Home Preke Die wet Ek dank die Here deur my hart op die regte plek te hou.

Ek dank die Here deur my hart op die regte plek te hou.

Datum: 2023-03-26
|
Reeks: Die wet
|
Kernverse: Mt.6:19-21

ONTMOETING

Votum: Ps.121:1,2

Seën: Genade, en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood op gestaan, en die Heerser oor die konings van die aarde

Lof aan God: Ps.146:1,8

Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels

Sang: Skb.12-3:1,2

VEROOTMOEDIGING

Die Wet: Levitikus 19:1-18

Antwoord op die Wet: Ps.38:1,17

Gebed

VERKONDIGING

Sang: Ps.25:2

Lees: Matteus 6:19-34 en Sondag 42

Kernverse: Mt.6:19-21

Tema: Ek dank die Here deur my hart op die regte plek te hou

Sang: Ps.146:1,8; Skb.12-3:1,2; Ps.38:1,17; Ps.25:2; Ps.119:1,7; Ps.25:4,6

Inleiding:

Wanneer steel ‘n mens? Steel mens net met jou  hande of is daar ook ‘n ander manier van steel?

Hoe sorg ek dat ek nie steel nie?

Om die agtste gebod reg te verstaan en te glo en te leef, is daar niemand beter om by te leer as Jesus Christus, ons Verlosser en Here nie!

Tema: Ek dank die Here deur my hart op die regte plek te hou

  1. Ek maak nie skatte op aarde bymekaar nie (vs 19)

Wat bedoel Jesus met die aarde? Hy bedoel baie meer as die plek waarop ons leef. Jesus praat van die gesindheid van mense op aarde, die ingesteldheid, die manier waarop mense dink. Hoe kyk jy na lewe op aarde? “Aarde” waarvan Jesus gepraat het, sluit alles in: My eie lewe, ander mense in my lewe, my huis, my werk, my omgewing, alles waarna mens op aarde kan kyk.

Hoe moet ons bymekaarmaak verstaan? Ons kan sê bymekaarmaak van skatte op aarde is:

  • Liefde vir alles hier. My tyd, my energie, my trane, my vreugdes, alles gee ek vir ‘n lewe op aarde. Woorde wat hierby pas, klink so: Ek leef net vir my kinders of ek gee alles vir my werk, of my sport is my lewe.
  • Bekommernis oor wat verkeerd kan loop op aarde met mense, en dinge en gebeure. Wanneer ‘n mens met bekommerde gedagtes, gevoelens en woorde leef, is dit in werklikheid bymekaarmaak.

Dan is daar skatte – Jesus praat van meer as net geld en goed. Mense en dinge en gebeure op aarde is ook skatte.

Om saam te vat: Jesus praat van enigiets wat net aan hierdie lewe behoort. Ek maak vir my ‘n skat op aarde bymekaar wanneer enigiets of enigiemand wat net tot hierdie lewe behoort, te belangrik vir my word of die belangrikste plek in my lewe inneem. Dit kan ‘n mens wees. Dit kan ‘n gebeurtenis wees. Dit kan ‘n posisie wees. Dit kan enigiets wees.

Waarom is dit steel? God leen almal en alles vir jou hier op aarde. Alles en almal is in die eerste plek syne. Jou huweliksmaat is God se kind en erfgenaam in die genadeverbond. So is jou kind, jou ouer en al die ander gelowige mense in jou lewe.  Wanneer jy ‘n mens wat aan God behoort, die belangrikste in jou lewe maak, vat jy in werklikheid iemand wat aan God behoort, vir jou. Jy mag nie wie die Here net vir ‘n tyd vir jou gun, net joune wil maak nie.

Al jou besittings is God se besittings. Jy is hier om alles vir Hom te bestuur, sodat jy eerbaar kan leef, ander kan help en aan God die erkenning en eer kan gee. Wanneer jy geld en goed net vir jou wil hê maak jy die Here se goed wat die Hy aan jou toevertrou het, jou eie. Dit is steel.

Enige gebeurtenis is geskiedenis wat God laat gebeur terwyl Hy die hele skepping na die eindtyd toe lei wanneer sy Seun weer sal kom om alles nuut te maak. Deur ‘n gebeurtenis te sien as dié hoogtepunt in jou lewe wat jou lewe vir altyd verander het, vat jy ‘n deel van God se geskiedenis wat Hy einde toe neem, om hier te hou en hier te koester.

Jesus gee ook die rede waarom skatte op aarde nie mag nie. Die rede is: Mot en roes verniel en diewe breek in en steel. Hierdie is ‘n voorbeeld wat Jesus gebruik.  Hy bedoel met sy woorde:

  • Besittings word oud en verniel en gaan tot niet.
  • Gebeure gaan verby en ander gebeure kom
  • Mense word oud en swak en sterf.

Niks bly op aarde nie. Moenie skatte hier bymekaarmaak nie, is wat Jesus ons leer.

2. My skatte maak ek in die hemel bymekaar (vs 20)

Hoe maak ek skatte in die hemel bymekaar?

Ek leef in ‘n verhouding met God. ‘n Verhouding met God is ‘n verhouding met liefde vir God. (Mk.12:30). ‘n Regte en goeie verhouding met God is waar ek erken dat alles en almal aan Hom behoort met Hom die Alleeneienaar (Ps.24:1).

Ek bou aan my verhouding met God deur die regte, dit is die Bybelse  verhouding met myself te hê – Ek is ‘n reisiger op pad, ‘n geloofsatleet op pad na die wenstreep (Fil.3:14) en ‘n dienaar van die Here sonder enige verdienste (Lk.17:10)

Nog ‘n skat in die hemel is my verhouding met mense, veral liefde en vergewingsgesindheid  – (Ef.4:32)

Die regte, dit is die Bybelse verhouding met gebeure is ‘n skat in die hemel. Die Bybelse verhouding met gebeure is dat ek sal besef en glo wat gebeur, is God se geskiedenis met Jesus Christus in die middelpunt van alles wat gebeur (Dan.2:44).

‘n Laaste skat in die hemel vir vanoggend is my verhouding met goed. God vertrou sy goed aan my toe om dit vir Hom te bestuur (Ef.4:29). Ek breek my verhouding met God, indien ek dink en leef asof alles my geld en my goed is. Ek bou my verhouding met God, wanneer ek sy geld en sy besittings vir Hom bestuur en versorg.

1 Tim.6:17-19 is ‘n baie goeie verduideliking van wat Jesus hier vertel en leer. Luister na wat die Heilige Gees Paulus laat skryf het:”Dié wat in hierdie wêreld ryk is, moet jy waarsku om nie hooghartig te wees nie. Hulle moet nie hulle hoop op die onsekerheid van rykdom vestig nie, maar op God wat alles ryklik aan ons gee om te geniet. Spoor hulle aan om goed te doen, om ryk te wees in goeie dade, vrygewig en mededeelsaam. So vergader hulle vir hulle ‘n skat as ‘n goeie belegging vir die toekoms, sodat hulle die ware lewe sal verkry.”

Terwyl alles en almal op aarde verganklik is, is niks in die hemel tydelik en verganklik nie. Lewe in die hemel is ewig en volmaak. Maak skatte vir die toekoms in die hemel bymekaar, is wat Jesus ons leer.

3. Met die Here se genade is my hart waar my skat is (vs 21)

Hier kom ons by die soveelste voorbeeld van die wonderlike eenheid tussen die Ou en die Nuwe Testament. Luister na Spr.4:23 – “Wees veral versigtig met wat in hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe.” Jesus se woorde daar teen een van die berge in Kapernaum se omgewing sê presies dit: “Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.”

In hierdie vers leer Jesus ons dat lewe in die koninkryk van die hemel, lewe as gelowige, lewe volgens die Here se Wet en dan vanoggend lewe volgens die agtste gebod in die eerste plek met my hart te doen het.

Die eintlike diefstal is steel met ‘n mens se hart. Niemand sien nie. Niemand weet nie. God sien en Hy weet. Met diefstal met die hart is daar geen inhegtenisname, geen verhoor en vonnis nie. Maar Jesus Christus weet van elke diefstal met my hart. Hy kom weer. Hy kom as die Hemelregter. Elke hart sal oop en bloot voor Hom lê.

Daarom die volgende belangrike vraag: Hoe kry ek dit reg om my hart op die regte plek te hê en te hou?

Ek het die kruis op Golgota nodig. Daar, waar Jesus aan die kruis gesterf het, daar lê my antwoord op hierdie moeilike vraag in elkeen van ons se lewe. Jesus het sy lewe vir my gegee om my los te ruk uit die boosheid van die duiwel, die sonde en hierdie wêreld. Deur sy dood behoort ek nou aan Jesus en het ek in die koninkryk van die hemel ingegaan. Ek het die leë graf in die tuin van Josef van Arimatea nodig. Jesus het daar uit die dood opgestaan, en aan my die nuwe lewe, die lewe met God, die ewige lewe gegee.

Jesus het deur sy kruisiging en opstanding my losgemaak van hierdie aardse lewe en liefde vir alles hier wat in werklikheid so verganklik en so tydelik is.

Ek het die Heilige Gees nodig. Die Gees kom in my hart en my gedagtes. Hy lei my en help my om nuut te leef. Met die Gees in my breek ek met enige vorm van steel in my lewe. Met die Gees in my maak ek nie skatte op aarde bymekaar nie. Ek het ‘n skat in die hemel. En deur die Gees kan ek nie wag dat Jesus weer kom, sodat ek my skat kan ontvang en die wonder van my hemelse skat saam met Hom die ewige skat in die hemel ewig kan beleef nie.

4. Slot

Wanneer ‘n mens die gebod lees, is dit belangrik om te verstaan, te besef, te aanvaar, te glo, te onthou en te leef wat die Here sê.

Die Here praat van meer as om met ‘n mens se hande iets te vat – soos die dief wat kabels steel in ons omgewing of die krane hier buite ons gebou nou die nag.  Wat ons moet verstaan is dat die Here ‘n deel van die gebod noem. Hy noem die kern van alles: Jy mag nie steel nie. Daar is baie meer in die gebod.

Verder is die gebod vir elke gelowige in die genadeverbond, vir my bedoel. Ek het nodig om alles in die Bybel oor hierdie gebod te glo. Saam met my geloof in die Here, gaan die gebod oor my verhouding mt God, dit is my liefde vir Hom en my dankbaarheid teenoor Hom.

Hierdie gebod is vir elke dag van my lewe, oral en altyd. Dit is ‘n gebod wat met my liefde vir die Here te doen het.

Ek het die Here lief en ek sê vir Hom dankie vir die wondergenade van my verlossing, daarom hou ek my hart op die regte plek. Ek maak nie skatte op aarde bymekaar nie. Ek maak skatte in die hemel bymekaar!

ANTWOORD

Sang: Ps.119:1,7

Gebed

Liefdegawe vir barmhartigheid

Sang: Ps.25:4,6

Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee

Amen