ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die werk van die Heilige Gees
Lof aan God: Ps.30:1,3
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sang: Ps.71:9
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20
Antwoord op die Wet: Ps.18:1,14
Gebed
VERKONDIGING
Sang: Ps.119;1,7
Lees: 2 Samuel 24
Kernvers: 2 Samuel 24:24
Tema: My lewe is my offer aan die Here
Sang: Ps.30:1,3; Ps.71:9; Ps.18:1,14; Ps.119:1,7; Ps.40:4; Ps.119:38,39
Inleiding:
Om te offer is ‘n baie belangrike deel van elke gelowige se verhouding met God. Die Here leer ons baie oor offer in die geskiedenis waarvan ons in 2 Samuel 24 lees.
Tema: My lewe is my offer aan die Here
Wanneer ons 2 Sam.24 lees, is ons by Dawid aan die einde van sy tydperk as koning van Israel. Dawid sou uiteindelik veertig jaar koning van Israel wees. In die tyd van sy regering het dit polities, ekonomies en militêr binnelands en buitelands met Israel goed gegaan. In die toekoms sou die nageslag terugdink aan die tyd toe Dawid koning van Israel was. Dawid se tyd as koning was ‘n tyd dat hy onder die Here se genade geleef het. Die tyd waarvan ons in 2 Sam.24 lees, was ‘n voorspoedige en stabiele tyd in Dawid se koningskap.
Die Here se genade was veral baie groot in die belofte wat Hy voorheen aan Dawid gemaak het, dat daar altyd iemand uit Dawid se huis in Israel sou regeer. Hierdie belofte het in werklikheid oor die Verlosser wat God beloof het, gegaan. Dawid het die wonderlike genade van die Here gekry dat die Verlosser wat sou kom, uit sy nageslag sou wees. Hierdie belofte van die Here was in werklikheid vir Dawid ‘n belofte van verlossing en die ewige lewe.
Ons kan Dawid se lewe saamvat as ‘n lewe waar die Here oorvloed genade aan hom gegee het.
Dink ‘n mens goed en diep na oor ons eie lewe, sal ons ook by die oorvloedige genade van die Here uitkom. Ons is kinders en erfgename in die ewige genadeverbond. By al die wanorde waarin die land en die wêreld tans leef, weet elke Christengelowige dat ek ‘n kind en erfgenaam van die lewende God is, want ek het die groot genade dat ek in die genadeverbond is. My toekoms is vas en seker by God.
Elkeen van ons behoort te weet en te besef dat die Here oorvloed genade ook aan my gee.
2. Die sonde van die eie-ek maak mens ondankbaar
Op ‘n keer in hierdie rustige tyd van sy lewe het daar iets in Dawid se lewe gebeur. Ons lees aan die begin van hierdie hoofstuk die volgende:”Op ‘n keer was die Here vertoorn op Israel. Hy het Dawid teen hulle aangehits en gesê:’Gaan tel die Israeliete en die Judeërs’” (2 Sam.24:1).
Drie dinge is onmiddellik belangrik om te verstaan.
Die Here was vertoorn – Die Here was vir Israel kwaad. Waaroor? Ons kry hierdie geskiedenis ook in 1 Kron.21. Uit daardie hoofstuk kry ons nie ‘n duideliker antwoord nie. Wanneer ons teruggaan in 2 Samuel, is die waarskynlike dat die Here vir Israel kwaad was, omdat hulle nie getrou aan Hom in sy genadeverbond geleef het nie. Die Here het Dawid gekies om koning oor die verbondsvolk te wees. Israel het onder leiding van Absalom en na hom ook onder Seba teen Dawid in opstand gekom. Hulle opstand was in werklikheid teen die Here.
Die Here het Dawid aangehits – in 1 Kron.21:1 staan daar dat Satan Dawid aangehits het. Die twee verse verskil nie van mekaar nie. Ons kan dit so verstaan. In sy boosheid het Satan Dawid verlei om die verbondsvolk vir sy eie aansien te laat tel. Die Here wou in sy toorn oor Israel se ontrou dat hulle en Dawid se se sonde bekend word. Hy wou in sy heilighheid teen Israel se sonde optree. Hy laat die Satan toe om Dawid aan te hits.
Die tel van die verbondsvolk – Om die verbondsvolk te tel was nie verkeerd nie. Dawid maak egter daarvan ‘n militêre aksie, asof sy sekerheid in die krag van soldate gelê het. Hy wou seker maak hy het genoeg soldate tot sy beskikking gehad, indien dit nodig sou wees. Sy vertroue was op sy militêre vermoë en nie op die Here nie. Dit was verkeerd. Dit was sonde.
Die eie-ek in Dawid was groter en meer as sy dankbaarheid oor die oorvloed genade van die Here in sy lewe.
Die eie-ek leef in elke mens. Die eie-ek plaas my gerief en my plan en wat ek wil en hoe ek dinge sien, bo my dankbaarheid aan die Here oor sy oorvloed genade ook in my lewe. Elkeen van ons het ons lewe deur nodig om selfondersoek oor die eie-ek in my lewe te doen. Dit is nie lekker en maklik om te moet erken dat my eie-ek te veel keer te belangrik in my lewe is nie.
Dawid het vir Joab, die hoof van sy leër aangesê om al die stamme van Israel te tel, want hy wou weet hoeveel soldate daar was wat oorlog sou kon maak. Joab het Dawid afgeraai en verduidelik hoe nutteloos so ‘n aksie was. Dawid was te vasgevang in sy eie gedagte en eie plan en eie wil, dat hy aangedring het en ‘n sterk bevel gegee het dat Joab en die leëroffisiere die hele volk moes gaan tel.
3. Die Here se straf op sonde was nog altyd die dood
Joab het gegaan en die weerbare soldate getel en vir Dawid die statistieke gegee: In Israel was agt honderd duisend mans wat sou kon oorlog maak. In Juda was daar vyf honderd duisend.
Na Dawid die volk laat tel het en geweet het hoeveel soldate hy tot sy beskikking gehad het, het hy besef dat hy op sy eie, sonder die Here opgetree het. Hy het sy eie belang eerste gestel, voor die Here.
Dawid het besef dat hy gesondig het en sy sonde voor die Here bely: “Ek het swaar gesondig met wat ek gedoen het. Vergewe tog nou my oortreding, Here! Waarlik, ek het baie dwaas opgetree” (2 Sam.24:10).
Die Here is genadig. Hy vergewe sonde. Die Here is heilig. Hy verdra sonde nie en tree baie streng teen sonde op. Sy genade kanselleer nie sy heiligheid nie.
Ons sien hoe heilig God is en hoe Hy Hom oor sonde vertoorn in die res van hierdie geskiedenis. Die Here het sy profeet, Gad na Dawid toe gestuur. Die Here sou Israel en Dawid se sonde nie net laat begaan nie. Hy het Dawid ‘n keuse gegee, tussen drie gevolge
Dawid wou nie kies nie. Sy antwoord aan die profeet was: “Laat my liewer in die hand van die Here val, want sy genade is groot. Ek wil nie in die hand van ‘n mens val nie” (2 Sam.24:14).
Die Here het ‘n pessiekte onder Israel laat uitbreek. In ‘n kort tyd, nie eers die hele drie dae nie, sterf sewentig duisend mense. Toe die engel wat die Here gestuur het sy hand na Jerusalem wou uitsteek dat die stad se mense sou uitsterf, het die Here besluit om Israel nie verder te straf nie.
Die Here straf sonde met die dood. In die heel begin het Hy dit aan Adam duidelik gemaak, dat Hy sonde met die dood straf. Die Here is die onveranderlike God. Sy onverdraagsaam-heid teen sonde en sy woede oor sonde verander in ewigheid nie. Die Here se straf op sonde is die dood en dan die ewige dood.
Die Here se straf op sonde, laat elke mens voor die heilige God staan, tot die dood toe skuldig. Ek het sonde voor God. Ek het skuld voor Hom. Ek is die dood skuldig, soos Hy van die begin af gesê het.
4. Jesus offer sy lewe vir my sonde
Dawid en elke gelowige in die Ou Testament het met die belofte van die Verlosser wat sou kom, geleef. Al die offers, die seremonies, die feesdae, soveel gebeure en al die profete het getuig van die Verlosser wat sou kom.
Ons wat die Nuwe Testament het, het die wonderlike genade dat die Verlosser gekom het. In Jesus Christus, God se Seun, word die hele Ou Testament waar. Die Verlosser is die Seun van die allerhoogste God. Hy word op ‘n almagtige manier mens. Hy neem ons sonde op Hom. Hy staan met ons sonde op Hom voor sy heilige Vader wat sonde nie verdra nie. Jesus ly verskriklik in ons plek. Hy sterf die wreedste dood aan die kruis vir ons in ons plek.
Jesus offer sy kosbare lewe vir my sonde. Hy dink nie aan Homself nie. Hy dink in alles net aan sy Vader. Hy doen net wat sy Vader wil. Hy offer Homself aan die kruis. Hy gee alles wat Hy het. Hy gee sy lewe. Hy betaal my skuld dat ek moes sterf, deur in my plek te sterf. Jesus verlos my van alle straf en oordeel. Hy kry vir my vergifnis en vryspraak by sy Vader, die heilige God.
Op die derde dag staan Jesus uit die dood op. Hy gee deur sy opstanding aan my die nuwe lewe van oorwinning oor die dood, die lewe met God wat in ewigheid duur.
Ek, Christengelowige het nou hierdie genade in my lewe. God het sy Seun vir my geoffer. Sy seun, Jesus, het sy lewe vir my geoffer.
Ek is soveel dankbaarheid en soveel liefde aan God verskuldig.
5. My dankoffer wat vir die Here aanneemlik sal wees
Op die dag dat die Here die pes laat eindig het, het die profeet van die Here na Dawid toe gekom en vir hom gesê om ‘n altaar vir die Here op die dorsvloer van Arauna, die Jebusiet te bou en daar ‘n offer vir die Here te bring.
Dawid het gedoen soos die Here gesê het en na Arauna se dorsvloer toe gegaan waar hy besig was om te werk. Op Arauna se vraag, het Dawid geantwoord dat hy gekom het om die dorsvloer te koop. Hy wat Dawid is, wou daar vir die Here ‘n altaar bou en offers bring, sodat die pessiekte wat besig was om die verbondsvolk uit te roei, kon ophou. Met die offers moes Dawid erken dat die Here Israel se Verbondsgod is en Hom vir sy genade dank.
Arauna het dadelik geantwoord dat Dawid alles kan kry: Die dorsvloer om die altaar op te bou, die beeste as offerdiere, die dorsslee en jukke as hout om vuur mee te maak.
Dawid het ‘n gulde geleentheid gehad om maklik en vinnig, sonder enige koste ‘n altaar te bou en die offer wat die Here gevra het te bring. Hy maak nie gebruik van Arauna se aanbod om alles te skenk nie. Luister na Dawid se antwoord: “Nee, ek koop dit beslis van jou teen die volle prys. Ek bring nie aan die Here my God offerandes wat my niks kos nie” (2 Sam.24:24).
Offer is nie net gee nie. Offer is prysgee, afstaan. Die Here het in die Ou Testament die beste en die eerste gevra. In die Nuwe Testament vra Hy dieselfde net in ander woorde. Hy vra dat ek volgens die genade en seën wat ek by Hom kry, wat die beste is, my beste offer aan Hom sal bring.
God het sy seun prysgegee vir my. Jesus het sy lewe prysgegee vir my. Ek hoef nou nie meer vir my sonde te betaal nie. Ek is verlos en vrygespreek.
Ek het soveel om voor dankie te sê. Is ek bereid om vir die Here te offer, prys te gee?
My dankbaarheid sal wys wanneer ek om Sondag by die huis te wees, prysgee en die Here kom ontmoet in die erediens. Selfs wanneer omstandighede my wil keer om by die Here te wees, gee ek my eie plan en my gedagte prys en ek kom dit wat my wil keer te bowe, sodat ek by die Here kan wees.
Ek sal vir God wys my dankbaarheid is groter as my eie-ek wanneer ek elke maand ‘n bedrag in my bankrekening prysgee, afstaan vir die Here. Die Here gee vir my die beste. My dankoffer aan Hom behoort die beste te wees. Ek gee die beste, wanneer ek die bedrag wat ek aan die Here afstaan, voel.
Wanneer ek so aan die Here offer, dat ek dit voel, offer ek met die hart van ‘n gelowige wat deur die Gees besef hoeveel genade ek by die Here kry. So ‘n hart laat my sê:
Ek bring nie aan die Here my God, offerandes wat my niks kos nie! So ‘n offer wat my kos, wat ek voel, sal ek vir die Here bring, wanneer ek bereid is om met die Heilige Gees in my, my lewe aan die Here te offer.
ANTWOORD
Sang: Ps.40:4
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sang: Ps.119:38,39
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, die liefde van God ons Vader en die gemeenskap van die Heilige Gees sal met julle almal wees
Amen