ONTMOETING
Votum: Ps.124:8
Seën: Genade, barmhartigheid en vrede van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die werk van die Heilige Gees
Lof aan God: Ps.84:1,3
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sang: Skr.12-3:1,2
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Deut.5
Antwoord op die Wet: Ps.38:1
Gebed
VERKONDIGING
Sing: Skb.12-3:1,2
Lees: Daniël 7:6-10 en Openbaring 20:11-15
Kernvers: Op.20:12
Tema: Die boeke wat in die hemel geskryf word
Sang: Ps.84:1,3; Skb.12-3:1,2
Inleiding:
Nagmaal laat mens terugdink aan Jesus Christus wat sy lewe aan die kruis gegee het. Nagmaal laat mens ook vorentoe dink, die toekoms in. Dieselfde Christus wat gesterf het, kom ook weer. Met sy wederkoms, so lees ons in Op.20:12, sal die boeke in die hemel oopgemaak en gelees word.
Daar is die boeke van aanklagte (Dan.7:10) en daar is die boek van die lewe (Openb.20:12).
Dit wat in daardie boeke staan, bepaal elke mens se lewe in die ewigheid. Jou verhouding met Christus bepaal in watter boek jou naam geskryf staan.
Tema: Die boeke wat in die hemel geskryf word
In die hemel is daar boeke. Daar staan name in boeke geskryf. Die Here leer ons op verskeie plekke in sy Woord dat daar boeke in die hemel is waarin geskryf word.
Ons lees reeds in Dan.7:10 van boeke met aanklagte wat in die hemel oopgemaak word. In Luk.10:20, Op.3:5, 13:8 en 21:7 word gepraat van die boek van die lewe. Van die boek van die lewe lees ons reeds in die Ou Testament (Eks.32:32, Ps.69:29, Jes.4:3, Dan.12:1).
Wie doen die skryfwerk in al die boeke?
Die Skrywer van die hemelse boeke is God self. Hy skryf in die boek van die lewe en Hy skryf in die boek met aanklagte.
Dit is belangrik om die boeke reg te verstaan. In Daniël 7 en in Openbaring 20 het ons gesigte. Daniël het in die eerste jaar van koning Belsasar se regering ‘n droom in die nag gehad. Die Heilige Gees het hom laat neerskryf wat hy gesien het. Jesus Christus het sy engel gestuur om Johannes alles te laat sien, ook die gesig het Johannes deur die Heilige Gees neergeskryf.
Die boeke in hierdie gesigte is daarom in werklikheid beelde. Daar is nie regtige boeke met bladsye waarop geskryf staan nie. Die beeld van die boek beteken daar is werklik mense en werklik name. Daar is werklik aanklagte en oordele. Daar is werklik die lewe in ewige saligheid. Ons almal se name is daar.
Ons kan sê die boeke is die boek van God se alwetendheid, die boeke van sy aanklagte en die boek van die lewel.
Wat skryf God in die hemelse boeke?
Dan.7:10 “Duisende der duisende het Hom gedien, miljoene het daar voor Hom kom staan. Die hofsitting het begin, en die boeke met die aanklagte is oopgemaak.”
Daar is die boeke met die name van al die mense. Elke enkele mens wat ooit geleef het se naam het God. Hy is alwetend. Hy ken elke mens. By elke mens se naam is alles wat elkeen gedoen het. Niemand se dade word nie in die boeke met aanklagte geskryf nie. Alles wat jy in jou lewe gedink het of gesê het of gedoen het, staan geskryf in die boeke met aanklagte.
Die mens wie se naam en dade in die boeke van aanklagte geskryf staan, kan maar weet sy of haar naam is nie in die boek van die lewe nie. Dit beteken net een ding: Daardie mens gaan verlore onder God se oordeel.
Dit bring ons by Op.3:5 “Elkeen wat die oorwinning behaal, sal sulke wit klere dra. Ek sal nooit sy naam uit die boek van die lewe uithaal nie, en Ek sal voor my Vader en voor sy engele verklaar dat hy aan My behoort.”
In die boek van die lewe staan ook name geskryf. Die mens wie se naam in hierdie boek geskryf staan, kan maar weet jou naam is nie in die ander boek geskryf nie. Dit beteken net een ding: Gered en nie verlore nie.
Hoe gebeur dit dat mens se naam nie in die aanklagboek staan nie, maar in die boek van die lewe? Goeie dade sal nie help nie. Baie dink vandag steeds dat indien ‘n mens hard werk, eerlik en behulpsaam is, verdien so iemand om salig te word. Hierdie is ‘n baie gevaarlike onwaarheid.
Jesus het self gesê: “Baie sal daardie dag vir My sê: ‘Here, Here het ons dan nie in u Naam gepreek nie, deur u Naam bose geeste uitgedryf en deur u Naam baie wonders gedoen nie?’” (Mat.8:22). Nie eers ‘n preek of ‘n wonder in Christus se Naam sal ‘n naam en dade uit die aanklagboek haal en in die boek van die lewe laat kom nie!
Daar is net een, een enkele manier hoe jou naam uit die aanklagboeke gehaal kan word en in die boek van die lewe geskryf staan. Net Jesus Christus kan jou naam uit die aanklagboek haal en in die boek van die lewe laat kom.
Jesus Christus alleen, net Hy alleen, wis al jou sonde uit. Hy sterf vir jou aan die kruis op Golgota. Hy staan vir jou op uit die dood. Jesus se liggaam en bloed aan die kruis maak al jou sondige dade voor God toe. Hy neem deur sy kruisiging en sy opstanding al jou sonde weg. So haal Christus jou naam en jou sondige dade weg uit die aanklagboek. Deur sy kruisiging en opstanding laat Hy jou naam in die boek van die lewe verskyn.
Wanneer Jesus Christus weer kom, word al die boeke oopgemaak terwyl miljoene der miljoene voor Hom staan. Dan word die boeke gelees.
Dit is baie sleg wanneer ‘n mens se naam in die aanklagboeke gelees word, want by elke naam staan elke enkele sonde geskryf. Veral die sonde dat so iemand Jesus Christus nie geken het nie en dat Hy daardie mens ook nie geken het nie, staan daar geskryf. Wanneer hierdie woorde by ‘n mens se naam staan, word so iemand geoordeel volgens wat hy sy hele lewe gedoen het en op grond van alles wat so ‘n persoon gedink en gesê en gedoen het, word hy of sy in die vuurpoel gegooi, dit is die tweede dood, die ewige dood in die hel.
Dit is baie goed en wonderlik wanneer jou naam in die boek van die lewe gelees word. In die boek van die lewe staan by jou naam nie een van jou sondige dade geskryf nie. In die boek van die lewe staan net een daad geskryf: Jesus Christus se verlossing wat Hy bewerk het. Hy het ons deur sy kruisiging en sy opstanding verlos. Christus se kruisiging en opstanding neem al jou sondes weg. Met al jou sonde weg voor God, is daar geen aanklag meer teen jou nie.
Dit is wonderlike genade dat ‘n mens se naam nie meer in die aanklagboeke staan nie, maar in die boek van die lewe.
Met jou naam in die boek van die lewe, word jy ingenooi in die hemel in met die woorde: “Kom in en deel in my vreugde” (Mat.25:21,23).
Elkeen wat die Heilige Gees het, het geloof in Jesus Christus wat vir ons gesterf het en opgestaan het. Elkeen wat opreg in die Here Jesus Christus glo, weet nou reeds dat my naam in die boek van die lewe staan.
Ons almal het ons lewe deur nodig om vas en seker te glo dat net Jesus Christus elkeen van ons se naam uit die aanklagboeke gehaal het en elkeen van ons se naam in die boek van die lewe laat kom het. Om hierdie groot en wonderlike genade te kan bly glo, vier ons vanoggend Nagmaal.
Nagmaalformulier
Sang voor Nagmaal: Ps.145:9
Sang aan tafel: Ps.116:1,4,5,7
Voltooiing van Formulier
Liefdegawe vir barmhartigheid
Antwoord op die Woord: Skr.18-7:1,3,12
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus en die liefde van God ons Vader en die gemeenskap van die Heilige Gees sal met julle almal wees
Amen