ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat uiit die dood opgestaan het en die Heerser oor die konings van die aarde
Lof aan God: Sb.4-6
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sang: Ps.71:9
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Levitikus 19:1-18
Antwoord op die Wet: Ps.86:6
Gebed
VERKONDIGING
Sang: Sb.2-2:1,3
Lees: Deuteronomium 10:10-22 en Sondag 34
Kernverse: Dt.10:12-15
Tema: Ek dank die Here deur net Hom as my God te dien
Sang: Sb.4-6; Ps.71:9; Ps.86:6; Sb.2-2:1,3; Sb.9-1:1,2,10; Sb.15-1:1,2,3,4
Inleiding:
Indien ‘n mens die Wet in Eksodus 20 nie goed en diep genoeg lees nie, kan jy maklik dink dat hier tien gebooie is, tien geestelike reëls of wette van wat ‘n gelowige nie mag nie en moet. Waarskynlik lees en verstaan baie Christengelowiges die Wet so.
Twee probleme wanneer ‘n mens die Wet so lees en verstaan, is die volgende, daar is meer:
Die eerste – My geloof word ‘n “mag nie en moet” geloof. As gelowige mag ek seker dinge nie doen nie en moet ek sekere dinge doen. Geloof word dan ‘n lewe volgens die wet en die gebooie. Dikwels word die wet so verstaan dat jy by mensgemaakte gebooie, mensegemaakte geestelike reëls uitkom.
Die tweede – Die tweede probleem is dat die Here ons in sy Woord teen hierdie “mag nie en moet” geloof waarsku. Luister hierna: “Julle het saam met Christus gesterwe en is dus dood vir die wettiese godsdienstige reëls van hierdie wêreld. Waarom lewe julle da nog asof julle aan hierdie wêreld bejoort? Waarom gehoorsaam julle allerhande voorskrifte soos: ‘Hieraan mag jy nie vat nie! Daaraan mag jy nie jou mond sit nie! Daaraan mag jy nie raak nie!” (Kol.2:20,21).
Hierdie reeks preke oor die Here se Wet is bedoel om elkeen wat hoor en lees, te leer en toe te rus om die Wet dieper te lees as wat ek nie mag nie en wat ek moet. In die reeks preke gaan ons na die wet kyk vanuit die vollgende baie belangrike waarhede in die Bybel –
God het my uit liefde en genade aan Hom gebind.
Ek behoort aan Hom.
Hy het my uit genade en liefde verlos, vergewe en vrygespreek.
Ek sê vir Hom dankie met my liefde vir Hom en my gehoorsaamheid aan Hom.
Tema: Ek dank die Here deur net Hom as my God te dien
Die boek Deuteronomium gaan oor alles wat die Here Moses beveel het om vir Israel, die verbondsvolk te sê. In die woestynvlakte aan die oostekant van die Jordaan het Moses, in opdrag van die Here, op ‘n keer met Israel, die verbondsvolk, gepraat en die Here se wet vir hulle herhaal en aan hulle verduidelik.
Die Wet wat die Here vir Israel gegee het, het so begin: “Ek is die Here jou God…” (Eks.20:2). Moses het hierdie woorde van die Here so verduidelik:
Dt.10: 14 – “Die hemel, selfs die hoogste hemel, behoort aan die Here jou God, ook die aarde en alles daarop” – Met hierdie woorde leer die Here vir Israel en vir ons vandag dat Hy die Skepper van die hemel en die aarde is en Hy alleen. Daar is net een Skepper van heme en aarde. Net die Here is die Skepper.
Dt.10:17 – “Die Here , jou God, Hy alleen is God…” Hierdie waarheid kry ons op baie plekke in die Bybel. Daar is regtig net een God. Hy is die Here.
Iemand mag dink: Maar ons glo mos almal so!
Wel, die gelowige wie se geloof en godsdiens uit mag nie en moet, bestaan, het self besluit: My geloof bestaan uit wette en geestelike reëls. Ek leef gelowig deur nie te doen wat ek nie mag nie en te doen wat ek moet. Dit beteken dat so iemand in werklikheid sy of haar eie god is wat self besluite oor sy of haar geloofslewe neem. In so ‘n gelowige se lewe is daar dus ‘n ander god. Die god het ‘n naam: Die eie ek!
Daar is net een God.
Elke gelowige wat Dt.10 en die hele Bybel lees moet regtig seker maak dat ek nie my eie god is nie en self besluit en bepaal hoe ek glo nie.
2. Hy het my gekies om aan Hom te behoort
Oor die Here se Wet het Moses ook die volgende vir Israel daardie dag gesê: “Die hemel, selfs die hoogste hemel, behoort aan die Here jou God, ook die aarde en alles daarop. En tog het Hy sy liefde net aan jou voorvaders betoon en vir julle, hulle nageslag, uit al die volke uitgekies. Dit is nou nog so” (Dt.10:14,15).
Moses het met Israel oor die Here se wet gepraat en dan vertel en leer hy hulle daardie dag dat God die Skepper is aan wie alles behoort en dat Hy Israel uit liefde gekies het om aan Hom te behoort.
Israel was nie ‘n vername en sterk volk wat verdien het dat God hulle as sy verbondsvolk gekies het nie. Die genadeverbond het by een mens, Abraham begin. Die verbondsvolk het eintlik by Jakob begin wat gedurig ander planne gemaak het, vir sy eie voordeel. Nie een van die twee was so goed en so belangrik dat God na hulle sou kyk nie. Tog het Hy!
Israel self was ‘n slawevolk wat onder baie moeilike omstandighede in Egipte geleef het. Die Egiptenare was ‘n belangrike volk, met baie kennis, ‘n baie ryk tradisie en kultuur en ‘n sterk militêre mag. God het nie na hulle gekyk en hulle gekies nie. Hy het Israel gekies, ‘n nietige en sukkelende volk om aan Hom te behoort.
Hoe belangrik is elkeen van ons in ‘n wêreld met bykans 8 miljard mense? Watter posisie het ek in die wêreld, in ons land, in die stad waar ons bly, dat God my sou kies om aan Hom te behoort?
My posisie het nie vir God saakgemaak nie. Hy het my liefgehad. Hy het besluit om aan my, nietige en sondige mens genade te bewys. Hy het uit liefde sy Seun na die wêreld gestuur. Jesus Christus het uit liefde vir my aan die kruis gesterf. Deur vir my te sterf, het Hy my losgekoop van die duiwel, sonde en die ewige dood. Hy het vir my op die derde dag uit die dood opgestaan. Deur sy opstanding het Hy vir my die dood oorwin en aan my die ewige lewe gegee.
Deur sy kruisiging en opstanding het Jesus Christus my syne gemaak. Omdat ek aan Jesus Christus, God se Seun, my Verlosser behoort, behoort ek aan God.
Dit alles het God vir my gedoen uit GENADE en uit LIEFDE!
Geloof, ware en opregte geloof, begin nie by wat ek nie mag nie en wat ek moet. Ware, opregte geloof bestaan ook nie uit wat ek nie mag nie en wat ek moet.
Ware geloof begin by God se genade en sy liefde vir my!
Ware, opregte geloof bestaan daarin dat ek God liefhet en met ‘n hart vol dankbaarheid vir Hom leef!
3. Ek leef daarom met ‘n dankbare hart
In Sondag 1 van die Heidelbergse Kategismus het ons gelees en gehoor dat as ek regtig met Jesus Christus as my Enigste Troos wil leef, ek moet weet hoe om vir Hom dankie te sê dat Hy my verlos het deur vir my te sterf en vir my uit die dood op te staan.
In my hart, behoort daar elke dag van my liewe die diepste dankbaarheid te wees dat God se Seun my syne gemaak het. Jesus Christus het deur sy kruisiging en opstanding my lewe vir ewig verander.
Deur wat Hy vir my gedoen het, lewe ek!
Deur Jesus Christus het ek die ewige lewe!
Hoe antwoord ek Hom hiervoor?
Hoe antwoord ek God die Vader vir sy genade en liefde?
My antwoord moet uit my hart kom. My antwoord aan God vir al sy liefde en al sy genade is ‘n dankbare hart. Hoe leef ek met ‘n dankbare hart? Ek het die Heilige Gees in my. Die Gees gee vir my ‘n gelowige hart. Ek leef deur die Heilige Gees my geloof uit. Ek leef my geloof uit, deur vir God die Vader en Jesus Christus, sy Seun, elke dag dankie te sê.
4. Ek wys vir God eer, liefde en gehoorsaamheid in my lewe
Die dankbaarheid in my hart, mag nie net in my hart bly nie. Opregte dankbaarheid wys in ‘n gelowige se lewe. Moses het Israel vertel en geleer hoe om hulle dankbaarheid vir God te wys. Wat hy vertel en geleer het, het die Heilige Gees laat neerskryf, sodat ons ook kan lees en kan hoor.
Hoe wys ek my dankbaarheid?
Die Here het Israel geleer om hulle dankbaarheid op die volgende maniere uit te leef:
Vs 12 – “En nou, Israel, die Here jou God vra net dat jy Hom moet eer, sy wil moet gehoorsaam, Hom moet liefhê en dien met hart en siel.”
Vs 16 – “Wy jou aan Hom en moenie hardkoppig wees nie.”
Vs 19 – “Jy moet die vreemdeling liefhê, want jy was self ‘n vreemdeling in Egipte.”
Vs 20 – “Jy moet die Here jou God eer, Hom dien en aanhang, en wanneer jy ‘n eed aflê, moet jy dit in sy Naam doen.”
Vs 21 – “Jy moet Hom prys, want Hy is jou God en Hy het al hierdie magtige wonderdade wat jy met jou eie oë gesien het, vir jou gedoen.”
Hierdie woorde kan ons vir ons vandag so saamvat:
Eer – glo en aanvaar net die Here as die enigste God.
Liefde – liefde is om te gee, te offer. Offer, gee jou lewe vir God.
Gehoorsaamheid – wys jou liefde deur in alles na God se wil te vra en sy wil te doen.
Wanneer ek met die Heilige Gees in my, net aan God al die eer en liefde en gehoorsaamheid bewys, wys ek dankbaarheid net aan Hom vir al sy liefde en al sy genade.
Wanneer ek met ‘n dankbare hart voor die Here as my enigste God leef, leef ek die eerste gebod in my lewe uit.
ANTWOORD
Sang: Sb.9-1:1,2,10
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sang: Sb.15-1:1,2,3,4
Seën: Die genade van ons Here, Jesus Christus, die liefde van God ons Vader en die gemeenskap van die Heilige Gees sal met julle almal wees
Amen