ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood opgestaan het, en die Heerser oor die konings van die aarde
Lof aan God: Ps.146:1,8
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sang: Skb.12-3:1,2
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Antwoord op die Wet: Ps.130:2,4
Gebed
VERKONDIGING
Sang: Ps.19:4
Lees: Psalm 19:8-15
Kernverse: Ps.19:8,9,12
Tema: Geestelike verdieping deur God se Woord
Sang: Ps. 146:1,8; Skb.12-3:1,2; Ps.130:2,4; Ps.19:4; Ps.89:1,6; Skb.15-7:4,5
Inleiding:
In hierdie reeks preke oor geestelike verdieping het ons reeeds gekyk waar ons geestelik kan verdiep – Ons omgang met die Bybel, ons erediens, ons saamwees met mekaar in liefde en ons getuienis na buite. Ons het gekyk na die hindernisse wat ons kan keer om geestelik te verdiep. Die hindernisse is te min tyd met die Bybel, ‘n halwe hart in die erediens, te min liefde vir ander en geen getuienis na buite nie.
Vanoggend is ons by wat ons het om geestelik te kan verdiep. Dit is die tweede laaste preek in hierdie reeks.
Tema: Geestelike verdieping deur God se Woord
Die gelowiges in die Ou en Nuwe Testament het dikwels getuig hoe kragtig die Here se Woord is. Die psalmdigter in Ps.33 se getuienis klink so: “Deur die Woord van die Here is die hemele gemaak, deur sy bevel al die hemelliggame” (Ps.33:6). Die skrywer van die brief aan die Hebreërs getuig so: “Die Woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en gewrigte en murg….” (Hebr.4:12).
Dawid, die digter van Psalm 19 het ook die krag van God se Woord geken en deur die Heilige Gees daarvan getuig. Dawid se getuienis bestaan uit ‘n naam vir God se Woord, ‘n beskrywing van sy Woord en wat die Here se Woord doen.
Vers 8 –
“Die Woord van die Here is volmaak: Dit gee lewe” – Met “Die Woord van die Here” het Dawid van die eerste vyf boeke van Moses gepraat. Dit was die boeke wat in sy tyd bestaan het. In dié boeke wys en leer die Here die gelowiges in die genadeverbond hoe om in sy verbond van genade naby Hom en vir Hom te leef.
Dan die beskrywing dat die Here se Woord volmaak is. Die Here praat met my deur sy Woord oor elke aspek van my lewe. Wanneer God my deur sy Woord wys en leer hoe om in die genadeverbond te leef, het ek niks meer nodig nie. God se Woord is volmaak. Alles wat ons nodig het om van geestelike verdieping, geestelike groei te weet, staan in die Bybel.
Wat doen God se Woord? Sy Woord gee lewe. Die Here se Woord voed my innerlik. Sy Woord het die krag om elkeen van ons innerlik te laat lewe, sodat ons almal geestelik kan verdiep.
“Die onderwysing van die Here is betroubaar: Dit gee wysheid aan wie onervare is” – Dawid noem die Here se Woord sy “onderwysing”. Die Bybel is nie ‘n gewone leesboek nie. Wie die Bybel lees, ontvang onderrig. Wanneer ek die Bybel lees, word ek onderrig in die werklkheid van wie God is, wat Hy doen en wat Hy wil. Die Here se onderwysing, sy Woord is betroubaar. Dit beteken alles in die Bybel is eg en waar.
Die Here se Woord, sy onderwysing gee wysheid. Wysheid is om God se wil te ken vir elke dag. Hierdie wysheid kry ‘n mens net in die Bybel nêrens anders nie. God sal vir elke gelowige in die gemeente, Hy sal vir ons hele gemeente wys hoe om geestelik te verdiep. wys.
Nog een woord in vs 8 het ons aandag nodig. Die Here se woord gee wysheid aan die wat nog onervare is. Ek hoef nie ‘n baie belangrike en geleerde mens te wees om God se wysheid wat Hy deur sy Woord gee, te kan lees en verstaan en glo en doen nie. Ek is ‘n gewone sondige mens. God het sy Woord vir my bedoel, sodat ek Hom kan ken en sy wil vir ons lewe kan ken.
Vers 9 –
“Die bevele van die Here dui die regte koers aan: Dit bring blydskap” – God is die Allerhoogste en die Allerheiligste. Sy Woord het baie bevele. Sy bevele sê wat Hy verwag. In 2 Pet.1:5-10 gee die Here die bevel dat sy gelowiges, dat ons gemeente geestelik moet verdiep. Daar is nog ander dele in die Bybel met dieselfde opdrag of bevel. Sonder geestelike verdieping bly ‘n gemeente so oppervlakkig soos die wêreld. Die Here se bevele om geestelik te verdiep, dui vir ons gemeente daarom die regte koers aan.
Wanneer ek God gehoorsaam, leef ek naby Hom en vir Hom. My gewete kla my dan nie aan dat weg van God leef nie. Ek weet ook dat ek nie uit my eie sy bevele ken en gehoorsaam nie. Dit is alleen omdat Jesus Christus my deur sy dood en opstanding nuut gemaak het, en die Heilige Gees my lei om nuut te leef, dat ek God se bevele in my lewe soek, elkeen wil ken en gehoorsaam. So ‘n lewe as verloste nuwe mens volgens die Here se bevele is ‘n lewe wat my baie bly maak.
“Die gebod van die Here is helder: Dit gee insig” – Die gebod van die Here is sy wil vir lewe in sy verbond van genade. Dit is alleen deur die gebod van die Here dat ek tussen reg en verkeerd en tussen goed en kwaad sal kan onderskei. Sonder die Here se gebod, lyk ‘n mens so: “…mense wat verduisterd is in die verstand en vervreemd van die lewe van God deur die onkunde wat in hulle hart is vanweë die verharding van hulle hart; wat ongevoelig geword het en hulle oorgegee het aan die ongebondenheid om in hebsug allerhande onreinheid te bedryf (Ef.4:17-19).
Ek is ‘n nuwe mens deur Jesus Christus. Ek het die heilige Gees. Die Gees help en lei elke gelowige, elke gemeente om die gebod van die Here te verstaan en te glo. Sy gebod is nie onduidelik nie. Trouens, sy gebod is helder:”Julle gees en gedagtes moet nuut word. Lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is…” (Ef.4:23,24). Hierdie opdrag, hierdie gebod is helder en duidelik. Met die Heilige Gees in my, kry ek nuwe insig in wat die Here wil. Ek weet die Here wil dat ek en ons gemeente geestelik sal verdiep. Ek weet wat is die hindernisse in my en ons gemeente se lewe vir geestelike verdieping. Ek weet en ek glo dat die Here se Woord helder is en ons sal wys en help om geestelik te verdiep.
Uit hierdie verse behoort dit vir elkeen van ons duidelik te wees dat ons met God se Woord oop voor ons en in ons hart, geestelik sal kan verdiep soos Hy van ons vra. Ons sal geestelik kan verdiep, want die Woord van God is kragtig genoeg om ons te laat verdiep.
2. Ek laat my deur God se Woord leer
Vs 12 –
“U dienaar laat hom daardeur leer. Wie dit alles onderhou, goot is sy beloning” – Geestelike verdieping sal nie vanself gebeur nie. Elkeen van ons het nodig om ons deur die Here se Woord te laat leer. Die bedoeling van die vers is dat ek daarop uit moet wees, daarop bedag moet wees om te leer, wanneer ek die Bybel lees. Ek het nodig om God te leer ken en sy wil te leer ken.
In die onderhouding daarvan is groot loon – Die loon waarvan Dawid geskryf het, kry ons reeds in die vorige verse waarna ons gekyk het. Wie die Here se Woord onderhou, lewe naby God, leef met wysheid volgens God se wil, is op die regte geestelike koers en leef met blydskap en het geestelike insig. Al hierdie is in werklikheid beloning vir die gelowige wat God se Woord onderhou en volgens sy Woord leef.
‘n Tweede beloning is dat ‘n gelowige en ‘n gemeente wat regtig volgens God se Woord leef, die beloning van geestelike groei en verdieping sal ontvang. Om geestelik te verdiep, innerlik te vernuwe beteken om nader en nader aan God te leef.
Die laaste beloning is die wonder om nou reeds in die koninkryk van God te leef en die sekerheid te hê dat my lewe op aarde in die koninkryk van God sal uitloop op ‘n lewe in die koninkryk van God ewig in die hemel.
Hierdie alles is ‘n wonderlike geestelike beloning. Ek verdien nie enige beloning by God nie, ek kry alles net uit genade.
In hierdie vers leer God ons dat geestelike verdieping nie ‘n swaar en ernstige plig is nie. Geestelike verdieping is in werklikheid wonderlike genade in ‘n gemeente se lewe. Ons het die Here se Woord, sy kragtige Woord. Ons het die Here se Woord, die Bybel, sodat ons Hom kan leer ken, Wie Hy is, wat Hy doen en wat Hy wil hê. Die gelowige wat hom of haar so laat leer, sal innerlik nuwer word, sal geestelik verdiep.
3. Die Heilige Gees verdiep ons deur die Woord
Ons is ‘n gemeente van Jesus Christus. Hy het deur vir ons te sterf en vir ons op te staan, syne gemaak. Na sy hemelvaart het Hy en sy Vader die Heilige Gees gestuur.
Deel van die Heilige Gees se werk in elke gelowige en in elke gemeente, ook in ons lewe, is innerlike vernuwing of geestelike verdieping. Die dag met elkeen van ons se doop het ons van die Heilige Gees die belofte ontvang dat Hy in ons wil woon en ons geestelik nuwer te laat word.
Ons gemeente het die Heilige Gees. Die Gees leef in ons, in elkeen van ons en in almal saam. Die Gees werk in ons. Hy werk met die Woord van die Here, die Bybel.
Die Gees verdiep ons deur God se Woord, daarom moet ons ons geestelik laat vernuwe. God se Woord moet meer en vaster in my gedagtes en in my hart groei. Wanneer God se Woord in my hart groei en in my gedagtes groei, sal ek geestelik verdiep en sal ons gemeente geestelik verdiep.
Ons kan geestelik verdiep.
Ons moet geestelik verdiep.
Die Here sê so!
ANTWOORD
Sang: Ps.89:1,6
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sang: Skb.15-7:4,5
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, die liefde van God ons Vader en die gemeenskap van die Heilige Gees sal met julle wees
Amen