Home Preke Die wet Leef dankbaar volgens God se wil vir 'n ordelike lewe.

Leef dankbaar volgens God se wil vir 'n ordelike lewe.

Datum: 2023-03-05
|
Reeks: Die wet
|
Kernverse: 1 Pet.2:17

ONTMOETING

Votum: Ps.121:1,2

Seën: Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood opgestaan het, en die Heerser oor die konings van die aarde.

Lof aan God: Ps.99:1,2,3

Geloofsbelydenis: Nicea

Sang: Skb.12-3:1,2

VEROOTMOEDIGING

Die Wet: Deuteronomium 5

Antwoord op die Wet: Ps.38:1,17

Gebed

VERKONDIGING

Sang: Ps.14:1,2,3

Lees: 1 Petrus 2:11-25 en Sondag 39

Kernverse: 1 Pet.2:17

Tema: Leef dankbaar volgens God se wil vir ‘n ordelike lewe

Sang: Ps.99:1,2,3; Skb.12-3:1,2; Ps.38:1,17; Ps.14:1,2,3; Ps.40:4; Ps.18:1,13,14

Inleiding:

“Eer jou vader en jou moeder” is ‘n gebod waarin God met sy kerk, met ons gemeente oor ons verhouding met elkeen wat gesag in ons lewe het, praat. Ons kan sê die gebod gaan oor God se wil vir ‘n ordelike lewe in ‘n land.

Tema: Leef dankbaar volgens God se wil vir ‘n ordelike lewe

  1. Vreemdelinge en bywoners

Op die strand van die see van Tiberias het Jesus Petrus gestuur om geestelike kos vir Jesus se gelowiges te gee. Dit is wat Petrus gedoen het toe hy hierdie brief geskryf het. Met die Bybel oop by Petrus se brief kry ons die geestelike kos wat Jesus bedoel het. Ons het die Here se Woord wat ons geestelik voed. Petrus, deur die Heilige Gees leer ons baie belangrike dinge in hierdie brief en in hierdie hoofstuk waarna ons vanoggend geluister het.

Die eerste baie belangrike waarheid is: “Geliefdes, in die wêreld is julle vreemdelinge en bywoners” (1 Pet.2:11). Ons het nodig om uit te vind wat vreemdeling en bywoner destyds beteken het, en vir ons vandag beteken. Die twee woorde beskryf dieselfde omstandigheid.

Vir die betekenis van “vreemdeling en bywoner” gaan ons na die Ou Testament. Toe Jakob in Egipte aangekom het en die farao destyds ontmoet het, het hy vir die farao gesê:”Ek is nou al honderd en dertig jaar ‘n vreemdeling hier op aarde…” (Gen.47:9). Jakob het bedoel dat hy net tydelik op aarde was. Abraham het homself ook ‘n vreemdeling en bywoner in die gebied van die Hetiete genoem (Gen.23:4). Trouens, al die gelowiges van wie ons in Hebr.11 lees, het as vreemdelinge en bywoners op aarde geleef en uitgesien na die eintlike bestemming en lewe wat God vir hulle bedoel het.

‘n Vreemdeling is iemand wat op pad is en net vir tyd op ‘n plek is. ‘n Bywoner is iemand wat nie burgerskap het en aanspraak kan maak op dieselfde behandeling en voorregte as die inwoners van ‘n bepaalde land nie.

Die Christene destyds en ons, Christengelowiges in 2023, is vreemdelinge en bywoners op aarde. Ons leef en bly en werk hier, maar ons is nie vir lank hier nie. Die Heilige Gees leer ons dat almal van ons ‘n ander land, ‘n ander stad, ‘n ander huis het. Dit is die bestemming wat God vir ons het en waar Jesus Christus vir ons plek gereed maak in die hemel.

Ons dink dalk nie so daaroor nie, maar dit is genade om op aarde ‘n vreemdeling en bywoner te wees.

Hoe so?

Jesus Christus het deur sy kruisiging en opstanding ons uit die duisternis van hierdie aardse bestaan in die mag van die sonde en die dood geruk (Kol.1:13) en ons in die koninkryk van die hemel gebring. Elke Christengelowige het deur Jesus Christus permanente burgerskap van die hemelryk. Hierdie is die genade in ons lewe. Ons is vreemdelinge en bywoners op aarde, maar ons is kinders en erfgename van die hemel.

Met hierdie genade in ons lewe, het ons die roeping, die verantwoordelikheid om op die aarde soos gelowiges met burgerskap van die hemelryk te leef.

Hieroor gaan die kernvers vir vanoggend se preek.

2. Respek vir alle mense

“Julle moet alle mense respekteer…..eer die keiser” is die eerste manier van lewe wat die Here van ons vra. “Respekteer” en “eer” is dieselfde woord in Grieks, die taal waarin Petrus geskryf het. Vir die preek gebruik ek daarom die Afrikaanse woord “respekteer”. Die woord beteken om waarde of erkenning te gee.

Die Here wil dat Christene destyds aan alle mense erkenning moes gee. Hulle moes alle mense behandel as mense met waarde.

Die keiser destyds moes dieselfde behandeling van die Christene kry, respek. Wie was die keiser? Nero was die keiser van Rome wat destyds die wêreldregeerder was. Hy was ‘n heidense keiser wat verskriklike slegte goed gedoen het.

Die vraag is hoe respekteer ‘n Christengelowige ‘n keiser, ‘n koning, ‘n president, ‘n regering wat nie die losbandigheid van die mense in bedwang hou en alles in die land ordelik laat verloop nie? So glo en bely ons op grond van die Bybel dat ‘n owerheid moet optree (NGB, art.36).

Vanoggend se gebod, die vyfde gebod, gaan juis oor gesag, die gesag van ouers, maar ook die owerheid. In die preek, kry ons optrede teenoor die regering van ons land die aandag. Dit is baie nodig in ons tyd dat Christengelowiges sal doen wat die Here vra om vir Hom dankie te sê vir sy liefde en sy genade.

Hoe gemaak met die regering van die dag in ons land wat ongelukkig nie die waarde het as ‘n owerheid wat God se wil vir die land soek en doen nie?

Die verkeerde en sondige manier van doen –

  • Ontkenning – Maak asof die owerheid nie sonde voor die Here doen en nie die inwoners van die land baie leed aandoen nie. Christengelowiges trek skouers hiervoor op en dink ons het niks om te doen nie. Die politici in die oposisiepartye moet die probleem oplos.
  • Wegkruip – Christengelowiges kruip weg en praat in ons huise, gesinne, families, vriende en gemeente mekaar moedeloos, sonder om enigiets wat goed en reg is te doen.
  • Gewelddadige weerstand – Die onluste in Julie 2021 is ‘n voorbeeld van sondige weerstand teen die owerheid. Dieselfde geld die brand van busse, vragmotors, skole en ander eiendom.

Hierdie manier van doen is dié van ‘n sondige en goddelose wêreld wat nie na God se wil vir ‘n ordelike lewe vra nie.

Die regte manier van optree teenoor ‘n regering wat nie die land regeer en bestuur soos God vra nie –

  • Kritiek teen die regering op grond van God se Woord. Organisasies in die samelewing en veral kerke het die roeping om die regering van die dag tereg te wys. Daar is baie maniere om die regering tereg te wys.
  • Kerke en organisasies kan die funksies wat die owerheid nie kan of wil behartig nie, oorneem. Maatskaplike sorg en skole en krag- en watervoorsiening. Sommige van hierdie funksies kan selfs permanent oorgeneem word, ander tydelik.
  • Vervang die regering. Die wetenskaplikes, ekonome, vakmanne en ander kundiges byvoorbeeld in die landbou en die mynbou kan in organisasies saamwerk om die samelewing te verander deur die mense in gesagsposisies wat nie bou nie, maar afbreek, te vervang. Die kerk kan hierin ‘n funksie vervul om die samelewing te wys op wat God in sy Woord oor die regeer en bestuur van ‘n land sê.

Hierdie manier van doen, wys ‘n soeke na die orde vir ‘n land wat God in sy Woord vra.

In Suid-Afrika het Christengelowiges in hierdie tyd ‘n baie sterk roeping, ‘n baie groot verantwoordelikheid. Om die regering en organisasies op God se Woord te wys, sal ‘n opdraande stryd wees, want die Here se Woord is vir baie in ons land nie meer belangrik nie. Jesus Christus se kerk is nog minder belangrik.

Gebed is daarom baie nodig in ons land vandag. Daar is soveel waarvoor ons kan bid. Die belangrikste is om Jesus se gebed in Getsémané te bid dat God uitkoms sal gee uit hierdie slegte en sondige omstandighede, maar dan soos Hy wil en nie soos ons wil nie.

Saam met gebed moet bekering en verootmoediging gaan. Hierdie waarheid kry ons deur die hele Bybel. Te min bekering en verootmoediging word in ons land gesien. Die land het ‘n ander regering nodig, maar die land het ook inwoners wat heeltemal anders leef, nodig.

3. Liefde vir medegelowiges

Christus se kerk het ‘n getuienis om in ‘n omgewing en in ‘n land te gee. Ons gemeente se getuienis is om ‘n voorbeeld te wees. Ons sal ‘n voorbeeld wees deur eg en geloofwaardig te wees. Ons gemeente, sal geloofwaardig wees indien ons regtig lief vir mekaar is en die liefde wys.

Jesus Christus se liefde vir ons dat Hy sy lewe vir ons gegee het, bind ons ewig aan Hom. Sy liefde vir ons bind ons ook met ‘n spesiale band aan mekaar. Die liefde van Christus bind Christengelowiges aan mekaar. Hierdie liefde is wat Christengelowiges vir mekaar moet wys. Die Here wil dit hê.

Ons wys hierdie liefde vir medegelowiges op die volgende maniere –

  • Ken mekaar se omstandighede, praat mekaar moed in en bid vir mekaar wanneer dit moeilik gaan. Juis in hierdie tyd dat die regering en die politici en joernaliste en kundiges wat oor ons land skryf en praat, ons moedeloos kan maak, het Christengelowiges die roeping om mekaar moed in te praat.
  • Help mekaar en ondersteun mekaar geestelik en liggaamlik, sodat niemand uitgesluit, ontuis en eensaam hoef te leef nie.
  • Vertel vir mekaar en bemoedig mekaar met God se Woord en leef die Woord onder mekaar en in die gemeenskap.
  • Al hierdie maniere van doen en daar is baie meer, het nodig om uit my hart vol geloof in Jesus Christus en liefde vir Hom, te kom. Wanneer gelowiges in ‘n gemeente so met mekaar en in die gemeenskap leef, sal ons ‘n sterk getuienis vir mekaar gee van ons geloof en ons liefde.

Deur as gemeente so te leef, sal ons ‘n goeie invloed op die gemeenskap kan hê.

4. Ontsag vir God

Die belangrikste verhouding is ‘n Christengelowige se verhouding met God. Hierdie verhouding is bo alle ander. Hierdie is die eerste verhouding waarin elke mens, maar veral Christengelowiges leef.

Die Heilige Gees het Petrus laat skryf dat Christengelowiges God moet vrees. Die Griekse woorde wat Petrus gebruik het, is die woord waar ons Afrikaanse woord “fobie” vandaan kom. Om te vrees behels– bang wees, om die hoogste ontsag te hê, aanbid.

Om God te vrees bestaan uit twee dele. Aan die eenkant om die diepste eerbied vir Hom alleen te hê as die enigste Persoon wat aanbid moet word en aan die anderkant om bang te wees vir sy heilige optrede en oordeel teen dit wat verkeerd en sondig voor Hom is. Jesus het ons geleer om God te vrees, want Hy kan liggaam en siel in die hel laat beland (Mt.10:28).

In hierdie land en in ons huise en ons gemeente het ons nodig om God weer te vrees. Hy, die Allerhoogste het uit liefde sy Seun vir ons gegee. Sy Seun het uit liefde sy lewe vir ons gegee. Ons is nie meer deel van die sondige mensdom wat verlore sal gaan nie. Ons is verlos, vergewe en vrygespreek deur Jesus Christus wat vir ons gesterf en opgestaan het en ons vreemdelinge en bywoners op aarde gemaak het.

Ons antwoord aan God vir hierdie genade en liefde behoort te wees om Hom te vrees. In elkeen van ons se hart behoort daar die hoogste ontsag vir God te wees. Ons elkeen se lewe behoort te wys dat ons God oral en altyd aanbid. Dit is die eenkant. Aan die anderkant behoort ons bang te wees vir die sonde in ons land, ons gesinne, ons gemeente, ons elkeen se eie lewe. Ons lewe behoort ‘n lewe van verootmoediging en bekering te wees.

Hierdie manier van leef, behoort veral in ons gebede gehoor te word. Leef dan deur die Heilige Gees as ‘n Christengelowige wat bid. Bid gereeld en bid ernstig. Dank God uit jou hart vir sy genade en sy liefde en die vergifnis en vryspraak wat jy by Hom gekry het. Vra Hom om jou te help en te lei om uit liefde vir Hom oral en altyd sy wil te doen soos Hy in die vyfde gebod en elke ander gebod vra. Pleit verder by Hom om elke mens wat gesag het, in die regering en organisasies en ook sy kerk en nie sy wil soek en doen nie, weg te neem en te oordeel volgens sy wil.

‘n Lewe met vrees, met die hoogste ontsag vir God, liefde vir medegelowiges en respek vir alle mense – die regering van die dag en elke gesagsdraer – is ‘n lewe volgens God se wil vir ‘n ordelike lewe, dit is lewe volgens die vyfde gebod. Gehoorsaam so die vyfde gebod met ‘n hart vol geloof en dankbaarheid.

ANTWOORD

Sang: Ps.40:4

Gebed

Liefdegawe vir barmhartigheid

Sang: Ps.18:1,13,14

Seën: God wat alle genade gee en wat julle geroep het om in Christus Jesus deel te hê aan sy ewige heerlikheid, sal julle, nadat julle ‘n kort tydjie gely het, self weer oprig en julle moedig, sterk en standvastig maak.

Amen