ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die werk van die Heilige Gees
Lof aan God: Ps.146:1,5,6,7
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sang: Ps.71:9
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Levitikus 19:1-18
Antwoord op die Wet: Ps.40:4
Gebed
VERKONDIGING
Sang: Ps.119:38,39
Lees: Lukas 13:22-30 (53 vert)
Kernvers: Lk.13:24
Tema: Stry hard om deur die nou poort in te gaan
Sang: Ps.146:1,5,6,7; Ps.71:9; Ps.40:4; Ps.119:38,39; Ps.84:3; Ps.84:1,2,4,5,6; Ps.139:12; Skb.1-3:1,2,3
Inleiding:
Die Here se Woord en nagmaal hoort bymekaar. Die Here vertel en leer ons in sy Woord dat sy Seun vir ons gekruisig is en vir ons opgestaan het. Jesus wat vir ons gekruisig is, is ook die boodskap van nagmaal. Vanoggend se preek is bedoel om uit Lk.13:22-30 duidelik te maak dat die nou poort en nagmaal bymekaar hoort en dat die poort en nagmaal elkeen van ons se lewens baie diep raak.
Tema: Stry hard om deur die nou poort in te gaan
Eintlik is Jesus Christus se woorde oor die nou poort ook ‘n gelykenis. Jesus het baie keer gelykenisse, dit is beelde en vergelykings gebruik. Jesus het ‘n doel, ‘n plan met elke gelykenis gehad. Hy het met die gelykenisse die mense destyds en ons vandag geleer dat die koninkryk van God ‘n geheim is. Net die mens wat by die Here Jesus uitkom, Hom hoor praat, na Hom luister en deur die Heilige Gees na die betekenis van elke gelykenis soek en die geheim en die betekenis in die gelykenis ontdek en glo, sal gered word.
Ons is vanoggend hier. Julle, liewe gemeente mag nie hier wees om my te hoor praat nie. Ek mag ook nie hier wees om na myself te luister nie. Jesus Christus, die Seun van die lewende God, ons enigste Verlosser is aan die woord in Lk.13. Ons is daarom hier om na Jesus, ons Here en ons God te luister.
Dit is Hy, Jesus Christus wat sê: “Stry hard om in te gaan deur die nou poort…” (Lk.13:24). Elkeen behoort met ‘n gebed in die hart te vra: Heilige Gees, help my om Jesus se woorde te verstaan.
Wat is die nou poort?
Omdat dit Jesus Christus is wat oor ‘n geheim praat, mag niemand van ons dink dat die antwoord maklik is nie en dink of sê: “Ek weet die poort is die poort na die nuwe Jerusalem. Dit is ‘n beeld om in die hemel in te gaan.”
Die mens wat hierdie maklike antwoord wil gee, ken nie die geheim van die koninkryk van die hemel nie en kom met hierdie antwoord ook nie nader aan die betekenis van die geheim nie. Hier is die rede hiervoor: In Op.21:9 sê die engel dat hy vir Johannes die bruid van die Lam, dit is die gekruisgde Jesus wil wys. In Op.21:10 wys die engel vir Johannes die nuwe Jerusalem. Die nuwe Jerusalem is die kerk van Jesus Christus. Die nuwe Jerusalem is nie die hemel nie, maar Christus se kerk! Die poort is daarom nie ‘n beeld van die ingang in die hemel waardeur ek eendag moet gaan nie.
Waarvan praat Jesus hier?
Die poort is nou. Baie sal probeer om in te gaan en dit nie regkry nie. In Mt.7 lees ons dat die poort is die deurgang na die smal pad. Die smal pad lei na die lewe, dit is die ewige lewe by God in sy koninkryk (Mt.7:14).
Jesus praat van die manier om by God uit te kom en ewig te kan leef. Hoe gebeur dit? Hierdie is die vraag waarop elkeen van ons ‘n antwoord moet kry. Die antwoord op hierdie vraag, is die antwoord op die geheim van die nou poort.
Vir die antwoord, haal ek twee verse aan:
Joh.6:68 – “En Simon Petrus antwoord Hom: ’Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde van die lewe.”
Joh.14:6 – “Jesus antwoord hom: ‘ Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.”
Hier is die betekenis van die geheim oop en bloot voor ons!
Die poort is nie iets soos ‘n hek of ingang nie!
Die poort is IEMAND!
Hierdie IEMAND is JESUS CHRISTUS wat gekruisig is en opgestaan het, sodat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe kan hê!
Die poort is nou, want net Jesus en net Hy alleen bring jou by God, dat jy kan lewe.
Nie Jesus plus my hardwerkendheid nie.
Nie Jesus plus my vriendelikheid en bereidwilligheid om altyd ander te help nie.
Nie Jesus plus my stoere afkoms en goeie voorouers nie.
Veral nie Jesus en die sonde wat ek nog hier binne my koester en nie wil los nie – my liefde vir geld, my liefde vir skinder, my seksuele sonde, en my eie-ek wat dink dat ek darem nie so sondig is nie.
Dit is NET JESUS!
Hy, en Hy alleen, is my POORT na die ewige lewe.
Hy het vir my aan die kruis gesterf en vir my opgestaan.
Hy het my ‘n verloste nuwe mens gemaak een aan my die ewige lewe met God gegee.
Die beker met wyn en die gebreekte brood met vanoggend se nagmaal is die tekens van die Poort na die lewe – DIE GEKRUISIGDE JESUS!
2. Die stryd
Stry hard om in te gaan, is Jesus Christus se woorde in Lk.13:24.
Hier kom ons weer voor ‘n vraag: Hoe stry ek om deur Jesus by God uit te kom en die ewige lewe te kan hê?
Weereens: Die maklike antwoord op die vraag is die antwoord wat heeltemal verkeerd is.
Is hard werk lang ure elke week hard stry? Nee, dit is om genoeg te kan hê om te kan lewe.
Is om bekommerd te wees oor baie dinge om hard te stry? ‘n Onlangse opname onder 35 000 Suid-Afrikaners het gewys dat die grootste bekommernis oor geld is – skoolgeld vir kinders, of daar aan die einde van die maand nog geld gaan wees, of skuld terug betaal sal kan word en nog heelwat ander bekommernisse oor geld. Nee, hierdie is beslis nie hard stry om deur die poort in te gaan nie.
Selfs erediens toe kom is nie stryd nie, dit is om God uit liefde te gehoorsaam.
Hoe moet ek dan hierdie opdrag van Jesus Christus, ons Verlosser verstaan en doen wat Hy vra?
Ek stry wanneer ek die wapen, die geestelike wapen wat ek by die Heilige Gees gekry het, gebruik. Hierdie geestelike wapen is geloof. Geloof is deel van die wapenrusting wat God gee (Ef.6:16).
Teen wie stry ek?
Op my eie kan ek nie hard stry om in Jesus alleen te bly glo nie. Ek het die Heilige Gees nodig. Hy het gekom om ewig by my te bly en in my te wees. Hy maak my geloof juis sterker met die brood en wyn tydens nagmaal.
Deel van hard stry is om nie net teen die brood en wyn vas te kyk en gerus te wees dat ek nagmaal gebruik het, en alles nou weer reg is nie.
Ek het nodig om vanoggend met nagmaal hard te stry om my geloof in die gekruisigde Jesus in die krag van die Gees sterker en dieper te laat word.
Met vanoggend se nagmaal moet ek in die krag van die Heilige Gees my geloof sterker laat word dat ek kan breek met enigiets of enigiemand wat tussen my en Jesus Christus staan.
3. Ek, die poort en die stryd
Elkeen van ons behoort nou te weet wie die nou poort is. Jesus Christus, die Seun wat God, ons Verlosser wat vir ons gekruisig is en opgestaan het, is die enigste poort na die lewe by God.
Elkeen van ons behoort nou te weet dat ek nodig het om vir my geloof in Jesus Christus te stry.
Hier is die brood en die wyn. Die Heilige Gees is ook hier om my geloof sterker te maak met God se Woord uit Lk.13 en die brood en wyn met nagmaal.
Wat gaan vanoggend met hierdie erediens gebeur?
Wat gaan ek geestelik doen met God se Woord en met die nagmaal?
Wat gaan ek na vanoggend doen met Jesus se woorde: Stry hard om deur die nou poort in te gaan?
Vir die antwoord op hierdie vrae haal ek weer ‘n vers in die Bybel aan. Lk.17:5 – “Toe het die apostels aan die Here gesê:’Gee ons meer geloof’”.
Gebruik vanoggend nagmaal met hierdie gebed in jou hart: Here gee my meer geloof!
Gaan hiervandaan weg en leef elke dag met hierdie gebed in jou hart: Here gee my meer geloof!
Nagmaalformulier
Sang ter voorbereiding van die tafel: Ps.84:3
Sang aan tafel: Ps.84:1,2,4,5,6
Voltooiing van die formulier
ANTWOORD
Sang: Ps.139:12
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sang: Skb.1-3:1,2,3
Seën: God wat alle genade gee en wat julle geroep het om in Christus Jesus deel te hê aan sy ewige heerlikheid, sal julle, nadat julle ‘n kort tydjie gely het, self weer oprig en julle moedig, sterk en standvastig maak.
Amen