Home Preke My enigste troos God leer ons in sy Woord dat ons almal troos nodig het

God leer ons in sy Woord dat ons almal troos nodig het

Datum: 2022-10-16
|
Reeks: My enigste troos
|
Kernverse: 2 Kor.1:3,4

ONTMOETING

Votum: Ps.121:1,2

Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die werk van die Heilige Gees

Lof aan God: Ps.34:1,4

Geloofsbelydenis: Nicea

Sang: Ps.9:1,7,10

VEROOTMOEDIGING

Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34

Sang: Sb.9-3/70:1,2

Gebed

VERKONDIGING

Sang: Ps.42:1,4,7

Lees: 2 Korintiërs 1:1-11 en Sondag 1 (die eerste vraag)

Kernverse: 2 Kor.1:3,4

Tema: God leer ons in sy Woord dat ons almal troos nodig het

Sang: Ps.34:1,4; Ps.9:1,7,10; Sb.9-3/70:1,2; Ps.42:1,4,7; Ps.20:1,2; Ps.130:1,2,3

Inleiding:

Vanoggend begin ‘n nuwe reeks preke. As die Here wil, lê die Heidelbergse Kategismus die volgende Sondae oop langs die Bybel. Ons gaan in hierdie reeks na die heel eerste Sondag se eerste vraag en antwoord kyk.

Tema: God leer ons in sy Woord dat ons almal troos nodig het

  1. Ons(my) antwoord op die Here se Woord

Hierdie reeks preke is ‘n reeks uit die Bybel en uit die Heidelbergse Kategismus. As die Here wil, gaan ons die volgende Sondae na Sondag 1 kyk.

Die Kategismus is nie die Bybel nie. dit is mensewerk, word gesê ook in ons kerkverband, die GKSA. Die Bybel is belangrik. Dis al. Wel, die woorde dat net die Bybel belangrik is, klink goed en reg. Die Bybel is God se Woord. Die Bybel is bo elke ander boek of geskrif. Niks kan met die Bybel vergelyk word nie. In die Bybel het ons alles wat ons nodig het om God te ken, in Hom te glo en salig te wees, nou en in ewigheid.

As die Bybel al is wat ons nodig het, is dit nie verkeerd om die Kategismus saam met die Bybel te preek nie?

Ons kry die antwoord op hierdie vraag in die Bybel. Een so plek is in Mt.16. Jesus het teen daardie tyd al baie gesê en baie gedoen. Baie mense het in Hom geglo. Die vraag is: Wat die gelowiges van Jesus geglo? Jesus het sy dissipels gevra. Hulle het geantwoord: Sommige het geglo Jesus is Elia. Ander het geglo hy is Johannes die Doper. Nog mense het geglo dat Hy Jeremia is. ‘n Laaste groep mense het geglo dat Jesus een van die ander profete is wat teruggekom het aarde toe.

Wat het ons hier? Baie mense het in Jesus geglo, maar hulle geloof het hulle niks gehelp nie. Hulle geloof was mensgemaakte geloof, vals geloof waardeur ‘n mens nie salig word nie.

Daarna het Jesus sy dissipels gevra, wie hulle sê Hy is. Petrus het gesê dat hulle vas glo dat Jesus die Christus, die Verlosser is, die Seun van die lewende God. Jesus se antwoord was dat hierdie geloof nie van mense af kom nie, maar van God die Vader af en dat hierdie geloof die ware geloof is waarop Hy sy kerk sal bou, sodat die bose sy kerk nie sal oorweldig nie.

Hieroor die volgende:

  • Jesus verwag van sy dissipels om te sê wat hulle van Hom glo. Hulle moet antwoord op wat hulle van Jesus gesien en gehoor het.
  • Jesus se vraag was nie net vir 12 persone bedoel nie. Die dissipels was die begin van die Nuwe Testamentiese kerk.
  • Jesus wil dus hê dat sy kerk sal sê hoe sy kerk in Hom glo. Wat die kerk, dit is ons gelowiges, van Jesus glo, moet ons sê. Dit moet uitkom. Jesus Christus, die Hoof van sy kerk, wil hê sy kerk moet sê hoe sy kerk glo. Sy kerk, ons moet antwoord.

Jesus wil dat ons ook sal antwoord op wat ons in die Bybel van Hom sien en hoor. Die Heidelbergse Kategismus is een deel van ons gemeente en al die protestants gereformeerde kerke in SA en oor die hele wêreld se antwoord op God se Woord. Ons antwoord is in werklikheid ons belydenis.

Ons sê nie net ons antwoord of ons belydenis nie, ons skryf ons antwoord ook neer. Jesus Christus se kerk het het die Heidelbergse Kategismus as ons antwoord op God se Woord neergeskryf. Daarom praat ons van ‘n belydenisskrif.

Die Here leer ons in sy Woord, hier in 2 Kor.1:3,4  dat ons troos nodig het. Ons antwoord op die Here se Woord is hierdie belydenisskrif oor troos. Elkeen in ons gemeente het nodig om ons antwoord op die Bybel te ken, daarom is ‘n preek soos vanoggend nodig.

Die eerste vraag van Sondag 1 is ook deel van ons geloofsbelydenis. Vanoggend se preek gaan net oor die vraag.

  • Die troos wat God gee

Die Here praat in sy Woord dikwels met sy gelowige kind op ‘n direkte persoonlike manier. Gen.17:7 – “Ek bring ‘n verbond tot stand tussen My en jou en jou nageslag….Ek sal jou God wees en ook die God van jou nageslag…”

Ons belydenis is daarom ook so direk persoonlik: “Wat is jou enigste troos…?”

Troos is ‘n woord in die Bybel en in ons belydenis. Troos is daarom ‘n belangrike woord in ons geestelike lewe en maak dat elkeen van ons moet weet wat met hierdie woord bedoel word. Dan is daar ook baie woorde wat klink asof hulle troos, maar nie regtig doen nie. Voorbeelde:

Toemaar, elke donker wolk het ‘n silwer rantjie.

Toemaar môre sal dit beter gaan.

Watter troos bedoel die Here in 2 Kor.1 en watter troos bedoel ons in ons antwoord?

Die Griekse woord vir troos is parakalein en beteken God troos ons wanneer Hy naby ons is en goed aan ons doen. Hoe kan ons die troos beskryf? God is by ons en Hy doen goed aan ons. Hierdie goed verdryf die kwaad en sleg in ons lewe.

Ons is nog nie klaar nie met die vraag oor wat die troos is, die goed is wat God gee.

Hy gee troos deur Jesus Christus. Hy is ons Vader wat troos gee (vs 3). Deur Christus is Hy ons Vader. Hy gee troos deur Christus (vs 5).

Ons kan sê die troos wat God gee is sy Seun wat vir ons gesterf en opgestaan het. Jesus Christus is ons troos. Hieroor meer in die volgende preek, as die Here wil.

Dan weet ons uit Joh.14:17 dat die Heilige Gees ons Trooster is wat ons aan Christus bind deur geloof en ons die geloofsekerheid gee dat Jesus Christus ons troos is.

Ons kan sê: Die troos wat God gee, is sy Seun en sy Heilige Gees. En hierdie troos is waar en eg en onder elke omstandigheid en ewig, terwyl woorde soos die donker wolk met die goue rand en môre wat dit beter sal gaan eintlik glad nie troos is nie.

  • Ek het troos nodig terwyl ek op aarde leef

Die vraag is: Wat is jou enigste troos en lewe en in sterwe?

Ons het gesien wat die troos is wat God gee. Ons antwoord behoort te wees: Ek het troos nodig.

Die eerste deel van die vraag beteken dan: Ek het troos nodig, terwyl ek op aarde leef.

Oor ons almal wat troos nodig het, kan ‘n mens baie lank praat en preek. Kom ons kyk na die troos wat Paulus, die skrywer van hierdie brief nodig gehad het. Hiervan kan ons in Ha.19 gaan lees, die onrustige tyd in Efese.

Ons kyk eers hoe Paulus hieroor in hierdie brief skryf –

Vs 5 – Paulus noem die lyding ter wille van Christus.

Vs 6 – beproewing

Vs 8 – moeilikhede in die provinsie Asië.

        – die swaar wat hulle moes verduur het ver bo hulle kragte

        – hulle het die hoop om te bly leef, laat vaar.

Vs 9 – dit het vir Paulus-hulle gevoel of die doodsvonnis oor hulle uitgespreek is

Vs 10 – Hulle was in doodsgevaar.

Mense wat nie van Jesus Christus wou hoor nie, was so teen Paulus-hulle, dat hulle lewe in gevaar was. Hieroor het hulle troos nodig gehad.

In ons land het Jesus Christus en sy ware kerk eenkant toe geskuif. Jesus Christus self, sy kerk, eredienste op Sondag, die Bybel is vir die meeste noe meer belangrik en nodig nie. Ons gemeente is vir hierdie land onnodig.

Dan sukkel ons by die werk, met die skole en toelating tot skole, met beurtkrag, met water en beperkings, met die strate en slaggate, om stabiele en verantwoordelike stadsrade te hê wat in ons basiese behoeftes soos water en elektrisiteit in elke dorp en stad moet voorsien. Ons sukkel met veiligheid en geweld. Ons sukkel met wetteloosheid – bedrog met voertuiglisensies, met identiteitsdokumente, en soveel meer. Ons sukkel met duur kruideniersware en om finansieel kop bo water te hou.

Al hierdie dinge is die gevolg van die mensdom se grootste probleem, waaraan ons nie genoeg dink nie: Sonde. Ons kry swaar onder die nagevolge van die sondeval en dikwels ook ons eie  sonde.

God wys ons in sy Woord, hier in 2 Kor.1 en in ander dle van die Bybel op die swaar wat gelowiges in hierdie lewe kan beleef. Ons gelowige antwoord behoort te wees: Ek het, terwyl ek nou lewe, troos nodig wat net God kan gee.

  • Ek het troos nodig wanneer ek sterf

Elkeen van ons kry in hierdie lewe, voor Jesus weer kom, met die dood te doen. Elkeen van ons sal self sterf. Mense naby aan ons vir wie ons lief is, sal sterf.

Ek het troos nodig teen die dood.

Paulus noem die Here “die God wat in elke omstandigheid uitkoms gee” (vs 3). Sy woorde in sy oorspronklike brief was: “Die God van alle vertroosting”.

Hierdie woorde wys op Paulus en die gelowiges saam met hom daar in Efese wat in doodsgevaar was (vs 9 en 10). Alhoewel hulle daardie keer nie gesterf het nie, het hulle die God van vertroosting nodig gehad wat uitkoms gegee het.

Daar het wel ‘n tyd in Paulus se lewe gekom dat sy dood voor die deur was. In sy tweede brief aan Timoteus het hy daaroor geskryf (1 Tim.4:6-8). Uit Paulus se woorde is dit duidelik dat hy die troos wat hy teen sy dood nodig gehad het, in sy lewe gevind het.

Paulus is nie die enigste wat troos teen die dood nodig het nie. Elkeen van ons het troos nodig wanneer ons sterf, daarom die vraag: Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe? In die antwoord op die vraag, sal ons by ons troos wanneer ons sterf, uitkom.

  • Die Here wil hê dat ons mekaar troos

Die troos wat God gee is wonderlik en kosbaar en is die enigste troos. Wanneer ek hierdie troos het, mag ek nie net aan myself en my eie moeilike omstandighede dink nie. Luister weer na vs 4:”In elke moeilikheid help Hy ons. Daarom kan ons ook weer ander help wat in allerhande moeilikheid verkeer. Ons kan hulle bemoedig met dieselfde bemoediging waarmee God ons bemoedig..”. Om te bemoedig is om te troos.

Hierdie vers is duidelik. Die Here will hê dat ons mekaar troos.

‘n Gemeente van Jesus Christus het in die tyd wat ons leef regtig nodig om mekaar te troos. Die Here wil dat ons hier mekaar sal troos. Ons kan mekaar troos op die volgende maniere –

Maak tyd vir mekaar.

Gesels met mekaar.

Ken mekaar

Wees vriendelik met mekaar.

Vind uit hoe dit regtig met mekaar gaan.

Praat mekaar moed in.

Bid vir mekaar.

Doen hierdie en wees ‘n gelowige vriend, meer nog, wees ‘n gelowige broer of suster vir iemand anders wat saam met jou in hierdie gemeente van Jesus Christus is.

Deel op hierdie manier die troos wat jy by God gekry het met ander. Die troos wat Hy gee is wonderlik, kosbaar, help ‘n mens baie en wat meer is: Dit is die enigste troos in lewe en in sterwe.

ANTWOORD

Sang: Ps.20:1,2

Gebed

Liefdegawe vir barmhartigheid

Sang: Ps.130:1,2,3

Seën: God wat alle genade gee en julle geroep het om deur Christus Jesus deel te hê aan sy ewige heerlikheid, sal julle, nadat julle kort tydjie gely het, julle self weer oprig en julle moedig sterk en standvastig maak.Amen