekom het en gered is.
    Ons ken die wonderlike genade om gered te wees. Maar dit is asof dit nie vir ons belangrik is dat ander ook gered word nie. Ons uitdra van die evangelie van Christus is so min. Ons is ook nie regtig ingerig om iemand wat tot bekering gekom het, te ontvang en te begelei in ‘n lewe naby die Here nie. Hier is ook bekering nodig!

Vanoggend is Voorbereiding. Die Here het met ons gepraat deur die gelykenis van die pa en sy  twee seuns. Ons het twee weke om onsself met die Heilige Gees se hulp, te ondersoek oor ons verhouding met God. Selfondersoek is baie belangrik, sodat ons met opreg gelowige harte Nagmaal kan vier.

ANTWOORD
Sing: Ps.25:3,4
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: Ps.119:62,63
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, die liefde van God ons Vader en  die gemeenskap van die Heilige Gees sal met julle almal wees.
Amen

Klankbaan

Luister na die preek.