ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die werk van die Heilige Gees
Lof aan God: Ps.84:1,2
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sang: Ps.9:1,7,10
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Antwoord op die Wet: Ps.86:6
Gebed
VERKONDIGINNG
Sang: Skb.8-1/14:1,2
Lees: 1 Korintiërs 6:12-20 en Sondag 41
Kernverse: 1 Kor.6:19,20
Tema: Ek dank God vir die Heilige Gees in my en vir my eenwees met Christus
Sang: Ps.84:1,2; Ps.9:1,7,10; Ps.86:6; Skb.8-1/14:1,2; Skb.1-1/24:1,3; Skb.1-1/24:6,7
Inleiding:
Tydens Paulus se tweede sendingreis 50 tot 51 n.C. het daar in die Griekse hawestad, Korinte ‘n gemeente van Jesus Christus ontstaan. Oor die stad kan ons die volgende sê: Korinte was ‘n belangrike stad vir die ekonomie van daardie gebied. Geld was in Korinte baie belangrik. Daar was onder andere ‘n tempel van die godin Afrodite. Sy was die heidense Grieke se sogenaamde vrugbaarheidsgodin. In die tempel en die stad was daar duisende priesteresse van Afrodite wat eintlik niks anders as prostitute was nie.
Die jaag na geld en totale sedeloosheid was twee duidelike sondige maniere van lewe die goddelose Korinte. Die stad se baie lae sedes het lewe vir die Christene baie moeilik gemaak. Party van hulle was geestelik nie sterk genoeg om “nee” te sê nie en het saam met die goddelose mense losbandige dinge gedoen. Hierdie deel van Paulus se brief aan die gemeente in Korinte gaan juis oor seksuele losbandighied.
Paulus het in sy brief oor onsedelikheid en losbandigheid met die Korintiërs oor twee baie belangrike waarhede gepraat: Die eerste die Heilige Gees woon in elke Christengelowige en daar is ‘n innige eenheid tussen Jesus Christus en elke Christengelowige wat aan Hom behoort.
Ons kyk vanoggend na die sewende gebod vanuit hierdie twee baie belangrike dinge.
Tema: Ek dank God vir die Heilige Gees in my en vir my eenwees met Christus
Waar is die tempel van God, die Heilige Gees? Indien iemand jou hierdie vraag vra, wat sal jy antwoord? Dis ‘n vraag wat elkeen van ons in die Nuwe Testamentiese kerk raak. Die antwoord wat elkeen van ons op die vraag sal gee, sal baie van jou geloof sê.
Waar is die tempel van die Heilige Gees? Hier is die vraag nou. Omdat dit ‘n erediens is, ‘n ontmoeting met God, kry elkeen nie geleentheid om hardop te antwoord nie. Maar…jy moet die antwoord in jou gedagtes en jou hart hê!
Die gelowiges in Jesus Christus se gemeente in Korinte het nie almal geweet waar die tempel van die Heilige Gees was nie. Daarom was hulle nie geestelik sterk genoeg vir die losbandige lewe in Korinte nie. Van die gelowiges in die gemeente het toegegee aan die sterk krag van die wêreld wat hulle nader gelok het en verlei het om te deel in wat die wêreld gebied het.
Wat maak die verleiding deur die losbandige wêreld so sterk? Ons kan ‘n deel van die antwoord in 1 Kor.6:12,13 kry.
Die mense in Korinte het hierdie manier van lewe gehad: “Alles is my geoorloof” (1 Kor.6:12). Hierdie woorde en hierdie manier van leef, plaas elke mens in die middelpunt van sy of haar lewe. Elkeen mag wat elkeen wil, want elkeen besluit self oor elkeen se eie lewe.
Wanneer ‘n mens sélf die middelpunt van jou lewe is, word ‘n mens se liggaam die belangrikste. Daarom was die Korintiërs baie lief vir die volgende spreukwoord: “Kos is vir die maag en die maag vir kos “ (1 Kor.6:13).
Die heidense Korintiërs het van die gelowiges in Christus se gemeente belangrik laat voel en dat hulle kan leef soos hulle wil en met hulle liggame kan doen wat en wanneer hulle. Met hierdie gesindheid sal dit nie anders gebeur as dat ‘n mens by seksuele losbandigheid uitkom nie. Dit is wat presies in Korinte se gemeente gebeur het.
Die tyd waarin ons leef, is die tyd van seksuele losbandigheid. Kos is vir die maag en die maag vir kos, het vandag geword seksuele losbandigheid is vir die liggaam en die liggaam vir seksuele losbandigheid. Hierdie sedeloosheid is oral om ons – die tv-programme, die internet op die rekenaar en selfoon, films, tydskrifte, die advertensieborde langs die pad – oral vertel die wêreld vir ons: Seksuele losbandigheid is vir die liggaam en die liggaam vir seksuele losbandigheid. Een groot rede: Die wêreld, by verre die meeste mense in ons land en in ons stad weet nie waar die tempel van die Heilige Gees is nie.
Waar is die tempel dan? Indien iemand jou dit vra : Is daar net een regte antwoord. Al die ander is verkeerd. Die regte antwoord is: Hier is die Gees se tempel. Ek is die Heilige Gees se tempel. Hy bly en werk hier binne in my.
Indien jy steeds dink die Heilige Gees se tempel is die kerkgebou, is jy heeltemal verkeerd. Dit is so verkeerd, dat jy jou van daardie gedagte moet bekeer. Die Here leer ons al baie jare in 1 Kor.6:19 dat elke Christengelowige se liggaam die tempel van die Heilige Gees is.
Wanneer jy die Heilige Gees in jou het, het jy die almagtige God in jou. Die Heilige Gees maak jou sterk om vir die seksuele losbandigheid en al die sonde waarmee die wêreld kom, wat so verleidelik kan wees, “NEE!!!” te sê.
En…as jy vir die verleidelikheid van die wêreld val en toegee aan seksuele losbandigheid, kan jy met die Heilige Gees in jou breek met daardie sonde. Oor hoe uiters belangrik dit is om met sedeloosheid te breek, mag daar geen misverstand wees nie: Seksuele losbandigheid is sonde. Luister wat het die Heilige Gees Paulus laat skryf:”Moenie julleself mislei nie: Geen onsedelikes of afgodsdienaars of egbrekers of mense wat homoseksualiteit beoefen of diewe of geldgieriges of dronkaards of bedrieërs sal deel kry aan die koninkryk van God nie” (1 Kor.6:9,10).
Die eerste belangrike waarheid in hierdie verse was destyds en is steeds: My liggaam is die tempel van die Heilige Gees. Ek het die Gees in my. Hy leef en werk in my.
2. Jesus Christus het my een met Hom gemaak
Die tweede baie belangrike waarheid in Paulus se brief aan die gemeente in Korinte toe hy vir hulle oor seksuele losbandigheid geskryf het, is: Jesus Christus en elke Christengelwoige wat aan Hom behoort, is een. Om ‘n Christengelowige te wees, is om deur my geloof in Jesus Christus, een met Hom te wees. Christenwees is nie in die eerste plek ‘n mens se uiterlike lewe nie. Christenwees is in die heel eerste plek om deur geloof geestelik een met Christus te wees.
Hoe word ‘n mens een met Jesus Christus? Christus het my sonde op Hom geneem. Hy met my sonde op Hom in my plek die straf op my sonde gedra en vir my aan die kruis gesterf. Deur vir my aan die kruis te sterf, het Jesus my van die mag wat sonde oor my gehad het verlos en al my sondeskuld voor God volmaak betaal.
Deur sy dood het Jesus my syne gemaak. Hy het ‘n duur prys betaal. Hy het sy lewe gegee.
Jesus het ook vir my uit die dood opgestaan. Deur sy opstanding het Jesus vir my nuwe lewe, die ewige lewe gegee.
Ek is nou ‘n verloste nuwe mens, ek is een met Jesus Christus.
3. Die Here vra van my –
Met die Heilige Gees in my en een met Christus, moet ek as Christengelowige besef dat God ‘n sekere manier, ‘n spesiale manier van lewe van my vra. Die eerste wat Hy vra, is –
Om een met Christus te leef – Elke Christengelowige behoort met liggaam en siel aan Jesus Christus, my Verlosser. Hy met my syne gemaak. Ek is nou ‘n verloste nuwe mens. Ek is deur my geloof in die Here Jesus een met Hom.
Indien ‘n Christengelowige aan seksuele losbandigheid deel hê, maak so ‘n Christen Jesus deel daarvan! Dit is baie erg! Maar dit is wat gebeur!
Ek is soveel dank aan God verskuldig dat Hy my volmaak verlos het. Ek behoort daarom met alles wat ek het, een met Christus te leef. Ek leef een met my Verlosser deur met alles wat ek het, te leef soos God in sy sewende gebod van my vra.
Ek leef volgens die sewende gebod deur my liggaam en my siel te bewaar. Ek het daarom nie deel aan onsedelike dade, gebare, woorde, gedagtes en begeertes nie. Ek veg met alles wat ek het daarteen. Ek vermy enigiets wat my wil verlei om in onsedelikheid te deel.
Die tweede wat God vra:
Om vir die Heilige Gees ‘n tuiste te wees – Ek het die wondergenade van die Heilige Gees in my. Om vir God dankie te sê, dat ek nie langer ‘n verlore ongelowige is nie, maar deur die Gees ‘n verloste gelowige, wil God dat ek vir die Heilige Gees ‘n tuiste sal wees.
‘n Mens se liggaam kan nie ‘n tuiste vir die Heilige Gees wees en dan deel aan seksuele losbandigheid hê nie. Ek is daarom ‘n tuiste vir die Heilige Gees deur my liggaam en siel te bewaar en enige vorm van seksuele losbandigheid te vermy en daarvan weg te vlug. Ek vlug na God toe. Ek leef naby Hom en vir Hom.
Wanneer ek God vir my verlossing dank deur een met Jesus Christus te leef en vir die Heilige Gees ‘n tuiste is, is ek met die sewende gebod besig soos God van my vra.
ANTWOORD
Sang: Skb.1-1/24:1,3
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sang: Skb.1-1/24:6,7
Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee
Amen