Home Preke My enigste troos In alles wat gebeur, lei God ons na sy ewige heerlikheid

In alles wat gebeur, lei God ons na sy ewige heerlikheid

Datum: 2022-11-13
|
Reeks: My enigste troos
|
Kernverse: Rom.8:28

ONTMOETING

Votum: Ps.121:1,2

Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die werk van die Heilige Gees

Lof aan God: Ps.118:1,2

Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels

Sang: Ps.71:9

VEROOTMOEDIGING

Die Wet: Eksodus 20

Sang: Sb.9-3/70:1,2

Gebed

VERKONDIGING

Sang: Ps.93:1,2,3,4

Lees: Romeine 8:18-39 en Sondag 1 (vs 17 ook en 16?)

Kernvers: Rom.8:28

Tema: In alles wat gebeur, lei God ons na sy ewige heerlikheid

Sang: Ps.118:1,2; Ps.71:9; Sb.9-3/70:1,2; Ps.93:1,2,3,4; Sb.18-6/57:1,4,5; Ps.66:1,2

Inleiding:

Hierdie erediens is ‘n spesiale erediens vir voorbereiding vir nagmaal, as die Here wil, volgende Sondag. Die erediens is bedoel om elkeen vanoggend en die hele week na binne te laat kyk. Ek berei my voor vir nagmaal wanneer ek my gedagte en hart ondersoek oor my geloof in God wat sy Seun vir my gegee het.

Met Romeine 8 en Sondag 1 oop voor ons, staan elkeen van ons vanoggend voor ‘n baie belangrike lewensvraag juis oor ons geloof: Glo ek dat alles wat met my gebeur ten goede meewerk (die woorde in die Bybel)  en tot my saligheid dien (die woorde in ons belydenis)?

Vanoggend se preek gaan oor die antwoord op hierdie vraag.

Tema: In alles wat gebeur, lei God ons na sy ewige heerlikheid

  1. Die ewige heerlikheid van God wag op ons

Rom.8 is ‘n hoofstuk in die tweede deel van hierdie brief. Die deel gaan oor ons verlossing. Die Heilige Gees het Paulus hierdie hoofstuk laat skryf om gelowiges wat aan Jesus Christus behoort, sekerheid te gee van hulle ewige saligheid. Die woord wat die Heilige Gees Paulus vir saligheid laat gebruik het, is “heerlikheid” of dan “verheerlik.” Die hoofstuk gaan dus oor die heerlikheid wat vir ons wag.

So het Paulus deur die Heilige Gees in Rom.8 geskryf:

Vs 1 –  “Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Chrisrus Jesus is nie.”

Vs 9 –  “Julle word egter nie deur julle sondige natuur beheers nie, maar deur die Gees, want die Gees van God woon in julle….”

Vs 14 – “Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God.”

Vs 16 – “Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is.”

Vs 17 – “En omdat ons kinders van God is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus. Aangsien ons deel het aan sy lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid.”

Vs 30“Die wat Hy daartoe bestem het, het Hy ook geroep. En dié wat Hy geroep het, het Hy ook vrygespreek. En dié wat Hy vrygespreek het, het Hy ook verheerlik.”

Vs 28 staan geskryf in hierdie deel wat oor die ewige heerlikheid gaan.

Wat is die ewige heerlikheid wat op ons wag?

Heerlikheid beteken –

  • Volle verlossing en bevryding van alle sonde en alle boosheid.
  • Volle bevryding van al die kwaad wat sonde en boosheid in elke opsig veroorsaak het – liggaamlik en geestelik.
  • Om saam met Jesus Christus ewig in die hemel te wees as ewige oorwinnaars oor die bose (Rom.8:37).
  • Om by Jesus Christus te wees en Hom te sien soos Hy werklik is (1 Joh.3:2).
  • Om vir altyd in die ewige, almagtige en heilige God se teenwoordigheid te wees (Op.7:9-12).

Hierdie is die heerlikheid van God. Sy heerlikheid is vir “..dié wat Hom liefhet..” Sy heerlikheid  is nie vir alle mense nie. Die heerlikheid van God is bedoel vir die mense wat Hy eerste liefgehad het en sy voor Seun gegee het. Jesus Christus het deur sy dood en opstanding, elkeen wat sy Vader vir Hom gegee het, verlos en nuut gemaak. Deur die Heilige Gees het elke verloste nuwe mens vir God lief. Sy heerlikheid is vir hierdie verloste nuwe mense bedoel.

Nou kom ons by die woorde God laat alles “ten goede” meewerk.Gelowiges sê baie keer dat daar ‘n doel met alles is. Dit is reg so, maar die Here sê vir ons baie meer. Daarom moet Christengelowiges wat die Bybel lees, hierdie vers lees, verstaan, besef wat die Here hier sê, glo wat hier staan en dit gebruik in ons gedagtes en wanneer ons met iemand praat. Indien ons net by “alles gebeur met ‘n doel” bly, waarom hoor ons nie en onthou ons nie en gebruik ons nie wat die Here deur sy Heilige Gees vir ons sê nie? Hierdie vers is so belangrik en ek moet tog groei in my geloof!

Hier leer die Here ons juis duidelik wat sy doel met alles is. Alles sal “ten goede” meewerk. Trouens, Hy sal alles “ten goede” laat meewerk.  Die vraag is, wat is hierdie “ten goede”?

Hierdie deel van Romeine 8 begin met “heerlikheid” (vs 17,18). Die deel eindig met “verheerlik” (vs 30). Dit is ‘n bekende en tipiese skryfstyl in Grieks, dat wanneer ‘n deel met dieselfde begin en eindig, daardie die belangrike waarheid is waaroor die deel gaan. Hierdie deel gaan dus oor die heerlikheid wat op elke kind en erfgenaam van God, dit is elkeen wat aan Jesus Christus behoort, wag.

Nog ‘n baie belangrike manier van skryf kry ons in vs 30. Paulus skryf asof God reeds die gelowiges verheerlik het. In werklikheid skryf hy oor die toekoms. Wanneer die toekoms vas en seker is, het die skrywer in Grieks, die taal van die Nuwe Testament dit geskryf asof dit reeds in die verlede gebeur het.

Die “ten goede” is dus die ewige heerlikheid van God. Die Heilige Gees gee ons in Rom.8:30 die sekerheid dat die ewige heerlikheid van God vir ons wag.

  • Tydens ons lewe op aarde gebeur daar soveel

Totdat ons die heerlikheid van God as ons erfdeel ontvang, leef ons nog in hierdie bedeling. Daar gebeur soveel.

In Vs 18 lees ons van “die lyding wat ons nou moet verduur.”  Die lyding hier is lyding wat ons moet verduur, omdat ons kinders en erfgename van God is. Trouens daar is lande waar Christene se huise en kerkgeboue afgebrand word en hulle doodgemaak word vir hulle geloof in Jesus Christus. Tans is Afghanistan, Noord-Korea en Somalië die drie lande wat Christene die ergste vervolg. Pakistan en Indië teen wie Suid-Afrika elke nou en dan krieket speel, is 8ste en 10de op hierdie lys van lande wat Christene openlik vervolg. Die Maldives wat ‘n aanloklike plek vir baie vakansiegangers is is 16de. China wat ‘n al groter hand in ons ekonomie kry, is 17de.

In Suid-Afrika leef by verre die meeste mense asof hulle God nie ken nie. Om hierdie rede dink die meeste nie eers daaraan om Hom lief te hê en aan Hom gehoorsaam te wees nie. Die Christengelowige wat in Jesus Christus glo, sal uitgestoot en selfs verwerp word. ‘n Voorbeeld hiervan is: Jesus Christus se kerk, ons gemeente is vir baie min mense in Suid-Afrika belangrik. Ons kon net sowel nie hier gewees het nie.

Die kerke wat swaarkry met al minder gelowiges in ‘n gemeente, met al minder gawes om in ‘n gemeente te gebruik en saam daarmee al groter finansiële druk om gelowiges te kan help en die uitgawes te kan betaal, is eweneens deel van die lyding wat die kerk van Christus moet verduur.

In Vs 20 staan daar die skepping is “nog aan verydeling onderworpe.” Wat beteken dit? Hierdie woorde neem ons terug na Gen.3:17.

Die aarde is vervloek, omdat die eerste twee mense gesondig het. Dit beteken al die natuurrampke soos siklone, storms, vloede, modderstortings en al die droogtes en hittegolwe kom vandaar af. Die nagevolge van die sonde is steeds vir die aarde baie sleg.

Die begin van al die siektes onder mens en dier, siektes soos die Spaanse Griep van 1918 waar binne 7 weke van September tot Oktober 140 000 mense gesterf het en die afgelope Covid-pandemie se 102 000 mense wat in ons land gesterf het, saam met al die ander ernstige siektes soos hartprobleme, beroerte, kanker, diabetis, osteoporose, veelvuldige sklerose en alle ander siektes en ook die dood, is daardie dag in die tuin van Eden.

Elke enkele probleem en swaarkry en seerkry het in die Tuin van Eden met die eerste twee mense se sonde begin.

Al hierdie dinge, wat ons lewe so moeilik maak, gebeur terwyl ons nog op die volle heerlikheid van God wag.

  • God se verlossingsplan met my gaan ongehinderd voort

Die eerste vraag in die Heidelbergse Kategismus is: Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?

Hierdie reeks preke gaan oor troos. Tot dusver in die preek het ons by die volgende uitgekom:

  • Die heerlikheid van God wat elke Christengelowige sal erf, is vas en seker.
  • Maar…totdat ons erf, gebeur daar soveel slegte en swaar en seer dinge in hierdie wêreld.

Die vraag waarby ons nou kom, is: Waar is die troos?

Die antwoord kry ons in Rom.8:28: “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk, vir die wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is”.

Hoe kan ons hierdie vers verstaan, dat ek getroos word in hierdie lewe, waar dit soms so swaar met my gaan?

Ons kan die vers so verstaan:

  • Die ewige heerlikheid van God wag vir my.
  • Hierdie ewige heerlikheid in die hemel is die finale deel van God se verlossingsplan met my.
  • Niks wat hier op aarde met my gebeur, nie die heel donkerste gebeurtenis in my lewe, sal kan keer dat ek my erfdeel van God ontvang nie. Hierdie waarheid is vir my en almal in my lewe wat aan Jesus Christus behoort.
  • In die woorde van Rom.8:28 – God “laat alles meewerk”, dit is Hy gebruik alles, selfs die baie swaar en die baie seer om my in my lewe op aarde te lei en my voor te berei om my ewige erfdeel te ontvang.

Wanneer ek Rom.8:28 so lees, so verstaan en so glo dat God se verlossingsplan met my ongehinderd voortgaan na sy ewige heerlikheid, het ek troos. Vir ‘n tyd sal ek in ‘n sondige land en wêreld swaarkry, selfs baie swaarkry, maar uiteindelik wag God se ewige heerlikheid vir my. Die Heilige Gees, ons Trooster en ons Helper, troos my met hierdie waarheid, hierdie wonderlike waarheid.

Die Heilige Gees het hierdie wonderlike waarheid in in Rom 8:28 en weer in ander woorde in  Rom.8:31-39 laat skryf, dat ek kan lees en kan glo.

  • Ek glo hierdie waarheid met my hele hart

Die Heidelbergse Kategismus is deel van die protestants gereformeerde gelowiges se antwoord op God se Woord.

Ons antwoord op Rom.8:28 klink so in die Kategismus, ons belydenis: “Alles moet inderdaad tot my saligheid dien” (Sondag 1).

God laat alles meewerk, het die Heilige Gees Paulus laat skryf. Alles moet dien, het die Heilige Gees Jesus Christus se kerk laat antwoord.

Hierdie antwoord wat so klink: “Alles moet inderdaad tot my saligheid dien”, is nie net die teoloë of die kerkrade se antwoord nie. Die vraag in Sondag 1 is: “Wat is jou enigste troos”. Hierdie deel van die antwoord is: “Alles moet tot my saligheid dien”.

Dié antwoord is my, Christengelowige se eie antwoord. Dit bring elkeen van ons vanoggend voor die vraag: Glo ek hierdie waarheid in Rom.8:28 en in hierdie deel van die Kategismus met my hele hart?

Die vraag kan ook so klink: Waar ek nou in my lewe is, glo ek dat God alles wat met my gebeur laat meewerk na sy ewige heerlikheid wat op my wag?

Die Heilige Gees in my, lei my en help my om hierdie vraag met ‘n gelowige hart te antwoord. My antwoord is die tema van vanoggend se preek:

Ek glo met my hele hart: IN ALLES wat gebeur, LEI GOD ONS na sy ewige heerlikheid!

ANTWOORD

Sang: Sb.18-6/57:1,4,5

Gebed

Liefdegawe vir barmhartigheid

Sang: Ps.66:1,2

Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor een aan julle vrede gee

Amen