ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die Heilige Gees
Lof aan God: Ps.146:1,8
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sang: Skb.12-3:1,2
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Antwoord op die Wet: Ps.86:6
Gebed
VERKONDIGING
Sang: Skb.3-1:1,2
Lees: Matteus 5:13-16
Kernvers: Mt.5:16
Tema: Lewe so vir God dat ander Hom in ons sien en Hom eer
Sang: Ps.146:1,8; Skb.12-3:1,2; Ps.86:6; Skb.3-1:1,2; Ps.119:38,39; Ps.89:1,6
Inleiding:
‘n Lewe as Christengelowige is ‘n lewe van wonderlike genade. So ‘n lewe is ook ‘n lewe waar nie ‘n mens nie, maar God die belangrikste is. Jesus leer ons hierdie waarheid in Mt.5:13-16.
Tema: Lewe so vir God dat ander Hom in ons sien en Hom eer
Een van die belangrikste waarhede in die Bybel is dat God eers gee en dan vra. Hy vra van my, maar Hy gee eers wat ek nodig het om te kan doen wat Hy van my vra. Dit is wonderlike genade dat ek nie self en uit my eie krag en vermoë moet doen wat God van my vra nie.
Hier is voorbeelde uit die Ou en die Nuwe Testament.
Eers die Ou Testament:
Gen 17 – God sluit eers die verbond met Abraham dat Hy Abraham se God sal wees voor Hy van Abraham vra om sy verbond te hou.
Eks.20 – God bind Homself aan Israel as sy verbondsvolk en verlos Israel voor Hy van hulle verwag om sy Tien Gebooie na te kom.
Nou die Nuwe Testament:
Ons kry eers Jesus se woorde in Mt.5:14 – “Julle is die lig vir die wêreld”, daarna sy opdrag in Mt.5:16 – “Laat julle lig so voor die mense skyn…” Jesus Christus maak sy gelowiges eers lig vir die wêreld, voor Hy vra dat ons lig vir die wêreld sal wees.
Deur die hele Bybel bly dit so: God gee eers voor Hy vra. Hierdie is baie belangrik! Waarom? Daar is baie redes waarom hierdie volgorde so belangrik is. Vir vanoggend luister ons na net twee.
Die eerste – My verhouding met God begin nie by my nie. God begin die verhouding. Hy kom eers na my toe. Hy gee eers. Hy bind my aan Hom, daarna verwag Hy dat ek aan Hom gebind sal leef.
Die tweede – My liefde vir God en my gehoorsaamheid aan Hom hang nie net van myself af om op my eie naby Hom en vir Hom te leef nie. God het my eerste lief en gee wat ek nodig het om Hom lief te hê en Hom te gehoorsaam. Uit my eie sou ek dit nie kon doen nie!
2. Met Jesus Christus in ons kan ons teen die verkeerde veg
Jesus het daar teen een van die berge in Kapernaum se omgewing die mense op ‘n dag geleer oor lewe in die koninkryk van die hemel. Wat Jesus geleer het, kry ons in Mt.5-7. Vanoggend is ons by die deel oor gelowiges in die hemelryk as sout vir die aarde en lig vir die wêreld.
“Julle is die sout van die aarde”, het Jesus gesê. Met hierdie woorde het Hy ‘n beeld gebruik. Hoe moet ons hierdie beeld verstaan? Sout se belangrikste werk destyds was om te keer dat kos sleg word. Dit is die betekenis van sout wat Jesus met hierdie beeld gebruik het.
Gelowiges in die koninkryk van die hemel is die sout van die aarde. Ons as Christengelowiges hoef nie iets te doen om sout te word nie. Jesus Christus, ons Verlosser leer ons: “Julle is die sout van die aarde”.
Wat presies sê hierdie beeld van ons as Christengelowiges? Die volgende:
Hoe het dit gebeur dat ons as Christengelowiges die geestelike krag het om teen die verkeerde te veg?
Jesus Christus het ons sout van die aarde gemaak. Jesus het deur ‘n almagtige wonder aarde toe gekom en mens geword. Hy het deur aan die kruis te sterf, ons van die mag wat sonde oor ons gehad het, verlos. Deur vir ons uit die dood op te staan, het Jesus aan ons nuwe lewe gegee. Deur Jesus is ons nie meer soos slawe van die verkeerde, van sonde nie. Ons is nou vegters teen die verkeerde.
Ons het ook die Heilige Gees in ons. Hy gee ons die geestelike krag om teen die verkeerde te wil en te kan veg.
3. Deur die Here Jesus is ons nuwe mense van sonde verlos
Jesus het daardie dag teen die berg ook gesê:”Julle is die lig van die wêreld”. In die Bybel is lig die beeld vir lewe en duisternis die beeld vir sonde en dood.
Jesus is die Lig wat in die duisternis skyn, lees ons in Joh.1:5. Daardie woorde beteken: Jesus is die Seun van God, ons Verlosser wat ware ewige lewe het en lewe gee. Hy het na die duisternis, die aarde in sonde en mense in sonde vasgevang, gekom. Hy het gekom om lewe te gee. Hy het lewe gegee. Die sondige wêreld, dit is die sondige mense in die wêreld het alles probeer om Jesus te keer om lewe te gee. Dink aan Herodus met Jesus se geboorte, die duiwel wat Jesus versoek het, die Fariseërs wat Hom gehaat het en uiteindelik onskuldig laat kruisig het en nog baie meer. Nie een van hierdie pogings kon Jesus keer om sy verlossingswerk volmaak te doen en ewige lewe te gee aan die sondaarmense wat Hy verlos het nie.
Dat Christengelowiges lig is beteken dat ons verloste nuwe mense is. Elke Christengelowige het die ware lewe wat Jesus Christus, en Hy alleen gee. Hierdie ware lewe is lewe by God en vir Hom, dit is lewe wat in ewigheid duur.
Niemand is vanself lig nie. Niemand is vanself ‘n verloste nuwe mens nie. Jesus Christus maak ons lig. Hy verlos ons deur sy kruisiging en sy opstanding van die duisternis van sonde en die ewige dood. Deur sy lewe te gee en vir ons op te staan, gee Jesus vir ons ware lewe, ewige lewe by God. So, het Hy ons as Christengelowiges lig gemaak.
4. Jesus Christus verwag dat ons Hom met ons lewe aan ander sal wys
Christengelowiges is van sonde verlos. Sonde het nie meer mag oor ons nie. Ons leef nou onder Jesus Christus se mag en onder sy sorg en sy liefde. Dit is wonderlike genade in elkeen van ons se lewe.
Ons, Christene het nie die genade van verlossing van sonde om niks daarmee te doen nie. Jakobus, Jesus se broer is baie duidelik in die brief wat hy geskryf het aan Jesus se kerk, ook aan ons. Luister na sy woorde: “’n Liggaam wat nie asemhaal nie, is dood. So is ook geloof wat nie tot dade kom nie, ook dood” (Jak.2:26). Christengelowiges het die genade van verlossing, sodat ons iets met die genade kan doen. Jesus ons Verlosser wil dat ons teen die verkeerde in die wêreld sal veg. Die wêreld is die omgewing en gemeenskap waar ons leef.
Daar is soveel verkeerd in ons omgewing, ons gemeenskap, die stad, die land. Jesus het ons verlos van sonde. Hy vra van ons om met ons lewe te wys dat Hy ons van al ons sonde verlos het. Jesus Christus wil hê dat ons met ons lewe sal wys dat Hy ons Verlosser is. Om Jesus in ons lewe te wys, sal ons nie dieselfde verkeerde dinge kan dink en sê en doen wat die gemeenskap doen nie. In die dinge wat ons sê, die manier hoe ons in ons huise leef, hoe ons by ons werk optree sal ons anders moet wees en leef as die mense wat Jesus nie in hulle lewe het nie.
Dan wil Jesus ook hê dat ons as Christengelowiges met ons lewe sal wys dat lewe wat Hy gee ware lewe is. Lewe wat Jesus gee, is lewe as verloste nuwe mense, dit is ewige lewe. Ware lewe, ewige lewe deur Jesus Christus, is lewe met geloof in Hom, liefde vir Hom en gehoorsaamheid aan Hom.
Vir by verre die meeste mense in ons land is die lewe hier en nou op aarde die belangrikste lewe. Prestasie en posisie en geld het die dinge geword wat die belangrikste is. Ons kan sê die aardse lewe het vir die meerderheid die ware lewe geword. Ons sien en hoor dit duidelik hoe mense leef en praat.
Jesus ons Verlosser verwag van ons om anders te praat en te doen. Ons mag nie dinge sê en doen wat lyk asof lewe op aarde vir ons die belangrikste is nie. Ons woorde en hoe ons leef, moet wys Jesus Christus en die lewe wat Hy gee, is die heel belangrikste vir ons.
Ons, Christengelowiges is in die wêreld. Ons is verlos van sonde en ons het ware lewe deur Jesus Christus. Ons kan nie in ons huise of in kerkgeboue wegkruip nie. Ons Verlosser verwag dat ons in die wêreld, anders as die wêreld sal leef. Ons sal anders leef, wanneer ons met die Heilige Gees in ons wys dat ons Jesus Christus in ons lewe het.
5. So leef ek dat ander God verheerlik
Die Here Jesus leer ons ook in hierdie verse in Mt.5 wat die uiteindelike gevolg is wanneer Christengelowiges ons lewe leef as verloste nuwe mense vir wie lewe wat Jesus gee, die belangrikste is.
Wanneer ons heeltemal anders as die gemeenskap en die land leef, wanneer ons Jesus Christus in ons lewe wys, sal dit vir mense wat ons sien en hoor, duidelik wees dat ons Jesus in ons lewe het.
Omdat ons lewe so heeltemal anders lyk as die gewone sondige aardse lewe, sal ander besef ons leef so, omdat ons Jesus Christus in ons lewe het. Ons lewe sal mense aanraak. Die Heilige Gees wat ons help en lei om sout en lig te weees, sal ook ander mense help en lei om dieper te kyk en God in ons lewe raak te sien. Mense sal deur die Heilige Gees besef ons leef so anders en nuut, omdat ons Jesus Christus in ons lewe het. Hulle sal aan God die eer gee.
Jesus Christus het met sy lewe op aarde aan God sy Vader al die eer gegee. Jesus wil dat ek as Christengelowige so sal leef dat ek wys dat Hy in my lewe is, sodat ander wat my sien en hoor en aan God die eer gee. Wanneer ek so leef, wys ek geestelike verdieping in my lewe!
ANTWOORD
Sang: Ps.119:38,39
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sang: Ps.89:1,6
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, die liefde van God ons Vader en die gemeenskap van die Heilige Gees sal met julle almal wees
Amen