Home Preke Die wet Ek sê vir God dankie deur sy Wet met 'n rein hart te gehoorsaam.

Ek sê vir God dankie deur sy Wet met 'n rein hart te gehoorsaam.

Datum: 2023-04-16
|
Reeks: Die wet
|
Kernverse: Ps.51:12

ONTMOETING

Votum: Ps.124:8

Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle, van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die werk van die Heilige Gees

Lof aan God: Hoe groot is U:1,2,3

Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels

Sang: Ps.71:9

VEROOTMOEDIGING

Die Wet: Levitikus 19:1-18

Antwoord op die Wet: Ps.119:1,2

Gebed

VERKONDIGING

Sang: Ps.33:10,11

Lees: Psalm 51 en Sondag 44

Kernvers: Ps.51:12

Tema: Ek sê vir God dankie deur sy Wet met ‘n rein hart te gehoorsaam

Sang: O Heer my God:1,2,3; Ps.71:9; Ps.119:1,2; Ps.33:10,11; Ps.18:1,14; Ps.119:11,22

Inleiding:

Vanoggend is ons by die laaste preek in hierdie reeks oor die Wet. In die preke het dit daaroor gegaan dat ek as Christengelowige die Wet van die Here nie mag sien as tien reëls van mag nie en moet en ook nie as tien Christelike pligte wat ‘n mens moet nakom nie. Veel eerder gaan die Tien gebooie oor my verhouding met God en my liefde vir Hom. Ons kan sê die Wet het alles met my hart te doen. Die vraag wat elke gebod vra, is: Wat leef in my hart?

My gebed is dat ons gemeente na hierdie reeks op hierdie manier oor die Here se Wet sal dink en dat elkeen van ons die Tien Gebooie in ons hart sal hê en elke gebod uit liefde en dankbaarheid sal uitleef.

Tema: Ek sê vir God dankie deur sy Wet met ‘n rein hart te gehoorsaam

  1. God se Tiende gebod eis ‘n rein hart van my

God het vir Israel, sy verbondsvolk in die Ou Testament gegee. Ons kan sê, Hy het sy Tien Gebooie is ook vir sy kerk in die Nuwe Testament gegee.

Die tiende gebod is eintlik die hart van die hele Wet. Waaroor gaan die tiende gebod? Luister saam na hoe ons as Christengelowiges, as gemeente die tiende gebod moet verstaan: “Selfs die geringste begeerte of gedagte teen enige gebod van God mag nooit in ons hart opkom nie. Ons moet altyd en heelhartig vyande van alle sonde wees en ‘n begeerte tot alle geregtigheid hê” (HK.44). Gereformeerde Christene oral oor die wêreld verstaan en glo die Tiende gebod so.

Waaroor gaan die gebod? Ek wys op twee woorde: Hart en heelhartig.

Die eerste woord is hart “Selfs die geringste begeerte of gedagte teen enige gebod van God mag nooit in ons hart opkom nie”. Die laaste gebod, die tiende gaan oor my hart – nie die geringste begeerte of gedagte teen enige gebod mag ooit in my hart opkom nie. Hier is ons by die baie belangrike waarheid dat dit in die Here se Wet nie bloot oor mag nie en moet gaan nie. Inteendeel! Die wet gaan oor my verhouding met God en die dankbaarheid vir verlossing en liefde vir Hom in my hart!

In die laaste tyd het gelowiges met ‘n baie vreemde gedagte begin kom. Die gedagte klink so: “Ek doen nie regtig sonde nie. My sonde is meer in my kop”.

Hoe behoort ‘n Christengelowige hieroor te dink?

Daar is een Iemand by wie ons kan leer oor hoe om hieroor te dink en te glo. Luister saam na Jesus, ons Verlosser en Here: “Julle het gehoor dat daar gesê is:’Jy mag nie egbreuk pleeg nie. Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat na ‘n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg” (Mt.5:27,28). Dieselfde dag het Jesus ook geleer dat wie ‘n ander uitskel vir ‘n idioot, reeds strafbaar met die vuur van die hel is (Mt.5:22). Jesus Christus, die Seun van die lewende God leer ons dus dat ‘n gedagte en ‘n woord net soos die daad een en dieselfde sonde is. Daar is nie ‘n verskil nie! Die verskil wat mense daarin sien is presies dit, mensgemaak.

Daarom, moet elke gelowige wat dink en glo dat om sonde te dink en te sê nie so erg is as om sonde te doen nie, hom of haar van daardie verkeerde manier van dink en glo, bekeer en leef soos die Here Jesus ons geleer het.

Die tweede belangrike woord in Sondag 44 is heelhartig – Die Here vra in sy tiende gebod gehoorsaamheid aan Hom en liefde vir Hom met my hele hart. Ek, Christengelowige het nodig om elkeen van die Tien Gebooie uit my hart te gehoorsaam. Die rede vir my gehoorsaamheeid aan die Wet is om vir die Here uit my hart dankie te sê dat Hy my van al my sonde verlos het en om sy liefde vir my te antwoord met liefde vir Hom in my hart.

Wanneer daar nooit die geringste begeerte teen enige gebod in my hart opkom nie en ek altyd met my hele hart teen sonde veg en daar in my hart die begeerte te brand om reg voor God te leef, het ek ‘n rein hart. Ander woorde oor dieselfde waarheid klink so: Wanneer my hart brand van dankbaarheid aan God en liefde vir Hom, het ek ‘n rein hart.

2. Ek kry dit nie reg om met ‘n rein hart te leef nie

Die tweede vraag in die Kategismus Sondag 44 is of ek as gelowige die Here se gebooie kan gehoorsaam soos Hy van my vra en dit is volmaak gehoorsaam. Is my dankbaarheid aan God en my liefde vir Hom so volmaak dat ek sy gebooie volmaak gehoorsaam?

Die eerlike antwoord van elke Christengelowige behoort te wees: Nee, ek kan nie God se gebooie so gehoorsaam soos Hy van my verwag nie. Ek is nie dankbaar genoeg nie. Ek het Hom nie lief genoeg nie. Daarom kry ek dit nie reg om met ‘n rein hart te leef nie.

‘n Rein hart is so belangrik. Luister na Jesus se woorde tydens sy Bergrede naby Kapernaum: “Salig is dié wat rein van hart is, want hulle sal God sien” (Mt.5:8).

My hart is rein, dit beteken skoon, wanneer my uiterlike optrede met my innerlike gesindheid ooreenstem. Dit gebeur wanneer my hart vol van Jesus Christus is en my lewe na buite wys dat die Here Jesus alles in my lewe is.

Wanneer ek hoor dat ‘n rein hart so ‘n hart is, besef elkeen van ons dat ek dit nie reg kry om met ‘n rein hart te leef nie.

Dawid het dit nie reg gekry nie. Aan die eenkant het hy geskryf: “Ek het U baie lief Here…” (Ps.18:1) en “Die bevele van die Here dui die regte koers aan…” (Ps.19:9) en “Maak my u wil bekend, Here, leer my u paaie” (Ps.25:7). Dan aan die anderkant vat Dawid ‘n getroude vrou vir hom in ‘n verhouding buite sy huwelik. Toe sy plan nie slaag om die vrou se swangerskap te laat lyk of sy haar eie man se kind verwag het nie, laat Dawid haar man vermoor.

Wat het in Dawid se hart geleef? ‘n Hart vol liefde vir God sal nie én die sewende gebod én die sesde gebod én die negende gebod so aanhou oortree nie.

In die Nuwe Testament kry ons Paulus wat net so gesukkel het: “Diep in my wese vind ek vreugde in die wet van God, maar ek vind in my doen en late ‘n ander wet wat stryd voer teen die wet van my gees…” (Rom.7:22,23).

Dawid en Paulus is nie die enigste gelowiges wat so gesukkel het nie. Ek is te veel keer in my lewe ook daar. Wat ek sê hoe my hart is en wat ek doen, is baie keer ver van mekaar af. Paulus het hierdie manier van lewe ‘n doodsbestaan genoem (Rom.7:24). Dawid beskryf sy lewe in sonde as ondergang (Ps.51:16).

3. God se Wet wys my op my sonde en laat my bid

Ek kry dit nie reg om met ‘n rein hart God se wet uit liefde en dankbaarheid te gehoorsaam en uit te leef nie. Niemand op aarde kry dit reg nie. Die derde vraag in die Kategismus is waarom God so streng in sy tien gebooie is.

Die antwoord op hierdie vraag bestaan uit twee dele.

Die eerste – God is so streng in sy Wet, sodat ek my sonde kan ken en Jesus Christus as my enigste Verlosser kan ken.

Die tweede – God wil deur sy streng wet my vir die genade van die Heilige Gees laat bid om my nuut te maak, sodat ek alke dag nuwer sal leef, totdat ek na my lewe op aarde volmaak rein in die hemel by God sal wees.

Hier sien ons dit weer so duidelik dat dit nie in die Here se wet oor mag nie en moet gaan nie. Die Here wil dat ek my sonde ken, sodat ek na verlossing deur Jesus Christus sal soek en dat ek tot die Heilige Gees sal bid om my elke dag nuwer te maak in ‘n lewe van dankbaarheid en liefde, tot ek na hierdie lewe in die hemel opgeneem sal word.

In Psalm 51 kry ons Dawid wat sy sonde voor die Here besef het. Die Here het deur sy Woord, sy Wet Dawid op sy sonde gewys. Ons kry Dawid wat bid vir ‘n rein hart en ‘n nuwe lewe deur die Heilige Gees:”Skep vir my ‘n rein hart, o God, vernuwe my gees en maak my standvastig” (Ps.51:12).

Ons kan sê God lei my deur sy wet na die besef dat ek nie met ‘n rein hart leef nie en Hy laat my deur sy wet bid vir die genade van ‘n nuwe lewe met ‘n rein hart.

4. Alleen Hy kan vir my ‘n rein hart skep en ‘n vaste gees gee

Dawid het gebid: “Skep vir my ‘n rein hart, o God…”. Net God is die Skepper. Net Hy kan ‘n hart skep. Net Hy kan ‘n rein hart skep. God skep ‘n rein hart vir elkeen wat aan Hom behoort deur Jesus Christus. Ons wat die Nuwe Testament het, weet dit. Jesus verlos ons van al die sonde wat ons hart so vuil maak. Hy verlos ons deur aan die kruis te sterf. Jesus staan ook vir ons op die derde dag uit die dood op. Hy gee vir elkeen wat aan Hom behoort ‘n nuwe hart.

Ek, wat deur Jesus verlos is, het ook die Heilige Gees in my. Die Heilige Gees lei my en help my om nuut te leef, dankbaar vir my verlossing en lief vir God met my hele hart. So ‘n hart is ‘n rein hart. So ‘n gees, is ‘n vaste gees.

Wanneer ek met ‘n rein hart en vaste gees leef, leef ek volgens God se Wet, nie omdat ek moet nie, maar omdat ek wil. Met die Heilige Gees in my, wil ek vir God dankie sê en wil ek Hom liefhê.

Daarom –

Lees die Here se Wet.

Leef die Here se wet nie deur mag nie en moet nie, maar met ‘n rein hart en vaste gees vol dankbaarheid aan God en liefde vir Hom. Die gelowige wat so na die tien gebooie kyk, is met die Here se wet besig soos hy sy wet van die begin af bedoel het.

ANTWOORD

Sang: Ps.18:1,14

Gebed

Liefdegawe vir barmhartigheid

Sang: Ps.119:11,22

Amen