ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die Heilige Gees
Lof aan God: Ps.8:1,3,4
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sang: Ps.9:1,7,10
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Levitikus 19:1-18
Antwoord op die Wet: Ps.86:6
Gebed
VERKONDIGING
Sang: Skb.12-2:1,2,3
Lees: Hebreërs 11:1-3; Kolossense 1:1-14
Kernverse: Hebr.11:1; Kol.1:6
Tema: God het ons geloof gegee om geestelik te verdiep
Sang: Ps.8:1,3,4; Ps.9:1,7,10; Ps.86:6; Skb.12-2:1,2,3; Skb.12-2:4,5; Skb.15-1:1,2,3,4
Inleiding:
Vanoggend is ons by die laaste preek in hierdie reeks oor geestelike verdieping. Ons het in die eerste deel gekyk na waar ons geestelik kan verdiep. Dit is nie net ‘n geval van kan verdiep as ons wil nie. Dit is veel eerder waar die Here wil hê dat ons geestelik moet verdiep as gemeente van Jesus Christus.
Ons gemeente moet verdiep in ons lees van die Bybel, waar ons voor God in ‘n erediens is, in ons saamwees met mekaar in liefde en ons getuienis oor Jesus Christus buite ons gemeente.
In die tweede deel van die reeks het ons gekyk na die hindernisse wat ons keer om geestelik te verdiep. Die hindernisse is te min tyd met die Bybel en nie diep genoeg lees van die Bybel nie, ‘n halwe hart in die erediens, te min liefde vir ander en min of geen getuienis na buite nie.
Die derde deel van die reeks preke is wat ons as gemeente het om geestelik te kan verdiep en nuwer te word. Verlede Sondag het ons uit Psalm 19 gehoor dat ons die Here se Woord, die Bybel het. Die Heilige Gees gebruik die Here se lewende en kragtige Woord om ons geestelik te laat verdiep. Vanoggend is ons by die geloof wat ons het om geestelik te kan verdiep.
Tema: God het ons geloof gegee om geestelik te verdiep
In ‘n gemeente van Jesus Christus leef en werk die Heilige Gees. Waar die Heilige Gees leef en werk, is daar geloof in mense se harte. Die Heilige Gees se belangrike werk is om mense se harte te verander. Hy verander harte deur die geloof wat Hy in ‘n mens begin. Ons kan sê die Heilige Gees wek of plant of begin geloof in ‘n mens se hart.
Met die geloof wat die Heilige Gees in ‘n mens se hart begin, bind Hy my aan Jesus Christus. Hy maak my geestelik een met Jesus Christus. Hierdie geestelike band is ewig, hou nooit op nie en kan deur niks en niemand gebreek word nie.
‘n Mens sê hierdie in ‘n preek met ‘n paar woorde, maar in werklikheid is dit iets geweldig wat gebeur. Dink saam hieroor na.
Die Heilige Gees is saam met die Vader en die Seun die lewende, almagtige, alwetende, oralteenwoordige, genadige, liefdevolle en getroue God. Op ‘n almagtige manier kom die Heilige Gees in elke mens wat deur Jesus verlos is, se binneste. Op ‘n almagtige manier wat ‘n mens nie in hierdie lewe sal kan verstaan en regtig in woorde kan beskryf nie, begin die Heilige Gees geloof in my binnekant.
Net die Heilige Gees het die almag om geloof in my te begin. Hy plant geloof in my hart net op een manier. Hy begin geloof deur die Evangelie van Jesus Christus wat gekruisig is en op die derde uit die dood opgestaan het.
Hoe sal mens hierdie geloof in Jesus Christus wat die Heilige Gees in my hart plant, beskryf? Die Here leer ons in Hebr.11:1 wat hierdie geloof is:
Die eerste – Geloof is om seker te wees van die dinge wat ons hoop. Geloof is ‘n vaste sekerheid. Hierdie sekerheid kry ek nie deur wat ek sien nie. Geloof is ‘n vaste sekerheid op die dinge wat ons hoop. Hoop is die verwagting wat ek van God het. Ons kan sê: Geloof is die vaste sekerheid wat ek het dat God my God is. Jesus wat vir my gesterf en opgestaan het, het my so aan God gebind.
Die tweede – Geloof is om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie. Geloof is geestelik. Ek het nie die kruis op Golgota gesien nie, maar ek is oortuig dat Jesus aan die kruis gesterf het. Ek het ook nie die graf in die tuin van Josef van Arimatea gesien nie, maar ek is vas daarvan oortuig dat die graf daardie Sondag leeg was, omdat Jesus uit die dood opgestaan het.
Hierdie geloof, is die geloof in Jesus Christus waardeur ek, verlore sondaar, deur Hom gered is om die ewige lewe te kan hê.
Hierdie geloof is die genadegawe wat ek by die Heilige Gees gekry het.
Hierdie geloof behoort my elke dag van my lewe steeds verwonderd te laat. Ek, nietige mens, een uit miljarde mense, ek het hierdie genadegawe by die God Heilige Gees gekry! In ons gemeente is hierdie genadegawe van geloof!
2. God wil dat ons geloof sal verdiep
Die Heilige Gees gee geloof deur die lewende en kragtige Woord van God, die Evangelie dat Jesus Christus, God se Seun, ons Verlosser vir ons aan die kruis gesterf het en vir ons uit die dood opgestaan het.
Die geloof wat ek by die Heilige Gees kry, die geloof wat ons almal kry, is daarom ook lewend en kragtig. Ons geloof in Jesus Christus kan verdiep. God wil hê dat ons geloof sal verdiep.
In Kolossense het ons ‘n gemeente wie se geloof verdiep het. Die verdieping het nie sommer maklik gebeur nie. Hulle het probleme gehad. Lidmate in die gemeente het die volgende sterk standpunt gehad: Jesus Christus is hulle Verlosser, mits hulle as gelowiges die volgende dinge doen: Engele moet aanbid word, godsdienstige feeste van die Ou Testament moet steeds onderhou word en die gelowiges mag sekere kos en drank glad nie eet of drink nie.
Hierdie lidmate het die gemeente baie ontwrig. Maar….die ander gelowiges het geloof in Jesus Christus, as enigste Verlosser gehad. Hulle geloof was lewend en kragtig. Hulle kon daarom ten spyte van ontwrigting hulle geloof laat verdiep.
Hoe het hulle geestelik verdiep?
Wanneer ons na ons omstandighede vandag in Suid-Afrika kyk, is daar ongelukkig ook baie wat ons ontwrig. Daar is soveel wat mens kan opnoem. Hier is voorbeelde:
Ten spyte van al hierdie dinge wat ‘n gemeente kan ontwrig en selfs afbreek, het ons geloof in Jesus Christus. Ons geloof het ons by die Heilige Gees gekry. Elkeen van ons se geloof is daarom lewend en kragtig.
Met elkeen van ons se geloof in Jesus Christus geanker en op Hom gerig, kan ons in die krag van die Heilige Gees en moet ons ook ons geloof laat verdiep. Ons geloof sal verdiep wanneer ons almal se geloof vaster in ons groei en ons al meer vir ander wys dat ons in Jesus glo. Ons geloof sal nog meer verdiep wanneer ons ons geloof in Jesus wys deur liefde vir mekaar wat so duidelik is dat ander dit kan sien en daarvan hoor en God dan daarvoor dank.
Ons het die Bybel, God se Woord, waarmee die Heilige Gees in elkeen van ons werk. Ons het geloof in Jesus Christus wat ons by die Heilige Gees gekry het. Ons het alles wat ons nodig het om innerlik nuwer en nuwer te word, geestelik meer en meer te verdiep.
Ons kan met God se Woord en ons geloof met die Heilige Gees wat ons lei, ons geloof so uitleef in ons liefde vir mekaar, dat ander dit kan sien en daarvan hoor. Wanneer ons almal saam ons geloof so leef, sal ons ‘n lewende en kragtige gemeente van Jesus Christus ons Verlosser te wees!
ANTWOORD
Sang: Skb.12-2:4,5
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sang: Skb.15-1:1,2,3,4
Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee
Amen