ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die werk van die Heilige Gees
Lof aan God: Ps.118:1,12
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sang: Sb.12-3:1,2
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Lev.19:1-18
Antwoord op die Wet: Ps.59:1,5,10
Gebed
VERKONDIGING
Sang: Ps.14:2,3,4
Lees: Johannes 4:1-26 en Sondag 35
Kernvers: Joh.4:23
Tema: Ek dank die Here deur Hom in Gees en waarheid te aanbid
Sang: Ps.118:1,12; Sb.12-3:1,2; Ps.59:1,5,10; Ps.14:2,3,4; Ps.105:2,3; Ps.115:1,6,8
Inleiding:
Die reeks preke gaan daaroor dat ons almal toegerus sal word om die Here se Wet nie te sien as reëls oor moets en moenies nie. Ons het nodig om deur die Here se Woord geleer en gelei te word om die Tien gebooie te sien as die manier hoe ek vir die Here dankie sê.
Tema: Ek dank die Here deur Hom in Gees en waarheid te aanbid
Die Tien Gebooie is die woorde van die Here ons God. Die eerste woorde van die Tien Gebooie klink so: “Ek is die Here jou God, wat jou uit Egipte uit die plek van slawerny bevry het” (Eks.20:2).
Hierdie woorde aan die begin van die Here se Wet vertel en leer ons waaroor die Wet gaan. Die Wet gaan beslis nie bloot oor geestelike reëls wat ‘n gelowige aan die eenkant nie mag nie en aan die anderkant moet.
Waaroor gaan die Wet dan wel?
Ons kan sê die Wet, die Tien Gebooie gaan oor die lewe van God se kinders en erfgename in die genadeverbond. Hoe kom die Wet en die verbond bymekaar?
Die woorde aan die begin van die Tien Gebooie is in werklikheid dieselfde woorde wat God eeue vantevore aan Abraham gesê het die dag met die sluit van die verbond. Luister na die Here se woorde: “Ek bring ‘n verbind tot stand tussen My en jou en nou nageslag en al hulle geslagte. Dit is ‘n ewige verbond: Ek sal jou God wees en ook die God van jou nageslag” (Gen.17:7).
Wanneer ek as Christengelowige die Wet lees, het ek regtig nodig om te besef ek luister na die woorde wat die Here vir my sê oor lewe naby Hom in sy genadeverbond.
Lewe in die genadeverbond, begin nie by wat ek nie mag nie en wat ek moet nie. Lewe in die genadeverbond begin by die woorde wat God vir Abraham gesê het:”Ek sal jou God wees en die God van jou nageslag” (Gen.17:7).
Die heel eerste wat ek nodig het om te weet, te verstaan, te besef en te glo wanneer ek die Wet lees of hoor, is dat die Here my God is. Ek luister nie net na geestelike moets en moenies nie. Ek luister na die woorde van die Here my God oor my lewe naby Hom.
Elkeen van ons het daarom nodig om baie gereeld te bid dat die Heilige Gees Gees my sal help om te glo dat ek die Here as my God het, net vir Hom. Wanneer ek na die Tien Gebooie luister, het ek nodig om met ‘n gebed in my hart te luister, ‘n gebed dat ek sal glo ek luister nou na wat die Here, my God vir my sê.
2. Die Here gee vir my nuwe lewe
Die Here het vir Abraham nuwe lewe gegee. Die nuwe lewe was lewe as kind en erfgenaam in God se ewige genadeverbond. Isak, Jakob en Israel het ook by God nuwe lewe in sy verbond gekry.
God se verbond is ‘n ewige verbond. Dit beteken ook ek, Christengelowige wat nou leef, het ook nuwe lewe in God se genadeverbond.
Ons wat die Nuwe Testament het, weet dat elkeen wat aan Jesus Christus behoort, die nageslag van Abraham is en nuwe lewe in die genadeverbond by God gekry het. Lewe in die genadeverbond, is nie natuurlike lewe vir elke mens nie. Dit is lewe wat God gee. Hy gee nuwe lewe deur sy Seun. God se Seun, Jesus Christus word mens. Hy neem my sonde op Hom. Hy staan in my plek skuldig voor God. Hy dra my straf vir my sonde in my plek. Hy sterf in pyn, vernedering en eensaamheid aan die kruis net buite Jerusalem. Deur vir my te sterf, het Jesus my verlos en losgekoop van die mag wat die duiwel, die sonde en die dood oor my gehad het.
Jesus het op die derde dag uit die dood opgestaan. Deur sy opstanding het Hy vir my die dood oorwin en aan my die nuwe lewe gegee.
Deur sy kruisiging en opstanding het Jesus Christus my syne gemaak. Ek behoort aan Hom met my liggaam en my siel. Deur Hom behoort ek aan God as sy kind en erfgenaam.
Die nuwe lewe wat die Here vir my gegee het, is lewe as sy kind en sy erfgenaam in sy ewige genadeverbond. Ek het nie gevra vir hierdie nuwe lewe nie. Ek het hierdie nuwe lewe nie verdien nie. God het uit liefde sy Seun vir my gegee. Jesus het uit liefde sy liewe vir my gegee. Dat ek by die Here nuwe lewe gekry het, is net liefde en genade.
3. Ek is nuwe dank aan God verskuldig
In die Ou Testament het God vir Israel, sy verbondsvolk baie wette gegee hoe hulle Hom moes aanbid. Die wette het bestaan uit baie voorskrifte oor hulle hele lewe gegaan. Dink aan Lev.19:1-18 waarna ons vroeër geluister het. Hier is weer van die voorskrifte:
Vs 5,6 – Die vleis van die malatyd offer moet die selfde dag of hoogstens die volgende dag geeët word, anders is die vleis onrein en nie vir die Here aanneemlik nie.
Vs 10 – Wingerde mag nie ‘n tweede keer geoes word nie en druiwe wat val mag ook nie opgetel word nie.
In vs 19 waarna ons nie geluister het nie het die Here beveel dat Israel nie verskillende saad in een land mag saai nie en ook nie ‘n kledingstuk van verskillende soorte materiaal dra nie.
Nie een van hierdie wette was bloot net ‘n opdrag of ‘n plig wat Israel moes gehoorsaam nie. Met al die wette het die Here Israel geleer dat net Hy hulle God is en dat hulle hulle van die heidense volke moes afsonder. Israel moes hulle afsonder as die Here se verbondsvolk deur anders te leef. Israel se hele lewe moes wys dat die Here hulle God is. Onthou hoe gereeld daar in Lev.19:1-18 staan: “Ek is die Here julle God.”
Hierdie wette en seremonies het Israel die Here in Jerusalem laat aanbid, waar die tempel was.
Die Samaritane het hullself as afstammelinge van Manasse en Efraim gesien. Hulle het die eerste vyf boeke van Moses aanvaar, maar nie die res van die Ou Testament nie. Hulle het uit Dt.12:5 dit gekry dat hulle op die berg Gerisim die Here moes aanbid.
Vir die Jode, wat ook die eerste vyf boeke van Moses gehad het, saam met die res van die Ou Testament, was die aanbiddingsplek Jerusalem. Oor hierdie twee verskillende plekke van aanbidding was daar ‘n hewige stryd tussen die Jode en die Samaritane, sodat hulle niks met mekaar te doen wou hê nie.
Die wet oor die plek van aanbidding het nie oor die plek gegaan nie. Die Here se wet daaroor was om Israel anders te laat leef as die heidene. Die heidene het oral heilige boomstamme en hoogtes en altare gehad waar hulle hulle afgode vereer het. Die Here het opdrag gegee dat Israel na sy wil moes vra en die plek wat Hy vir hulle kies moet opsoek om Hom te aanbid.
Hier is ons in werklikheid by die ware betekenis van die tweede gebod. Die tweede gebod gaan oor lewe en aanbidding volgens die Here se wil en nie volgens ‘n mens se eie wil nie. Die Here praat van beelde in die tweede gebod, want die heidene het hulle afgode met beelde gedien. Dink aan Baäl en Astarte en dan die bome en hoogtes.
Die tweede gebod gaan oor meer as beelde. Die gebod gaan oor hoe die Here wil dat Hy aanbid en gedien word. Wanneer ons die gebooie lees, is dit ook belangrik om te weet dat elke gebod in ‘n sekere skryfstyl geskryf is. Ons kan dit so verstaan. Die Here noem ‘n deel of ‘n voorbeeld in elke gebod, maar Hy bedoel meer. Wanneer ons die res van die Bybel lees, is dit byvoorbeeld baie duidelik dat “Jy mag nie doodslaaan nie” oor baie meer gaan as om iemand fisies dood te slaan. Voor die Here is gedagtes en woorde ook doodslaan. Jesus leer ons dit in sy Bergrede, veral Mt.5. Wanneer die Here van beelde in sy tweede gebod praat, praat Hy in werklikheid van eiewillige godsdiens. Eiewillige godsdiens doen wat ek as mens wil, en nie wat die Here wil nie.
Beide die Samaritane en die Jode het so in die plek van aanbidding opgegaan, dat hulle die Here wie hulle moes aanbid nie gedien het soos Hy wil nie. Vir die Here was ‘n hart vol geloof wat Hom soek en na sy wil vra nog altyd die belangrikste.
Verder was die plek van aanbidding en al die ander seremonies en dae en feeste alles in werklikheid net tekens. In Kol.2:16,17 lees ons dat al daardie wette net die skaduwee was. Dit alles het na die Verlosser gewys wat God beloof het Hy sou stuur.
Met Jesus se koms na die aarde, was die tyd van die teken, die skaduwee verby. Die Verlosser het gekom. Jesus se woorde aan die Samaritaanse vrou: “Daar kom ‘n tyd en dit is nou…” wys op sy koms na die aarde. Die offers van vleis was verby, want Jesus het gekom om Homself aan die kruis te offer. Die manier van saai en klere dra, was ook verby. Jesus het die skeiding tussen mense gebring, tussen die wat in Hom geglo het en die wat nie in Hom geglo het nie.
Die manier van aanbidding het ook verander. Jesus het gekom om die pad na God met sy dood en opstanding oop te maak. Hy het dit ook gedoen. Plekke van aanbidding, dae van aanbidding, feeste en al die seremonies was nie meer nodig nie.
Die nuwe lewe wat Jesus vir my deur sy kruisiging en opstanding gee, vra van my nuwe dank aan Hom. Ek is nuwe dank aan my Verlosser verskuldig. Hy het sy lewe vir my gegee. Ek is nuwe dank aan God verskuldig. Hy het sy Seun vir my gegee.
4. My nuwe dank is om God opreg deur die Gees te aanbid
Wanneer ek die Tien Gebooie lees en hoor, het ek nodig om die Heilige Gees te bid dat Hy my sal help en lei om elke gebod op ‘n nuwe manier te lees en God op ‘n nuwe manier te dank vir sy genade en sy liefde.
Met sy woorde aan die Samaritaanse vrou vertel en leer Jesus ons hoe om God op ‘n nuwe manier te dank. Vir vanoggend is belangrik hoe God wil hê ons Hom deur sy tweede gebod op ‘n nuwe manier sal dank.
Jesus se woorde “…wanneer die ware aanbidders die Vader deur die Gees en in waarheid sal aanbid” (Joh.4:23).
Hoe moet ons hierdie woorde van Jesus verstaan?
In Gees beteken, God wil dat elkeen wat Hom aanbid en Hom dien, dit nie op my eie manier volgens my eie wil sal doen nie, maar deur die Heilige Gees. Elkeen vanons het nodig om gedurig selfondersoek te doen of ek nie in my godsdiens met my eie wil besig is nie.
Die Here wil dat ek my deur die Gees sal laat lei in my lewe met Hom. Die Gees lei my deur die Bybel, die Here se Woord. God wil dat ek vir Hom dankie sê, soos Hy gedank wil word. Om sy wil te ken, het ek die Bybel nodig. Die Bybel is die waarheid waarvan Jesus gepraat het.
Die nuwe manier om God te dank soos Hy wil is dan om met die Heilige Gees in my na God se wil in sy Woord te soek. Die Gees sal my help om sy wil in die Bybel te kry. Die Gees sal my deur God se Woord lei om sy wil met my hele hart te doen.
Met so ‘n lewe, is ek besig om die Here se twee gebod in my lewe uit te leef, soos die Here wil. So ‘n lewe volgens die Here se wil, is ‘n lewe waarmee ek vir God regtig dankie sê vir sy liefde en sy genade.
ANTWOORD
Sang: Ps.105:2,3
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Antwoord op die Woord: Ps.115:1,6,8
Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskryn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee.
Amen