Home Preke Innerlike vernuwing Ek verdiep geestelik by die Here in 'n erediens

Ek verdiep geestelik by die Here in 'n erediens

Datum: 2023-04-30
|
Reeks: Innerlike vernuwing
|
Kernverse: Ps.27:4-6

ONTMOETING

Votum: Ps.121:1,2

Seën: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood opgestaan het; en die Heerser oor die konings van die aarde

Lof aan God: Ps.84:1,2

Geloofsbelydenis: Nicea

Sang: Ps.9:1,7,10

VEROOTMOEDIGING

Die Wet: Levitikus 19:1-18

Antwoord op die Wet: Ps.32:1

Gebed

VERKONDIGING

Sang: Ps.48:4,5

Lees: Psalm 27

Kernvers: Ps.27:4-6

Tema: Ek verdiep geestelik by die Here in ‘n erediens

Sang: Ps.84:1,2; Ps.9:1,7,10; Ps.32:1; Ps.48:4,5; Ps.84:5,6; Skb.15-1:1,2,3,4

Inleiding:

Ons gaan vanoggend verder in die reeks preke oor geestelike verdieping. Ons is by Psalm 27 waar die Here met ons praat oor ons geestelike verdieping wanneer ons by Hom in die erediens is.

Tema: Ek verdiep geestelik by die Here in ‘n erediens

  1. Elke gelowige het die Here se goedheid nodig

Hierdie is ‘n psalm van Dawid. Dawid was ‘n gelowige. Op ‘n dag het die Heilige Gees hom gelei om hierdie psalm, hierdie lied te skryf. Hy het teruggedink oor sy lewe en hy het na dit wat met hom as gelowige gebeur het in sy lewe met die Here, gedink en daaroor geskryf.

“Net een ding het ek van die Here begeer” – Net een ding. Daar was baie belangrike dinge in Dawid se lewe. Hy was koning van Israel. Hy moes die verbondsvolk regeer en lei en beskerm. Hierdie is geweldige belangrike lewenstake wat baie mense geraak het. Dan was daar sy gesin na wie hy moes omsien. Deur die Heilige Gees gelei het koning Dawid geskryf: Net een ding het ek van die Here begeer. Ons kan vs 4 so saamvat: Die een ding wat Dawid begeer het, was om by God te wees. Hy het begeer om sy lewe lank in die huis van die Here te mag woon, om sy goedheid te belewe en oor die Here se goedheid na te dink.

Omdat hierdie ‘n lied en ‘n gedig is, kan elke woord nie letterlik opgevat word nie. ‘n Koning wat ‘n land moet regeer, kan nie sy lewe deur in die huis van die Here, die tempel woon nie.

Wat was die een ding waarvan Dawid gepraat het?

Die verbondsark in die allerheiligste deel van die tempel het beteken dat die Here onder Israel as sy verbondvolk gebly het. Soms het ‘n wolk op die tempel neergesak. Daardeur het die Here Israel laat sien dat Hy in hulle midde teenwoordig is, dat Hy by hulle is.

Dawid het daarvan gepraat dat hy by die Here wil wees. Trouens, dit was die een ding wat Hy “begeer” het. Hierdie is ‘n sterk woord. Hierdie begeerte in sy hart sal hy “najaag” (83 vert), sal hy “soek” (53 vert). Hierdie twee woorde vertel dat Dawid se begeerte baie sterk was.

Dawid se baie sterk begeerte was dat hy op ‘n spesiale manier naby die wil Here wees. Hy wil sy lewe deur naby die Here wees.

Waarom? Hy wil die goedheid van die Here beleef en daaroor nadink.

Dawid het die goedheid van die Here nodig gehad in sy lewe. Hy het die goedheid van die Here nodig gehad, want Dawid het baie vyande gehad wat hom wou doodmaak. Die goedheid van die Here laat drie dinge gebeur waarvan Dawid geskryf het.

Die Here se goedheid –

  • sal Dawid se vyande laat misluk teen hom
  • sal hom veilig hou teen sy vyande en
  • sal hom die oorwinning oor sy vyande gee.

Dit is wat die beelde in vs 4 tot 6 beteken.

Elke gelowige het die Here se goedheid nodig, want elke gelowige het vyande. Daar is mense wat jou vyande is. Een vyand is die kardief wat die oomblik dat hy die kans kry, in jou kar in die parkeerruimte sal inbreek en jou voertuig sal steel.

Maar…daar is ernstiger en groter en gevaarliker vyande as die motordief, die inbreker of selfs die moordenaar. Al hierdie mense kan jou liggaam aanval, maar net jou liggaam. Die vyande wat jou hart, jou siel kan aanval is baie gevaarliker. Hierdie soort vyand is die eintlike gevaarlike vyand.

Die Here vertel ons wie hierdie vyande is en hoe hulle maak om ons aan te val.

In Ef.6:12 vertel en leer die Here ons dat hierdie vyande “die bose magte van hierdie sondige wêreld” is, “die bose geeste in die lug”. Uit die res van die Bybel ken ons hulle name.  Die eerste is die duiwel. Die naam duiwel beteken aanklaer. Sy ander naam is Satan. Satan beteken teëstander. Sy naam sê reeds duidelik wie hy is!  Die tweede groot vyand is die wêreld. Met wêreld bedoel ek die tydsgees wat in die wêreld heers. Mense se siening oor dinge en hulle manier van dink en praat en doen, vorm die tydsgees. Die derde groot vyand is elkeen van ons se eie sondigheid.

Ons kerke glo uit die Bybel dat hierdie drie vyande “doodsvyande” van elke Christengelowige is. Ons kry hierdie in die Hedelbergse Kategismus, Sondag 52. As jy ‘n Protestants gereformeerde gelowige is, glo jy dat die duiwel, die wêreld en ons eie sondigheid ons drie doodsvyande is.

Oor hulle manier van aanval kan ‘n mens baie sê. Ek wys op net een manier wat al drie gebruik en dit is om onskuldig en nie gevaarlik voor te kom nie.

  • Die duiwel hou baie daarvan wanneer ons hom as ‘n klein swart mannetjie wat op my skouer sit, sien. Watter gevaar kan ‘n denkbeeldige mannetjie op my skouer tog inhou?
  • Die wêreldse tydsgees doen dieselfde met die siening dat ons moet ophou om soveel dinge as sonde te sien. As soveel mense dobbel en saambly sonder om te trou, kan dit tog nie so verkeerd wees nie.
  • My eie sondigheid sal my laat dink en glo ek het al die vereistes van die kerk nagekom, gedoop, katkisasie en belydenis afgelê. Dit is nie nodig dat ek regtig naby die Here met liefde en gehoorsaamheid ook nog moet lewe nie. Ek het reeds genoeg gedoen.

God sê in sy Woord hoe gevaarlik hierdie vyande is. Wanneer Jesus weer kom, sal Hy vir die hele mensdom wys hoe gevaarlik en sleg en dodelik hierdie drie vyande toe al die tyd was.

Daarom: Pasop vir die drie doodsvyande wat jy in jou lewe het! Jy het ook die goedheid van die Here om jou teen hierdie doodsvyande te beskerm, nodig!

2. Die Here is goed vir my in die erediens

Die Here se goedheid gebeur nie net nie. Sy goedheid is ook nie sommer vir enigeen nie. Luister hoe skryf Dawid oor die Here se goedheid. Hy het die Here se goedheid gevra, begeer. Hy sal dit najaag, soek. Hy wil dit beleef en daaroor nadink.

Waar kry ‘n mens hierdie goedheid van die Here wat Dawid so begeer het, so nagejaag het en al die ander woorde wat hy gebruik? ‘n Gelowige kry hierdie goedheid van die Here wanneer jy op ‘n spesiale manier naby Hom is.

Hier op aarde is ek, Christengelowige, op ‘n spesiale manier naby die Here in die erediens. Die Here is goed vir my in die erediens. ‘n Mens kan ‘n hele reeks preke oor die erediens kry, daarom noem ek vir vanoggend net die volgende:

  • Die lewende Here is in die erediens van sy kerk teenwoordig. Hy is hier met sy genade en sy vrede waarvan Hy ons verseker. Sy genade beteken Hy is ons goedgesind sonder dat ons iets gedoen het om dit te verdien. Sy vrede beteken dat Hy ‘n band met ons het wat ons een met Hom maak. Hierdie eenheid maak dat die Here ons hier by Hom wil hê. Hierdie waarheid, hierdie sekerheid het ons vanoggend gekry deur die seën aan die begin.
  • Die lewende Here praat met ons in die erediens. Hy praat deur sy Woord en deur sy Heilige Gees. Toe ons die Bybel gelees en gehoor het, het God met ons gepraat. Die preek is die verduideliking en die toepassing van wat die Here vanoggend vir ons sê. Die hoofsaak van wat die Here vir ons sê is dat Hy goed is vir ons. Hy gee sy goedheid vir ons. Die kern van sy goedheid is Jesus Christus. Alles in die erediens rus op ons Here Jesus Christus. Hy is God se goedheid in ons lewe.

Elke preek wat die Bybel verklaar, moet daarom by Jesus Christus, die Seun van God, ons Verlosser uitkom. Hy het ons sonde wat ons in die mag van die duiwel gehou het, ons agter die wêreld aan verlei het, en ons soveel verkeerd teen God laat doen het, op Hom geneem. Hy het met ons sonde op Hom aan die kruis gesterf – in die allerverskriklikste pyn en die allerergste vernedering en die allerwreedste dood. Deur so te sterf, het Jesus ons van die mag wat die duiwel, die wêreld en ons sondigheid oor ons gehad het, heeltemal verlos. Jesus het deur te sterf ons uit die mag van ons doodsvyande geruk en ons vyande vir ons oorwin. Hierdie oorwinning het nog duideliker geword toe Hy daardie Sondag uit die dood opgestaan het en daardeur aan ons die nuwe lewe, die ewige lewe gegee het.

Jesus is God se eintlike  goedheid in ons lewe!

Hierdie goedheid kry ek wanneer ek by die Here in die erediens is. Ek kry hierdie goedheid van Hom nie op ‘n ander manier nie, as net by Hom en net in die erediens waar Hy op ‘n spesiale manier teenwoordig is en waar ek saam met ander gelowiges op ‘n spesiale manier by Hom is.

3. Na elke erediens kan ek versterk en verdiep verder aangaan

Wanneer ek die Here se goedheid begeer en sy goedheid najaag, daarna soek, sal ek dit kry.

Ek kry die Here se goedheid in die seën waarmee Hy my van sy genade en sy vrede verseker. Ek kry sy goedheid in die lees en die hoor van sy Woord, dat Hy sy Seun gegee het en dat Jesus sy Seun sy lewe vir my gegee het.

Met die Here se goedheid in my lewe kan ek versterk en verdiep verder met my lewe aangaan. Daarom eindig Dawid hierdie psalm met hierdie woorde:”Vertrou op die Here! Wees sterk en hou goeie moed! Ja, vertrou op die Here!” (Ps.27:14).

Ons is daaraan gewoond om te sê: Ons gaan kerk toe. Eintlik gaan ons om by die Here te wees. Ons is gewoond daaraan om te sê: Ek luister na die preek. Ons luister in werklikheid na wat die Here vir ons deur die prediker sê. Die kern, die belangrikste wat ons in elke erediens kry, is die Here se goedheid in Jesus Christus.

Hierdie goedheid van die Here kry ek in elke erediens. Met hierdie sekerheid kan ek versterk en verdiep verder aangaan.

Ons leef in ‘n oppervlakkige land met ‘n oppervlakkige tydsgees. ‘n Erediens op Sondag is regtig belangrik. Baie in ons land dink nie so nie, maar dit is wat die duiwel, die wêreld en my eie sondigheid wil hê. Trouens, dit is hierdie drie bose magte se invloed, wat die land en die tydsgees so oppervlakkig maak. Omdat die land en die tydsgees lustig met hierdie slegte en sondige invloed saamgaan, stuur die oppervlakkige land met sy oppervlakkige tydsgees in werklikheid op ‘n ewige ramp af.

Jy het Jesus. Jy het die Heilige Gees. Jy het Psalm 27. Jy is anders. Wees anders. Leef anders. Soek die Here se goedheid. Kry sy goedheid in die erediens. Leef na elke erediens met ‘n sterker geloof. Leef met ‘n dieper geloof. So ‘n lewe loop uit op die ewige lewe in die hemel by God en by sy Seun.

ANTWOORD

Sang: Ps.84:5,6

Gebed

Liefdegawe vir barmhartigheid

Sang: Skb.15-1:1,2,3,4

Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee

Amen