ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie; die Eerste wat uit die dood opgestaan het; en die Heerser oor die konings van die aarde.
Lof aan God: Skb.1-2/60:1,2,3
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sang: Ps.71:9
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Antwoord op die Wet: Ps.86:6
Gebed
VERKONDIGING
Sang: Skb.1-3/61:1,2,3
Lees: Handelinge 2:14-42
Kernverse: Ha.2:14,36-38,41,42
Tema: Ek verdiep geestelik deur gelowige saamwees met ander
Sang: Skb.1-2/60:1,2,3; Ps.71:9; Ps.86:6; Skb.1-3/61:1,2,3; Skb.12-2/27:4,5; Skb.14-1/73:1,3
Inleiding:
‘n Gemeente van Jesus Christus is ‘n gemeenskap van heiliges. Heilig beteken afgesonder vir God. ‘n Gemeente bestaan daarom uit gelowiges wat God vir Hom afgesonder het van die wêreld om aan Hom te behoort. Die Here leer ons in Handelinge 2 hoe ons as gemeente saam geestelik kan verdiep om anders te wees en te leef as die oppervlakkige en sondige land waarin ons leef.
Tema: Ek verdiep geestelik deur gelowige saamwees met ander
Die dissipels en die ander gelowiges saam met hulle het in Jerusalem gewag op die koms van die Heilige Gees. Net voor Hy na die hemel opgevaar het, het Jesus vir die dissipels gesê dat die Heiige Gees binne ‘n paar dae oor hulle sou kom (Ha.1:5). Op die dag toe die pinksterfees begin het, die vyftigste dag na paasfees, het die Heilige Gees gekom, soos Jesus gesê het.
Met die koms van die Heilige Gees het daar baie dinge gebeur. Daar was ‘n geweldige storm. Daar was tonge van vuur. Almal daar bymekaar is met die Heilige Gees vervul. Hulle het in die tale van daardie tyd begin praat, sodat mense van ander tale gehoor het hoe die dissipels en ander gelowiges oor die groot dinge wat God gedoen het, gepraat het. ‘n Skare mense het daar saamgedrom en nie geweet wat alles beteken het nie. Oor al daardie dinge wat gebeur het, gaan vanoggend se preek nie.
Die belangrike vir vanoggend is dat die Heilige Gees die apostels laat opstaan het. Petrus het vol van die Heilige Gees en deur die Heilige Gees gelei, begin praat. Ons kan sê Petrus se woorde op Pinkster was die eerste preek nadat Jesus na die hemel opgevaar het en die Heilige Gees uitgestort is.
Petrus het vir die mense daar verduidelik wat gebeur het. Hy het by die Ou Testament begin. Hy het uit Joël 2 en Ps.16 en Ps.110 gepraat. Die kern van wat Petrus gepreek het, was:”Die hele Israel moet nou vas en seker weet: God het hierdie Jesus, wat julle gekruisig het, Here en Christus gemaak” (Ha.2:37).
Wanneer ‘n mens hierdie lees, praat God met jou. Ek as Christengelowige moet iets met hierdie woorde in die Bybel maak. Ons kan sê, elkeen wat Ha.2:37 lees, moet by die volgende uitkom: ‘n Preek deur die Heilige Gees, is ‘n preek oor Jesus Christus ons Here. Elkeen wat deur die Heilige Gees preek, sal nie anders kan as om te praat, te preek oor Jesus wat gekruisig is en opgestaan het nie.
Die profete in die Ou Testament het gepraat van Betlehem (Miga), die kind wat gebore is en die man van smarte wat ter wille van ons so gely het (Jesaja). Hulle het met oortuiging gepraat, maar hulle het nie geweet van wie hulle gepreek het nie. Hulle het ondersoek ingestel en probeer uitvind presies van wie hulle gepraat het. God het vir hulle gesê dat die bekendmaking van wie die Verlosser is nie vir hulle bedoel was nie, maar vir gelowiges in die laaste dae. Die gelowiges in die laaste dae is al die mense wat na Jesus se koms sou leef. Dit is ons ook.
Elkeen wat in die laaste dae leef en preek, het die wondergenade van die volle openbaring oor wie die Verlosser is. Hy is Jesus Christus wat vir ons gekruisig is en vir ons uit die dood opgestaan het. Die genade om die Bybel te hê met die Ou en die Nuwe Testament, die genade om die Heilige Gees te hê om wat God vir ons deur sy Seun sê te kan ondersoek en te kan preek, is binne elkeen wat geroep is, se bereik.
Die prediker wat deur die Heilige Gees met die Bybel besig is en deur die Heilige Gees preek, sal en moet oor Jesus Christus wat gekruisig is en opgestaan het, preek.
2. Die hoor van ‘n preek deur die Gees bring gelowiges bymekaar
Petrus het deur die Heilige Gees vir die mense gepreek dat Jesus wat hulle gekruisig het, hulle Verlosser en hulle Here was.
Die mense daar het Petrus se preek oor die Here Jesus Christus gehoor. Wat hulle gehoor het, het hulle in hulle harte geraak. Die Heilige Gees het gekom. Hy het in die mense se harte ingegaan. Die Heilige Gees kan in ‘n mens se hart ingaan, want Hy is die almagtige God.
Met die Heilige Gees in hulle, het die mense deur die Heilige Gees gehoor wat Petrus gesê het. Die mens wat deur die Gees na ‘n preek oor Jesus Christus luister, word diep geraak, in die hart geraak. Wanneer ‘n preek deur die Heilige Gees gepreek word en so ‘n preek oor Jesus Christus deur die Heilige Gees gehoor word, verander ‘n mens se lewe.
Kyk net na wat op Pinkster in Jerusalem gebeur het. Die sekerheid van “kruisig Hom! Kruisig Hom!” (Lk.23:20) was heeltemal weg. In die plek daarvan het onsekerheid gekom: “Wat moet ons doen broers?” (Ha.2:37).
Petrus se antwoord was dat hulle hulle moes bekeer, hulle laat doop en deur die Gees as verloste gelowiges anders moes leef as die res van die Jode wat Jesus verwerp het.
Die mense wat deur die Heilige Gees die preek van Petrus oor Jesus Christus gehoor en geglo het, het hulle laat doop. Dit was omtrent drie duisend mense. Hierdie drieduisend gelowiges wat hulle bekeer het, het hulle by die gelowiges gevoeg om saam die eerste gemeente van Jesus Christus te wees.
Die Here leer elke Christengelowige baie in hierdie verse van Handelinge 2. Ons kan die volgende hieroor sê:
3. Deur die Heilige Gees bymekaar, verdiep gelowiges geestelik
Die Heilige Gees het in die eerste gemeente van Jesus Christus in Jerusalem geleef. Hy was in die harte van die gelowiges, sodat hulle deur die Gees geleef het.
Hulle lewe deur die Heilige Gees het hulle bymekaar gebring. Die eerste gelowiges in die eerste gemeente was deur die Heilige Gees bymekaar. So, deur die Gees bymekaar, het die eerste gelowiges veral vier belangrike geestelike dinge gedoen –
Ons, ‘n gemeente van Jesus Christus wat vir ons gekruisig is en opgestaan het, kan uit Handelinge 2 leer hoe om geestelik te verdiep. Ons sal geestelik verdiep, indien ons deur die Heilige Gees bymekaar is. ‘n Gemeente wat deur die Heilige Gees bymekaar is, deel Jesus Christus met mekaar.
‘n Mens kan in Suid-Afrika as gelowiges in ‘n gemeente van Jesus Christus, so maklik die politiek, die ekonomie, beurtkrag, gesondheidsomstandighede en baie ander dinge met mekaar deel en niks van Jesus Christus nie. Jy kan tog nie ‘n preek deur die Heilige Gees oor Jesus Christus hoor, deur die Gees na die preek luister en dan in die week of weke na die erediens niks oor Jesus Christus met ander deel nie. Op so ‘n manier deur net die dinge in die land met mekaar te deel, sal ons nie geestelik verdiep nie. Ons sal soos die res van die land oppervlakkig word, want die land se sake van die dag is vir ons belangriker as Jesus Christus wat vir ons gesterf en opgestaan het.
Ons kan ook maar die vraag van die eerste gelowiges vra: Wat moet ons doen? Die Heilige Gees leer ons in Handelinge 2 hoe om as ‘n gemeente wat in Jesus Christus ons Here glo, geestelik te verdiep –
Ons leef in ‘n oppervlakkige land. Die gevaar is dat ‘n kerk ook oppervlakkig kan word met oppervlakkige preke, eredienste sonder diepte en ‘n oppervlakkige lewe as gelowiges. Ons gemeente het ‘n baie sterk roeping en ‘n baie groot verantwoordelikheid om anders te wees en ons geestelik te verdiep. ‘n Gemeente waar gelowiges deur die Heilige Gees saam met mekaar leef, is ‘n gemeente wat geestelik verdiep. Is elkeen van ons bereid om saam geestelik te verdiep?
ANTWOORD
Sang: Skb.12-2/27:4,5
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sang: Skb.14-1/73:1,3
Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee
Amen