ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood opgestaan het; en die Heerser oor die konings van die aarde.
Lof aan God: Ps.98:1,2
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sing: Skb.12-3:1,2
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Antwoord op die Wet: Ps.65:2
Gebed
VERKONDIGING
Sing: Ps.119:1,7
Lees: Matteus 11:25-30
Kernverse: Mt.11:28
Tema: “Kom na My toe”
Sang: Ps.98:1,2; Skb.12-3:1,2; Ps.65:2; Ps.119:1,7; Ps.145:9; (Tafel) Ps.84:1,2,3,4,6; Ps.59:1,5,10.
Inleiding:
Verlede Sondag met ons voorbereidingdiens het ons uit Ps.15 voor die vraag te staan gekom: Mag ek nagmaal toe kom? Ons het ook by die antwoord uitgekom: Ja, ek mag kom, maar net met Christus.
Met vanoggend se nagmaal is ons by Jesus Christus se woorde in Mt.11:28: “Kom na My toe almal wat uitgeput en oorlaai is” (83 vert) / “Kom na My toe almal wat vermoeid en belas is” (53 vert) “en Ek sal julle rus gee”.
Ons staan voor ons Verlosser se woorde: “Kom na My toe”. Dit is ook die tema van vanoggend se preek.
Tema: “Kom na My toe”
1. Jesus, God se Seun, is aan die Woord.
Matteus en Lukas het deur die Heilige Gees hierdie woorde van Christus neergeskryf. In Matteus lees ons “Daardie tyd” (Mt.11:25). Uit Lukas weet ons meer van “daardie tyd” (Lk.10:17-22).
Jesus was klaar met sy werk in Galilea in die noorde van die land. Hy en sy dissipels en baie mense wat Hom gevolg het, was op pad na Jerusalem in die suide. Terwyl hulle deur Samaria gegaan het, het Jesus sewentig dissipels gestuur van die koninkryk van God te gaan getuig.
Toe die sewentig teruggekeer het, het Jesus met hulle en almal daar by Hom gepraat. Om sy woorde reg te verstaan, is dit nodig om vs 27 reg te verstaan: “My Vader het alles aan My toevertrou, en niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader; en ook ken niemand die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun Hom bekend wil maak”.
Vir vanoggend se boodskap is die volgende in vs 27 belangrik:
Ons kan sê Jesus Christus, Seun van God het vanuit ‘n posisie van mag destyds met die mense by Hom gepraat.
Ons is vanoggend met nagmaal ook by Jesus Christus. Hy is deur sy Heilige Gees hier teenwoordig. Hy is na sy kruisiging en opstanding die Seun van God wat alle mag in die hemel en op aarde van sy Vader ontvang het.
Sy woorde was destyds vir almal wat aan Hom behoort. Sy woorde is ewige woorde ook vir almal wat aan Hom behoort vandag.
2. Sy uitnodiging is ‘n ernstige opdrag.
“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee”.
Hierdie woorde kan mens in drie belangrike dele opbreek om die volle betekenis te verstaan en te glo.
Die eerste deel: “Kom na My toe”. Die Seun van God, praat met nietige sondaarmense in ‘n sondige wêreld – destyds en vandag steeds. Die Seun van God nooi ons uit. Sy uitnodiging is in werklikheid ‘n ernstige opdrag: Kom hier. Kom nader.
Jesus Christus, God se Seun ons Verlosser, wil hê ek moet na Hom toe kom. Hy wil my by Hom hê.
Hoe kom ek na Jesus Christus toe?
Hoe kry ek dit reg om naby Hom te wees?
As mens is Jesus in die hemel aan die regterhand van sy Vader. Sy godheid is een met sy mensheid en is ook in die hemel by sy Vader. Na sy godheid is Jesus, God se Seun ook op die aarde.
Ek kan dus geestelik hier op aarde na Hom toe kom. Ek kan geestelik by Hom wees. Trouens, ek kan hier op aarde geestelik so naby Christus wees, dat ek een met Hom is. Om na Christus toe te kom, is om deur die Heilige Gees na Hom toe te kom en by Hom te wees.
Ek kom deur die Heilige Gees na Jesus toe wanneer ek met my hele hart in Hom glo. Ek glo in Hom, want ek weet met vaste sekerheid dat Hy, God se Seun die enigste Redder is en dat Hy gekom het om my te red.
Ek is by Hom, wanneer ek Hom met my lewe vertrou. Dit is wanneer ek die vaste vertroue het, die seker oortuiging het, dat Jesus Christus alles is en het wat ek nodig het om te kan lewe, hier op aarde en in die hemel hierna.
3. In die lewe op aarde is daar baie onrus.
Die tweede deel van Jesus se woorde – “almal wat uitgeput en oorlaai is”.
Wie is hierdie mense wat uitgeput en oorlaai is?
Destyds –
Vandag – Wat is die dinge wat vandag veroorsaak dat ek uitgeput en oorlaai is?
Ek is ‘n gelowige, maar my lewe is onrustig. Ek leef in ‘n onrustige land. Ek leef met ‘n onrustige hart en onrustige gedagtes oor soveel dinge in die land en in my eie lewe. Ek is ook een van die mense wat uitgeput en oorlaai is.
4. God se Seun gee vrede en lewe.
Die derde deel – “en Ek sal julle rus gee”.
God die Vader het uit liefde sy Seun gegee. Jesus Christus. die Seun van God het uit liefde sy lewe gegee. Hierdie woorde van Hom “en Ek sal julle rus gee”, is woorde van liefde.Dit is in werklikheid ‘n belofte uit liefde.
Wanneer ek na Jesus Christus toe kom, sal ek rus by Hom kry. Hoe moet ons die rus wat God se Seun gee, verstaan?
Ons hoor Christrus se liefde in sy woorde: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee”.
Ons sien vanoggend sy liefde in die brood en wyn met nagmaal –
Nagmaalformulier
Sing voor tafel: Ps.145:9
Sing aan tafel: Ps.84:1,2,3,4,6
Voltooiing van die nagmaalformulier
ANTWOORD
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: Ps.59:1,5,10
Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee.
Amen.