Home Preke My enigste troos Jesus Christus het my losgekoop om aan Hom te behoort

Jesus Christus het my losgekoop om aan Hom te behoort

Datum: 2022-10-30
|
Reeks: My enigste troos
|
Kernverse: 1 Pet.1:18,19

ONTMOETING

Votum: Ps.121:1,2

Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die weerk van die Heilige Gees

Lof aan God: Ps.84:1,2

Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels

Sang: Ps.84:3

VEROOTMOEDIGING

Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34

Antwoord op die Wet: Ps.86:6

Gebed

VERKONDIGING

Sang: Sb.5-2:3,4

Lees: 1 Petrus 1:10-21 en Sondag 1

Kernvers: 1 Pet.1:18,19

Tema: Jesus Christus het my losgekoop om aan Hom te behoort

Sang: Ps.84:1,2; Ps.84:3; Ps.86:6; Sb.5-2:3,4; Sb-5-4/10:1,2,5,6; Sb.5-3/8:1,2

Inleiding:

Môre, as die Here wil, is dit Hervormingsdag. Magalieskruin nooi ons uit om vanaand by hulle die Hervormingsdiens by te woon. Waarom is die herdenking van die dag belangrik? Die Hervorming het oor Jesus Christus gegaan, daarom is die herdenking van die dag baie belangrik.

Ons is besig met ‘n reeks uit die Heidelbergse Kategismus. Hierdie belydenisskrif het juis ten tye van die Hervorming ontstaan. Die Kategismus gaan oor die troos wat Jesus Christus ons gee. Vanoggend is ons by die deel van ons troos dat Jesus Christus my losgekoop het om aan Hom te behoort.

Tema: Jesus Christus het my losgekoop om aan Hom te behoort

  1. Die bestaan wat ons geërf het

“…julle oorgeërfde sinlose bestaan..” het Petrus in hierdie brief geskryf. Die woord wat Petrus gebruik het vir sinloos, beteken ook sonder betekenis, tevergeefs en nutteloos.

Wie is die mense met hierdie bestaan?

Petrus het sy brief geskryf vir “die uitverkorenes van God, vreemdelinge in die wêreld wat verspreid woon in die provinsies Pontus, Galasië, Kappadosië, Asië en Bitinië” (1 Pet.1:1). Hy noem hierdie eerste lesers ook almal wat God die Vader vooraf bestem het en uitverkies het en deur die Gees afgesonder het om aan Hom gehoorsaam te wees en besprinkel te word met die bloed van Jesus Christus (1 Pet.1:2).

Ons kan sê die eerste lesers was die mense wat God gekies het om aan Hom te behoort, aan wie Hy deur sy Heilige Gees geloof gegee het en wie deur Jesus Christus se dood aan die kruis van sonde skoongewas is.

Hierdie was die eerste lesers aan wie Petrus geskryf het.

Maar…nie net die Christengelowiges in Pontus, Galasië, Kappadosië, Asië en Bitinië is deur God gekies, het van die Heilige Gees geloof gekry en is deur Jesus Christus skoongewas van sonde nie!

Sulke gelowiges leef ook in Suid-Afrika, in Pretoria, in ons gemeente. Hierdie brief is vir elke ware Christen met opregte geloof in Jesus Christus wat vir ons gekruisig is en opgestaan het, bedoel.

Elke Christengelowige het ‘n sinlose bestaan geërf. Net soos ek gebore is, net soos ek op my eie is, is my lewe leeg, sonder betekenis en tevergeefs. Hierdie ongemaklike, slegte en harde waarheid moet elke mens verstaan, besef en glo. Wie maak of hy of sy nie hierdie bestaan geërf het nie, is in werklikheid steeds in hierdie sinlose lewe en verlore.

By wie het ons hierdie bestaan geërf? Paulus skryf aan die gemeente in Rome so hieroor: “Verder nog dit: Deur een mens het die sonde in die wêreld gekom en deur die sonde die dood, en so het die dood tot alle mense deurgedring, omdat almal gesondig het” (Rom.5:12). Die eerste groot geestelike waarheid wat elke mens moet besef en glo, is dat elke enkele mens hierdie sinlose bestaan van ons eerste ouers geërf het.

Wat is hierdie oorgeërfde sinlose bestaan?

Elke mens was geestelik in die duiwel se mag, met ‘n innerlike, ‘n hart wat deur en deur sondig is. Dit beteken elke mens was verlore in sonde met net een bestemming aan die einde van lewe op aarde en dit is die ewige dood onder God se ewige oordeel in die hel.

  • Die losprys wat nodig was

Die vraag is: Is daar ‘n manier om hierdie baie slegte en eintlike verskriklike probleem in elke mens se lewe weg te kry uit ons lewe uit?

Ja, daar is ‘n manier!

God het in die begin gesê dat indien die eerste mens sondig, hy sou sterf, ewig sou sterf (Gen.2:17). Die manier om hierdie slegte probleem van oorgeërfde sinlose bestaan weg te kry uit my lewe, is dat ek moet sterf.

Maar….indien ek self sterf, het ek nog net vir my oorgeërfde sonde gesterf. Al die sondes wat ek self gedoen het in my gedagtes en woorde en optrede, bly dan ongestraf. Aan daardie sondes word niks gedoen nie. Dit beteken ek kan glad nie self vir my sonde sterf nie. My oorgeërfde sondige bestaan en die sondes wat ek self doen, is te veel.

Die ewige alwetende en almagtige God het dit alles volmaak geweet, daarom het Hy die dag toe ons eerste ouers die rug op Hom gedraai het, ‘n belofte gemaak. Daar sou een uit die nageslag van die vrou kom, wat die duiwel en al sy boosheid sou oorwin en ons sinlose bestaan wegkry uit ons lewe.

Hoe sou dit gebeur?

Deur die hele Ou Testament vertel en leer God ons hoe die ernstige probleem van ons orgeërfde sinlose bestaan uit ons lewe weggaan. In die besnydenis, die daaglikse offers, die sondeoffers en die offer op die Groot Versoendag was daar bloed, die bloed van die dier wat geoffer is. Elkeen in Israel moes hierdie offer bring.

Die offerdier is in die plek van die mens doodgemaak. Die offerdier was die plaasvervanger wat in die mens wat die offer gebring het, se plek gesterf het. Ons kan sê die offerdier was die losprys vir die mens.

Maar….die offerdier was al die tyd net die skaduwee (Kol.2:17).

Die Verlosser wat God in die tuin van Eden beloof het, Hy was die werklike offer wat die losprys kon betaal en ook betaal het.

  • Die betaling van die losprys

Wanneer dit kom by die betaling van die losprys vir ons oorgeërfde sinlose bestaan van sonde en die ewige dood wat gewag het, is wat God ons in sy Woord vertel en leer niks minder nie as aangrypende woorde wat mens verwonderd van verbasing laat nie.

Hoe is die losprys betaal?

Luister hoe skryf Petrus deur die Heilige Gees hieroor: “Julle weet tog dat julle nie met verganklike middele soos silwer of goud losgekoop is uit julle oorgeërfde sinlose bestaan nie. Inteendeel, julle is losgekoop met die kosbare bloed van Christus, die Lam wat vlekloos en sonder liggaamsgebrek is” (1 Pet.1:18,19).

God het deur ‘n almagtige wonder sy Seun mens laat word. God se Seun is sonder enige toedoen van ‘n man uit ‘n vrou gebore. Haar naam was Maria. Die Heilige Gees het oor Maria gekom. Die krag van die allerhoogste God het lewe in haar gewek, sodat sy swanger geword het en aan God se Seun geboorte gegee het.

Hierdie is ‘n verstommende almagtige wonder wat elkeen wat hiervan lees en hoor in algehele verwondering behoort te laat.

Daar is meer!

God se Seun, Jesus Christus het al ons sonde op Hom geneem. Hy was sonder enige sonde. Hy was die volmaakte God, daarom kon Hy al ons sonde op Hom neem.  Hy het ons sonde op Hom geneem en in ons plek God se straf op sonde gedra. Hy het aan die kruis gesterf. Hy het daardie wrede dood in ons plek vir ons sonde gesterf.

JESUS CHRISTUS…wat vir ons aan die kruis gesterf het is DIE LOSPRYS VIR ONS SONDE!

Deur sy dood het Jesus Christus die losprys betaal.

  • Die uitkoms na die losprys betaal is

Net voor Hy aan die kruis gsterf het, het Jesus Christus, God se Seun ons Verlosser gesê: “Dit is volbring” (Joh.19:30).

Daardie woorde het beteken: Die losprys vir my sonde is heeltemal klaar betaal. Jesus Christus het met sy dood aan die kruis my lewe heeltemal verander. Tot met daardie woorde was elke mens nog in die mag van die duiwel, die mag van sonde en die mag van die ewige dood.

Toe Jesus Christus aan die kruis gesterf het, het Hy sondaarmense van die mag wat die duiwel oor ons gehad het, verlos. Deur te sterf, het Jesus elkeen wat in Hom glo, uit die bose mag van die duiwel geruk, kan ons sê.

Jesus het my met sy dood aan die kruis uit die mag van die bose geruk en my syne gemaak. Hy het op die derde dag uit die dood opgestaan. Deur sy opstanding het Jesus Christus vir my die nuwe lewe as verloste gelowige gegee.

Ek leef nou nie meer onder die heerskappy en mag van die duiwel nie. Ek behoort met liggaam en siel aan my Verlosser, Jesus Christus.

In die donker Middeleeue het die Roomse kerk Jesus eenkant geskuif. In die plek van Jesus Christus wat vir ons gesterf en opgestaan het, het die kerk aflaatbriewe geskryf en verkoop. Op die aflaatbrief het gestaan dat die mens wat gesondig het, deur die pous vergewe is. Die mens wat vir so ‘n brief betaal het, was dan vergewe en verlos.

God het die groot Hervorming van die kerk beskik. Die Heilige Gees het verskillende Hervormers deur die Bybel gelei om met die Roomse kerk en aflaatbriewe te breek en te glo dat Christus alleen, uit genade alleen en deur geloof in Hom alleen sondaars verlos.

Deesdae is baie kerke in ons land weer terug by geld. Jesus Christus word gepreek en geglo ja, maar dan die selfgemaakte Jesus wat sal sorg vir ‘n beter finansiële lewe. Jesus Christus word die Verlosser van armoede. Hy sal sorg vir ‘n beter werk, vir meer geld, ‘n beter huis en duurder kar en alles wat met meer geld saamgaan.

Die vraag in die Kategismus se eerste Sondag is: “Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?” (HK, Sondag 1).

Hierdie vraag het net een antwoord: “My enigste troos in lewe en in sterwe, is dat ek met liggaam en siel, nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort. Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondees betaal en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos” (HK, Sondag 1).

Is hierdie jou antwoord op die baie belangrike lewensvraag in Sondag 1, sê dan elke dag van jou lewe uit jou hart vir God dankie. Jy is een van min wat in die ware Jesus glo. Daar is so baie in ons land wat hierdie genade nie in hulle lewe het nie.

ANTWOORD

Sang: Sb.5-4/10:1,2,3,4

Gebed

Liefdegawe vir barmhartigheid

Sang: Sb.5-3/8:1,2

Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee

Amen