Votum: Ps.12.1:1,2
Seën: Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood opgestaan het, en die Heerser oor die konings van die aarde
Lof aan God: O Heer my God:1,2,3
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sang: Ps.138:1
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Antwoord op die Wet: Ps.119:38,39
Gebed
VERKONDIGING
Sang: Ps.33:6
Lees: Johannes 17 en Sondag 1
Kernvers: Joh.17:6-10
Tema: Ek behoort aan my Verlosser, Jesus Christus.
Sang: O Heer my God/Lied 464:1,2,3; Ps.138:1; Ps.119:38,39; Ps.33:6; Ps.71:1,9; Sb.1-3/61:1,2,3
Inleiding:
Die laaste aand voor sy kruisiging was Jesus en sy dissipels bymekaar. Al die baie mense, soms duisende wat Hom gevolg het, was nie daar nie. Net die twaalf was saam met Jesus. Teen die tyd dat Jesus hierdie gebed gebid het, was daar net elf dissipels. Hulle was nie net elf mense nie. Hulle was die begin van die kerk van die Nuwe Testament.
Jesus Christus het daardie aand vir sy kerk gebid. Die gebed het ook oor ons gegaan. Ons het nodig om wat Jesus gebid het, te hoor en weer te hoor en in ons harte weg te bêre.
Tema: Ek behoort aan my Verlosser, Jesus Christus
Jesus het gebid: “Hulle het aan U behoort, en U het hulle aan My gegee..” (vs 6). Later in sy gebed het Hy weer gebid: “Ek bid nie vir die wêreld nie, maar vir dié wat U my gegee het..” (vs 9).
Een van Jesus Christus se groot opdragte was om sy Vader bekend te maak. Met hierdie woorde van sy gebed het Hy presies hierdie opdrag uitgevoer. God die Vader van Jesus Christus het sommige mense vir Hom gekies om aan Hom te behoort. Hierdie het Hy in die ewigheid, voor Hy alles geskep het, gedoen. Lees gerus Ef.1:3-5 hieroor.
God, die Vader besit elke mens wat Hy gekies het om aan Hom te behoort. Hy is die almagtige, allerhoogste Eienaar, Besitter van elkeen wat Hy gekies het om aan Hom te behoort.
Hy het ‘n besluit geneem oor elkeen wat aan Hom behoort. Hy het elkeen wat aan Hom behoort aan sy Seun, Jesus Christus gegee.
Ons het nodig om seker te maak wie hierdie mense is. In Jesus se gebed kan mens duidelik sien en hoor dat dit nie alle mense is nie. Dit is woorde wat mens nie ligtelik en maklik kan sê nie, maar nie alle mense behoort aan God nie. Hy gee ook nie alle mense aan sy Seun nie.
Kyk saam dieper na die Here Jesus se gebed: “Ek bid nie vir die wêreld nie, maar vir dié wat U My gegee het..” (vs 9).
Die wat aan God behoort het, was die elf dissipels daar by Jesus. Ons weet reeds hulle is die begin van die Nuwe Testamentiese kerk. Nog ‘n vraag is nodig in vandag se tyd: Wie is die kerk?
Die kerk is nie die mens wat net erediens toe kom nie. Die wetgeleerdes en skrifgeleerdes was elke Sabbat in die sinagoge. Luister wat Jesus Christus van hulle gesê het: “Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars!..” (Mt.23:29). Jesus het selfs nog erger woorde van hulle gesê: “Julle slange, addergeslag! Hoe sal julle ontkom aan die straf in die hel?” (Mt.23:33).
Die kerk is ook nie die mens wat klaar belydenis van geloof afgelê het en wie se naam nou in die kerk se lidmaatregister geskryf is nie. Luister wat die Heilige Gees in Rom.9:6 geskryf het: “Immers, nie almal wat van Israel afstam, is werklik Israel nie…”. Daar was mense wie se name in Israel se geslagsregisters opgeskryf is, maar hulle was nie regtig nie deel van Israel, van die verbondsvolk nie.
Wie is die kerk dan?
Die kerk is die gelowiges wat elkeen van die Heilige Gees WARE EN OPREGTE GELOOF in God gekry het en met hierdie opregte geloof leef!
Dit alles bring my by die vraag: En Ek, is ek een van die wêreld of behoort ek aan God?
Dit wat in regtig in my hart leef, gee die antwoord op hierdie vraag. Indien die Heilige Gees vir my ‘n wedergebore hart gegee het, en my ‘n hart vol geloof in God gegee het, behoort ek aan Hom.
Ek is dan een van die gelowiges wat God die Vader aan sy Seun gegee het.
In Jesus Christus se gebed daardie laaste aand leer Hy ons soveel baie belangrike en kosbare geestelike waarhede.
Dit is baie belangrik om te weet of ek aan God behoort en dat Hy my aan sy Seun gegee het. Dit is ook baie belangrik om te weet hoe dit gebeur het dat God my aan sy Seun gegee het. Jesus leer ons hierdie waarheid in sy wonderlike gebed.
Luister saam: “…hulle het u woord ter harte geneem…” (vs 6) en “..want die woorde wat U My gegee het, het Ek aan hulle gegee. Hulle het dit aangeneem en tot die oortuiging gekom dat Ek waarlik van U gekom het, en hulle het geglo dat U My gestuur het” (vs 8).
Om God se Woord ter harte te neem of om sy Woord aan te neem, beteken om God se Woord te glo en dit is om in Hom te glo. Die dissipels het die woorde gehoor wat Jesus gesê het. Hulle het geglo Hy is “die Christus, die Seun van die die lewende God” (Mt.16:16). Johannes self het geglo dat Jesus Christus die Seun van God is, die Verlosser wat gekom het. Om hierdie rede het hy hierdie Evangelie geskryf (Joh.20:31).
Jesus leer ons in sy gebed dat hoor en glo baie belangrik is. Hoor en glo is aan mekaar vas. Wie hoor, moet glo.
Hier is ons by die rede vir elke Sondag se erediens. God wil dat sy Woord gehoor word. Hy wil dat elkeen wat hoor, sal glo. Wie glo, gee Hy vir sy Seun. Die gelowige wat aan Jesus Christus behoort, word gered en het die ewige lewe (Rom.10:13-15). Die wonderlike hulpmiddels soos selfone en tablette en rekenaars wat ons tydens Covid gehelp het om steeds God se Woord te kon hoor, al was eredienste verbied, het ongelukkig gemaak dat baie na Covid nie meer op ‘n Sondag in ‘n erediens is nie. God wil hê dat opregte gelowiges saam sal kom om na sy Woord te lusiter.
Jesus het in sy gebed gepraat van “hulle wat aan My behoort”. Ons weet hierdie mense is elkeen wat sy Evangelie gehoor en in Hom geglo het. Jesus het vir elkeen wat in Hom glo, gebid.
Hy het ook in sy gebed gesê: “…Ek bid nie vir die wêreld nie” (vs 9). Wie is die wêreld? Judas Iskariot het daardie aand gewys dat hy aan nie aan Jesus Christus nie, maar aan die wêreld behoort. Al die wetgeleerdes en skrifgeleerdes en geestelike groepe van daardie tyd wat nie met ‘n opregte hart in Jesus geglo het nie, het aan die wêreld behoort. Dit is vandag nog so: Elkeen wat nie met ‘n hart vol opregte geloof in Jesus Christus leef nie, behoort aan die wêreld.
Hierdie waarheid laat my besef hoe groot God se genade en liefde vir my is. Ek het sy Woord gehoor. Ek het geglo. Ek behoort aan Jesus Christus, my Verlosser.
Ons leef in ‘n sondige en stukkende land. Die wêreld is dieselfde. Die dae is boos. Geestelik is daar soveel wat my van God wil wegtrek. Elkeen van ons het drie doodsvyande. Die duiwel en sy boosheid, die wêreld en sy verleidelikheid en my eie sondige swakheid is hierdie geestelike vyande. Hulle hou nie op om my aan te val nie. Hulle groot doel my hele lewe deur is om my te verlei om te sondig en weg van God af te beweeg en om verlore te gaan.
Elkeen van ons moeet weet dat niemand sterk genoeg is om teen hierdie geestelike vyande te bly staan nie. Elkeen het hulp dringend nodig.
Dan maak die gevolge van die sondeval die lewe vir elkeen liggaamlik dikwels ook baie moeilik. Dink maar hoeveel gesondheidsprobleme daar by soveel is. Saam hiermee het ons nodig om te swoeg en te sweet om ‘n bestaan te maak en kop bo water te hou. Verder is daar gebeure in die natuur, die skepping soos droogte, vloede en hittegolwe wat gelowiges kan laat swaarkry.
Hoe bly ons staande onder hierdie omstandighede?
Sondag 1 se eerste vraag is: “Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?” Ons kan die vraag so verstaan: Wat is die goed in jou lewe wat die sleg en die kwaad kan wegdryf, sodat dit jou nie onderkry nie?
Die Kategismus is elkeen van ons se antwoord, se geloofsbelydenis oor hoe ek God se Woord glo. Die antwoord uit die Bybel op hierdie vraag oor my enigste troos is: “Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort.”
My siel behoort aan Jesus Christus, my Verlosser. Hy het my baie gevaarlike doodsvyande reeds oorwin. Hy het vir my aan die kruis op Golgota gesterf. Hy het vir my uit die graf in die tuin van Josef van Arimatea opgestaan. Deur sy kruisiging en opstanding het Jesus Christus die mag van die die duiwel, die wêreld en die sonde gebreek. Ek kan nou deur bekering weerstand bied en veg teen alles en almal wat my van God af wil wegtrek en verlei. Die Heilige Gees help my om ‘n lewe van bekering te leef.
My liggaam behoort aan Jesus Christus, my Verlosser. Ja, my liggaam word afgebreek. Dit moet gebeur, want ek is nie bestem om vir altyd hier te bly nie. Die manier om van die aarde af te vertrek na die hemel toe, is om te sterf. My troos is, my liggaam behoort aan Jesus Christus. Wat ookal met my liggaam gebeur, wanneer Jesus Christus weer kom, sal Hy my liggaam weer laat opstaan en saam met my siel by Hom in die hemel neem.
Om so aan Jesus Christus, my getroue Verlosser te behoort, is wonderlike troos!
Die troos om aan Jesus Christus te behoort, is wonderlike troos. Daar is een ding wat ek nie mag doen nie. Ek mag nie hierdie wonderlike troos wegsteek nie. En steek die troos om aan Jesus Christus te behoort weg, wanneer ek my hele lewe deur niks daaroor sê nie of baie min sê. Ek steek die troos weg wanneer ek nie leef soos ‘n gelowige wat aan Jesus Christus behoort nie.
Jesus Christus wil dat ek Hom sal verheerlik. Hy lleer elkeen van ons in sy gebed hoe ek Hom behoort te verheerlik.
Ek het die Heilige Gees in my. Hy help my en lei my deur God se Woord om in ‘n sondige land en wêreld te leef soos ‘n gelowige wat aan Jesus Christus behoort! Hiervoor het ons Verlosser daardie laaste aand voor sy kruisiging gebid!
ANTWOORD
Sang: Ps.71:1,9
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sang: Sb.1-3:1,2,3
Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan die julle vrede gee
Amen