ONTMOETING
Votum: Ps.124:8
Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die werk van die Heilige Gees
Lof aan God: Ps.105:1,4
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sang: Skb.12-3:1,2
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Antwoord op die Wet: Ps.130:2,4
Gebed
VERKONDIGING
Sang: Ps.105:2,3
Lees: Efesiërs 4:1-16
Kernverse: Ef.4:1
Tema: Geestelike verdieping in die uitleef van God se roeping in ons gemeente
Sang: Ps.105:1,4; Skb.12-3:1,2; Ps.130:2,4; Ps.105:2,3; Skb.12-2:4,5; Skb.15-1:1,2,3,4
Inleiding:
Roeping, dat die Here elke gelowige roep, is baie belangrik in die Bybel. Dit is daarom jammer dat ons as Afrikaanssprekende Christene so min oor ons roeping praat. Die vraag is of dit uit onwilligheid of uit onkunde is dat ons so min oor roeping praat en so min daarvan in ons lewe wys. Ons kennis van ons roeping en ons uitleef van ons roeping sal moet verander. Die Here help ons hiermee.
In Ef.4:1-17 vertel en leer God ons in duidelike taal meer as genoeg, sodat elkeen van ons ons kan weet en besef en glo wat ons roeping is en elkeen van ons ons roeping kan uitleef.
Tema: Geestelike verdieping in die uitleef van God se roeping in ons gemeente
Die eerste vraag om te antwoord, is: Wie roep my? Wie roep ons almal? Die antwoord is nie moeilik om te kry nie. Niemand van ons hoef ver te gaan soek vir die antwoord op hierdie vraag nie.
Daar is net een God. Hy is drie Persone in een geestelike Wese. Hy is God die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Hy is die enige ware Drie-enige God. Dit is Hy wat ons almal roep.
Dit is verder nodig om heeltemal seker te maak ons ken die Drie-enige God. Wanneer ons Hom ken vir Wie Hy regtig is, sal ons weet van wie ons roeping kom en sal ons ook besef hoe belangrik ons roeping is.
Daar is die Heilige Gees. Daar is net een Heilige Gees. Die Gees bind gelowiges aan Jesus Christus as sy liggaam. Die Heilige Gees bind gelowiges ook aan mekaar. Dit is alleen deur die Heilige Gees dat Christengelowiges saam ‘n gemeente, Jesus Christus se liggaam vorm.
Dit is so oppervlakkig om te dink en te sê dat hier ‘n kerkgebou is, dat ek hier naby bly en dit maklik is om ‘n Sondagoggend na die erediens te kom, daarom is ek in hierdie gemeente. ‘n Mens is net in ‘n gemeente indien die Heilige Gees my aan Jesus Christus en aan ander gelowiges gebind het. Met die Heilige Gees in my, het ek hoop. Hoop is die seker verwagting dat ek deel van die liggaam van Jesus Christus is en ‘n kind en erfgenaam van die ewige lewe is.
Daar is God die Seun, Jesus Christus die Here. Daar is net een Here. Paulus bedoel een Here Jesus Christus. Daar is net een geloof wat alle Christengelowiges aan die Here Jesus bind waardeur ek salig word. Daar is net een doop wat wys dat die een Here Jesus Christus deur aan die kruis te sterf, my van al my sonde skoongewas het.
Daar is net een God en Vader. Hy is die almagtige Skepper. Hy is oor almal. Dit beteken die Skepper van hemel en aarde wat alles uit niks geskep het onderhou en regeer alles en almal. Hy is deur almal. Hy is deur almal, want deur Jesus Christus is Hy ons Vader. Hy is in almal, beteken dat Hy in elkeen wat aan Hom behoort, is deur sy Heilige Gees.
Dit is die een God die Vader, die Seun en die Heilige Gees wat my roep. Hy roep ons om geestelik naby Hom te leef en geestelik vir Hom te werk. Elke Christengelowige het ‘n roeping om vir God in die gemeente te werk.
Elkeen van ons behoort met ‘n opregte gelowige hart sonder huiwering te kan sê: Ek is in hierdie gemeente omdat ek ‘n roeping het wat ek van God gekry het. My roeping is om vir die Drie-enige God te werk.
2. Werk vir God behels die regte gesindheid teenoor ander
Nie net ek het ‘n roeping om op my eie vir God te werk nie. Ek is saam met ander gelowiges in die gemeente. Elke ander gelowige saam met my, het ook ‘n roeping van die Drie-enige God gekry om vir Hom in die gemeente te werk.
Om my roeping uit te leef en vir God te werk, het met my gesindheid teenoor ander te doen. Hier is ‘n baie belangrike waarheid wat elkeen van ons regtig moet verstaan, besef en glo: Ek kan nie my roeping in die gemeente uitleef, indien ek nie die regte gesindheid teenoor ander gelowiges in die gemeente het nie.
Wat is die regte gesindheid?
Die Heilige Gees het Paulus drie woorde oor gesindheid laat neerskryf:
Nederigheid – Ek is nederig wanneer Christus meer word en ek minder, in die woorde van Johannes die Doper (Joh.3:30) en wanneer ek myself nie belangriker as ‘n ander gelowige sien nie (Rom.12:3).
Vriendelikheid – Ek is vriendelik wanneer ek myself nie elke keer wil handhaaf en eise stel nie, maar bereid is om te verdra. Abraham is ‘n goeie voorbeeld wat terugestaan het en Lot die eerste keuse van ‘n blyplek gegee het (Gen.13:8,9).
Geduld – Ek is geduldig wanneer ek vir ‘n ander in die gemeente kan wag. ‘n Gelowige in ‘n gemeente van Jesus Christus kan nie en mag nie iets sê soos: Ek is nou maar eenmaal nie ‘n mens wat kan wag nie. God vra dat jy moet wag, dat jy geduldig sal wees!
Hierdie gesindheid van nederigheid, vriendelikheid en geduld staan op die fondament van liefde. God wil dat gelowiges in sy gemeente hierdie gesindheid aan mekaar sal wys uit liefde vir Hom en liefde vir mekaar.
‘n Gelowige in die gemeente se eerste geestelike werk is die regte gesindheid teenoor ander gelowiges in die gemeente.
3. Deur saam te werk, bou die gemeente die eenheid van die Gees uit
God roep elkeen van ons ook om ‘n tweede geestelike werk te doen. Hierdie werk is: “Lê julle daarop toe om die eenheid wat die Gees tussen julle gesmee het, te handhaaf deur in vrede met mekaar te leef” (Ef.4:3).
Om my daarop toe te lê, beteken ek moet iets doen. Ek moet my inspan. Ek moet hard werk. God wil dat elkeen van ons hard sal werk aan die eenheid wat die Heilige Gees tussen ons gesmee het. Ons kan sê hierdie eenheid is gelowige harte vol liefde vir God en vir mekaar. Die Here wil dat sy gemeente hierdie eenheid sal handhaaf. Die gemeente moet die eenheid sterker maak en uitbou.
Ons kry in Ef.4:3 ook die manier hoe om hierdie eenheid van die Gees sterker te maak en uit te bou: “…deur in vrede met mekaar te leef.” Vrede beteken eensgesindheid. Wanneer almal saam met opregte gelowige harte God liefhet en mekaar ook liefhet, is daar eensgesindheid en vrede.
Wanneer ons almal in die gemeente saam geestelik hard werk aan ons liefde vir God en vir mekaar, sal die eenheid wat die Heilige Gees aan die gemeente gegee het, sterker gemaak en uitgebou word. Ons almal het hierdie roeping.
4. Jesus Christus gee toerusting om in sy gemeente te kan werk
Niks hiervan gebeur vanself in ‘n gemeente nie. Gelowiges en dit is elke gelowige, almal saam, is te sondig om uit ons eie al hierdie te doen en te laat gebeur.
Hoe gebeur hierdiee alles danin ‘n gemeente?
Op al die vrae en probleme in ‘n Christelike gemeente is daar regtig net een antwoord: Jesus Christus, ons Verlosser en Here.
Jesus Christus sorg vir elke gelowige wat aan Hom behoort. Hy sorg vir sy gemeente. Hy daal neer na die aarde, het Paulus hierdie deel in Ef.4 geskryf. Jesus, God se Seun, het het op ‘n almagtige manier mens geword. Hy het ons sonde op Hom geneem. Sy doop is die bewys daarvan. Hy het met al ons sonde op Hom voor sy Vader gestaan. Jesus se Vader, die heilige God, het sy woede oor ons sonde op sy Seun laat neerkom. Jesus het daarom in ons plek die bitterste lyding verduur en die wreedste dood aan die kruis gesterf. Deur sy dood aan die kruis het Jesus Christus ons van al ons sonde verlos.
Jesus het op die derde dag uit die dood opgestaan. Deur sy opstanding het Hy vir ons die nuwe lewe gegee. Hy het daarna na die hemel opgevaar en aan sy Vader se regterhand gaan sit. Vandaar sorg Hy vir elke gelowige wat aan Hom behoort. Hy sorg vir sy gelowiges almal saam. Hy sorg vir sy gemeente.
Die Here Jesus sorg deur gawes aan sy gemeente te gee. Hierdie gawes is mense. Hy rus hierdie mense deur sy Heilige Gees toe vir hulle werk in die gemeente. Die gawes wat die Here Jesus gegee het, was “apostels, profete, evangeliste en herders en leraars” (Ef.4:11). Hierdie is nie bedoel as ‘n volledige lys, om dit so te noem, van al die gawes wat die Here Jesus vir alle tye gegee het nie. In 1 Kor.12:28 kry ons ‘n ander lys wat van hierdie een verskil.
Die belangrike is dat daar besondere gawes in die gemeente is wat geestelike werk het om te doen. In ons tyd is daar die diaken, die ouderling en die predikant die besondere gawes wat Jesus Christus aan sy gemeente gee.
Hierdie mense wat die Here Jesus gegee het, se geestelike werk is om die gelwoiges toe te rus, sodat elke gelowige in die gemeente en almal saam die geestelike werk kan doen waarvoor God almal geroep het.
Ons kan sê die diaken, ouderling en predikant se geestelike werk in die gemeente is om die gemeente toe te rus vir die volgende geestelike werk:
Elke gelowige en almal saam moet toegerus wil word en die toerusting met gelowige harte ontvang, sodat elkeen die roeping wat hy of sy van God gekry het kan leer ken, kan besef, kan glo en dan uitleef.
5. ‘n Gemeente wat saam vir God werk, verdiep en groei geestelik
Jesus Christus, die Hoof van sy kerk, die Hoof van elke gemeente, het ‘n baie bepaalde doel met die gawees, die toerusting en die geestelike dienswerk. So het Paulus deur die Heilige Gees hieroor geskryf:
Vs 13 – “So sal ons uiteindelik almal kom tot die werklike eenheid in ons geloof en in ons kennis van die Seun van God. Dan sal ons, sy kerk, soos ‘n volgroeide mens wees, so volmaak en volwasse soos Christus.”
Vs 14 – Dan sal ons nie meer soos kinders wees nie; ons sal nie meer soos golwe op en af en heen en weer geslinger word deur elke wind van dwaalleer as vals leraars ons met hulle slinksheid en listigheid op dwaalweë wil wegvoer nie.”
Vs 15 – “Nee, ons sal in liefde by die waarheid bly en so in alle opsigte groei na Christus toe…”
Om saam te vat: ‘n Gemeente wat saam geestelik vir God werk, is ‘n gemeente wat geestelik verdiep en groei.
Is ons so ‘n gemeente?
Hierdie vraag is vir elkeen in die gemeente, gelowige lidmaat, diaken, ouderling en predikant om voor Jesus Christus te antwoord, want dit is wat Hy van ons gemeente wil hê.
ANTWOORD
Sang: Skb.12-2:4,5
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sang: Skb.15-1:1,2,3,4
Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee
Amen