ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood opgestaan het, en die Heerser oor die konings van die aarde
Lof aan God: Ps.146:1,3,8
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sang: Sb.12-3:1,2
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Levitikus 19:1-18
Sang: Ps.119:6,7
Gebed
VERKONDIGING
Sang: Ps.116:1,2,4
Lees: Job 1:6-22; 31:29-35; 38:1-7; 42:1-6; 42:17 en Sondag 1
Kernverse:Job 1:20,21
Tema: Nie ‘n haar val van my kop, sonder die wil van my Vader nie
Sang: Ps.146:1,3,8; Sb.12-3:1,2; Ps.119:6,7; Ps.116:1,2,4; Ps.66:6,7; Ps.42:4,5,7
Inleiding:
Vanoggend is ons by ‘n baie belangrike waarheid in die Heidelbergse Kategismus. Dit is ‘n waarheid wat uit God se Woord kom en ‘n waarheid waarmee gelowiges baie sukkel.
Tema: Nie ‘n haar val van my kop, sonder die wil van my Vader nie
Ons belydenis kom in elke opsig uit die Bybel. Hierdie woorde in ons belydenis kom juis uit Mt.10:29-31. Ons belydenis is ons antwoord op God se Woord. Dit is ook my antwoord. Ek glo so met my hele hart saam met al die protestants gereformeerdes oor die hele aarde.
Hierdie antwoord is al geglo en bely en neergeskryf in 1563. Hierdie geloofsbelydenis bly ons antwoord op God se Woord vir eeue en vir alle omstandighede.
Waarom so? God se Woord bly ewig dieselfde en verander nie. Ons belydenis kom uit die Woord. Belydenis is om dieselfde te sê. Ons antwoord is daarom dieselfde as God se Woord, die Bybel. Vergelyk gerus Mt.10 en hierdie deel van Sondag 1 met mekaar.
Dink diep en goed na aan waar jy nou in die lewe is. Is hierdie antwoord jou geloof in jou hart?
Diep in jou hart kan jy nie aanvaar dat Jesus Christus jou bewaar nie.
Maak daarom seker dat hierdie woorde: My Verlosser bewaar my op so ‘n wyse dat sonder die wil van my Vader nie ‘n haar van my kop kan val nie, regtig jou geloof is en dat jy met jou hele hart hierdie geloof uitleef in wat jy vir vriende, familie of gelowiges saam met jou in die gemeneente sê.
Hierdie geloof kom nie sommer vanself nie nie. Job was ‘n gelowige wat die Here gedien het en kyk hoe het hy gesukkel. Die Heilige Gees help ons om te glo.
Vir baie jare het dit baie goed met Job gegaan. Die Here het Job se gesin en sy boerdery bewaar. Die Here het Job ook geestelik bewaar. Job was ‘n gelowige. Hy het vroom en opreg voor die Here geleef. Hy het sy kinders van God geleer en hulle gereeld offers aan die Here laat bring om hulle te reinig van moontlike sonde in hulle gedagtes.
Niks hiervan gebeur vanself nie. God het Job deur sy Heilige Gees so laat leef.
Op ‘n dag het Job se lewe heeltemal verander. Job se hele boerdery is vernietig. Al sy diere is of gesteel of deur weerlig doodgeslaan. Die heel ergste was ‘n stormwind wat die huis van Job se oudste seun omgewaai het, terwyl die kinders almal bymekaar was. Al sewe seuns en al drie die dogters het gesterf. Al wie oorgebly het, was die vier werksmense wat elke keer die verskriklike boodskap gebring het, Job se vrou en hyself.
Die vraag waarvoor ons te staan kom, is: Het God Job daardie dag steeds bewaar?
Beweeg ons van Job en sy baie moeilike omstandighede af na ons tyd vandag. Niemand van ons het al beleef wat Job deurgemaak het nie. Maar dit wil nie sê dat dié van ons wat baie swaarkry nie die beproewing as baie erg beleef nie.
Baie moeilike werksomstandighede, finansiële spanning, onveiligheid op die pad en in ons huise, ernstige siekte, pyn elke dag en die hartseer nadat iemand naby ‘n mens gesterf het, kan my baie swaar laat kry. Hierdie swaarkry dan die volgende in my laat gebeur: Hartseer, moedeloosheid, twyfel, en die onsekerheid oor wat die sin en doel van my lewe is en dalk selfs kleingeloof kan in ons posvat.
Dit bring ons by die vraag: Bewaar my Verlosser my wanneer ek hierdie moeilike omstandighede beleef?
Ons geloofsbelydenis gaan oor die wil van die Vader. Hoe kan en moet ek glo oor die wil van my Vader in ‘n wêreld waar daar baie swaar en seer is?
Job het deur fases in sy lewe gegaan –
Wat hy oor sy onskuld gesê het, was in sy oë betroubaar genoeg dat hy sy handtekening daarvoor sou gee.Teenoor Job wat homself as onskuldig gesien het, was sy vriende wat gesê het dat hy gesondig het en skuldig was.
Job wou gehad het dat God altwee kante moes opweeg. Hy was baie seker dat God sou moes sê dat hy onskuldig was en die swaarkry nie verdien het nie.
Ons kan sê: Job het God bevraagteken.
Kyk vanwaar af het Job beweeg. In die begin het hy berus in wat God doen. Later, deur sy vrou en sy vriende se woorde en sy eie gedagtes en woorde in sy swaarkry, het Job gewonder of God reg gedoen het.
Is Job die uitsondering?
Het baie Christengelowiges nie al God se wil bevraagteken nie en gevra hoekom die swaarkry?
Het ek, gelowige nie in my lewe al gedink en gesê dat ek of iemand anders nie die swaarkry verdien het nie?
Job het God gesoek om Hom te vra en ‘n antwoord te kry. Op God se tyd en manier het Hy Job uit ‘n stormwind geantwoord. Die stormwind wys op die almag van God. Job het sy saak gestel. Hy het ‘n verduideliking van die Here verwag.
Hoe anders was die Here se antwoord nie!
Die vrae wat Job moes antwoord:
Met hierdie vrae het God Homself as die almagtige, allerhoogste, alwetende Skepper van alle dinge bekend gemaak. Die Here wys met hierdie woorde op die afstand tussen Hom en Job, ‘n afstand wat geen mens kan bereken nie.
Hierdie vrae is nie vrae wat Job alleen moes antwoord nie. Die Here het die boek met hierdie hoofstuk en hierdie vrae deur sy Heilige Gees laat neerskryf, bewaar en in sy Woord laat opneem. Hy wil dat ons ook hierdie vrae sal lees en daarna sal luister.
Die Here vra deur sy Woord, Job 38 ook vir my hierdie vrae.
Hy verwag ook van my om te antwoord.
Onthou Job se selfversekerde woorde: Ek het my saak gestel. Die Almagtige moet antwoord (Job 31:35).
Luister na Job nadat die Here gepraat het: “ Ek het oor dinge gepraat wat ek nie begryp het nie: U wonderdade was te groot vir my, ek het dit nie verstaan nie” (Job 42:3) en “Tot nou toe het ek net gehoor wat mense van U sê, maar nou het ek U self gesien, en nou verag ek myself, nou sit ek vol berou in sak en as” (Job 42:5).
Met hierdie woorde het Job bely dat hy net na sy sy swaarkry gekyk het. Sy aandag was in werklikheid net hier op die aarde by hom, sy eie swaarkry en sy vriende se beskuldigings. Hy het gepraat oor God ja, maar hy het nie besef wat hy gesê het nie.
Kyk hoe het die Here se woorde Job verander. Van die gelowige wat die Here bevraagteken na die gelowige wat vol berou voor die Here staan.
Wanneer ons baie swaar kry, leer die Here ons in Job se antwoord dat ook ek nie mag dink wat ek voel en sien, alles is wat daar te beleef is nie. Die Here wil ook nie dat ek net hier op die aarde sal kyk en net hierdie stukkende lewe sal raaksien nie.
Wanneer ek net hierdie lewe met sy swaar raaksien en nie genoeg van die Here raaksien nie, sal die Heilige Gees my ook bring waar ek vir God sal moet sê: Ek is jammer Here. Ek het berou.
Die Heilige Gees is my Trooster. Hy lei my om in swaarkry Job te lees wie God is en wat Hy doen. Wanneer die Heilige Gees my oë en verstand en hart vir die Here oopmaak, sien ek in my geestesoog deur die trane en pyn my Verlosser aan sy Vader se regterhand waar Hy vir my plek gereed maak om my te kom haal.
Dit bring ons by die laaste vers in die boek Job.
Ons as mense sal waarskynlik die volgende dinge van Job sê:
Wat sê die Here van Job?
Job 42:17 – “Job het toe gesterf. Hy het oud geword en het ‘n vol lewe gehad”.
Nadat ek Job gelees het, sal ek wat die Nuwe Testament het, deur die Heilige Gees by die volgende antwoord kom: Dit is so, my Verlosser bewaar my so, dat sonder die wil van my Vader nie ‘n haar van my kop kan val nie.
ANTWOORD
Sang: Ps.66:6,7
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sang: Ps.42:4,5,7
Seën: God wat alle genade gee en wat julle geroep het om in Christus Jesus deel te hê aan
sy ewige heerlikheid, sal julle, nadat julle ‘n kort tydjie gely het, self weer oprig en julle
moedig sterk en standvastig maak
Amen