Home Preke Die wet My liefde vir God laat my met liefde vir ander leef

My liefde vir God laat my met liefde vir ander leef

Datum: 2023-03-12
|
Reeks: Die wet
|
Kernverse: Rom.12:9

ONTMOETING

Votum: Ps.12.1:1,2

Seën: Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood opgestaan, en die Heerser oor die konings van die aarde.

Lof aan God: Ps.34:1,4

Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels

Sang: Skb.12-3:1,2

VEROOTMOEDIGING

Die Wet: Levitikus 19:1-18

Antwoord op die Wet: Skb.9-3:1,2

Gebed

VERKONDIGING

Sang: Skb.1-3:1,2,3

Lees: Romeine 12:9-21 en Sondag 40

Kernvers: Rom.12:9
Tema: My liefde vir God laat my met liefde vir ander leef

Sang: Ps. 34:1,4; Skb.12-3:1,2; Skb.9-3:1,2; Skb.1-3:1,2,3; Ps.116:1,5,7; Skb.2-4:1,2,3

Inleiding:

Vanoggend se preek is deel van die reeks uit die Katgismus oor die Here se Wet. Die preke gaan daaroor dat ons nie na die wet bloot mag kyk as dinge wat nie mag nie en dinge wat moet. Die wet is eerder die manier waarop ons vir God dankie sê vir sy wonderlike liefde en genade dat Hy ons van al ons sonde verlos het.

Vanoggend se preek oor die sesde gebod in die Here se wet gaan juis oor liefde. God se liefde vir ons en ons liefde vir Hom en ander mense. Liefde is ‘n woord soos hoop en geloof wat ‘n baie spesiale betekenis het. Ongelukkig gaan hierdie spesiale betekenis verlore wanneer die mense in die algemeen elke dag hierdie woorde gebruik.

Kom ons maak seker ons weet almal wat liefde in die Bybel beteken. Die Griekse woord vir liefde wat God vir ons het en liefde wat Hy vra, is omgee en opoffer. Ek het regtig liefde wanneer ek soveel omgee dat ek bereid is om opofferings te maak. Jesus is die heel beste Voorbeeld van liefde.

Tema: My liefde vir God laat my met liefde vir ander leef

  1. God se liefde vir ons is volmaak

Die Heilige Gees het Paulus gelei en gehelp om sy brief aan die gemeente van Jesus Christus in Rome op ‘n baie spesiale manier te skryf. Ons kan die brief in vier verdeel. Die begin, dan alle mense is sondig voor die Here en verdien die ewige dood, maar God verlos ons uit genade en uit liefde deur sy Seun vir ons te gee met die vierde deel oor hoe om as verloste nuwe mense vir God dankie te sê.

Ons is vanoggend by die “dankiesê-deel” van Romeine. Maar, mens kom nie los van God se liefde en genade vir ons nie en jy maak nie daarmee klaar nie. Juis hierdie hoofstuk oor dankiesê, begin met God se liefde vir ons. Paulus gebruik net ander woorde wat so klink: “..op grond van die groot ontferming van God” (vs 1).  God se groot ontferming is sy Seun wat Hy vir ons uit liefde gegee het en Jesus se baie groot liefde, die grootste liefde dat Hy sy lewe vir ons gegee het (Joh.15:13).

God se liefde vir ons is volmaak. Dit is nie net woorde nie. Sy liefde is regtig volmaak. Daar is soveel om hieroor te sê. Ek gee net twee voorbeelde.

Die eerste – Op die punt om te sterf, het Jesus aan die kruis gesê: “Dit is volbring” (Joh.19:30). Daardie woorde beteken Jesus het ons van al ons sonde volmaak verlos. Hy het die sondeskuld voor God dat elkeen van ons moes sterf, volmaak betaal deur in ons plek te sterf. Jesus het deur sy dood aan die kruis vir ons gewys hoe volmaak God se liefde vir ons is.

Die tweede – Die Heilige Gees wys vir Johannes honderd vier en veertig duisend gelowiges wat aan Jesus behoort het. Hulle staan voor die troon van God en voor die gekruisigde Jesus in wit klere. Die honderd vier en veertig duisend beteken die volle getal gelowiges wat aan die Here Jesus behoort. Elke enkele een sal daar wees, die volmaakte hemelse gelowiges. Elkeen het wit klere aan, volmaak skoon gemaak deur die bloed van Jesus aan die kruis. En dit, omdat God se liefde vir ons volmaak is.

Elkeen wat vanoggend hier is en aan Jesus behoort, is hier as ‘n Christengelowige omdat God se liefde vir ons volmaak is. Elkeen van ons kan en behoort met sekerheid te weet: God het my volmaak lief.

2. My antwoord aan God is liefde

God se liefde wat Hy in Jesus bewys het, verander ‘n mens se lewe heeltemal. Sy liefde kan ek nie en mag ek nie in my binnekant wegsteek nie. Ek mag ook nie God se volmaakte liefde vir my aanvaar sonder om dankie te sê nie.

God vertel my in sy Woord, die Bybel van sy liefde. Dit is hoe ek weet en glo dat Hy my volmaak liefhet. Hy vertel my ook in die Bybel hoe Hy wil hê ek vir Hom dankie sal sê. Die een manier om dankie te sê is om sy wet te gehoorsaam. Vanoggend is ons by die sesde gebod. God wil dat ek vir sy liefde dankie sal sê deur nie iemand anders dood te slaan nie (Eks.20:13 in die 53 vert) of deur nie moord te pleeg nie (83 vert).

Die Tien Gebooie is in ‘n sekere manier geskryf. Die Here noem ‘n deel, die kern, maar Hy praat van baie meer. Ons het nodig om die sesde gebod dieper te lees. Die res van die Bybel help ons baie hiermee. Die Heidelbergse Kategismus, Sondaag 40 help ook.

Die dieper betekenis van die sesde gebod is dat die gebod in werklikheid oor liefde vir ander mense gaan. Ons verstaan die gebod so: Afguns, haat en woede is nie liefde nie. Om my naaste lief te hê, geduld, vredeliewendheid, sagmoedigheid, barmhartigheid en vriendelikheid is liefde. Hierdie verduideliking kry ons in die Kategismus. Die Kategismus is een van die antwoorde wat ons kerke gee oor hoe ons die Bybel verstaan en glo.

Kom ons kyk nou in Rom.12.

God wil dat ek sy liefde sal antwoord met liefde vir medegelowiges. In vs 10 sê die Heilige Gees deur Paulus:”Betoon hartlike broederliefde teenoor mekaar”.  Broederliefde is liefde wat medegelowiges vir mekaar het.

Liefde vir medegelowiges wys ‘n gelowige op verskillende maniere wat die Here ons hier in Rom.12:10-16 vertel en leer. Daar is soveel in hierdie verse. Kom ons kyk na vier maniere om mekaar lief te hê.

Vs 10Eerbied vir mekaar – Eerbied is in ‘n gemeente veral belangrik. Ons kan eerbied vir mekaar so verstaan: Ek dink nie van myself meer as van ander nie (Rom.12:3) en ek aanvaar dat die Here ander gelowiges in die gemeente in my lewe gebring het en dat ek medegelowiges nodig het (1 Kor.12:21).

Vs 13Help medegelowiges in hulle nood – Leer medegelowiges in die gemeente ken. Ken ook hulle nood. Mens kan fisiese nood soos siekte hê, maar ook emosionele nood soos alleenheid en geestelike nood soos onsekerheid waarom die Here my deur moeilike omstandighede laat gaan. Liefde is om mekaar in al hierdie nood te help.

          – Wees gasvry – Gasvryheid is om iemand tuis en op sy gemak te laat voel, veral wanneer iemand vreemd en onseker is. Die Here vra in werklikheid dat elkeen van ons as Christengelowige uit my pad sal gaan om gasvry te wees. Ek het nodig om moeite te doen om iemand tuis en op sy of haar gemak te laat voel.

Vs 16Wees eensgesind – Om eensgesind te wees is regtig baie belangrik veral onder medegelowiges in ‘n gemeente. Die Heilige Gees bind ons aan Jesus Christus en aan mekaar. Glo saam in Jesus Christus. Wees saam lief vir Hom. Praat met mekaar oor Hom. Kom saam erediens toe om saam met mekaar die verlossingsboodskap te hoor. Bid vir mekaar.

God is die Skepper van alle mense, daarom vra Hy ook liefde vir ander. Ons kry die Here se wil om alle mense lief te hê ook in 2 Pet.1:7. Hoe bewys ek liefde aan mense wat ek nie as medegelowiges in my gesin, my gemeente, by my werk en in my gemeenskap ken nie. Kyk ook saam na vier maniere hoe ons vir alle mense liefde kan wys, om vir die Here dankie te sê vir sy liefde.

Vs 17Wees goedgesind teenoor alle mense – Hierdie woorde beteken dat ek my goedgesindheid aan ander sal wys deur goeie dinge te sê en te doen. Die wêreld vloek mekaar, wat vir die Here ook moord is. Ek praat as Christengelowige woorde wat goed en opbouend is (Ef.4:29). In ons land gebruik baie mense geweld teenoor mekaar. Aanranding en moord is deel van elke dag. Ek Leef deur die Heilige Gees so dat ek goed doen aan ander.

Vs 18Leef in vrede met alle mense – Onenigheid, rusie, haat en vyandskap het alledaags in ons samelewing geword. Hierdie is alles vir die Here oortreding van sy sesde gebod en moord. Ek het deur Jesus vrede met God. Ek het die Heilige Gees in my wat my lei en help om in vrede met alle mense te leef. Trouens, vrede is deel van die vrug van die Gees (Gal.5:22).

Vs 20Doen goed aan jou vyande – Liefde is om op te offer. Om op te offer is nie maklik nie. Om iemand met wie ek glad nie oor die weg sal kom nie, lief te hê en goed aan daardie persoon te doen, is moeilik. God het ons liefgehad toe ons nog sy vyande was. Om dankie te sê vir sy liefde, wil Hy dat ek aan my vyande goed sal doen. Wanneer ek goed doen, kry my vyand skaam oor sy of haar slegte lewe. Die Here gebruik my goed doen, om iemand anders se lewe vol kwaad te verander.

Vs 21Oorwin die kwaad deur die goeie – Die wêreld is vol slegte dinge, vol kwaad. Ons land is so. Die kwaad is baie meer as die goed. Dit lyk baie keer of die kwaad te veel en te sterk is en ons sal oorweldig. Mense sonder die Here of ver van Hom af, word maklik deur die kwaad beïnvloed. Hier is een rede waarom daar soveel kwaad in ons land is. Elke Christengelowige het die Heilige Gees in my. Ek het die geestelike krag om anders as die meeste in ons land te leef en goed te doen. Met die Heilige Gees wat my help, kan ek die kwaad deur die goeie oorwin.

3. Liefde vir ander getuig van my liefde vir God

Liefde, omgee en opoffer vir medegelowiges en selfs vir mense wat ek nie as medegelowiges ken nie, is wat God van my wil hê. Hy wil dat ek met my liefde vir ander mense vir Hom dankie sal sê vir al sy liefde en sy genade in my lewe.

Dan is my liefde vir ander, my omgee en my opofferings, die getuienis in my lewe dat ek God liefhet. Wanneer ons so na God se sesde gebod kyk en so oor liefde vir ander lees, behoort elkeen van ons te besef dat liefde nie maklik is nie en ook nie goedkoop nie. Liefde kom van God af. Hy gee volmaakte liefde. Hy vra van my liefde. Met die Heilige Gees in my, gee ek dan die liefde wat God van my vra. Ek gehoorsaam so sy sesde gebod, nie omdat ek moet nie, maar omdat ek Hom liefhet en Hom wil gehoorsaam.

ANTWOORD

Sang: Ps.116:1,5,7

Gebed

Liefdegawe vir barmhartigheid

Sang: Skb.2-4:1,2,3

Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee

Amen