ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade, barmhartigheid en vrede van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die werk van die Heilige Gees
Lof aan God: Ps.100:1,2,3,4
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sing: Ps.71:9
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Antwoord op die Wet: Ps.130:2,4
Gebed
VERKONDIGING
Sing: Skb.5-4:1,2
Lees: Hebreërs 3:1-6, 4:14-16
Kernvers: Hebr.4:16
Tema: Met nagmaal is ons voor die troon van genade.
Sang: Ps.100:1,2,3,4; Ps.71:9; Ps.130:2,4; Skb.5-4:1,2; Ps.145:9; Ps.105:1,2,3,4,5; L428;1,2
Inleiding:
Hierdie is ‘n baie belangrike dag. Ons is met hierdie nagmaal in die teenwoordigheid van die allerhoogste God. Ons is voor die troon van genade.
Tema: Met nagmaal is ons voor die troon van genade.
Die woorde in die brief aan die Hebreërs is bedoel vir mense wat vir die Here afgesonder is, wat heilig is. Hoe word ‘n mens heilig? Ons kan eers heilig wees, indien ons heilig gemaak is. Chistus maak ons heilig. Hy neem die sonde weg.
Sonde maak ons vuil voor God. Niemand van ons sal vuil na iemand toe gaan nie. Sonde maak ons vuil. Almal het sonde. Almal is vuil voor God. Die Hebreërs was ook vuil. Tog noem die skrywer van die brief hulle heilig. In werklikheid is dit die Heilige Gees wat hulle so laat noem het.
Hoe word ons heilig? Jesus Christus maak ons heilig. Hy word mens op ‘n almagtige manier. Hy neem ons sonde op Hom. Hoe weet ons dit? Jesus het Hom deur Johannes laat doop. Om gedoop te word, wys dat ons van sonde skoongewas word. Jesus het geen sonde gehad nie. Hy is van ewigheid af die volmaak heilige Seun van God en self God. Hy is die volmaak heilige God tot in ewigheid. Sy doop was ‘n teken dat Hy ons sonde op Hom geneem het en dat Hy gekom het om ons sonde weg te neem, ons van sonde skoon te was.
Sonde word net weggeneem deur te sterf. Ons kry dit in die hele Ou Testament. By die besnydenis en by die offers het daar bloed gevloei. Die bloed wys op lewe. Al die offers en seremonies waar bloed gevloei het, het gewys dat lewe gegee moes word om vergifnis by God te kry.
Die bloed in die Ou Testament was elke keer net die teken. In Kol.2 lees ons al die offers en seremonies en godsdienstige feeste in die Ou Testament was net die skaduwee. Die werklikheid is Christus.
Christus maak ons heilig, sonder ons vir God af. Met ons sonde op Hom het Hy baie swaar gely. Uiteindelik het Hy die wrede dood aan die kruis gesterf. Deur aan die kruis te sterf was Jesus die werklike Hoëpriester. Hy het die ware offer gebring. Hy was self ook die offer. Hy het sy lewe gegee het om ons van sonde skoon te maak.
Nadat die Here Jesus sy verlossingswerk as Hoëpriester op aarde volmaak afgehandel het, het Hy na die hemel opgevaar en aan sy Vader se regterhand gaan sit. Daar is Hy steeds as Hoëriester besig om te werk. Wat doen die Here Jesus as ons enigste Hoëpriester? Hy offer gebede. Hy bid vir ons. Hy pleit vir vergifnis vir ons. Hy pleit by sy Vader, op grond daarvan dat Hy vir ons gesterf en uit die dood opgestaan het.
In die Ou Testament het die Hoëpriester eenkeer elke jaar deur die voorhangsel van die tempel na die Allerheiligste gegaan om vir Israel, God se gelowiges te offer vir vergifnis. Ons leef in ‘n tyd wat soveel beter is. Ons het ‘n Hoëpriester wat deur die hemel gegaan het. Hy bid vir ons. Hy tree gereeld en voortdurend vir ons by sy Vader in, dat sy Vader ons sal vergewe.
2. Ons kan met geloof in Christus na God toe gaan.
God die Vader en Jesus, sy Seun is een. Hy het sy Vader volmaak op aarde gehoorsaam en alles wat sy Vader van Hom verwag het, volmaak gedoen. Deur sy volmaakte werk as Verlosser het Jesus die pad vir ons na God oopgemaak. Ons sonde het die pad toegemaak met ‘n onoorbrugbare kloof tussen God en ons. Deur vir ons te sterf en op te staan, het Jesus ons sonde weggeneem. Hy het die pad weggeneem. Hy het die kloof toegemaak. Daar is niks wat meer keer dat ons na God toe kan gaan nie.
Op grond van sy eenheid met sy Vader en sy volmaakte gehoorsaamheid aan sy Vader, tree die Here Jesus Christus vir ons by sy Vader in. Jesus se Vader neem sy Seun se gebede aan. Hy gee wat sy Seun vra. Hy vergewe ons. Hy wil ons by Hom hê. Omdat die Here Jesus vir ons by sy Vader met gebed intree en vir ons pleit en omdat sy Vader sy Seun se gebede aanneem, is die pad na God toe vir ewig oop.
Dit is wonderlike genade dat ons na God toe kan gaan. Maar…en dit is baie belangrik: Die wonderlike genade om na God toe te kan gaan, is vir almal wat met opregte harte in Jesus Christus wat vir ons gesterf en opgestaan het, glo.
Hoe kry ons hierdie geloof? Net by die Heilige Gees en net deur die Evangelie van Jesus wat gesterf en opgestaan het. Hierdie geloof is ‘n geskenk van God waaraan ons met ons hele hart moet vashou.
Hoe hou ons ons geloof vas? Die Heilige Gees help ons. Met die Gees in ons, moet elkeen van ons vas en seker weet en oortuig wees dat Jesus vir my gesterf en opgestaan het en vir my by sy Vader met gebed intree.
Ons geloof wat ons vashou, kan en mag nie stil hier binne ons bly nie. Opregte geloof moet in ons lewe wys. Ons wys dat ons opreg glo, deur ons geloof te bely – eenkeer voor die Here en sy gemeente, maar dan voortdurend ons lewe deur. Ons bely ons lewe deur ons geloof met ons woorde en wat ons doen, dat ons in die Here Jesus Christus glo.
Die mens met ‘n opregte geloof, is die gelowige wat na God toe kan gaan, na sy genadetroon. Die genadetroon is waar God die Vader is. Ons gaan na die genadetroon wanneer ons doelbewus voor God kom. Dit gebeur wanneer ons met gebed na God toe gaan. Met ‘n gebed is ons direk in verbinding met die allerhoogste God, ons Vader.
Ons gaan na die genadetroon wanneer ons na ‘n erediens toe kom. Die erediens begin wanneer ons as gemeente vir Here sê dat ons nou voor Hom in sy teenwoordigheid kom. Die votum, dit is die woorde: “Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en aarde gemaak het” is daarom ‘n baie belangrike en ernstige deel van elke erediens.
Ons gaan na die genadetroon wanneer ons nagmaal gebruik. Ons is met nagmaal in Christus se teenwoordigheid en deur Hom in God die Vader se teenwoordigheid.
Gebed, ‘n erediens en nagmaal is daarom uitsonderlike geleenthede waaraan ons nie gewoond mag word nie. Elke keer moet hierdie gebeure vir ‘n opregte gelowige uitsonderlike geleenthede wees.
3. Nagmaal is die teken van God se barmhartigheid en genade.
Wat gebeur wanneer gelowiges na die troon van genade gaan? Wat gebeur met nagmaal?
Ons kom voor God met nagmaal. Wanneer ons in sy teenwoordigheid kom, kry ons barmhartigheid en genade by Hom. Die brood en wyn is juis tekens van God se barmhartigheid en genade wat Hy deur sy Seun aan ons bewys en gegee het.
Ons kry by God barmhartigheid. Dit beteken dat God na ons kyk met ‘n sagte en liefdevolle hart as ons Vader wat uit liefde sy Seun vir ons gegee het om ons sy kinders te maak.
Ons kry by Hom genade. Genade is onverdiende goedheid. God is goed vir ons sonder dat ons dit verdien. Hy wys sy goedheid daarin dat Hy ons al ons sonde vergewe.
Ons het God se barmhartigheid en sy genade baie nodig. Daarsonder is ons verlore. Indien ons nie gereeld na die genadetroon gaan nie, doen ons iets wat baie gevaarlik en baie sleg is. Ons dink ons het nie nodig om voor God te kom nie en ons besef nie hoe gevaarlik die duiwel is en hoe sleg en verkeerd ons sonde is nie.
Die woorde “en so op die regte tyd gered kan word” beteken: Moenie uitstel nie. Moenie dat enigiets jou van die genadetroon weghou nie.
Daar is baie wat ons van die genadetroon kan weghou: Ons besige lewe wat maak dat ons nie genoeg tyd vir ernstige gebed maak nie, wanneer ons te laat Saterdagaand in die bed kom, deur te lui te wees om Sondag vroeg genoeg op te staan om voor die Here te kom, deur te dink daar is nog baie tyd om te bid, baie tyd om by die erediens te wees en baie tyd vir nagmaal. Al hierdie dinge wat gelowiges doen, wys in werklikheid dat diep en ernstige gebed, dat ‘n erediens, dat nagmaal vir te veel nie regtig baie belangrik is nie.
Die Heilige Gees het Hebr.4:16 laat neerskryf, daarom is dit baie belangrike woorde vir elke gelowige: “Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word”.
Nagmaalformulier
Sing ter voorbereiding van die tafel: Ps.145:9
Sing aan tafel: Ps.105:1,2,3,4,5
Voltooiing van die nagmaalformulier
ANTWOORD
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: L 428:1,2
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus; die liefde van God ons Vader en die gemeenskap van die Heilige Gees sal met julle almal wees.
Amen