Home Preke My enigste troos Hoe om met Jesus Christus, ons Enigste Troos, te lewe.

Hoe om met Jesus Christus, ons Enigste Troos, te lewe.

Datum: 2023-01-08
|
Reeks: My enigste troos
|
Kernverse: Ps.51:5-7; Ps.51:3,4,12,13; Ps.51:14,15

ONTMOETING

Votum: Ps.121:1,2

Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die werk van die Heilige Gees

Lof aan God: Ps.8:1,3,4,7

Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels

Sang: Sb.12-3/72:1,2

VEROOTMOEDIGING

Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34

Sang: Ps.69:3,67

Gebed

VERKONDIGING

Sang: Ps.126:1,2,3

Lees: Psalm 51 en Sondag 1

Kernverse: Ps.51:5-7; Ps.51:3,4,12,13; Ps.51:14,15

Tema: Hoe om met Jesus Christus, ons Enigste Troos, te lewe

Sang: Ps.8:1,3,4,7; Sb.12-3/72:1,2; Ps.69:3,6; Ps.126:1,2,3; Ps.34:1,6; Ps.40:4,5

Inleiding:

‘n Voorspoedige jaar, wens ons mekaar toe. Dit is dalk beter om as Christengelowiges mekaar ‘n geseënde jaar toe te wens en toe te bid. Met Sondag 1 in ons gedagtes en harte is dit die heel beste om mekaar ‘n jaar van troos toe te wens en toe te bid. Dit is so ‘n belangrike wens en gebed, want ons troos is Jesus Christus. Die tyd waarin ons leef, is dalk meer as ooit ‘n tyd waar ons Jesus Christus so nodig het. Soos ons mekaar met Kersfees ‘n geseënde Christusfees toegewens het, kan ons mekaar aan die begin van die jaar ook ‘n geseënde Christusjaar toewens en toebid.

Tema: Hoe om met Jesus Christus, ons Enigste Troos, te lewe

  1. Jesus Christus is my Enigste Troos

Die Heidelbergse Kategismus, een van ons belydenisskrifte gaan oor Jesus Christus, ons Enigste Troos. Ons kan ook sê die Kategismus gaan oor Jesus Christus ons Enigste Goed. Die skrywers van die Kategismus het troos bedoel as die goed wat die kwaad van die sonde in ons lewe oorwin.

Elkeen met ware geloof kan vas en seker weet dat Jesus Christus my Enigste Troos is. Hy is my Enigste Troos, want

  • Hy het my met liggaam en siel syne gemaak.
  • Hy het my met sy lewe losgekoop van al die mag wat die duiwel en die sonde en die dood oor my gehad het.
  • Hy bewaar my dat sonder die wil van my Vader nie ‘n haar van my kop kan val nie.
  • Hy laat alles meewerk tot my saligheid.
  • Hy gee deur sy Heilige Gees vir my sekerheid dat ek die ewige lewe het.
  • Hy raak my hart deur sy Evangelie en sy Gees en maak dat ek met alles wat ek het vir Hom wil leef.

Elke Christengelowige wat in Jesus Christus glo, gaan met hierdie troos deur die lewe. Hierdie troos is ‘n baie belangrike deel van ons geloof. Dat Jesus Christus my Enigste Troos is, staan in werklikheid in die middelpunt van my geestelike lewe as Christengelowige. Ons kan sê Jesus Christus ons Enigste Troos is die belangrikste van my geloof.

Die Heilige Gees het die protestantse gelowiges in die 16e eeu gelei om hierdie geloofsbelydenis juis oor Jesus Christus ons Enigste Troos in 1563 te skryf. Die protestantse kerke waarvan ons deel is, het in die verlede hierdie geloofsbelydenis as ons antwoord op die Here se Woord aanvaar. Die Heidelbergse Kategismus is daarom elkeen van ons se geloofsbelydenis.

Voor ons, as die Here wil, lê 2023. Ons behoort almal te weet en dit te ervaar dat ons in ‘n sondige land en ‘n sondige wêreld leef. Sonde maak ook stukkend op baie terreine van die lewe.

MAAR….elkeen van ons wat aan Jesus Christus behoort, het Hom in 2023 as ons Enigste Troos. Hierdie wonderlike waarheid kan en moet elkeen van ons in 2023 elke dag weet en glo.

EN…elkeen van ons het nodig om met Jesus Christus as my Enigste Troos te leef. Dit gebeur nie sommer vanself nie. Hoe leef ek met hierdie wonderlike troos?

Die vraag bring ons by die tweede vraag en antwoord van Sondag 1 en by die tweede kerngedagte van die preek.

2. Ek leef met hierdie troos –

  • Wanneer ek weet hoe nodig ek Jesus het. Die Kategismus se woorde is: Ek moet weet hoe groot my sonde en ellende is. Vir vanoggend se preek gebruik ek hierdie woorde: Ek moet weet hoe nodig ek Jesus het.

Kyk en luister saam na hierdie baie belangrike geestelike waarheid in Ps.51. Vs 5-7 is hier belangrik.

Kyk eers saam na Dawid se woorde. Hierdie woorde is ‘n lied, ‘n gebed. Ons kan selfs sê die woorde is sy geloofsbelydenis –

Vs 5 –  “Ja, my oortredinge ken ek en van my sonde bly ek altyd bewus.”

Vs 6“Teen U alleen het ek gesondig, ek het gedoen wat verkeerd is in u oë. U uitspraak is dus reg en u oordeel regverdig.”

Vs 7 –  “Ek was al skuldig toe ek gebore is, met sonde belaai toe my moeder swanger geword

           het.”

Die Heilige Gees het Dawid gelei en gehelp om sy sonde in die volgende woorde in die psalm te skryf –

Oortredinge – Tree en beweeg buite die grense wat God gestel het. Dit gebeur uit opstandigheid teen God.

Sonde – Mis die doel waarvoor God my geskep het. Dit is asof sonde aan hom gekleef het. Op die oog af het Dawid teen mense gesondig – Batseba en haar man, Uria – maar alle sonde is in werklikheid teen God.

Doen wat verkeerd is – Die teenoorgestelde van wat die Here wil.

Skuldig en met sonde belaai nog voor geboorte – Die sonde en die oordeel oor sonde wat elke mens erf. Dawid het hierdie sonde ook geërf.

Uitspraak is reg en oordeel regverdig – Dawid erken dat hy God se oordeel verdien.

God se oordeel oor enige sonde is die ewige dood in die hel. Sonde is vir God verskriklik, daarom is sy oordeel ook verskriklik.

Dawid was nie die uitsondering en die enigste gelowige met oortredinge, met sonde, wat verkeerd gedoen het in die Here se oë en skuldig en met sonde belaai was nog voor sy geboorte nie. Hierdie woorde in Ps.51:5-7 beskryf elke enkele mens se lewe – oortredinge, sonde, verkeerd doen voor die Here, skuldig en onder God se oordeel. Elkeen van ons het hierdie donker wolk van God se ewige oordeel oos ons gehad nog voor ons gebore was. Dit is dieselfde met elke mens.

Sonder hulp, sou Dawid nie onder hierdie verskriklike oordeel van God uitkom nie. Sonder hulp, kom niemand van ons weg van die heilige God se ewige oordeel in die hel nie.

Oor hierdie waarheid is daar by baie mense wat sê dat hulle gelowig is, ‘n baie groot misverstand. Ook gelowiges dink en voel dat wanneer ons gesond is, ons ‘n goeie werk het, dit met ons familie goed gaan en ons oor die algemeen ‘n gelukkige lewe het, dan is alles tussen God en ons reg. Hierdie goeie dinge laat gelowiges dink en voel dat God tevrede is met ons en ons daarom gered is.

MAAR….al hierdie voorspoed en seën is deel van God se ALGEMENE GENADE! Die ateïs wat niks van God wil weet nie en reeds onder sy ewige oordeel lees, beleef ook goeie gesondheid. Hy is ook suksesvol in sy beroep. Sy kinders slaag ook hulle studies in die skool en daarna en maak ook ‘n groot sukses van hulle beroepslewe.

Die algemene genade van God sê nie dat alles tussen my en God reg is nie!

Elke mens het die BESONDERE GENADE VAN GOD nodig!

Ek moet weet hoe nodig ek die besondere genade van God het!

Sy besondere genade, is die wonderlike genade van Jesus sy Seun, wat Hy na die wêreld gestuur het.

Hier aan die begin van die jaar, is ‘n baie goeie tyd om regtig te weet, dit is met my verstand en my hart te weet hoe nodig ek Jesus Christus het! Ek het Hom nodig omdat ek in myself so sondig is dat ek onder God se oordeel in die hel sal beland, indien Jesus my nie help nie!

Ek wys dat ek Jesus nodig het, wanneer ek regtig daarna smag om sy Evangelie te lees en te hoor!

  • Wanneer ek weet hoe Jesus my help.  Om onder God se ewige oordeel uit te kom, het ek Jesus nodig om my te help. Ek het ook nodig om te weet hoe Jesus my help teen al die kwaad wat sonde veroorsaak.

Kyk ook saam na die belangrike woorde vir hierdie hulp in Ps. 51. Ons kyk hiervoor na vs 3 en 4 en 12 en 13.

Vs 3 “Wees my genadig, o God, in u troue liefde, wis my oortredinge uit in u groot barmhartigheid!”

Vs 4   –  “Was my skoon van my skuld, reinig my van my sonde!”

Vs 12 –  “Skep vir my ‘n rein hart, o God, vernuwe my gees en maak my standvastig.”

Vs 13 –  “Moet my tog nie van U af wegdryf en u Heilige Gees van my af wegneem nie!”

Vir vanoggend kyk ons na die volgende:

Wees my genadig – Die hele psalm rus op God se genade. Dawid kon alleen so skryf, omdat die Here die genadige en getroue Verbondsgod is wat vergewe, al het hy vergifnis glad nie verdien nie.

Reinig my van my sonde – Sonde maak ‘n mens vuil voor God. Dawid was en enige mens is magteloos om self weer skoon te word. Dawid se gebed is daarom dat God hom van al sy sonde sal reinig, dit is hom skoon sal was van sonde.

Vernuwe my gees – Dawid se sonde het sy hart vuil gemaak en sy gees laat wankel weg van God af en die dieptes van sonde in. Hy het nodig gehad dat God hom weer nuut moes maak. Net God kan ‘n sondige mens nuut maak.

Genade, skoonwas van sonde en ‘n nuwe binneste is wat elkeen enkele mens nodig het. Hoe wonderlik is dit nie om te weet hoe hierdie gebeur nie! Ons wat die Bybel, God se Woord het en die Nuwe Testament het om te lees, weet dat Jesus hiermee help.

Die mensdom het nie gevra nie. Niemand van ons het gevra nie. MAAR….God het sy Seun gegee. Hy het sy Seun UIT GENADE EN LIEFDE GEGEE!

Jesus het al ons sonde op Hom geneem. Hy het  met ons sonde op Hom, sy liggaam en sy bloed, dit is sy lewe, aan die kruis gegee. Met sy kosbare liggaam en bloed het Hy al ons sonde voor God weggeneem en ons heeltemal skoongewas!

Jesus het op die derde dag uit die dood opgestaan. Met sy opstanding het Hy die dood oorwin en aan ons die nuwe lewe, die ewige lewe gegee.

Nadat Jesus na die hemel opgevaar het, het Hy en sy Vader die Heilige Gees gestuur. Die Heilige Gees gee deur wedergeboorte lewe in dooie harte. Hy gee deur die Evangelie van Jesus Christus geloof in elke wedergebore hart. Deur die Gees kan ek met ‘n wedergebore hart vol geloof in Jesus Christus leef.

Met geloof in Jesus is ek nie meer in die mag van die duiwel, sonde en die dood nie, nie meer onder God se ewige oordeel nie. Jesus het my met sy kruisiging en opstanding gehelp om ‘n verloste nuwe mens te wees, ‘n mens wat seker van die ewige lewe is.

In 2023 het elkeen van ons regtig nodig om te besef dat ek alleen leef, omdat Jesus my gehelp het!

  • Wanneer ek weet hoe om vir Jesus dankie te sê. Jesus se hulp uit genade en liefde is so groot en so wonderlik dat my hele lewe op aarde te kort is, om dankie te sê. Elkeen van ons vir wie Jesus gehelp het, behoort in 2023 elke dag te weet dat ek nog meer en beter en dieper dankie behoort te sê, want wat ek dink en sê en doen, is NIE NAASTENBY GENOEG NIE!

Om vir al Jesus se genade en liefde dankie te sê, kan ons na die volgende woorde in Ps.51: 14 en 15 kyk:

Vs 14 –  “Laat my weer blydskap ervaar van iemand wat deur U verlos is, laat my U weer met toewyding dien.”

Vs 15“Dan sal ek oortreders leer wat U van ‘n mens verwag; dat sondaars hulle tot U sal bekeer.”

Blydskap oor verlossing – Om verlos te wees op die manier wat Jesus ons gehelp en verlos het, behoort my hart elke dag van blydskap te laat bruis. Een voorbeeld van blydskap: Ek kan my blydskap wys wanneer ek in die erediens sing. Hier sal ons twee gemeentes moet verander. Daar behoort meer blydskap in ons sang tydens ‘n erediens te wees.

Toewyding – Dawid het geskryf van “’n gewillige gees.” Toewyding is om uit my hart baie vir die Here te wil doen, elke dag van my lewe. Jesus het sy lewe vir my gegee. Die enigste manier om vir Hom dankie te sê, is om my lewe vir Hom te gee.

Leer, vertel en getuig – Jesus se hulp is so spesiaal, so wonderlik dat ‘n mens nie daaroor stil kan bly nie. Die Heilige Gees het Dawid laat vertel, laat skryf. Hy kon nie stilbly nie. Dieselfde Gees leef in elkeen van ons wat aan Jesus Christus behoort, elkeen vir wie Hy so wonderlik uit genade en uit liefde gehelp het. Dieselfde Gees dring ons ook om te vertel.

Gebruik 2023 om ander te vertel.Vertel met die Heilige Gees in jou van Jesus Christus en sê so vir Hom dankie. Ons praat te min oor Jesus. Ons sal regtig moet verander.

‘n Slotwoord: die jaar 2023 is ‘n jaar wat God gegee het, dat ons met Jesus Christus as ons Enigste Troos kan leef. Maak dan deur die Heilige Gees seker dat elke dag weet hoe nodig jy Jesus het. Maak deur die Gees seker dat jy weet en glo hoe Jesus jou gehelp het. Benut, gebruik hierdie jaar om met die Gees in jou met jou lewe vir Jesus dankie te sê vir sy genade en sy liefde.

ANTWOORD

Sang: Ps.34:1,6

Gebed

Liefdegawe vir barmhartigheid

Sang: Ps.40:4,5

Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee

Amen