Home Preke Die wet Op Sondag is ek in die erediens met lof en dank in my hart

Op Sondag is ek in die erediens met lof en dank in my hart

Datum: 2023-02-26
|
Reeks: Die wet
|
Kernverse: Ps.100:4,5

ONTMOETING

Votum: Ps.121:1,2

Seën: Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood opgestaan het en die Heerser oor die konings van die aarde.

Lof aan God: Ps.118:1,12

Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels

Sang: Ps.9:1,7,10

VEROOTMOEDIGING

Die Wet: Levitikus 19:1-18

Antwoord op die Wet: Skb.9-1/70:1,2

Gebed

VERKONDIGING

Sang: Ps.121:1,2

Lees: Psalm 100 en Sondag 38

Kernvers: Ps.100:4,5

Tema: Op Sondag is ek in die erediens met lof en dank in my hart

Sang: Ps.118:1,12; Ps.9:1,7,10; Skb.9-1/70:1,2; Ps.121:1,2; Ps.84:1,2; Ps.84:5,6

Inleiding:

Ons is in hierdie reeks preke uit die Kategismus besig om nie na die Wet van die Here te kyk as voorskrifte oor wat nie mag nie en wat moet nie. Ons kyk dieper na die Tien Gebooie soos die Here hulle van die begin af bedoel het. Dit is: Om vir God dankie te sê vir sy liefde en genade dat Hy ons volmaak verlos het en aan ons die ewige lewe gegee het. Vanoggend is ons by die vierde gebod.

Tema: Op Sondag is ek in die erediens met lof en dank in my hart

  1. Sondag is die dag van die Here

Psalm 100 is ‘n psalm wat pas by ‘n erediens op ‘n Sondag. Die psalm is ‘n psalm van lof en dank. Sondag is juis die dag vir ‘n bly hart vol lof en dank.

Waarom so?

Sondag is ‘n spesiale dag vir spesiale lof en dank, want Sondag is die dag van die Here.

Ons kry in die Ou Testament reeds in Genesis 2 dat God ‘n spesiale dag ingestel het. Die Here self het op die sewende dag van al sy werk gerus. Deur op daardie spesiale dag te rus, het Hy die sewende dag as gereelde rusdag ingestel (Gen.2:3). Trouens, in Gen.2:3 lees ons dat die Here die sewende dag as gereelde rusdag ingestel en geheilig het. Om die dag te heilig, beteken dat God die dag afgesonder het van al die dae van die week. Hy het die dag afgesonder as ‘n rusdag.

Die sewende dag van die week was in die Ou Testament die sabbat, die rusdag. Die sabbat, saam met al die ander spesiale dae in die Ou Testament was die skaduwee (Kol.2:16,17). Die werklikheid van die skaduwee is Jesus Christus. Die sabbat van die Ou Testament het gewys op die rus wat God gee. Die dag het nie net na liggaamlike rus gewys nie, maar veral na geestelike rus van sonde wat mens net by God kry.

Jesus het die werklike rus gebring. Hy het vir ons geestelike rus gebring deur te sterf en op te staan. Deur sy opstanding het Jesus die sonde en die dood oorwin en nuwe lewe vir almal wat aan God behoort gegee. Die nuwe lewe, was die lewe as verlostes wat deur Jesus Christus geestelike rus gekry het.

Jesus se opstanding en die nuwe lewe wat Hy vir sy gelowiges deur sy opstanding gegee het, het die dissipels en die vroegste kerk op die dag van sy opstanding bymekaar laat kom (Joh.20:19; Ha. 20:7, 1 Kor.16:2). Die opstandingsdag, die eerste dag van die week, Sondag het vir die dissipels en die vroegste gemeentes van Christus die dag van bymekaarkom geword. Die eerste dag van die week was so belangrik, dat die dag ‘n naam gekry het. Die dag se naam was: Die dag van die Here (Op.1:10).

In die Nuwe Testament is die eerste dag van die week die spesiale dag, die dag van die Here.

Ons leef in ‘ n land waar die Ou en die Nuwe Testament vir baie nie belangrik is nie. Sondag is vir meeste in ons land daarom nie die dag van die Here nie. Enigeen van ons kan na vanoggend se erediens deur Pretoria ry om duidelik te sien dat vir by verre die meeste mense in ons land is Sondag glad nie die dag van die Here nie. Dit is verkeerd en sonde!

2. Ons gemeente is syne

Waarom behoort Sondag, die dag van die Here vir ons gemeente baie belangrik te wees?

Die antwoord op hierdie vraag klink so:

  • Die Here is God.
  • Hy het ons gemaak.
  • Ons is syne.
  • Ons is sy volk.
  • Ons is sy eie kudde.

Hierdie is die woorde van Ps.100:3. Hierdie baie mooi woorde vertel van die spesiale verhouding tussen God en sy gemeente.

Die Here is die enigste God. Hy het ons gemaak. Net Hy is ons almal se Skepper. Ons is nie net deel van sy skepping nie. Ons is syne. Hy het ons deur sy Seun nuut geskep. Ons het nuwe lewe nodig gehad, want ons was sondig. Jesus het vir ons sonde aan die kruis gesterf. Deur sy dood het Hy ons losgekoop van die duiwel en sonde. Hy het ons syne gemaak. Elkeen wat aan Jesus Christus behoort, behoort ook aan God, sy Vader. Elkeen wat aan God behoort, het nuwe lewe, ewige lewe.

Ons wat aan Jesus behoort, is ook die nageslag van Abraham (Gal.3:29) en kinders en erfgename in die genadeverbond. Ons is sy verbondsvolk, sy Nuwe Testamentiese kerk, sy gemeente.

Ons gemeente is ook sy kudde. Ons leef onder sy liefde en sy sorg en sy beskerming.

Deur Jesus Christus het ons gemeente ‘n baie spesiale verhouding met God. Sy dag wat Hy vir Hom afgesonder het, is vir Hom baie belangrik. Die dag is so belangrik, Hy het een van sy gebooie in sy Wet aan die dag afgestaan. Omdat die Here se dag vir Hom baie belangrik is, behoort sy dag vir ons gemeente, vir elkeen van ons ook belangrik te wees.

3. Die Here wil ons op ‘n spesiale manier ontmoet

Ons weet nie wie die skrywer van Psalm 100 is nie. Die belangrike wat ons wel weet is dat die Heilige Gees hierdie Psalm laat neerskryf het. Die Heilige Gees laat die psalmdigter die gelowiges roep: “Dien die Here met blydskap! Kom voor Hom met gejubel!” (vs 2) en “Gaan sy poorte in met dankliedere, sy tempel met lofsange, dank Hom, prys sy Naam” (vs 4).

Die Here wil ons voor Hom hê.

Hy wil ons in sy tempel hê.

Die Here is alomteenwoordig. Hy is oral en altyd by ons en ons is oral en altyd by Hom. Maar…..die Here wil meer hê! Hy wil ons op ‘n spesiale manier op sy dag ontmoet. Hy wil ons op ‘n spesiale manier voor Hom hê. Hy wil ons op ‘n spesiale manier in sy tempel hê. In die tempel in die Ou Testament was die Here op ‘n spesiale manier by sy verbondsvolk. Israel het offers gebring. Die offers het gewys na vergifnis van sonde en vryspraak. In die tempel het hulle die sekerheid van verlossingf en vergifnis gekry.

Die bymekaarkomtyd en -plek vir ‘n gemeente in die Nuwe Testament is op Sondag in ‘n erediens. Die Here wil ons gemeente op ‘n spesiale manier ontmoet.

Die spesiale ontmoeting in die erediens is ‘n ontmoeting deur God se Woord. God wil met ons gemeente praat. Hy praat deur sy Woord. Daarom moet die Bybel elke erediens oopgemaak en gelees en gehoor word.

Die spesiale ontmoeting is ook ‘n ontmoeting deur die Heilige Gees. Om erediens toe te kom, is meer as om net uiterlik kerk toe te kom. Alles wat in die erediens gebeur, is meer as net uiterlike dinge. ‘n Preek is ook baie meer as die dominee wat preek en die gemeente wat na hom luister. Elkeen in die erediens het nodig om die Heilige Gees in my te laat werk. Met die Gees in my ontmoet ek tydens die erediens die lewende God. Ek is in sy teenwoordigheid. hoor Hom met my praat. In die sang en gebede tydens die erediens is ek in kontak met God, praat ek met Hom. Elke erediens is daarom ‘n baie spesiale ontmoeting met die Here.

Ek is in die erediens saam met ander gelowiges. Dit is deel van wat die erediens spesiaal maak. Ons gemeente wat aan Jesus Christus behoort, is saam met mekaar voor die Here in ‘n erediens.

Die Here wil ons gemeente op ‘n Sondag in ‘n erediens so saam met mekaar voor Hom hê.

4. Hy wil ons vertel van sy verhouding met ons

In die Here se ontmoeting met ons gemeente praat Hy met ons. Die heel belangrikste wat Hy vir ons gemeente op ‘n Sondag vertel en leer, is van sy verhouding met ons.

In Ps.100:5 kry ons die volgende baie belangrike woorde: “…die Here is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie, sy trou duur van geslag tot geslag.

  • Die Here vertel ons op ‘n Sondag tydens ‘n erediens dat Hy vir ons goed is.
  • Ons hoor dat die Here se liefde vir ons gemeente nie ‘n einde het nie.
  • Ons kry die sekerheid dat die Here van geslag tot geslag getrou sal bly.

Hierdie is die wonderlikste dinge om op ‘n Sondag te kan hoor!

God vertel ons dat Hy goed is – Hy wys sy goedheid in sy sorg. In ‘n sondige en stukkende land en wêreld is elke dag steeds ‘n dag onder God se sorg. Hy sorg vir ons na liggaam en na Gees, omdat Hy goed is.

Sy liefde vir ons is ewig – In die ewigheid het God ons al liefgehad. Hy het toe al besluit om uit liefde vir ons sy Seun aarde toe te stuur. Jesus Christus het God se liefde vir ons kom wys. Hy het uit liefde sy lewe vir ons aan die kruis gegee. Hy het vir ons uit liefde opgestaan en aan ons die nuwe lewe gegee. Ons nuwe lewe loop uit om lewe in die hemel ewig nuut by Jesus Christus ons Verlosser.

Hy bly van geslag tot geslag getrou – God het die dag toe Hy die verbond met Abraham gesluit het, gesê dat sy genadeverbond met Abraham en sy nageslag ewig is. Die verbond is eeue gelede in die Ou Testament gesluit. Ons leef baie later in die Nuwe Testament. Deur Jesus Christus is ons in 2023 ook kinders en erfgename in die genadeverbond. Dit gebeur, omdat God ewig getrou is. Hy sal altyd ons God bly en ons nooit alleen laat om self reg te kom nie.

Tydens elke erediens vertel God ons dat sy verhouding met ons uit goedheid, liefde en trou bestaan. Ons kan in elke erediens van hierdie wonderlike verhouding tussen God en ons hoor, omdat die Here ons sy genade gee.

In die verhouding met die Here kry ons soveel. Ons hoor dit elke erediens. Daar is ook ‘n tweede deel van ons verhouding met God en dit is wat Hy van ons wil hê. In  Psalm 100 kry ons die Here wat vra dat ons Hom met blydskap sal dien. Elke dag van ons lewe behoort ‘n dag te wees dat ek die Here met blydskap dien. Veral Sondae het ek nodig om Hom met blydskap in die erediens te dien.

5. Ons het alle rede om met vol harte in elke erediens te wees

Wanneer ‘n mens al hierdie dinge oor die dag van die Here in Ps.100 gelees en gehoor het, kom jy in werkliheid net by een antwoord uit: “Gaan sy poorte binne met dankliedere, sy tempel met lofsange, dank Hom, prys sy Naam” (Ps.100:4).

Om Sondag kerk toe te moet gaan, kan maklik ‘n plig word. ‘n Erediens word ‘n lastige plig, want elke week is daar soveel dinge wat in so ‘n kort tydjie moet gebeur. Om kerk toe te gaan, word lastig en moeilik, want ses dae in die week is nie genoeg nie. Daar is baie wat Sondag nog gedoen mooet word. Dit gebeur reeds. Agter die baie mense vir wie Sondag nie meer die dag van die Here is nie, sit die duiwel met sy boodsheid en die wêreld met sy verleidelikheid wat wil keer dat ons God ontmoet en van sy liefde en genade hoor.

‘n Christengelowige het die Heilige Gees in my hart. In die krag van die Gees sê ek nee vir die duiwel en die wêreld. Ek veg geestelik hard om die duiwel en die wêreld veral nie toe te laat om my op ‘n Sondag van die ontmoeting met God in die erediens af weg te hou nie.

Die Gees maak my hart vol van liefde vir God. Omdat ek die Here liefhet, wil ek graag op ‘n spesiale manier ook by Hom wees. Ek wil graag ook saam met ander Christengelowiges in ons gemeente by God weees.

Daarom kom ek erediens toe met ‘n danklied in my hart. Ek is in die erediens voor die Here en saam met ander gelowiges met lofsange wat uit my hart kom. In die erediens is my hart vol dank en prys en eer vir die Here ons God.

Ek is in elke erediens met ‘n vol hart, vol dank, vol lof, vol liefde. Met so ‘n hart wil ek nie ‘n erediens mis nie. Ek sien elke week uit na Sondag om op die Here se dag saam met ander in ons gemeente voor die Hom te wees.

Dit gaan in ons land en ons kerke en in ons gemeente nie goed met eredienste op Sondag nie. Hoekom nie? Is die Here se goedheid en liefde en trou dan nie genoeg nie?

Ons gemeente sal moet verander, ons moet bekeer. Wees jy die gelowige wat met die Heilige Gees in jou, anders leef. Leef anders deur te besef en te glo dat Sondag die dag van die Here is waarop Hy en ons gemeente ‘n afspraak het. Kom dan met ‘n vol hart erediens toe, ‘n hart vol geloof, ‘n hart vol blydskap, vol lof en vol prys, vol liefde en vol dankbaarheid.

ANTWOORD

Sang: Ps.84:1,2

Gebed

Liefdegawe vir barmhartigheid

Sang: Ps.84:5,6

Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee

Amen