ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die werk van die Heilige Gees
Lof aan God: Ps.100:1,2,3,4
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sang: Skb.12-3:1,2
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Antwoord op die Wet: Ps.32:3
Gebed
VERKONDIGING
Sang: Ps.30:1,3
Lees: Psalm 19 en Sondag 43
Kernvers: Ps.19:15
Tema: Ek dank die Here uit my hart met al die woorde van my mond
Sang: Ps.100:1,2,3,4; Skb.12-3:1,2; Ps.32:3; Ps.30:1,3; Ps.107:1,3; Ps.33:1,2
Inleiding:
“Jy mag geen vals getuienis teen jou naaste spreek nie” is die bekende woorde van die negende gebod waarna ons vanoggend weer geluister het. Dit is vir elke Christengelowige baie belangrik om te weet wat die heilige God van my in sy negende gebod vra. Vanoggend leer ons die negende gebod beter en dieper ken.
Tema: Ek dank die Here uit my hart met al die woorde van my mond
“Die hemel getuig van die mag van God, die uitspansel maak die werk van sy hande bekend” (Ps.19:2). So begin Dawid hierdie Psalm wat hy deur die Heilige Gees geskryf het.
Ons kyk eers na die woorde wat Dawid gebruik het. Die eerste belangrike woord is “die mag” van God (83 vert) of dan “die eer” van God (53 vert). Die beter woord is “eer”. Die Hebreeuse woord wat Dawid gebruik het, se heel basiese betekenis is “swaar”. Iets soos ‘n groot klip byvoorbeeld, weeg swaar.
Dawid het hierdie woord in sy dieper betekenis gebruik. Dan beteken die woord die volgende: Belangrik, indrukwekkend, ontsagwekkend of buitengewoon magtig.
Die hemel getuig of vertel dat God baie belangrik is, dat Hy indrukwekkend, ontsagwekkend en buitengewoon magtig is.
‘n Mens kan nie hierdie woorde lees en bloot net sê dat dit so is nie. Die Heilige Gees het Dawid hierdie woorde laat skryf dat ons kan lees, verstaan, glo en daarvolgens sal leef. Daarom, is dit baie belangrik dat ek elke keer wanneer ek na die hemel kyk, sal besef en glo dat God baie belangrik, dat Hy indrukwekkend, ontsagwekkend en buitengewoon almagtig is.
Ek mag sê wanneer ek na die hemel kyk dat die lug vandag darem blou is, of dat die weer mooi opsteek of dat die sonsondergang baie mooi is. Maar….ek, wat ‘n Christengelowige is, mag nie net by hierdie woorde bly nie. Ek weet meer, daarom moet ek regtig meer sê. Ek het die Heilige Gees in my, daarom kan ek meer sê.
Ek kan vir die mense in my lewe, my gesin, familie, vriende en medegelowiges saam in die gemeente byvoorbeeld vertel dat ek net weer besef het hoe belangrik God in my lewe is toe ek vanoggend na die blou hemel gekyk het.
Die tweede belangrike woord is “werk van sy hande”. Dawid het verder geskryf dat die uitspansel die werk van God se hande vir ons wys. Elke mens is so geskep dat jy in die skepping, die natuur kan sien en weet dat daar ‘n ware God is en dat Hy groot krag het wat ewigdurend is (Rom.1:20).
Ek wat die Heilige Gees in my het, kan weet en glo dat God alles gemaak het. Alles is die werk van sy hande. Hy het alles gemaak. Alles is syne. Hy sorg vir alles. Elke dag en elke nag, die son en saam met die son, ook die maan en die sterre het hierdie duidelike boodskap dat God ontsagwekkend en buitengewoon almagtig is.
Die skepping, die natuur om my, is daar dat ek God kan ken. Ons hier aan die noorde van Pretoria en in hierdie land met sy besondere natuurskoon, het baie geleentheid om God goed te kan ken.
2. Sy Woord gee lewe
Dawid het ook oor die Here se Woord geskryf. Al die verskillende woorde in die Psalm se tweede deel is woorde vir God se Woord, die Bybel. Dawid het deur die Heilige Gees geskryf van die Here se Woord, sy onderwysing, bevele, gebod, eise en bepalings.
In die Here se Woord, die Bybel kan ons Hom nog beter leer ken. Ons kan die Here ken as die Een wat lewe gee, nuwe lewe gee. Ons weet uit die res van die Bybel, veral die Nuwe Testament dat God lewe deur sy Seun gee.
Die ganse mensdom, elkeen van ons ook, was vasgevang in die greep van die ewige dood onder God se oordeel. Die Here het ‘n baie groot en buitengewone verandering gebring. Op ‘n almagtige manier het Hy sy Seun mens laat word. Jesus het ons sonde op Hom geneem. Met ons sonde op Hom het Hy in ons plek die straf van die heilige God op sonde gedra en aan die kruis gesterf vir ons gesterf. Deur sy dood aan die kruis, het Jesus Christus ons van die mag van die sonde en die dood verlos.
Hy het op die derde dag uit die dood opgestaan. Deur sy opstanding het Jesus Christus die dood oorwin en aan ons nuwe lewe gegee.
Die Bybel is geen gewone boek nie. Die Bybel is die wapen wat die Heilige Gees gebruik om aan my geloof en Jesus Christus en deur my geloof, lewe, ewige lewe te gee. Ek het die Bybel, sodat ek God nog beter kan leer ken en in Hom glo.
3. My hart is vol dankbaarheid
Die Heilige Gees leef in elkeen wat in Jesus Christus glo. Die Heilige Gees gebruik die natuur, God se skepping en die Bybel om my hart vol dankbaarheid te maak.
My hart brand van dankbaarheid dat ek God in sy skepping kan leer ken. Hier in ons mooi omgewing gaan ek nie met toe oë deur die lewe nie. Elke enkele dag kan ek na die blou lug, na die wolke, na die berge en die bome en plante kyk. Ek kan God leer ken as die ontsagwekkende God.
Ek kan ook elke dag die Bybel oopmaak en lees dat ek by Jesus Christus volmaakte verlossing van sondes en die ewige gekry het.
Ek het alles wat ek nodig het om God te kan ken en naby Hom en vir Hom te leef, met ‘n hart wat brand van liefde en dankkbaarheid.
4. My woorde is daarom woorde van dank
Hoe wys ek vir die Here dat my hart van dankbaarheid brand?
Dankbaarheid is nie net gevoelens of woorde nie. Ek sê vir God dankie en ek wys my liefde vir Hom deur sy Wet te gehoorsaam.
Hierdie reeks preke uit die Kategismus gaan juis hieroor dat die Wet ‘n manier is om vir God dankie te sê. Ons mag nie die Wet sien as bloot reëls of pligte wat ek moet nakom nie. Allesbehalwe!
Die Wet, elke gebod gaan oor my verhouding met God en my dankbaarheid en my liefde vir Hom. Ek wys my dankbaarheid en my liefde deur nie enige vals getuienis oor my lippe te laat kom nie.
Wat is vals getuienis, waarvan die Here in sy negende gebod praat? Ons belydenis, die Heidelbergse Kategismus verduidelik vals getuienis so:
Niks hiervan kom sommer vanself nie. Daarom het ek elke dag nodig om die Here in gebed te vra om my te help om sy negende gebod uit te leef. My gebed van elke dag oor die negende gebod klink dan so: “Mag wat ek sê en wat ek dink tog vir U aanneemlik wees, Here, my Rots en my Verlosser” (Ps.19:15).
ANTWOORD
Sang: Ps.107:1,3
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sang: Ps.33:1,2
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, die liefde van God ons Vader en die gemeenskap van die Heilige Gees sal met julle almal wees
Amen