ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood opgestaan het, en die Heerser oor die konnngs van die aarde
Lof aan God: Skb.4-6
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sang: Skb.12-3:1,2
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Antwoord op die Wet: Ps.130:2,4
Gebed
VERKONDIGING
Sang: Skb.18-6:1,4,5
Lees: 2 Korintiërs 4:8-17
Kernvers: 2 Kor.4:16-18
Tema: Uiterlik vergaan ons, innerlik word ons vernuwe
Sang: Skb.4-6; Skb.12-3:1,2; Ps.130:2,4; Skb.18-6:1,4,5; Ps.105:1,2; Ps.126:1,2,3
Inleiding:
Vanoggend begin ‘n reeks preke oor geestelike verdieping. Ons leef in ‘n tyd dat die lewe baie oppervlakkig geword het. Ons sal in die reeks preke daarby uitkom. Die Here wil nie dat ons deel sal wees van die oppervlakkige lewe in ‘n oppervlakkige land en wêreld nie.
Lees en luister dan saam in die volgende weke, as die Here wil, na wat ons God ons vertel en leer oor geestelike verdieping.
Tema: Uiterlik vergaan ons, innerlik word ons vernuwe
Die wederkoms van die Here Jesus en die opstanding uit die dood is die fondament vir innerlike vernuwing of dan geestelike verdieping.
Waarom?
Dit gaan gebeur! Dit gaan regtig gebeur!
Mense doen baie dinge met hierdie grootste waarheid van die toekoms, van alles en almal se toekoms. Baie spot daarmee (2 Pet.3:3,4). Baie ignoreer die werklikheid dat Jesus weer kom (Mt.24:37-39). Andersoek ‘n dag en datum (Mt.24:36) – Die Jehova se getuies het al verskeie voorspelllings gemaak. 1914 was byvoorbeeld ‘n baie gewilde jaar vir hulle. Dan is daar die mense wat wag met gebed vir Jesus om weer te kom (Op.22:17 – “Die Gees en die bruid sê:’Kom!’”)
Elke Christengelowige het ‘n antwoord om te gee: By watter groep pas ek in?
Net een van hierdie groepe se mense sal saam met Jesus in die hemel wees. Net een van hierdie groepe sal in die woorde van Paulus “weet ons sal saam met Jesus in die hemel wees” (2 Kor.4:14).
Die ons wat weet dat ons saam met Jesus in die hemel sal wees is:
Die mens – met ‘n wedergebore hart.
Ons kan sê die mens wat die gekruisigde Jesus wat uit die dood opgestaan het, in my lewe het, is die mens wat weet dat ek saam met Jesus in die hemel sal wees. Ek weet dit, want die Heilige Gees het my ewig aan Jesus gebind.
Hierdie is ‘n lewensbelangrike waarheid wat elkeeen van ons regtig moet verstaan, besef en glo. Godsdiens alleen is nie genoeg nie. Die Here vra baie meer.
Daar was in die verlede mense wat gedink het om net godsdienstig te wees, genoeg is:
Die Here vertel en leer ons in baie duidelike taal dat dit nie die mens wat van buite baie godsdienstig lyk, wat saam met Jesus in die hemel sal wees nie. God vra baie meer as uiterlike godsdiens.
Die mens met ‘n wedergebore hart wat brand van opregte geloof in die gekruisigde Jesus en daarom met liefde en gehoorsaamheid naby God leef, is die mens wat weet. Hierdie gelowige wat aan die Here Jesus behoort, het die sekerheid van die lewe in die hemel wanneer Jesus weer kom. Hierdie mens verwag Jesus om weer te kom. Hierdie mens kyk na alles en dink oor alles met Jesus wat weer kom in my gedagte en in my hart.
2. Tot Jesus weer kom, sal ons uiterlik vergaan
Eers wanneer Jesus weer kom, word alles nuut. Ek word nuut. Ek kry ‘n nuwe lewe met my gees en liggaam ewig nuut.
Tot dan, is ons besig om uiterlik te vergaan, is die woorde wat Paulus gebruik het. Hierdie is nie net woorde nie. Die Heilige Gees het hierdie laat skryf. God sê dat ons uiterlik besig is om te vergaan. Dit is regtig so!
Wat beteken “uiterlik vergaan”?
Met “uiterlik” moet ons alles verstaan wat net tot die lewe op aarde behoort.
Die eerste is my liggaam. Ons sien dit in ‘n liggaam wat ouer en swakker word. Ons dink waarskynlik nie daaraan nie, maar ‘n baba wat gebore is, is ook reeds besig om uiterlik te vergaan.
Die tweede is die aarde self. Hierdie aarde waarop ons leef, is besig om te vergaan. Ons werk wat God ons gegee het, is om sy aarde te bewoon, te bewerk en op te pas. Dit is ons baie belangrike verantwoordelikheid. Werk spaarsaam met water, versigtig met elektrisiteit. Moenie rommel strooi nie. Maar ons sal nie kan keer dat die aarde vergaan nie.
Dan derdens: Alles verder op aarde waarmee ons besig is, ons huise, ons werke, ons kerkgebou, selfs ons verhoudings, alles is besig om te vergaan.
Al hierdie dinge behoort tot hierdie tydelike aardse lewe.
Wat bedoel Paulus met “vergaan”. Dat alles vergaan, beteken alles stuur onomkeerbaar af na ‘n ewige einde. Alles op aarde is op pad na ‘n einde. Dit is nie sommer net ‘n einde nie. God bepaal die einde. Die tyd is sy tyd waarvan net Hy weet. Die manier is vuur en swael.
Wat maak ek, Christengelowige hiermee?
Twee dinge:
Wat ek sien, is nie die enigste en die grootste werklikheid nie. Alles wat ek kan sien is net tydelik. Ek mag nie dink alles is soos ek dit sien nie. Ek kan net die tydelike wat vergaan sien. Daar is ‘n ander baie groter werklikheid wat ek nie kan sien nie.
3. Deur die Gees word ons innerlik vernuwe
Tot Jesus weer kom, word ons as Christengelowiges elke dag vernuwe.
Die eerste om raak te sien, is dat ons innerlik vernuwe “word”. Dit beteken ek doen dit nie self nie. Ek maak myself nie nuut nie. Ek word vernuwe. Nadat Jesus vir my gesterf en opgestaan het, het Hy en sy Vader die Heilige Gees gestuur. Die Heilige Gees in my maak my nuut.
“..van dag tot dag” beteken my lewe deur en dan elke dag van my lewe. Vernuwing deur die Heilige Gees is ‘n daaglikse gebeurtenis my hele lewe deur.
Wat is “vernuwe”?
Ons kan sê vernuwe is ‘n dieper verstaan, dieper besef, dieper geloof in God en my verhouding met Hom. Innerlik vernuwe is innerlik verdiep.
Omdat Jesus Christus weer kom, word ek elke dag, my lewe deur ‘n dieper mens in elke aspek van my lewe.
Die vraag is: Gebeur dit in my lewe? Leef ek so met die Heilige Gees in my, dat ek ‘n dieper gelowige word?
Ek word ‘n dieper mens wanneer ek my oog op die onsigbare ewige dinge hou. Ek let daarom nie net op my liggaam, my voorkoms en my gesondheid nie. Ek let veral op my hart. Ek bewaar my hart en ek voed my hart met God se Woord. My liefde vir God word meer. My gehoorsaamheid aan Hom word meer. Ek verdiep in my verhouding met God.
Net om in die erediens te wees, is nie vir my genoeg nie. Ek wil die Here hier ontmoet. Ek wil met ‘n vol hart hier uitstap en die Here meer en beter liefhê en dien die week wat voorlê.
Ons leef in ‘n tyd van oppervlakkigheid en nie diepte nie. Ek, vir wie Jesus Christus aan die kruis gesterf en uit die dood opgestaan het, ek met die Heilige Gees in my, wil anders wees. Ek bid daarom gereeld dat die Heilige Gees my sal help om ‘n dieper gelowige te wees. Ek leef deur die Gees as ‘n Christengelowige wat geestelik verdiep. Ek leef so, want Jesus Christus, my Verlosser en Here kom weer!
ANTWOORD
Sang: Ps.105:1,2
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sang: Ps.126:1,2,3
Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee
Amen