Home Preke Die wet Dankie Here, dat ek u heilige Naam mag ken en gebruik

Dankie Here, dat ek u heilige Naam mag ken en gebruik

Datum: 2023-02-05
|
Reeks: Die wet
|
Kernverse: Eks.3:13-15; 1 Sam.3:1,7,10

Votum: Ps.121:1,2

Seën: Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood opgestaan het; en die Heerser oor die konings van die aarde

Lof aan God: Ps.145:1,2,3

Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels

Sang: Ps.25:4

VEROOTMOEDIGING

Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34

Antwoord op die Wet: Ps.25:5

Gebed

VERKONDIGING

Sang: Ps.135:1,8

Lees: Eksodus 3:1-17 en 1 Samuel 3:1-10 en Sondag 36

Kernverse: Eks.3:13-15; 1 Sam.3:1,7,10
Tema: Dankie Here, dat ek u heilige Naam mag ken en gebruik

Sang: Ps.145:1,2,3; Ps.25:4; Ps.25:5; Ps.135:1,8; Ps.Ps.86:3,6; Ps.20:1,2,5

Inleiding:

In die derde gebod is ons by die gebod oor die Here se Naam. Ons het hierdie gebod om vir die Here dankie te sê vir die wonderlike genade dat ons sy Naam mag ken en gebruik. Hieroor gaan vanoggend se preek.

Tema: Dankie Here dat ek u heilige Naam mag ken en gebruik

  1. Die Here het ‘n heilige Naam

In hierdie geskiedenis ontmoet ons in Eksodus vir Moses en in 1 Samuel vir Samuel. Dit is nodig en goed en reg dat ons die geskiedenis van wat gebeur het, ken. Dit is baie belangriker dat ons die Here in hierdie geskiedenis leer ken. Ons lees nie in die twee boeke en nêrens in die Bybel gewone geskiedenis nie. Ons het altyd met openbaringsgeskiedenis te doen. Openbaringsgeskiedenis gaan oor wat die Here van Homself bekend maak in die geskiedenis.

Wat leer ons in hierdie openbaringsgeskiedenis?

Vir vanoggend se preek kyk ons na die volgende:

Moses – Moses het die eerste jare van sy lewe in ‘n gelowige ouerhuis groot geword. Sy ma en pa se geloofsgetuienis is vir ons in Heb.11 geskryf dat ons kan lees en kan glo.  Moses se eie geloofsgetuienis waarvan ons in Heb.11 lees, is dat hy met geloof in sy hart gekies het om deel van die verbondsvolk te wees en nie die seun van die farao se dogter genoem te word nie.

Wanneer die Here hom stuur om met Israel te gaan praat, is sy vraag: “Sê nou maar ek kom by die Israeliete en ek sê vir hulle:’Die God van julle voorvadders het my na julle toe gestuuur,’ en hulle vra vir my:’Wat is sy Naam?’ Wat moet ek dan vir hulle sê?” (Eks.3:13).

Samuel – Samuel se ma, Hanna, het op ‘n keer spesiaal tempel toe gegaan om te bid vir ‘n kind. Die Here het gehoor. Hy het vir haar en haar man ‘n seuntjie gegee. Toe Samuel groot genoeg was het sy ma hom tempel toe geneem om die Here daar te dien. Samuel het die Here in die tempel onder Eli, die hoëpriester se toesig, gedien. Die oggend toe die Here Samuel geroep het, het Samuel die Here nog nie geken nie, lees ons in 1 Sam.3:7.

Moses se eerste jare was in ‘n gelowige ouerhuis en hy het gelowig gebly. Samuel het gelowige ouerhuis gehad. Hy het in die tempel gebly en gewerk onder die hoëpriester se toesig. Maar….nie een van hulle het die Here se Naam geken nie.

Die ouers van altwee was gelowig. Moses was gelowig. Samuel het in die tempel grootgeword. Tog het hierdie twee mense uit gelowige huise die Naam van die Here nie geken nie!

Waarom so?

Die antwoord lê nie bloot in die ouers of die hoëpriester wat nie genoeg gedoen het nie. Die antwoord lê eerder hierin: Die Here het ‘n heilige Naam. ‘n Mens ken nie sommer vanself die Here se Naam nie. Die Here se heilige Naam beteken –

  • Sy Naam is afgesonder van alle name.
  • Hy het ‘n Naam wat net syne is.
  • Sy Naam is heeltemal anders as alle ander name.
  • Enigiemand sal sy Naam net ken, wanneer Hy Homself op ‘n spesiale manier bekend maak.

Hierdie beteken niemand van ons behoort maklik en gou te sê dat ek die Here se Naam ken nie. Ek het God se Woord en sy Gees nodig om sy Naam regtig te ken. Ons elkeen het nodig om die Here te vra om ons te help om sy Naam te ken en dan regtig te ken. Hierdie gebed om hulp behoort ‘n baie belangrike gebed te wees, wat ek het nodig om die Here se Naam te ken om die ware lewe te kan hê.

2. Hy maak sy Naam aan sy verloste kinders bekend

Moses het daardie dag in die woestyn by die brandende doringbos die wonderlike genade gehad dat die Here sy Naam vir Moses gegee het. “Ek is wat ek is” het die Here gesê, is sy Naam (Eks.3:14).

Moses moes sy skoene uittrek, as teken van sy nietigheid en sondigheid naby die Here. Hy was sondig en die Here is heilig. Die genade daardie dag was dat die Here vir ‘n mens sy Naam vertel het.

Eli was ‘n gelowige in diens van die Here. Daardie uitsonderlike oggend het Eli besef dit is die Here wat met Samuel praat. Eli het Samuel van die Here se Naam vertel.

Ons sien in hierdie openbaringsgeskiedenis in die Ou Testament dat die Here sy Naam aan sy verloste kinders bekend gemaak het.

Ons leef in die Nuwe Testament se tyd. Ons is die kerk van die Nuwe Testament. Hoe kan ons die heilige Naam van God ken? Hoe kan ons sy Naam regtig ken? Die Heilige Gees het Johannes hierdie volgende woorde in die Evangelie van Jesus Christus laat skryf: “Niemand het God ooit gesien nie. Sy enigste Seun, self God, wat die naaste aan die Vader is, dié het Hom bekend gemaak” (Joh.1:18).

Jesus Christus het aarde toe gekom, ook om God die Vader bekend te maak. Jesus het met sy woorde en met wat Hy gedoen het, vertel en gewys wie God is –

  • Soveel keer het Jesus vertel en geleer dat sy Vader, Hy en die Heilige Gees een is.
  • Hy het met sy geboorte en sy wonders vertel dat God almagtig, getrou en genadig is.
  • Hy het deur sy woorde en sy kruisiging en opstanding geleer dat die allerhoogste en heilige Here ons Vader is.
  • In sy gebed het Jesus ons geleer dat ons die Here, Vader mag noem.

Ek kry Jesus se woorde en wat Hy gedoen het in die Bybel. Ek kan die Here se Naam in die Bybel kry. Deur die Heilige Gees in my, leer ek die Here se Naam regtig ken. Die Gees lei en leer my deur die Bybel om die Here se Naam te ken.

Uit die Ou en die Nuwe Testament sien ons duidelik dat God Hom aan sy verloste kinders bekendmaak.

3. Ek is sy verloste kind

Dit is so belangrik dat ons die Here ken. Ons ken Hom deur sy Naam te ken. Wie Hom regtig ken, het die ewige lewe (Joh.17:1).

Jesus Christus maak dit vir my moontlik om die Here se Naam regtig te ken. Hy help my deur die afstand tussen my, sondige mens, en God weg te neem. My sonde wat ek by Adam en Eva geërf het en die sonde wat ek self doen, is die rede vir die afstand tussen my en God.

Jesus het my sonde wat die afstand tussen my en God veroorsaak het, weggeneem. Hy het my sonde op Hom geneem. Hy het in my plek skuldig voor God gestaan. Hy het vir my sonde aan die kruis gehang en gesterf. Jesus het vir my uit die dood opgestaan. Deur sy dood aan die kruis en sy opstanding uit die dood, het Jesus my van die duiwel en die sonde en die ewige dood verlos. Jesus het my ook heeltemal syne gemaak. Omdat ek aan Hom behoort, behoort ek aan God.

God is my Vader!

Ek is sy verloste kind!

Dit beteken dat die Here sy heilige Naam ook aan my bekend maak!

Ek kan ook die Here se heilige Naam ken!

Ek het die Heilige Gees in my. Ek het die Here se Woord, die Bybel elke dag. Ek het almal en alles wat ek nodig het om die Here se Naam regtig te ken.

4. Ek gebruik die Here se Naam met ‘n dankbare hart

Wanneer ek die Here se Naam ken, het ek die ewige lewe. Om sy Naam te ken, verander my lewe. Om sy Naam regtig te ken, beteken ek het ‘n innige geestelike verhouding met die Here. Hier is die rede waarom dit lewensbelangrik is om die Here se Naam te ken: Wie die Here se Naam regtig ken, het ‘n verhouding met Hom en die ewige lewe! Hierdie is wondergenade in elke Christengelowige se lewe!

Daarom: Ek kan nie die Here se Naam ken ek doen niks met hierdie kennis nie.

Wat kan ek doen? Wat behoort ek te doen as Christengelowige wat die Here se heilige Naam ken? Ek behoort met ‘n hart wat oorloop van dankbaarheid die Here se Naam te gebruik.

Hoe gebruik ek die Here se Naam met ‘n dankbare hart?

  • Leer die Here se Naam goed ken – Elke Naam het ‘n spesiale betekenis. Luister net na die volgende verskillende Name – Here God, HERE (53 vert), God, Here van die leërskare (53 vert) / Here die almagtige (83 vert), Allerhoogste, Vader. Daar is selfs meer Name. Lees die Bybel. Leer God se Name ken.
  • Bid gereeld en roep die Here aan – Maak seker jy ken die Here se Naam wanneer jy bid. Gebruik sy Naam net met die grootste eerbied. Wanneer jy bid, sê uit jou hart dankie vir al die liefde en al die genade, elke dag.
  • Vertel van die Here. Gebruik sy Naam in jou gesprekke – Praat oor God. Laat ander sy Naam uit jou mond hoor kom en self leer wat die Here se Naam is en wat Hy doen.
  • Loof en prys sy Naam tydens elke erediens – Sing uit jou hart. Sing met ‘n hart vol geloof en liefde en warmte net vir die Here.
  • Sê met jou hele lewe vir die Here dankie, dat jy sy Naam ken en sy Naam mag gebruik
  • Wanneer jy so leef, is jy met die derde gebod besig soos die Here wil hê.

ANTWOORD

Sang: Ps.86:3,6

Gebed

Liefdegawe vir barmhartigheid

Sang: Ps.20:1,2,5

Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee

Amen