Home Preke My enigste troos Ek leef vir my Verlosser wat sy lewe vir my gegee het

Ek leef vir my Verlosser wat sy lewe vir my gegee het

Datum: 2022-12-04
|
Reeks: My enigste troos
|
Kernverse: Lk.1:74,75

ONTMOETING

Votum: Ps.121:1,2

Seën: Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood opgestaan het en die Heerser oor die konings van die aarde

Lof aan God: Sb.4-6/68

Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels

Sang: Ps.71:9

VEROOTMOEDIGING

Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34

Antwoord op die Wet: Sb.9-3/70:1,2

Gebed

VERKONDIGING

Sang: Ps.40:4

Lees: Lukas 1:67-75 en Sondag 1

Kernverse: Lk.1:74,75

Tema: Ek leef vir my Verlosser wat sy lewe vir my gegee het

Sang: Sb.4-6/68; Ps.71:9; Sb.9-3/70:1,2; Ps.40:4; Ps.18:1,14

Inleiding:

Ware geloof leef. Ware, opregte geloof wys in ‘n mens se lewe. So vertel en leer die Here ons in sy Woord. So antwoord ons op sy Woord met ons geloofsbelydenis. Vanoggend is ons die Here se Woord oop by Lk.1 en ons geloofsbelydenis oop by die Kategismus, Sondag 1.

Tema: Ek leef vir my Verlosser wat sy lewe vir my gegee het

  1. Jesus Christus is my Here

Die baie belangrike waarheid in ons geloofsbelydenis in Sondag 1 van die Kategismus is dat ek aan Jesus Christus behoort. Hierdie woorde is sedert 1563 die protestantse en later gereformeerde kerke wêreldwyd se antwoord op God se Woord.

Elkeen van ons behoort hierdie eerste vraag en antwoord gereeld te lees, te besef wat ons lees, vas en seker te glo wat ons lees en dit uit te leef. In hierdie antwoord is die wonderlikste genade opgesluit:

  • Ek behoort met liggaam en siel aan aan my getroue Verlosser Jesus Christus.
  • Ek behoort terwyl ek hier leef en na my lewe op aarde aan my Verlosser.
  • Hy het met sy dood aan die kruis vir al my sondes betaal.
  • Hy het ook vir my opgestaan uit die dood.
  • Deur sy dood en opstanding het Jesus Christus my van al die mag wat die duiwel oor my gehad het, volmaak verlos.
  • My Verlosser bewaar my op so ‘n manier dat daar sonder die wil van my Vader in die hemel nie ‘n haar van my kop kan val nie.
  • Alles wat met my gebeur, werk mee na my ewige saligheid.
  • My Verlosser verseker my daarom deur sy Heilige Gees van die ewige lewe.

Al hierdie wonderlike genade het ek in my lewe, omdat ek aan Jesus Christus behoort.

Hierdie woorde in Sondag 1 is onder andere ‘n antwoord op wat ons in Lk.1:67-75 kry. Luister weer saam na Sagaria, waar hy deur die Heilige Gees sê, eintlik getuig:

  • Die Here, die God van Israel, het sy volk in genade opgesoek.
  • Hy het vir sy verbondsvolk verlossing bewerk.
  • Die God van Israel het ‘n Sterk Verlosser uit die huis van Dawid vir ons laat opstaan.
  • Die Here het hierdie belofte aan Abraham en sy nageslag gemaak dat Hy almal wat aan Hom behoort van vyande en haters sal verlos.

Die Sterk Verlosser (Lk.1:69), my getroue Verlosser (Sondag 1) is Jesus Christus. Hy besit my. Hy is my Here. Die Naam Here beteken in werklikheid Eienaar. So antwoord ons op God se Woord ook in Sondag 13: “Ons noem Jesus Christus, ‘ons Here’, omdat Hy ons na liggaam en siel van al ons sondes en uit alle heerskappy van die duiwel nie met goud of silwer nie, maar met sy kosbare bloed tot sy eiendom verlos en vrygekoop het”.

2. Sy Heilige Gees leef in my

Om te weet, te glo en te bely dat Jesus Christus my Here is, is ‘n wondergenade. Indien ek iemand is wat weet en glo dat Jesus Christus my Here is, is ek een van die mense vir wie God baie goed was en baie genade gegee het.

Nie elke mens weet en glo hierdie nie. Trouens, by verre die meeste mense tans in ons land en in die wêreld, glo nie dat Jesus Christus ons Here, ons Eienaar is nie.

Net die mens met opregte geloof in Jesus Christus wat gekruisig is en opgestaan het, kan sê: Hy is my Here.

Dit bring ons by die vraag: Waar kry mens hierdie geloof?

Daar is net een Persoon by Wie ek hierdie geloof kry. Hy gee hierdie geloof ook net op een manier.

Die Persoon is die Heilige Gees. Hy is saam met die Vader en Jesus Christus, die Seun die Drie-enige God. Hy is die enige ware God. God die Heilige Gees gee vir my die geloof dat ek kan weet en kan glo dat Jesus Christus my Here is.

Nou die manier waarop die Heilige Gees vir my geloof gee – Die Gees gee geloof deur die Bybel; net deur die Bybel. Hy is die almagtige God. Hy kom met die Bybel, God se Woord, dat Jesus Christus vir my gesterf en opgestaan het, in my binnekant in. Die Gees is almagtig. Hy kan met die Evangelie van Jesus Christus in my gedagtes en my hart inkom. Hy gee vir my ‘n nuwe hart, ‘n wedergebore hart. Hy plant, Hy gee of Hy begin geloof in in Jesus Christus in my wedergebore hart.

Niemand glo vanself nie, niemand!

Sagaria kon alleen in Jesus Christus ons Verlosser glo en so van Hom praat, soos Lukas geskryf het, omdat die Heilige Gees in Sagaria was (vs 67).

Elkeen van ons sal net in Jesus Christus kan glo en verlos kan wees, indien ek die Heilige Gees in my het.

Hoe gee die Heilige Gees vir my geloof?

Hy gee geloof deur God se Woord, die Evangelie van Jesus Christus.

Hier is ons by die rede waarom ek gereeld op ‘n Sondag in die erediens moet wees waar die Bybel oop lê en ek van Jesus Christus hoor.

Hier is ons by die rede waarom ek self ook gereeld die Bybel moet oopmaak en die Evangelie van Jesus Christus my Verlosser moet lees.

Ek het die Bybel, God se Woord nodig, want die Heilige Gees gee geloof deur die Woord. Sonder die Bybel het niemand geloof nie.

Geloof is ook nie iets geestelik wat stil hier binne my lê nie. Geloof leef. Geloof groei. Geloof doen. Geloof getuig, soos Sagaria. My geloof sal net bly leef en groei en doen en getuig indien ek gereeld met die Bybel besig is op ‘n Sondag en gedurende die week.

Dit bring ons by die derde en laaste kerngedagte vir vanoggend se preek.

3. Ek leef my hele lewe vir my Verlosser

Luister saam na wat Sagaria deur die Heilige Gees gesê en getuig het: “Met ‘n eed het Hy (die Here) dit bevestig aan ons voorvader Abraham dat Hy sou gee, dat ons, gered uit die hand van vyande, Hom onbevrees kan dien in vroomheid en opregtheid al die dae van ons lewe” (Lk.1:73-75).

Die Here vertel ons en leer ons met hierdie woorde dat die genade dat Hy ons verlos het, sal maak dat ons vir Hom sal leef.

Vanoggend se preek gaan juis oor ons antwoord in Sondag 1 op hierdie woorde in Lk.1: Hy, dit is Jesus Christus, ons Verlosser, maak my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe.

Die woorde in Lk.1:73-75 en Sondag 1 wys vir ons dat die Heidelbergse Kategismus nie sommer net daar was nie. Die Heilige Gees het Jesus Christus se kerk in 1563 gelei om te antwoord op die Here se Woord. Onthou, geloof lê nie net stil hier binne my nie. Geloof praat. Geloof getuig soos by Sagaria. Geloof bely soos in die Kategismus.

Hierby kan ons ook sê dat geloof leef.

Die Here leer ons in die woorde van Sagaria in Lk.1 hoe geloof wat leef lyk. Kyk saam daarna. My geloof laat my Jesus Christus, onbevrees, heilig en opreg dien.

ONBEVREES – Die geloof wat die Heilige Gees gee, maak dat ek die Here onbevrees dien. Onbevrees beteken sonder vrees. Deur die Heilige Gees dien ek Jesus Christus openlik sonder om bang te wees.

Daar is baie waarvoor ek bang kan wees:

  • Ek kan bang wees vir mense, wat hulle van my sal dink as ek Jesus Christus openlik dien en oor Hom praat in my huis, tussen my familie en vriende, in die gemeente.
  • Dalk het ek groot geword in ‘n Christelike huis, maar ons het nie openlik oor Jesus Christus gepraat nie. Ek kan bang wees om anders te wees en te doen as hoe ek groot geword het.
  • Ek ken die Bybel nie goed genoeg nie, daarom is ek bang om regtig uit die Bybel oor Jesus Christus ons Verlosser te praat en bly ek die meeste van die tyd liewer stil.

God die Heilige Gees is in my. Hy leef en werk in my. Hy help en lei my om Jesus Christus openlik te dien, sonder om bang te wees.

HEILIG – Die geloof in my hart wat die Heilige Gees vir my gegee het, laat my vroom leef. In die Grieks staan daar heilig. Heilig beteken om afgesonder te wees. Die Heilige Gees sonder my af in die wêreld, in die omgewing waar ek leef. Hy laat my anders as die wêreld leef. Hy laat my vir Jesus Christus leef.

Die vraag is: Lyk my lewe as gelowige in die gemeente regtig anders as al die ander mense in die omgewing wat sonder Jesus Christus en sonder sy kerk leef?

Ons leef in ‘n land en omgewing met mense in die middelpunt – my behoeftes en my nood; ek wil hê; ek moet kry. Selfs in Jesus Christus se kerk leef mense wat gelowiges behoort te wees so – my behoeftes en my nood eerste; ek wil hê; ek moet kry.

Hoe lyk ‘n heilige lewe, wat anders is as die meeste mense se lewe? Ek het ‘n lewende en innige verhouding met Jesus Christus. Jesus Christus, my Verlosser is in die middelpunt. In my gedagtes en in my hart leef die behoefte, die drang om Jesus Christus lief te hê en my liefde vir Hom te wys, deur Hom te gehoorsaam. Deur die Gees wil ek wat Jesus Christus wil, met wat ek wil, heeltemal uitgeskuif.

OPREG – Die geloof wat die Heilige Gees gee, is in my hart. Wanneer ek vir Jesus Christus leef, is dit nie om deur ander gesien te word nie ook nie omdat dit ‘n gewoonte is nie en ook nie omdat ek enigiets terug wil hê nie.

Deur die Heilige Gees dien ek my Verlosser en leef ek vir Hom uit my hart uit. In my hart is daar geloof en liefde en dankbaarheid. Deur die Heilige Gees wil ek dit alles vir Jesus Christus gee, want Hy het sy lewe vir my gegee. Ek dien Jesus Christus opreg, wanneer my geloof, my liefde en my dankbaarheid nie net by gevoelens en woorde bly nie, maar in my lewe wys.

‘n Slotwoord: Ons kan die kern van wat in Lk.1:74 en 75 en in hierdie deel van Sondag 1 staan, in een sin sê:

Ek het die Heilige Gees in my, daarom leef ek vir my Verlosser wat sy lewe vir my gegee het!

ANTWOORD

Gebed

Liefdegawe vir barmhartigheid

Sang: Ps.18:1,14
Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee

Amen