ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood opgestaan het, en die Heerser oor die konings van die aarde.
Lof aan God: Ps.33:1,5,6
Geloofsbelydenis: Nicea
Sang: Sb.12-3:1,2
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Sang: Ps.86:6
Gebed
VERKONDIGING
Sang: Ps.90:1,9
Lees: Efesiërs 1:1-14 en Sondag 1
Kernvers: Ef.1:13,14
Tema: God gee sekerheid van die ewigheid wat op my wag
Sang: Ps.33:1,5,6; Sb.12-3:1,2; Ps.86:6; Ps.90:1,9; Ps.118:1,14; Sb.18-7:1,3,12
Inleiding:
Vanoggend se preek uit Ef.1 en Sondag 1 gaan oor die Heilige Gees in my en die ewigheid.
Tema: God gee sekerheid van die ewigheid wat op my wag
Voor die skepping in die ewigheid het God besluite geneem wat altyd sal bly. In die Efesiërbrief aan gelowiges wat aan Jesus Christus behoort, skryf Paulus oor die wonderlike besluite van God. Die brief was vir die gelowiges destyds en vir ons vandag.
Twee van die besluite is;
In die Bybel en ons geloofsbelydenis vanoggend oop voor ons kry ons die baie belangrike waarheid dat die ewige God oor elke enkele mens in die ewigheid besluit het.
Die vraag is: Hoe belangrik is die ewigheid vir my? Op ‘n Sondag in ‘n erediens is dit maklik om te sê dat die ewigheid vir my baie belangrik is. Maar…wat gebeur na die erediens, buite die kerkgebou op die ander dae van die week?
Kyk hoe het die mense destyds hiermee gesukkel –
Toe die dissipels na Jesus se opstanding op ‘n keer bymekaar was, het hulle Hom gevra: “Here, is dit nou die tyd dat U weer die koninryk vir Israel gaan oprig?” (Ha.1:6).
Die dissipels het geglo in die ewigheid, maar uiteindelik was die koninkryk van Israel op aarde baie belangrik.
Dit was die Sondag.
Die Vrydag van daardie week, vyf dae later, roep die skare weer uit. Hierdie keer klink hulle woorde anders:”Kruisig Hom!” (Mt.27:22,23). Toe dit vir hulle duidelik geword het dat Jesus nie die koning vir die aardse lewe was, wat hulle wou gehad het nie, het “Loof Hom” verander in “Kruisig Hom”!
Die Jode en die dissipels se lewe wys vir ons dat die werklikheid van ‘n goeie en gelukkige aardse lewe die besef, behoefte en selfs geloof in die ewigheid kan onderdruk en selfs heeltemal oorheers.
Mense vandag sukkel nie minder met die belangrikheid van die ewigheid nie.
Van die struikelblokke is –
Hoeveel keer gebeur dit nie, as ek, gelowige, my kom kry, is die hele week deur my lewe op aarde ingeneem met ‘n klein bietjie tyd vir my ewige lewe.
Hier is BEKERING nodig! Want….daar wys te min in ons land en in ons omgewing en ons gemeente dat die ewige lewe vir ons die belangrikste is.
Die ewigheid moet vir elkeen die belangrikste wees, want dit is vir God die belangrikste. Hy stuur die ganse heelal en die hele mensdom na die ewige heerlikheid soos Hy in die ewigheid besluit het. Hy is ook met my op pad na die ewigheid wat Hy in die ewigheid vir my bestem het.
DIE EWIGHEID moet regtig vir my BAIE BELANGRIK wees!
2. Die Heilige Gees verseël my as God se eiendom
Met die koms van Jesus Christus, sy kruisiging en opstanding het die nuwe bedeling, die nuwe eeu aangebreek. Jesus Christus het die afstand wat ons sonde tussen God en ons veroorsaaak het, weggeneem. God en elkeen wat aan Hom behoort is deur Jesus Christus in ‘n innige Vader-kindverhouding.
Met die koms van die Heilige Gees het sondige mense deel aan hierdie nuwe eeu gekry. Hoe so?
Die Gees wat gekom het op Pinkster is die Gees van die gekruisigde en opgestane Christus. Hy is die Gees van Jesus Christus, die Oorwinnaar oor die duiwel, die sonde en die ewige dood.
Deel van die Gees se verlossingswerk is om sondaarmense as eiendom van God te verseël.
Ons maak eers seker van die betekenis van ‘n seël destyds. Die seël op ‘n dokument was ‘n merk kan mens sê. Die seël het beteken die dokument was eg en die skrywer was regtig die skrywer.
Die Heilige Gees verseël ons in Christus (Ef.1:13).
Wat beteken hierdie verseël deur die Gees?
Die Heilige Gees gee aan iemand wat die Evangelie van Jesus Christus hoor, egte geloof in Hom. Deur hierdie egte geloof bind Hy ons aan Christus. Elkeen deur geloof aan Jesus Christus gebind, is regtig sy eiendom. Dit is hoe die Heilige Gees ons verseël as Christus se eiendom.
Ek kan sê dat ek gedoop is. Ek kan sê dat ek nagmaal gebruik. Kan ek met dieselfde oortuiging sê: Ek is verseël deur die Heilige Gees?
Wanneer ek die Evangelie van Jesus Christus wat vir my gekruisig is en opgestaan het, met ‘n opregte hart vas en seker glo, sodat dit eintlik brand hier in my binnekant, dan het ek die seël van die Heilige Gees!
As ek net weet van Jesus, het ek nie die seël nie.
Wanneer Jesus se kruisiging en opstanding nie my lewe verander nie, het ek nie die seël nie.
Die Heilige Gees gee net opregte geloof. Die geloof wat die Gees gee, is vas en seker hier binne in my hart. Die geloof wat die Gees gee wys duidelik na buite.
Met opregte geloof in my hart wat na buite wys, het ek die seël van die Heilige Gees of is ek deur die Heilige Gees verseël.
3. Die Heilige Gees is die waarborg van my ewige erfenis
Die Heilige Gees wat my as eiendom van Jesus Christus verseël, is terselfdertyd die waarborg van my ewige erfdeel! Een sin, met baie, baie belangrike woorde!
Die woord “waarborg” is vir nou die belangrike. Die Griekse woord is “arrabwn” (arraboon in Afrikaans). Hierdie woord is byvoorbeeld in die ekonomie gebruik.
‘n Voorbeeld in vandag se taal – Arraboon is die deposito. Die koper het destyds die deposito betaal indien hy nie die hele bedrag kon betaal nie. Die deposito het beteken dat hy die hele bedrag later sal betaal. Die deposito was in werklikheid ‘n belofte.
Die deposito was destyds tegelykertyd die waarborg dat die volle bedrag betaal sal word. Die ooreenkoms was met die betaal van die deposito as belofte en waarborg vas en seker.
Wat beteken die woord hier in Ef.1:14?
Die Heilige Gees is die BELOFTE van die ewige hemelse erfdeel vir elke kind en erfgenaam van God die Vader.
Die Gees is die WAARBORG dat ons as kinders en erfgename ons ewige hemelse erfdeel sal ontvang.
Die HEILIGE GEES in my IS SELF my SEKERHEID van die ewigheid!
Wat presies is die ewige erfenis, of dan ewige lewe?
Die Heilige Gees is die waarborg vir elkeen wat Hy verseël het.
Vraag: Waar lê my sekerheid in die lewe?
My jonkheid, my energie en goeie kwalifikasie, of my ervaring van die lewe en goeie beroepslewe, of die kerkgebou wat altyd op dieselfde plek staan en die erediens wat elke Sondag op dieselfde tyd begin – NIKS HIERVAN sal bly nie!
Die Gees wat my as eiendom van Jesus Christus verseël en die waarborg van my ewige erfdeel is, Hy en Hy alleen is my en elke ander Christengelowige se sekerheid oor die ewigheid!
Hy is die Gees van die gekruisigde en opgestane Jesus Christus. Daarom antwoord ons in ons belydenis so: Jesus Christus, my Verlosser verseker my deur sy Gees van die ewige lewe!
4. Ek leef met my oog op die ewige toekoms
‘n Opdrag wat ons dikwels in die Bybel, die Nuwe Testament kry, is dat God wil hê dat ek my deur die Heilige Gees moet laat beheers.
Hoe doen ek dit?
Soek en vind die wil en leiding van die Heilige Gees in die Bybel.
Luister na die Gees en gehoorsaam Hom uit liefde.
Wat het die Heilige Gees vir my laat neerskryf in God se Woord? Hier is net twee dele in die Bybel:
Dit is duidelik wat die Heilige Gees van my wil hê.
Hy het my as eiendom van Jesus Christus VERSEËL.
Hy is die WAARBORG van my ewige erfdeel.
Hy wil dat ek met my oog op die ewige toekoms sal lewe.
Sal ek een van die min wees, uit die miljoene in ons land en in die wêreld , wat regtig leef soos die Heilige Gees wil en soos Hy my lei – my oog op die ewige toekoms?
ANTWOORD
Sang: Ps.118:1,14
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sang: Sb.18-7:1,3,12
Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee
Amen