Home Preke Nagmaal preke Die Here help ons op ons lewenspad

Die Here help ons op ons lewenspad

Datum: 2024-08-25
|
Reeks: Nagmaal preke
|
Kernverse: Ps.121:5,8

ONTMOETING
Votum: Ps.125:1,2
Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood opgestaan het en die Heerser oor die konings van die aarde.
Lof aan God: Ps.138:1,4
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sing: Ps.71:9

VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Antwoord op die Wet: Ps.119:1
Gebed

VERKONDIGING
Sing: Ps.34:1,2,4
Lees: Psalm 121
Kernverse: Ps.121:5,8
Tema: Die Here help ons op ons lewenspad.

Inleiding:

Daar kom swaar tye ook vir gelowiges op ons lewenspad. Die Here praat met ons in sy Woord, in Psalm 121 daaroor. Hy maak deur nagmaal ons geloof sterker vir ons lewenspad wat voorlê.

Tema: Die Here help ons op ons lewenspad.

  1. Die berge op ons lewenspad

Die Psalmdigter, was waarskynlik oppad na een van belangrike godsdienstige feeste in Jerusalem: Paasfees, Pinksterfees en die Huttefees . Hierdie Psalm vorm deel van ‘n groep pelgrimsliedere. Die groep bestaan uit vyftien psalms: Ps.120 tot 134. Die meeste van die psalms maak melding van Jerusalem of dan Sion, waar die tempel was en waar feeste gehou is.

Op die pad na Jerusalem het daar berge voor die Psalmdigter uitgetroon. Hy was deeglik bewus van die gevare wat in die berge geskuil het. Daar was roofdiere en misdadigers en die versengende hitte van die woestynson. Die reis na Jeruslaem was liggaamlik moeilik. Die onsekerheid oor die gevaar wat mag toeslaan, was emosioneel en selfs geestelik ook moeilik.

Ons lewe hier op aarde word dikwels in die Bybel met ‘n reis of ‘n wedloop vergelyk. In die gebroke wêreld waarin ons leef, is daar ook liggaamlike en geestelike gevare op elkeen se lewenspad.

Daar is gevare wat mens se liggaam leed kan aandoen. Die rower en die voertuigkaper en die aanrander en die moordenaar wat ‘n wapen kan gebruik om ‘n mens noodlottig seer te maak.

Daar is soveel ernstige siektes wat ons baie pyn kan laat verduur, ons liggame kan afbreek en ons baie moeg kan maak. Ons kan selfs sterf.

Druk by die werk en lewenskoste wat al duurder word, veroorsaak baie spanning by baie, ook gelowiges.

Wanneer ons baie swaar kry, hou sulke beproewings emosionele en selfs geestelike gevaar in. Swaarkrytye kan ons moedeloos maak. Ons kan soos Asaf in Psalm 73 begin twyfel of dit help dat ons glo. Ons kan met onsekerheid en spanning leef. Hierdie spanning kan ons liggame siek laat word.

Daar is ook gevare wat mens se siel baie leed kan aandoen. Hierdie is die grootste gevare. Die Here Jesus het self ook geleer dat ons nie die bangste moet wees vir hulle wat net die liggaam kan leed aandoen nie, maar “vrees Hom eerder wat sowel die liggaam as die siel in die hel kan laat vergaan” (Mt.10:28.) Die grootste gevare is daarom die duiwel, die wêreld en ‘n mens se eie sondigheid. In die Kategismus, Sondag 52 bely ons dat hierdie drie elke gelowige se doodsvyande is.

  1. Ons gebed vir hulp.

Die digter van Ps.121 het besef dat hy nie alleen die gevare op sy reis sal kan hanteer en oorkom nie. Hy het hulp nodig gehad. Daarom kan mens goed verstaan dat daar die vraag in sy hart geleef het: “Waar sal my hulp vandaan kom?”

Hierdie vraag moet ons nie verstaan asof dit net ‘n gewone vraag is waarop daar nie regtig ‘n antwoord is nie. Ons beland baie keer in situasiers waar ons sulke vrae vra. Voorbeelde is: Waarom moet dit juis nou gebeur?, wanneer iets op ‘n baie ongeleë tyd breek; of wat gaan nou weer vanoggend in die straat aan?, indien daar ‘n geraas in die straat is.

Hierdie vraag in Ps.121 het ‘n dieper betekenis. Vir hierdie dieper betekenis, kan ons na twee dele in die Ou Testament en een deel in die Nuwe Testament kyk.

Die Ou Testament –
Jes. 55:6“Soek die Here terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is”.
Ps.50:15“…en roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp, en jy moet My eer”.

Die Nuwe Testament
Fil.4:6,7“Moet oor niks besorg nie wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus”.

Wanneer ons na die psalmdigter se vraag saam met die ander dele in die Bybel kyk,  sal ons besef dat die vraag in werklikheid die gelowige psalmdigter se gebed was.

Die Heilige Gees het hierdie vraag en al die ander dele in die Bybel laat neerskryf om ons te leer en te wys wat om te doen wanneer swaarkry op ons lewenspad kom. Die pad wat die Heilige Gees wys, is die pad van gebed.

  1. Die Here se beskerming

Ten spyte van die gevare was die Psalmdigter nie angstig of moedverlore nie. Dit wys duidelik in die Psalm hoe die gelowige Psalmdigter hom nie geloop en kwel het oor die gevare nie. Trouens, hy het juis die teenoorgestelde gedoen. Hy het na die Here toe met sy gevare gegaan.

Die rede?

Die Psalmdigter het as gelowige die Here geken. Hy het geweet die Here is die Verbondsgod wat met genade en liefde en sorg na elke gelowige kind van Hom kyk. Hy het ook geweet dat die Here die almagtige Skepper is wat op ‘n almagtige en getroue manier na sy skepping en sy kinders kyk.

Hy het geweet dat die Here hom beskerm. Daarom het hy hierdie gevare op sy lewenspad aan die Here toevertrou.

Ons kan die Here nog meer en nog duideliker as die psalmdigter in die Ou Testament ken. Ons het saam met die Ou Testament ook die Nuwe Testament. Ons wat die Nuwe Testament het, weet dat God sy genade, sy liefde en sy sorg aan ons bewys het toe Hy sy enigste Seun vir ons gegee het. Deur sy Seun te gee, het Hy ook sy almag en sy trou gewys.

Die Here God beskerm ons deur sy Seun. Jesus Christus, die Seun van die lewende God, het vir ons gesterf en opgestaan. Deur sy offer aan die kruis en sy opstanding uit die dood het Hy ons syne gemaak. Deur Hom is ons die Here wat die hemel en die aarde gemaak het, se kinders en erfgename.

Die Here beskerm almal wat aan Hom behoort deur sy Seun. Ons is veilig teen die mag van sonde, die duiwel en die dood.

Die Here het al die mag aan Jesus Christus, sy Seun gegee. Hy is deur sy Seun oral en altyd by ons. In die woorde van die psalmdigter: “Waarlik, die Beskermer van Israel sluimer nie in nie en Hy slaap nie” (Ps.121:4).

Selfs in swaarkrytye is ons wat in Jesus Christus glo, nie aan onsself oorgelaat nie. Die Here is oral en altyd by ons deur sy Seun. By die huis, by die werk, op die pad, in die dokter se spreekkamer, in die hospitaal is dit nooit ek alleen nie. Dit is altyd God en ek. Die Here is altyd my hulp.

  1. Die sekerheid wat ons het.

Nadat Jesus sy verlossingswerk volmaak afgehandel het en na die hemel opgevaar het, het die Heilige Gees gekom. Die Heilige Gees is self almagtige God. Hy het gekom om by ons te wees en ewig in ons te bly (Joh.14:16,17.) Die Heilige Gees se belangrikste werk in ons is om aan ons geloof in Christus te gee.

Die Heilige Gees gee ons in hierdie lewe die geloofsekerheid deur die Heilige Skrif, die Bybel en die nagmaal dat ons oral en altyd onder die beskerming van die Here leef, nou en vir altyd. Die Gees gee ons hierdie sekerheid deur die Bybel, God se Woord en deur nagmaal.

Ja, dit gebeur in hierdie lewe dat gelowiges onder die beskerming van ons Verlosser seerkry. Die berge het steeds vir die Psalmdigter gevare ingehou. Die berge het nie weggegaan nie.

Die gevare wat ons liggame kan seermaak, sal deel van hierdie gebroke wêreld bly, tot Christus weer kom. Wanneer ons leed ondervind, beteken dit nie dat die Here ons nie meer beskerm nie. Dit is steeds die nagevolge van die sondeval. Die Here gebruik in sy almag en sy genade ook swaarkry dat dit vir ons uiteindelik die heel beste uitwerk.

Die duiwel en sonde is gevare wat ons geestelik wil seermaak. Hierdie geestelike vyande hou aan om ons te teiken en aan te val. Hierdie geestelike stryd in elke gelowige se lewe hou eers op wanneer Jesus Christus weer kom. Jesus Christus is reeds die Oorwinnaar oor ons geestelike vyande, daarom sal ons nie oorweldig word nie.

Die boodskap van die Here se Woord, Psalm 121 en die boodskap van nagmaal is dat ons oral en altyd die Here as ons hulp het en oral en altyd onder sy beskerming leef.

Nagmaalformulier
Sing ter voorbereiding: Ps.23:3
Sing aan tafel: Ps.116:1, 4, 5, 7, 10
Voltooiing van die nagmaalformulier

ANTWOORD
Liefdegawe vir barmhartigheid
Antwoord op die Woord: Ps.33:6,11
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, die liefde van God ons Vader en die gemeenskap van die Heilige Gees sal met julle almal wees
Amen